Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Australië: Siklone, vloede en hittegolwe kan ook volg

Australië smag na reën om die weghol-veldbrande te blus. Maar die reën bring ander risiko’s, skryf Neville Nicholls.

Veldbrande is nie die enigste weers- en klimaatsuiterstes wat Australië in die komende maande gaan tref nie. Foto: Dave Hunt/AAP

Jan Publiek gaan in die volgende paar weke met reg asem ophou oor die verwoestende veldbrand-krisis in Australië. Maar terwyl ons hulpbronne toeken, moet ons nie vergeet van ander weer- en klimaatsuitdagings wat hierdie somer op die loer lê nie.

Die gevaarlikste tyd vir hittegolwe in die suide van Australië is nog nie hier nie. Baie dele van Australië kan swaar reën en vloede te wagte wees. En die sikloon-seisoen in die noorde van Australië is besig om van rat te verwissel.

Hierdie gebeure sal ernstige eise stel aan nooddienste en aan die breë gemeenskap. Die beste manier om voorbereid te wees is om ’n oog te hou op die voorspellings van die Buro vir Meteorologie.

Verlede jaar was Australië se droogste jaar in menseheugenis. Sedert vroeg in die winter het die Buro vir Meteorologie hierdie wydverspreide, droë toestande korrek voorspel.

Maar lafenis mag op pad wees. Die mees onlangse voorspellings van die buro is dat Februarie tot April ’n meer normale somer gaan wees. Indien dít gebeur, sal daar meer reën wees.

Die koms van reën wat die droogte verlig, is berug daarvoor dat dit moeilik is om te voorspel – in die verlede het dit enige tyd tussen Januarie en Mei gebeur. Klimaatsverandering maak seisoenale klimaatsvoorspellings ook moeiliker.

Indonesiese reddingswerkers soek na vermiste mense ná ’n grondstorting in Wes-Java wat veroorsaak is deur swaar reën. Foto: EPA

Ons hoop almal die reën kom gouer eerder as later en dat dit die brande sal blus. Maar die reën bring ander risiko’s.

Droogtes wat oor hele vastelande strek soos wat ons in die afgelope jare ervaar het, word dikwels gebreek deur wydverspreide swaar reën, wat lei tot ’n al hoe groter risiko vir vloede wat potensieel dodelike kitsvloede insluit. Die dekade lange Millennium-droogte wat in 2009 geëindig het, is gevolg deur twee ongelooflike nat jare met ernstige vloede.

Daar was onlangs ’n soortgelyke situasie in Indonesië toe baie swaar reën ná ’n langdurige droogte rampspoedige vloede en grondstortings veroorsaak het.

Selfs as die droogte gebreek word en die reën die vure blus, sal daar waarskynlik vlae ekstreme weer wees.

Die risiko vir vloede word vererger deur die kaal grond en die gebrek aan plantegroei wat deur die droogte veroorsaak word, sowel as veldbrande wat woude en graslande verwoes.

Die noorde van Australië mag die hardste hierdeur getref word. Die begin van die tropiese nat seisoen was erg vertraag, soos die buro voorspel het. Die afgelope drie maande het sommige dele van die Australiese keerkring die laagste reënval in die geskiedenis vir Oktober tot Desember gehad. Maar dit lyk asof wydverspreide reën tog op pad kan wees.

Verder suid kan reën wat die droogte verlig ook swaar en wydverspreid wees, wat kan lei tot ’n groter risiko vir vloede. So, selfs as die droogte gebreek word en die reën die vure blus, sal daar waarskynlik vlae ekstreme weer wees – en ’n groot aanvraag na nooddienste.

Siklone en hittegolwe

Personeel in ’n winkel maak die stormwater skoon nadat die Sikloon Debbie Queensland in 2017 getref het. Foto: AAP

Die seisoen vir tropiese siklone is baie vertraag, net soos die buro voorspel het, hoewel daar nou tekens is van siklonale aktiwiteit in die nabye toekoms.

Siklone bring dikwels welkome reën na gemeenskappe wat deur die droogte geteister is. Maar ons moenie vergeet van die ernstige skade wat hierdie stelsels kan veroorsaak nie – soos die oorstroming van kusgebiede en windskade – wat weer ingryping deur nooddienste sal vereis.

En dis nog ’n maand voor die gevaarlikste tyd vir hittegolwe in die suide van Australië. Daar was reeds ernstige hittegolwe hierdie somer. Maar hulle bereik gewoonlik hul piek in die middel en aan die einde van die somer, so die ergste is dalk nog op pad.

Lewens is beslis al hierdie somer gered deur beter voorspelling van hoë temperature en beter disseminasie van inligting oor hittegolwe deur die regering en plaaslike regerings. Maar ná ’n reeds verwoestende vroeë somer gekenmerk deur brande en hitte, mag diegene wat die publiek moet waarsku én die publiek dalk vuisvoos raak van waarskuwings. Ons moet seker maak hittegolf-waarskuwings word steeds gerig aan bevolkings wat hierdeur bedreig kan word en dat ons daarop reageer.

Wees dankbaar vir weervoorspellers

’n Vastevlerk-vliegtuig help met brandbestryding in North Nowra terwyl weghol-veldbrande amok maak. Foto: Mick Tsikas/AAP

Die onlangse ervarings van boere, brandweermanne, waterhulpbron-bestuurders en gemeenskappe wys hoe waardevol die diens is wat verskaf word deur die Buro vir Meteorologie. Verbeterde weer- en klimaatsvoorspellings wat oor die afgelope paar dekades ontwikkel is, beteken gemeenskappe kan baie beter beplan vir die hoogs veranderlike weer en klimaat as in die verlede.

Die onlangse droogte, brande en hittegolwe – vererger deur klimaatsverandering – was verwoestend. Maar dink net as ons net die beperkte vermoë van selfs ’n paar dekades gelede gehad het om die weer te voorspel, sonder vandag se blitsige rekenaars met hul weervoorspellingsmodelle en satelliete wat hulle voer met enorme hoeveelhede data. Hoeveel erger sou die impak dán nie gewees het nie?

Nog nooit vantevore was weervoorspellings so geredelik beskikbaar vir die publiek nie.

Die voorspellings het daartoe gelei dat hitte-waarskuwings na weerlose gemeenskappe versprei kon word. Gedetailleerde inligting oor weerstoestande wat bevorderlik is vir brande het brandweerdienste gehelp om meer geteikende waarskuwings en direkte hulpbronne te verskaf.

Nog nooit vantevore was weervoorspellings so geredelik beskikbaar vir die publiek nie.

Ons moet aanhou om ons aan te pas by hierdie veranderende bedreigings en ons moet steeds beter leer voorspel. En die gemeenskap moet bewus bly van die baie uiterstes wat lewens en eiendomme bedreig.

* Nicholls is emeritusprofessor by die skoo vir die aarde, atmosfeer en omgewing aan die Monash-Universiteit. Hierdie artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn.

 
Meer oor:  Australië  |  Reën  |  Klimaatsverandering  |  Vloede  |  Veldbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.