Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Asseblief AfriForum, dit is nie volksmoord nie

Sy veroordeel plaasmoorde soos wat sy enige moorde veroordeel. Sy treur oor die slagoffers van plaasmoorde soos wat oor die slagoffers van enige moorde treur, maar glo nie daar is sprake van ’n volkslagting onder wittes nie, skryf Elmien du Plessis.

Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum. Foto: Deaan Vivier

My pa het my geleer ’n mens moet altyd só jou saak stel dat mense die positiewe kan sien. Miskien is dit ’n les wat ek ter harte moes geneem het toe ek my Twitter-boodskappe oor plaasmoorde saamgestel het in reaksie op Ernst Roets se twiet oor AfriForum se afvaardiging na Amerika om “steun te werf teen rassistiese diefstal (#LandExpropriation) en #FarmMurders”.

Ek het AfriForum se eie statistiek gebruik om te wys dat dié statistiek nie hul bewerings staaf van ’n voortgaande volkslagting van wit mense nie – of selfs van wit boere in Suid-Afrika nie. Die inligting wat AfriForum in die openbare domein op ’n verskeidenheid platforms versprei, is by tye misleidend.

Roets het gereageer met ’n video van 31 minute waarin hy my bewerings betwis tesame met ’n reeks twiets waarin hy sê ek gee die “regskundige akademiese beroep ’n swak naam met hierdie reeks pseudo-intellektuele klinkklare onsin (“poppycock”)”.

My belangstelling in die debat kom van die feit dat in sekere groepe die gesprek oor grondhervorming in die algemeen, maar in die konteks van onteiening sonder vergoeding spesifiek, onvermydelik na plaasmoorde lei. Ek vind daar is ’n vreemde korrelasie en samesmelting van hierdie kwessies, en dit is hoekom ek probeer om versigtig na hierdie argumente te luister. Ek het moeite gedoen om werklik AfriForum se posisie oor hierdie kwessies te verstaan, en het selfs een van hul geleenthede oor onteiening bygewoon.

Sosiale kohesie in die land is aan die uitrafel. In die afwesigheid van ’n goed geoliede regering, moet die burgery na vore tree, en dit sal samewerking vereis.

By dié geleentheid was daar ’n beklemtoning van die reg om eiendom te besit en die reg om trots te wees op dié eiendom, wat toe beweeg het na die reg om die eiendom te beskerm. Die beskerming van jou eiendom in hierdie sin beteken om ’n fort te bou en om die res van die wêreld uit te sluit – om ’n laer te bou teen die verwagte aanslag van mense wat jou eiendom wil afneem.

AfriForum se beskermende houding maak my ongemaklik en is deur die konstitusionele hof gekritiseer (in ’n minderheidsuitspraak wat in hul guns beslis het).

Luidens die uitspraak verskil die regters grondig met AfriForum se siening van die geskiedenis.

“En ons dink dit sou beter wees vir wit Afrikaanse mense, en inderdaad almal anders, om hul sin vir plek en tuishoort nie slegs in die verlede te vind nie, maar ook in ’n gedeelde toekoms, een wat die Grondwet vertroetel en beskerm vir almal van ons, tesame, verenig in ons diversiteit. Maar stel dit ons in staat om te sê AfriForum-lede se sin vir behoort, plek en verlies is nie werklik nie en dat dit nie ook erken moet word as deel van die Grondwet nie? Die antwoord is ‘nee’.”

Dit is my bekommernis. Party kommentators stel voor in plaas daarvan om AfriForum te kritiseer, moet pogings gemik word op die regering (wat, op sy beurt, die wind uit AfriForum se seile sal neem).

Terwyl ek tot ’n mate hiermee saamstem, bly die feit staan: Sosiale kohesie in die land is aan die uitrafel. In die afwesigheid van ’n goed geoliede regering, moet die burgery na vore tree, en dit sal samewerking vereis.

Burgerlike organisasies is belangrik. Maar ons moet altyd daarop let dat die manier waarop ons die werk doen, binne die raamwerk van die Grondwet moet pas, wat inklusiwiteit vereis.

Hoe ons dit doen, is so belangrik soos wat ons doen.

432 jaar om alle kommersiële boere te vermoor

Dit is ook van toepassing op hoe ons moordkoerse bepaal. AfriForum beweer daar is ’n moordkoers van 154 uit elke 100 000 boere.

Die grootste probleem daarmee om die moordkoers te bepaal is dat daar geen algemeen aanvaarde definisie is van “plaasaanvalle” nie. Is dit net ’n aanval op ’n boer? Word swart boere hierby ingesluit? Wat van familielede en plaaswerkers? Indien ’n boer en sy vrou albei vermoor word, tel dit as een aanval of twee?

Dit is van kritieke belang, want die plaasmoordkoers word bereken deur die plaasmoordslagoffers te neem en dié getal deur die totale bevolking van die groep te deel en dan die resultaat met 100 000 te maal, wat vir jou die hoeveelheid moorde gee per 100 000 vir ’n bepaalde groep.

Die noemer moet die totale moontlike grootte van die groep wees waarvan jy die moordkoers wil bepaal.

Indien jy die moordkoers vir ’n voorstad wil bepaal, moet jy rekenskap gee van al die moorde in daardie voorstad, en die eerste syfer met die totale aantal inwoners in die voorstad vergelyk. Net so, as jy die moordkoers vir kommersiële boere in Suid-Afrika wil bepaal, kan jy nie enige slagoffers insluit wat nie as kommersiële boere gelys word nie. Dit is die eerste probleem.

Die tweede probleem is dat “plaasaanval” nie op sigself ’n misdaad is nie. Aanvalle word gerapporteer as moord, verkragting, aanranding en so aan, so dis moeilik om daarmee tred te hou. Die derde probleem is watter eiendom ’n mens insluit. Beperk jy dit slegs tot groot plase? Of sluit jy kleinhoewes in? Moet die persoon boer op die grond, of sal mense wat huise huur op die plase en nie boer nie ook ingesluit word?

Indien ons ALLE mense insluit wat op plase woon, sal die berekening staan op 8/100 000. Dit is goed onder die nasionale gemiddelde van 34/100 000.

Ek het getwiet in 2016/2017 was daar 74 plaasmoorde (insluitende moorde op kleinhoewes, wat sommige mense uit die vergelyking hou). Teen hierdie koers sal dit 432 jaar neem om al die kommersiële boere (en hul families) te vermoor.

Hoe het ek gekom by 432 jaar?

Deur AfriForum se koers deur die amptelike bevolking van kommersiële boere van 35 000 te deel (dié syfer sluit nie werkers in nie). Ek het hierdie statistiek gekies want dit is die rojaalste teenoor AfriForum se bewerings.

Ek erken dat ek die argument vereenvoudig weens die beperkinge van Twitter as ’n platform. Maar in die afwesigheid van die presiese aantal kommersiële boere wat vermoor word (daar is geen aparte inskrywings vir kommersiële boere nie), of anders die aantal mense wat gedefinieer kan word as boere (voeg ons kleinhoewes by? En die 10 300 gerapporteerde familielede? Die 5 000 vennootskapseienaars? Die 771 000 werknemers?), is dit byna onmoontlik om ’n syfer te kry.

Wie jy insluit in die noemer sal ’n groot invloed hê op jou koers. Indien ons ALLE mense insluit wat op plase woon, sal die berekening staan op 8/100 000. Dit is goed onder die nasionale gemiddelde van 34/100 000.

Ras is nie die hoofrede vir aanvalle nie

In 2014 het AfriForum met ’n navorsingsproses by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor plaasmoorde begin en ’n verslag met verskeie bevindings is uitgereik.

Die kommissie het die bekommernisse oor ras in die veiligheid van plaasgemeenskappe erken. Dit het erken dat veiligheidskwessies voortduur in plaasgemeenskappe, maar het ontken dat dit gebaseer is op ras. Dit het bevind die terme “plaasaanvalle en/of moord” is onvanpas.

Die verslag het ’n “gebrek aan voldoende en doeltreffende samewerking tussen alle lede van plaasgemeenskappe om hul veiligheid en sekuriteit te verseker” belig. Dit het die gewelddadige aard van hierdie moorde veroordeel, maar het ontken dat dit in die geheel deur ras gemotiveer is.

Ek besef egter Twitter is ’n ope platform, dat my woorde daar deur enigiemand gelees kan word, en dat ek reeds met die slagoffers praat. Dit is hoekom ek ook getwiet het dat mense se 'geleefde ondervinding nie deur data oorskadu moet word' nie.

Terwyl die kommissie saamgestem het dat sommige van die aanvalle gemotiveer is deur rassehaat of -vyandigheid, het die bewyse wat aan hulle voorgelê is meer gewig gegee aan die strafregtelike element. Dit stem ooreen met vorige navorsing oor die onderwerp.

Dikwels wanneer jy koerante lees oor plaasmoorde, word die indruk geskep dat elke aanval met marteling gepaard gaan.

Mnr. Roets beweer 20% van moorde gaan met marteling gepaard. Ek hoor die individuele stories en ek lees ook die berigte in die koerante. As ’n mens raak dit my diep. Maar dit sou onverantwoordelik wees om ’n groter prentjie uit hierdie individuele stories te skets.

Roets vra of ek statistiek sou aanhaal oor hoe lank dit sou neem om alle boere te vermoor. Ek probeer altyd om nie die skilferroof van iemand se wond af te ruk nie. Ek besef egter Twitter is ’n ope platform, dat my woorde daar deur enigiemand gelees kan word, en dat ek reeds met die slagoffers praat. Dit is hoekom ek ook getwiet het dat mense se “geleefde ondervinding nie deur data oorskadu moet word” nie. Ek erken die ervarings van diegene wat gemartel is. My twiets maak dit duidelik.

Geen verskoning om ’n lewe te neem nie

Wat nuusberigte oor plaasmoorde betref, stem ek en mnr. Roets nie saam nie. Die indruk wat ek kry is dat daar meer oor plaasmoorde as oor ander moorde berig word. Terwyl daar dalk 16 keer meer berig is oor die twee voorvalle wat swart plaaswerkers behels waarna Roets verwys (Coligny en die doodskis-saak) as oor ander moorde, bly dit net twee, en as ’n persentasie bly dit onbeduidend.

Ek weet van voortgaande studies hieroor en ek sal die navorsers aanmoedig om daaroor te skryf wanneer die studies klaar is.

Daar is geen verskoning daarvoor om ’n lewe te neem nie. Of daai lewe nou eindig op ’n plaas, ’n kleinhoewe of in ’n kleinhuisie op die Kaapse Vlakte.

Ek veroordeel plaasmoorde soos wat ek enige moorde veroordeel. Ek treur oor die slagoffers van plaasmoorde soos wat ek oor die slagoffers van enige moorde treur. Of dit nou weens ’n skietery, marteling is of omdat iemand van ’n lamppaal laat hang is. Daar is geen verskoning daarvoor om ’n lewe te neem nie. Of daai lewe nou eindig op ’n plaas, ’n kleinhoewe of in ’n kleinhuisie op die Kaapse Vlakte.

Alle lewe is waardevol. Maar ’n bruikbare oplossing kan slegs gevind word indien die probleem korrek geïdentifiseer en gekontekstualiseer word, soos die Menseregtekommissie uitwys.

Met wat hier gesê is, laat ek dit aan mnr. Roets oor om te dink oor of hulle dit doen. Die antwoord is tussen hom en sy gewete. Die resultate van hul aksies sal egter, mettertyd, alle burgers van die land beïnvloed.

In die afwesigheid van oortuigende getuienis tot die teendeel en as ek my verlaat op die bevindings van die Menseregtekommissie, wat verskeie rolspelers geraadpleeg het, bly ek vasberade: Plaasmoorde as deel van landelike geweld is problematies en het spesifieke oplossings nodig om by die unieke omstandighede van die situasie te pas. Die versuim om die kwessie te hanteer sal daartoe lei dat die menseregte van al die lede van hierdie gemeenskappe ingeperk word.

Ons moet die spesiale uitdagings waardeur landelike gemeenskappe in die gesig gestaar word, sonder partydigheid of vooroordeel teenoor enige groep aanpak.

Daar is geen doelbewuste beweging om wit mense en masse van hul grond of uit die land te dryf nie. Daar is geen volksmoord nie.

Maar hierdie probleme is ons probleme as ’n land; dit raak ons almal. Daar is geen doelbewuste beweging om wit mense en masse van hul grond of uit die land te dryf nie. Daar is geen volksmoord nie. Om dit te beweer is beledigend, nie net teenoor die inwoners van hierdie land nie, maar teenoor die slagoffers van volksmoord in die geskiedenis.

Ek bly hardnekkig en onwrikbaar oortuig dat daar meer mense in hierdie land is wat verstandige, werkbare oplossings wil vind vir die probleme waardeur ons in die gesig gestaar word as wat daar mense is wat ons uitmekaar dryf. Dit is tyd vir daardie stemme om nou van hulle te laat hoor.

* Hierdie artikel is aangepas ná publikasie en het oorspronklik op News24 verskyn.

* Elmien du Plessis is ’n medeprofessor in die regte aan die Noordwes-Universiteit en ’n pseudo-intellektuele twakpraatjies-prokureur op Twitter.

Meer oor:  Afriforum  |  Elmien Du Plessis  |  Ernst Roets  |  Plaasmoorde  |  Volksmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.