Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
As woede nie jou vriend is

Woede verander nie mense nie; dit maak bloot dat almal op die agtervoet staan en hul terrein verdedig. Gemeenskaplike woede kan ’n knus kombers wees, maar ook ’n elektriese een wat jy gereeld moet afskakel, anders gaan jy brand, skryf Gielie Hoffmann.

  Grafika:    Hanlie Malan
Grafika: Hanlie Malan

Ek wonder soms of my oupa en ouma ooit kwaad geword het. Ek fynkam herinneringe en probeer oomblikke onthou waar hulle woedend was. So ontstoke dat hulle vuur kon spoeg. Maar ek sukkel om iets op te spoor.

Is dit moontlik dat hulle, ten spyte van ’n Depressie, Tweede Wêreldoorlog en persoonlike frustrasies nooit eintlik kwaad geword het nie?

Hierdie gedagtes hou my besig omdat ek skuldig voel oor my onvermoë om kort-kort op my perdjie te spring oor iets wat gebeur het.

Verstaan my mooi, ek is geen heilige nie; ek word kwaad en dit is gewoonlik wenslik om dan uit my pad te bly.

Chris & Bles, Clifton, Jack Parow...

Maar net in die afgelope maand was almal ontstoke oor Karlien en Derick, Chris en Bles, skaapslag in Clifton, Jack Parow se homofobiese meme, Woolworths se blatante diefstal van ’n ontwerp asook Siya Kolisi se opinie oor transformasie.

Iemand gaan eendag moet navors wat die impak van hierdie gereelde woede op ons psige en gesondheid is. Want goed kan dit nie wees nie.

Woede verander nie mense nie; dit maak bloot dat almal op hul agtervoet staan en hul terrein verdedig.

Is ek liggeraak oor goed wat my dalk nie direk raak nie? Ek dink nie so. Ek het net ’n nuwe maatstaf gekry waarvolgens ek my woede en reaksie peil: As iets my oor ’n maand steeds warm onder die krag maak, sal ek iets daaroor sê.

As ek hierdie maatstaf toepas op bogenoemde voorvalle is daar min woede wat geregverdig sal wees. En daarom sou enige aanvanklike reaksie bloot ’n verdere reaksie wees op ander se woede. Gemeenskaplike woede is tog ’n knus kombers. Maar ook ’n elektriese een wat jy gereeld moet afskakel, anders gaan jy brand.

Sosiale media se rol

Die era van onmiddellike massakommunikasie sit deels agter die woede-tsoenami wat ons getref het. ’n Sterk boodskap kan vinnig en sonder voorbehoud versprei en verbruik word. Daar is nie meer ’n wagtydperk vir perspektief om te ontwikkel nie. En alles bereik deesdae ons oë en ons ore.

My persoonlike filters is al beter as in die verlede. Ek steek nie my kop in elke byenes nie. Ek deel nie my opinie oor alles nie. En ek voel nie geraak deur elke iets wat vaagweg iemand anders meer aanraak nie.

Dit beteken nie ek wil nie deelneem aan belangrike gesprekke nie; dis bloot my oorlewingsdrang wat ingeskop het die oomblik toe ek die gevare begin raaksien het.

Gielie Hoffmann

Oomblikke van vreugde

Die verlies aan woede het plek gemaak vir 100 klein oomblikke van vreugde en skoonheid; of dit nou ’n bladsy se leeswerk of ’n mooi reënwolk of ’n vinnige hallo op WhatsApp is. Ek dink dis byna onmoontlik om heeltyd kwaad te wees én om sulke oomblikke te beleef.

My oupa het wel kwaad geword as die Bulle of die Bokke verloor. Dis een wat ek hom gun, maar ek is dankbaar hy het die laaste paar seisoene gemis. Dit kon hom dalk geknak het.

Die konstante siklus van woede-vergifnis het eintlik min waarde, dink ek. Dit lei nie eintlik tot enige wesenlike verandering in gedrag of uitgangspunt nie. Solank die woedendes hul “jammer” gekry het van die sondaar, is hulle tevrede en vier hulle die mag van sosiale media.

Woolworths gaan weer so ’n fout maak, dit kan ek julle belowe. Karlien en Derick gaan êrens weer vuil wasgoed in die openbaar was. Chris Chameleon gaan binnekort weer sy mond verbypraat. Jack Parow sal spoedig weer op tone trap. Ongeag Siya se sentimente, gaan kwotas ’n werklikheid bly. En Clifton gaan deur die een of ander openbare plek vervang word sodra die oomblik reg is.

Ware gedragsverandering

Woede verander nie mense nie; dit maak bloot dat almal op hul agtervoet staan en hul terrein verdedig.

Dink net wat kan gebeur as Jack Parow tyd deurbring saam met skoolkinders wat geboelie word danksy hul seksualiteit. Dit kan meer waarde inhou. En keer dat hy of sy span weer so onsensitief is. Of as Siya en ander spelers die kans gegun word om in gesprek te tree en hul belewenisse te deel. Sal dit nie meer konstruktief wees nie?

Hierdie jaar het ek sekerlik doelwitte en planne hoe om dit te bereik. Om woede te systap, gaan my hopelik help om dit als reg te kry.

En as ek regtig ná ’n maand nog kwaad is oor iets?

Dan, eers dan, gaan ek my gewig gooi agter ware gedragsverandering in plaas van bolangse verskonings.

  • Hoffmann is ’n leierskapskonsultant en spreker van Pretoria.
Meer oor:  Gielie Hoffmann  |  Woede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.