Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As stilte soos 'n kanker groei

Soms is stilte die remedie vir geraasbesoedeling en in ander tye is “sorry” die kuur vir stiltebesoedeling, skryf Cas Wepener.

Die lof van stilte word dikwels besing.

Soos Stef Bos wat beweer: “Niets is sterker/ Dan de stilte/ Niets heeft zoveel kracht/ Als het zwijgen van de nacht/ Niets is sterker dan het woord/ Dat niemand hoort.”

Of Simon en Garfunkel volgens wie “The words of the prophets/ Are written on the/ subway walls/ And tenement halls/ And whispered in the sounds of silence”. Bos sing ook dat diegene wat die swygsaamheid kan verdra, nooit alleen sal voel nie.

In die Bybel word God se teenwoordigheid geëien in die fluistering in die windstilte. Sommige fliek-langasems sal die drie uur lange Into Great Silence onthou, waar die daaglikse bestaan van swygmonnike in die Franse Alpe gevolg word en die kyker later ’n soort beswyming in die langdurige stilte beleef.

Op verskeie fronte was daar oor die laaste jare ’n klein ruising oor die positiewe waarde van stilte te midde van geraasbesoedeling. Die Engelse taal beweer in ’n kleur- en belofteryke stelling: Silence is golden.

Stiltebesoedeling

Dis pragtig, maar was dié mense al vir vier weke teen wil en dank ingegrendel toe hulle die wyshede kwytgeraak en na stilte gesmag het? So lank ingekerker tussen mure dat die konsep stiltebesoedeling by hulle opgekom het? Weet hulle dat stilte die potensiaal het om tinnitus te raak, daardie skril borende sonbesie in ’n middeloor?

Elia was seker tot ’n mate in ’n tipe grendeltyd waar hy vir Jesebel gevlug en God in die fluistering van die windstilte beleef het, maar hy was alleen en het nie nodig gehad om ’n ander se loodsware swye in ’n beklemmende ruimte te trotseer nie. In dieselfde lied waaruit hierbo aangehaal is, sing Simon en Garfunkel ook nugterder: “Fools, said I, You do not know/ Silence like a cancer grows.”

Grafika: HANLIE MALAN

Stilte kan in ons huidige stilte ook anders, minder positief en selfs destruktief word.

Bos is reg, niks het soveel krag soos die nag wat swyg nie, veral as daardie stille onheilige nag met stilstuipe gevul is. Dan is niks inderdaad so sterk soos daardie woorde wat jy nie hoor nie, omrede hy (die cliché hier is natuurlik Afrikaanse mans) weier om te praat en groei daardie stilte soos kanker.

Sommige mense beleef die koor in Laurika Rauch se lied “Stille waters” op ’n benouende wyse: “En kyk hoe sak die sekelmaan/ in die stille oseaan/ Stille waters diepe grond/ Onder draai die duiwel/ Onder draai die duiwel rond.”

Onder gewone omstandighede kan mense van stilstuipe ontsnap, maar nou is dit ietwat van ’n uitdaging, want jy kan net soveel keer op ’n dag winkel toe te gaan en dis boonop gevaarlik. Dan, wanneer die winkels sluit, die skaduwees lank word en die aandwind soos in die boek Hooglied begin waai, is die enigste opsie om huiswaarts te keer en opnuut die stilte te trotseer. Sommige mense sit hul maskers dan op teen stiltebesoedeling.

Tradisionele wysheid

’n Klompie jare gelede het ’n tradisionele geneser wys­heid vir verhoudings met my gedeel wat dalk nou ’n soort remedie kan wees teen bedreigende stiltes. Ek het plat op die vloer in sy spreekkamer in Langa gesit en luister.

Teen daardie tyd het ek al maande lank baie tyd by mense in daardie omgewing deurgebring. Hulle wonings is klein, en in die beknopte ruimtes bly baie mense saam in een huisie, dikwels een kamer.

En mense is mense, hulle het lief en wonder oor die sin van die lewe en werk (of nie) en vier uitbundig en huil hard. Daarom word verhoudingsprobleme in hulle omstandighede, wat basiese uitdagings soos ruimte om in te beweeg en te leef insluit, baie uitdagend. Wysheid is dus welkom.

Die geneser het ’n kuur vir elke soort verhoudingsprobleem (vir sommiges gaan die feministe gril). Hy sê wanneer ’n man hom oor ’n verhoudingsprobleem met sy vrou nader: “Then I tell him: If you are wrong, please say ‘I’m wrong, my wife’.” Die mans wat dit doen, sê hy selftevrede, kom rapporteer altyd agterna dat dit nou beter gaan in hul huwelike.

Vir die vroue wie se mans te veel bier drink, is sy raad om te wag tot die man weer nugter is en sy kopseer weg is en dan glimlag jy en jy praat sag. Sy sukseskoers met daardie voorskrif is glo ook besonder hoog.

Sy bossies kruie het ook ’n rol. In moeiliker gevalle kry die kliënte ook ’n medisinale voorskrif, soos om ’n stukkie van ’n krui in hul kies te sit wanneer hulle met die ander persoon praat. Die krui, verduidelik hy, werk uiteraard net as jy nie skree of gil nie. ’n Harde stem ontkragtig die krui.

Die kern van die uitdagings van die verhoudings waarmee hy help, het te make met loodsware stiltes in benouende ruimtes. Die remedie is om die stilte saggies te breek sodat die duiwel saam met die swye kan verdamp.

Hierdie is tradisionele wysheid uit eie bodem.

Die boek Prediker is deel van die wysheidsliteratuur en daar staan: “Daar is ’n tyd om stil te bly, en ’n tyd om te praat.” Soms is stilte die remedie vir geraasbesoedeling en in ander tye is “sorry” die kuur vir stiltebesoedeling.

Die doel van stilte in die wysheidstradisies is nooit stilte op sigself nie, dit is die regte woord wat uit die stilte kom.

  • Wepener is hoogleraar in praktiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Cas Wepener  |  By
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.