Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
AU moet druk volhou ná staatsgreep in die Soedan

Skorsing en sanksies moet onmiddellik ingestel word teen die Soedan, skryf Laurie Nathan, en slegs opgehef word indien grondwetlike heerskappy deur vrye en regverdige verkiesings herstel word.

Op 3 Mei vanjaar ná die militêre staatsreep waarin pres. Omar al-Basjir ontset is, dreunsing betogers “vryheid, vrede en geregtigheid” in ’n betoging buite die militêre hoofkwartiere in die Soedannese hoofstad, Khartoem. Foto: Kyode News/ Getty

Twee weke nadat die militêre oorgangsraad die mag deur ’n staatsgreep in die Soedan oorgeneem het, het Afrika-staatshoofde besluit om die druk op die nuwe heersers te verlig. Dit was ’n groot fout.

Oudpres. Omar al-Basjir het oor die Soedannese met militêre mag, verdrukking en verdeel-en-heers-taktieke geheers. Jare van rebellies en betogings deur die publiek het tot die staatsgreep in die middel van April gelei. Toe die militêre raad die mag oorneem, het hy die grondwet opgehef, die parlement ontbind en aangekondig dat hy die Soedan vir twee jaar gaan regeer.

Die vredes-en-veiligheidsraad van die Afrika-Unie (AU) het onmiddellik die ongrondwetlike oorname van mag veroordeel. Die raad het geëis dat die militêre raad die mag aan ’n burgerlike oorgangsregering oorgee. Die raad het gewaarsku dat die AU die Soedan sou skors indien die generaals nie binne 15 dae gehoor gee nie.

Maar namate die spertyd nader gekom het, het die Afrika-staatshoofde die vredes-en-veiligheidsraad se besluit herroep. Hulle het die spertyd verleng en die generaals drie maande gegee om die mag aan ’n burgerlike tussentydse regering oor te gee.

Die AU se versuim om te voldoen aan sy eie beleid, sal die geloofwaardigheid daarvan verswak, sowel as van sy vermoë om staatsgrepe te keer.

Die dryfkrag agter hierdie besluit was pres. Abdel Fattah el-Sisi van Egipte, die huidige voorsitter van die AU. El-Sisi is ’n voormalige generaal wat in 2013 in sy eie land aan ’n staatsgreep deelgeneem het.

Die weermag het gespanne onderhandelings met die protesleiers oor die samestelling van die tussentydse regering gevoer. Indien die huidige dooie punt oorbrug kan word, sal ’n nuwe opperste raad met ’n mengsel van burgerlikes en militêre amptenare gevorm word. Die tussentydse regering sal dus nie ’n suiwer burgerlike regering wees nie.

Die AU het ’n “zero-toleransie”-beleid oor staatsgrepe. Indien hy nie hierdie beleid streng toepas in die geval van die Soedan nie, is daar beslis ’n gevaar dat die weermag die betogings met geweld sal onderdruk. Die regeringsmagte het reeds meer as 70 betogers doodgemaak.

Die Soedan kan al hoe meer onstabiel word, wat negatiewe gevolge vir die naburige state sal inhou. Die AU se versuim om te voldoen aan sy eie beleid, sal die geloofwaardigheid daarvan verswak, sowel as van sy vermoë om staatsgrepe te keer.

Omar al-Basjir, afgesette president van Soedan. Foto: Linda Longhurst

Die beleid

Aldus die Lomé-verklaring sal diegene wat aan ’n staatsgreep deelgeneem het, ses maande gegun word om die grondwetlike orde te herstel. Gedurende hierdie tydperk sal die land uit die AU geskors wees. Die protokol van die vredes-en-veiligheidsraad voeg by dat dié raad ná ’n ongrondwetlike regeringsverandering sanksies sal instel.

Die beleid se klem op “moet” en “zero-toleransie” bied geen ruimte vir ’n vertrouensreaksie op staatsgrepe nie. Staatsgrepe is ’n plaag wat die grondwetlike orde vernietig en die totstandkoming en vestiging van die demokrasie verhinder.

Daar is geen twyfel daaraan nie dat Al-Basjir die Soedan met ’n tirannie regeer het. Die Internasionale Strafhof het sy oorlogsmisdade in die akte van beskuldiging teen hom uitgespel. Daar is dus baie rede om die Soedannese se blydskap oor sy val te deel. Maar indien die AU nie sy rug styfmaak nie, sal daar dalk geen vordering in die Soedan na ’n ware demokrasie wees nie.

Die woordvoerder vir die Soedan se heersende militêre raad, Shamseddine Kabbashi, spreek op 8 Mei ’n mediakonferensie in die presidensiële paleis in Khartoem toe. Foto: Mahmoud Hjaj/Anadolu Agency/Getty Images

Nog ’n wreedaardige bittereinder

Sedert die teenstaatsgreepbeleid in 2000 ingestel is, was daar 16 staatsgrepe in Afrika – 14 tussen 2000 en 2014, en daarna in Zimbabwe en die Soedan. In die meeste gevalle het die vredes-en-veiligheidsraad met sy standpunt volhard. Navorsing dui daarop dat die skorsing en sanksies doeltreffend was: Binne gemiddeld 20 maande het die betrokke land die grondwetlike orde deur middel van verkiesings herstel.

In al hierdie gevalle is die druk verhoog deur sanksies wat Amerika, die Europese Unie (EU) en ander skenkers ingestel het. Dit het ook gepaardgegaan met bemiddeling deur organisasies in Afrika, wat die terugkeer tot grondwetlike heerskappy gefasiliteer het.

Die boodskap van die AU en internasionale instellings was dus duidelik: Anders as met die wydverspreide verdraagsaamheid met staatsgrepe in Afrika gedurende die 1970’s en 1980’s, is ’n staatsgreep nie meer ’n lewensvatbare manier om die mag te behou nie. Dit is ’n doodloopstraat. ’n Regime wat deur middel van ’n staatsgreep aan bewind gekom het, moet afstand doen van die mag, en vrye en regverdige verkiesings toelaat.

Die AU het byvoorbeeld die de facto-staatsgreep in Zimbabwe in 2017 geïgnoreer.

In kort sluit dit die deur tot volgehoue militêre heerskappy, en bemiddeling maak die deur vir die herstel van die grondwetlike mag op ’n wettige manier oop.

Die positiewe uitkomste van druk uit Afrika en internasionale geledere kan in teenstelling geplaas word met gevalle waar die AU versuim het om hierdie beleid toe te pas. Die AU het byvoorbeeld die de facto-staatsgreep in Zimbabwe in 2017 geïgnoreer. Dit het die weermag en die regerende party in staat gestel om op ’n gewelddadige wyse van pres. Robert Mugabe ontslae te raak en nog ’n wreedaardige bittereinder, Emmerson Mnangagwa, in sy plek aan te stel.

In die geval van Zimbabwe, sowel as Egipte, het die leier van ’n staatsgreep deelgeneem aan die presidensiële verkiesing en gewen. Dit was in weerwil van die AU-beleid, wat diegene wat hulle skuldig maak aan ongrondwetlike aksie verbied om aan die presidensiële verkiesing deel te neem. Die verbod is veronderstel om staatsgreepleiers te keer om hul oortreding goed te praat en om met behulp van die stembus aan die mag vas te klou.

Daar behoort geen debat te wees oor die hoofbetoog van die vasteland en die internasionale gemeenskap se reaksie op die staatsgreep in die Soedan nie. Skorsing en sanksies moet onmiddellik ingestel word. Dit moet slegs gelig word indien grondwetlike heerskappy deur vrye en regverdige verkiesings herstel word.

*Nathan is ’n professor in bemiddelingspraktyk aan die Notre Dame-universiteit in die VSA.

*Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Soedan  |  The Conversation  |  Staatsgreep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.