Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Australië: Veldbrande kan weer massa-uitwissing veroorsaak

Wegholveldbrande het in die tyd van die dinosourusse al daartoe gelei dat die lewe op aarde drasties omvorm is. Dit kan weer gebeur, skryf prof. Mike Lee.

Brande kan diere doodmaak en hul habitats verwoes, wat lei tot uitwissing. Foto: Lukas Koch/AAP

Die katastrofale veldbrande wat deur groot dele van Australië tier is nie net besig om amok te maak onder inwoners en die ekonomie nie – dis ook ’n ernstige terugslag vir biodiversiteit en die ekosisteem.

Wetenskaplikes waarsku reeds oor grootskaalse uitwissing van diere en plante.

Die mensdom het selde vantevore nog brande soos dié gesien, maar ons weet dat verterende vure al minstens een keer vantevore tot massa-uitwissings en die omvorming van lewe op aarde gelei het – toe die asteroïed die aarde getref het wat tot die ondergang van dinosourusse en dodelike vuurstorms wêreldwyd gelei het.

Australiese biodiversiteit

Australië is een van slegs 17 “megadiverse” lande. ’n Groot deel van die rykdom van ons spesies is gekonsentreer in gebiede wat nou deur die veldbrande geteister word.

Terwyl sommige soogdiere en voëls ’n groter risiko het om uitgewis te word, is die gevaarligte selfs meer vir klein, minder beweeglike ongewerwelde diere (dus die meerderheid van dierlike biodiversiteit).

Slegs die toekoms sal leer wat die volle uitwerking van dié dreigende katastrofe is.

Die Gondwana-reënwoude van Nieu-Suid-Wallis en Queensland word byvoorbeeld ernstig geraak deur die brande. Hierdie woude, wat gelys is as Wêrelderfenisgebiede, is die tuiste vir ’n ryke diversiteit van insekte en ’n reuse-verskeidenheid landslakke waarvan sommige net tot klein lappies grond beperk is.

Dié veldbrande is met reg al beskryf as weergaloos en uitwissings kan oor ’n uitgebreide tydperk gebeur. Slegs die toekoms sal leer wat die volle uitwerking van dié dreigende katastrofe is.

Brande het al tevore tot massa-uitwissing gelei

Daar was al erger brande in die verre verlede, soos wat ons uit fossielrekords kan sien. Hulle bied aan ons sterk en ontstellende getuienis oor hoe brande wydverspreide uitwissings veroorsaak het wat die lewe op aarde heeltemal omvorm het.

Die vermoë om vinnig en ver te kan hardloop het nie dinosourusse van vuurstorms en uitwissing gespaar nie. Foto: Douglas Henderson

Sowat 66 miljoen jaar gelede het uitwissings in die Kryt- en Paleogene tydperk ’n einde gemaak aan die heerskappy van dinosourusse en slegs voëls is gespaar. Dit het 75% van die planeet se spesies uitgewis.

Onlangse navorsing toon wêreldwye wegholbrande was waarskynlik ook ’n belangrike rede vir uitwissings – minstens in die geval van lewe op land.

Wetenskaplikes stem nou saam hierdie uitwissings is in die eerste plek veroorsaak deur ’n asteroïed van sowat tien kilometer wyd wat teen wat vandag as Meksiko bekend staan gebots het en ’n krater so groot soos Tasmanië oopgeblaas het. ’n Kernwinter het op dié impak gevolg, namate klein partikels in die atmosfeer vir jare lank alle sonlig geblokkeer het. Dié uitgebreide ysige duisternis het hele ekosisteme van plante en plantaardige plankton en opwaarts vernietig.

Onlangse navorsing toon wêreldwye wegholbrande was waarskynlik ook ’n belangrike rede vir uitwissings – minstens in die geval van lewe op land.

Die asteroïed het vlammende wrakstukke oral oor die atmosfeer in die lug laat blaas. Massiewe afsettings roet wat vir hierdie presiese tydperk in die fossielrekord gevind is, doen aan die hand die meeste van die aarde se woude het toe in vlamme verdwyn, hoewel hierdie rampspoedige berekeninge omstrede bly.

Slegs hierdie diere het oorleef

Die fossielrekord van landdiere – veral reptiele, voëls en soogdiere – is bewys van die dodelike doeltreffendheid van dit wat die “dinosourus-vuurstorm” gedoop is. Kyk jy na die slagoffers en die oorlewendes, sien jy dis baie relevant vir die huidige gebeure.

Werweldiere op land wat die veldbrande van lank gelede oorleef het was óf amfibies (soos krokodille en varswaterskilpaaie), klein genoeg om te grawe en skuiling te soek (vroeë diere so groot soos knaagdiere) óf hulle was amfibiese graafdiere (voëlbekdiere). Foto: Michael Lee

Die landdiere wat die uitwissing vrygespring het, het oorleef deur óf gedeeltelik in die water te leef óf in diep skeure gewoon of geskuil het.

Onder die reptiele het krokodille en varswaterskilpaaie (albei amfibies) oorleef. Wurmakkedisse (worm-lizards) en graafslange (burrowing snakes) het oorleef, maar akkedisse en slange wat op die oppervlak leef, is swaar getref.

... dit lyk asof elke landdierspesie wat groter was as ’n huiskat uiteindelik gedoem was, behalwe as hy kon swem, grawe of vlieg.

Onder die soogdiere het voëlbekdieragtige kloakadiere (platypus-like monotremes) (waterbewoners en graafdiere) uitgehou, net soos klein knaagdieragtige soogdiere waar daar plasenta teenwoordig is met geboorte (wat kon grawe of in diep skeure kon wegkruip). Alle groot soogdiere met plasenta by geboorte is egter dood. En terwyl minstens sommige voëls oorleef het, het al hul groot, aardgebonde dinosourus-familielede uitgesterf.

Om die waarheid te sê, dit lyk asof elke landdierspesie wat groter was as ’n huiskat uiteindelik gedoem was, behalwe as hy kon swem, grawe of vlieg.

Selfs daardie vermoëns het nie oorlewing gewaarborg nie: hulle het aan dié diere net ’n effens beter kans gegee. Pterosouriërs kon byvoorbeeld goed vlieg, maar hulle is steeds saam met die meeste voëlspesies uitgewis.

Onlangse navorsing doen aan die hand voëls wat op takke gesit het – wat woude nodig het om in te woon – is in wese uitgewis toe die meeste van die wêreld se bome verdwyn het. Die enigste oorlewende voëls was dié wat op die grond na kos gesoek het soortgelyk aan hoenders en ralle (rails) en dit het miljoene jaar geneem vir nuwe voëls wat op takke sit (hedendaagse sangvoëls) om weer te evolueer.

Deur baie spesies uit te roei, en dit hoogs selektief te doen, het die wêreldwye veldbrande (naas ander effekte van die impak van die asteroïed) die aarde se biosfeer totaal herstruktureer.

Ontbossing tydens vroeë veldbrande het voëls wat op die grond na kos soek gespaar, maar het voëls wat in bome woon en op takke sit vernietig. Foto: Michael Lee

En die huidige brande?

Die huidige onstuitbare veldbrande is streeksgebonde eerder as wêreldwyd en woed oor ’n kleiner land-oppervlak as die dinosourus-vuurstorm-scenario.

Tog kan die gevolge van die langtermynuitwissings ook ernstig wees, want ons planeet het reeds die helfte van sy woude verloor as gevolg van mense.

Hierdie brande is besig om skuiloorde vir biodiversiteit wat al hoe meer krimp te verwoes, wat terselfdertyd bedreig word deur ’n mensgeskepte mengeldrankie van besoedeling, indringende wilde spesies (invasive feral species) en klimaatsverandering.

Die katastrofe lank gelede is getuienis daarvan dat vuurstorms kan bydra tot uitgebreide uitwissings, selfs onder groot werweldiere wat wyd voorkom en baie beweeglik is.

Toe ’n nuwe wêreldorde uiteindelik te voorskyn kom, was dit radikaal anders as dit wat ons vantevore geken het.

Ons sien ook sekere soorte organismes sal die ergste getref word. Hele groeperings van soortgelyke spesies sou kon verdwyn, met ’n ernstige uitwerking op die funksionering van die ekosisteem.

Ons planeet se biosfeer het miljoene jare van regenerasie en evolusie nodig gehad om te herstel van die kernwinter en die wegholbrande wat deur die impak van die asteroïed veroorsaak is. Toe ’n nuwe wêreldorde uiteindelik te voorskyn kom, was dit radikaal anders as dit wat ons vantevore geken het: die era van dinosourusse het plek gemaak vir die era van soogdiere en voëls.

*Mike Lee is professor in evolusionêre biologie (gesamentlik aangestel deur die Suid-Australiese museum) aan die Flinders-Universiteit. Hierdie artikel het aanvanklik op  The Conversation verskyn.

Meer oor:  Veldbrande  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.