Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As rassisme aanhou prut
Ahmed Kathrada, die skrywer van hierdie artikel, met ’n replika van ’n apartheidskennisgewing. Foto: Verskaf

Dit is alle Suid-Afrikaners se taak om hul voet teen rassisme dwars te sit, skryf Ahmed Kathrada.

As daar nou ’n kru slagspreuk is wat rassisme die beste uitbeeld, is dit dié van die NP ten tyde van die verkiesing van 1948: “Die kaffers en boesmans op hulle plek, die koelies uit die land.”

Die bedoeling agter hierdie slagspreuk was om ná die NP se verkiesingsege wetgewing uit Adolf Hitler se Duitsland in te voer.

Die Ontug- en die Groepsgebiedewet het dalk in Duitsland ander name gehad, maar het dieselfde gewettigde rassisme as dié van die Derde Ryk vergestalt.

Die woord “k****r” word klaarblyklik nog in Suid-Afrika gebruik, al is dit verbode. Dit omvat steeds die venyn en haat van die apartheidsera.

Suid-Afrikaners het die laaste paar weke opnuut hul woede uitgespreek oor voorvalle van openlike rassisme. Die k-woord is glo in drie hiervan gebruik.

Eers was dit Matthew Theunissen wat sy frustrasie oor transformasie gelug het. Daarna het die bestuurder van die DBV se Matlosana-tak, Suzette Kotze, na bewering die k-woord gebruik in ’n uitbarsting in die sosiale media waarin sy vra dat swart mense ’n “pynlike, versmorende dood” sterf.

Onlangs is landdros Mphafolane Koma se voertuig aangeval deur wit jeugdiges wat glo die k-woord gebruik het.

Ek dink nie ’n mens kan geskok oor die voortgesette gebruik van die k-woord wees nie.

Hierdie voorvalle toon dit maak nog ’n groot deel van die sosialisering van sommige individue uit en word heel moontlik in sommige huishoudings steeds gebruik sonder om te blik of te bloos.

Dié voorvalle moet ons erg verontrus. Ons kan dit nie as vanselfsprekend aanvaar dat 22 jaar van demokrasie antirassisme onder alle Suid-Afrikaners gevestig het nie.

Die feit dat die k-woord steeds deur sommige as ’n “normaliteit” aanvaar word, is ’n aanduiding dat nie genoeg gedoen is om mense op te voed oor die geskiedenis van seerkry, vernedering, vooroordeel en suiwer haat wat daardie ses letters beliggaam nie.

Dit is ook ’n aanduiding dat strenger teen rassistiese oortreders opgetree moet word. Suid-Afrikaners kan nie meer halfhartige verskonings of verontskuldigings dat swart vriende mense van rassisme vryspreek, aanvaar nie.

Bestaande wetgewing teen rassisme moet strenger gemaak word. Burgerlike gemeenskapsorganisasies en politieke partye moet die parlement nader om ’n strenger beleid teen rassisme te ontwikkel.

Wetgewing sal nie mense se houding oornag verander nie, maar sal beslis streng optrede teen openlike rassisme verseker.

Selfs die ergste rassiste kan hul vooroordele deur opvoeding en kennis afleer.

Hierdie plaag kan egter nie net deur wetgewing beveg word nie. Dit is nodig dat almal – individue, organisasies en gemeenskappe – “hul waardigheid afdwing”.

Ek gebruik hierdie woorde doelbewus, want dit is wat van aktiviste in die apartheidstryd vereis is.

Ek verskaf twee voorbeelde: In die tronk sou wagte gevangenes soms vra om hul klere uit te trek en vooroor te buig sodat hul privaat dele ondersoek kon word. As politieke gevangenes het ons ons waardigheid afgedwing deur te weier om hierdie uiters vernederende ondersoeke te ondergaan.

In ’n ander voorval het ek en ’n paar vriende ’n hyser vir “net blankes” gebruik. ’n Wit vrou het ons gevra om die bordjie te lees. Ons het geantwoord dat “ons nie omgee om ’n hyser met blankes te deel nie” en dat sy welkom is om haar by ons aan te sluit. Sy moet met afsku vervul gewees het oor die houding van die “nie-blankes” en het verkies om nie die hyser te gebruik nie. Maar ons het ons waardigheid afgedwing.

Die versetveldtog van 1952, die passiewe-weerstand-veldtog van 1946 en die Amerikaanse burgerregteveldtog bied talle ander voorbeelde van hoe gewone mense hul regte afgedwing het.

Vandag beteken dié vorm van aktivisme om rassisme voortdurend in die kollig te hou, dit te onthul en te weier dat rassistiese praatjies of optrede sonder beswaar verbygaan. Dit beteken nie net om die vooroordele van kollegas, familie en vriende die stryd aan te sê nie, maar ook jou eie diskriminerende sienings. Dit beteken om bemagtig en ingelig genoeg te wees om by ’n gelykheidshof ’n klag in te dien as jy rassisme teenkom.

Ek is beïndruk deur die talle individue wat hul woede oor die onlangse rassistiese voorvalle uitgespreek het, veral via die sosiale media. Al is ek nie juis ’n aanhanger van die sosiale media nie, het ek gehoor dat verskeie mense op Twitter teen regter Mabel Jansen se rassistiese neigings beswaar gemaak het.

Ek het ook gelees dat personeellede van ’n winkel in Springs geweier het om beweerde rassistiese opmerkings teen hulle deur ’n bestuurder te aanvaar.

Wat belangrik is, is dat individue en organisasies die nodigheid ingesien het om die voorvalle na instellings soos die Menseregtekommissie te verwys en, in die geval van Jansen, na die Regterlike Dienskommissie.

Ek hoop hierdie instellings sal die voorvalle met die nodige erns ondersoek en streng optree teen diegene wat skuldig bevind word.

Al vra ek groter kragdadigheid in die stryd teen rassisme, sê ek geensins dat rassiste nie vermenslik kan word nie.

Ons mag nie toelaat dat die verdelings en houdings van die verlede weer posvat nie.

Selfs die ergste rassiste kan hul vooroordele deur opvoeding en kennis afleer.

Ons moet onthou dat diegene wat nou met die apartheidstaat verbind was – tronkbewaarders, staatsbeamptes en ondersteuners van die regime – hul siening verander en ’n nuwe blaadjie omgeslaan het.

Voortdurende opvoeding en bewusmaking van rassekwessies deur alles van skoolleerplanne tot toegewyde programme en rubrieke in die media wat op protes teen rassisme fokus, sal nodig wees as ons wil hê individue moet hul rassisme insien en erken.

Dit sal harde werk op grondvlak verg wat die bestryding van strukturele rassisme en rassistiese neigings ten doel het.

Hierdie werk is die plig van politieke partye, die regering, die burgerlike samelewing, gemeenskappe, skole, universiteite, die sportgemeenskap, die kunstesektor, korporatiewe organisasies, gesinne en individue.

Burgers, verskeie organisasies en die sakegemeenskap moet inisiatiewe ondersteun wat rassisme die hoof bied en platforms vir interaksie en insig skep. Inisiatiewe soos die Anti-Racism Network South Africa (Arnsa) moet versterk, ondersteun en van hulpbronne voorsien word.

Ek is bevrees as ons ons nie nou tot die stryd teen rassisme verbind nie, sal Suid-Afrikaners aanhou opskrifte lees oor individue wat die k-woord blatant gebruik, swart mense ape of bobbejane noem en ander op grond van hul ras verontmenslik en aanval.

Ons sal aanhou voorbeelde sien van individue wat dit so maklik vind om die nalatenskap van jare van verdrukking, ongelykheid en sistemiese rassisme te misken.

Ek vrees dat rassespanning onder die oppervlak van ons gemeenskap sal aanhou prut en dat valse veralgemenings, soos dat “alle wittes rassisties is”, sal posvat.

Ons mag nie toelaat dat die verdelings en houdings van die verlede weer posvat nie.

Ons mag nie toelaat dat Suid-Afrikaners terugkeer na die mentaliteit wat die weg gebaan het vir die NP van 1948 om so ’n blatant rassistiese verkiesingslagspreuk te verkondig nie.

Ek word dikwels herinner aan Madiba se woorde in die getuiebank: “Ek het geveg teen wit oorheersing en ek het geveg teen swart oorheersing. Ek het die ideaal gekoester van ’n demokratiese en vrye samelewing waarin alle mense in harmonie met mekaar kan saamleef en gelyke geleenthede kan hê. Dit is ’n ideaal waarvoor ek leef en waarna ek streef en hoop om te verwesenlik.

“Maar U Edele, as dit nodig is, is dit ’n ideaal waarvoor ek bereid is om te sterf.”

Vandag moet ons besef dat die stryd vir nierassigheid, billikheid en gelykheid nie ’n korttermyntaak is nie, maar oor generasies heen sal strek.

Dié stryd verg ’n verenigde poging en ’n leeftyd van toewyding waarvoor ons, soos Madiba gesê het, bereid moet wees om te sterf indien nodig.

  • Ahmed Kathrada is ’n aktivis vir nierassigheid en het ’n stigting wat hierdie ideaal bevorder. Hy is ’n voormalige Robbeneiland-gevangene nadat hy in die Rivonia-verhoor tot lewenslange tronkstraf weens sy politieke aktiwiteite teen apartheid gevonnis is.

Meer oor:  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.