Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Australiese brande lei tot vuurtornado’s en swart hael

Die afgryslike bosbrande in Australië is reeds 12 jaar gelede deur klimaatskenners voorspel. Elsabé Brits skryf oor die brande wat só warm is dat dit selfs donderweer en weerlig opwek.

’n Vastevlerk-vliegtuig help met brandbestryding in North Nowra terwyl weghol-bosbrande amok maak. Foto: Mick Tsikas/AAP

Die brande in Australië is só wild en warm dat dit op plekke hul eie weer skep. Dit staan bekend as pirokonveksie (in Engels pyroconvection). Omdat die brand soveel hitte, wind en momentum opbou, ontstaan ’n vuurstorm.

’n Baie sterk stygstroom van lug ontstaan op grondvlak, en in en om die brand word die lug getrek na die kern, waar dit weer die stygende lug verplaas. Die turbulensie veroorsaak brandende warrelwinde en uiteindelik groot wolke wat donder en weerlig kan vorm en verdere brande kan veroorsaak. Indien die atmosferiese toestande reg is, kan dit selfs brandende tornado’s skep.

Só ’n vuurtornado het Kangaroe-eiland onlangs getref, waar van die mooiste natuurlewe voorkom. Dit het na beraming die lewe van 25 000 koalas geëis.

Dié donderwolke, bekend as piro-cumulonimbus, kan selfs swart hael laat neerreën. Sy meer algemene maat is die piro-cumulus, wat tot 15 km hoog kan strek. Die voorspelling is ’n skerp styging in die voorkoms van pirokonveksie en dus die voorkoms van dié wolke, omdat atmosferiese toestande weens die klimaat verander.

Ander weers- en klimaatskrisisse gaan Australië waarskynlik ook in die komende maande tref. Foto: Dave Hunt/AAP

Garnaut se voorspellings

Die suidooste van Australië het die afgelope 40 jaar – veral in die lente en die somer – aansienlik meer dae gehad waarin die atmosferiese toestande gunstig vir pirokonveksie was, aldus die Earth Systems and Climate Change Hub.

Dit is byna asof die Garnaut Climate Change Review, wat in 2008 onder leiding van Ross Garnaut gepubliseer is, ’n werklikheid geword het. Hy was ’n ekonoom wat die toekoms op grond van die wetenskap voorspel het.

Om ’n ekstreme brand te probeer blus is bykans onmoontlik en dit is ’n katastrofe – wel almal weet wat dít beteken
Ross Garnaut

Daarin is oor Australië geskryf: “Onlangse projeksies dui daarop dat brandseisoene vroeër sal begin, effens later sal eindig en oor die algemeen meer intens sal wees. Die effek verhoog met tyd, maar sal teen 2020 regstreeks waarneembaar wees.”

Die voorspelling van die voorkoms van toenemende ekstreme weersomstandighede, wat brande betref, sal teen 2034 met tussen 15% en 65% verhoog. Maar teen 2067 sal dit tussen 100% en 300% hoër wees. Die verslag het juis onderskeid getref tussen ekstreme brande en katastrofiese brande – presies wat hier aan die gebeur is. “Om ’n ekstreme brand te probeer blus is bykans onmoontlik en dit is ’n katastrofe – wel almal weet wat dít beteken.”

Verder: “Die risiko kan deur sterk, doeltreffende en vroeë optrede deur alle groot ekonomieë aansienlik verlaag word. Australië moet sy volle proporsionele deel in die wêreldwye optrede speel. As een van die ontwikkelde lande sal sy deel relatief groot wees en groot, vroeë veranderinge aan gevestigde ekonomiese strukture vereis.”

Dít het Australië nie gedoen nie.

‘n Satellietfoto van Nasa met al die plekke waar dit gebrand het op Nuwejaar, asook die reuse-rookwolk wat sigbaar is. Foto: Nasa

Warmste jaar in Australië

In Julie verlede jaar het nog ’n span kenners in die vakjoernaal Scientific Reports navorsing oor die intensiteit van die bosbrande in Australië en die verband met die klimaatsverandering gepubliseer. Hulle het na vorige brande gekyk en ’n duidelike verband tussen klimaatsverandering en pirokonveksie gesien.

Die brande in Australië is ’n buitengewone gebeurtenis wat in ’n groot mate met die klimaatskrisis verband hou.

Hoe meer kweekhuisgasse daar is, hoe groter is die gevaar vir brande, en hoe meer dae sal daar met ’n hoë brandgevaar wees.

Die brande in Australië is ’n buitengewone gebeurtenis wat in ’n groot mate met die klimaatskrisis verband hou. Verlede jaar was die warmste jaar op rekord vir dié land, volgens die Australiese Buro vir Meteorologie – dit was ’n volle 1,52 °C warmer as die langtermyn-gemiddelde. Verlede maand was die temperatuur op plekke tot 49,9 °C. Ernstige droogtes kom wydverspreid voor en hoe droër dit is, hoe makliker brand die plantegroei.

Plante gebruik koolstofdioksied uit die atmosfeer om energie te genereer en dit is moontlik dat meer koolstofdioksied in die atmosfeer tot meer plantegroei in sekere areas sal lei. Dit staan bekend as die CO2-bemestingseffek. Dit kan egter net gebeur indien daar genoeg water is, maar warmer temperature in die nag en in die winter kan die groeiseisoen van sekere plante verleng, aldus die Australiese Akademie vir Wetenskap.

Die bosbrande is wel deel van die Australiese ekosisteem. Baie van die inheemse plante brand maklik en vele spesies moet brand om te hernuwe. Maar dit moenie te gereeld brand nie en dit is wat gebeur. Heeltemal te veel. En nat dele het gebrand.

Bosbrande om Sydney soos afgeneem vanuit die Internasionale Ruimtestasie op 3 Januarie op ’n hoogte van 430 km bo die Aarde. Foto: Nasa

’n Brand groter as België

Dit is ’n katastrofe wat byna 2 000 huise verwoes het, minstens 25 mense is dood en 480 miljoen diere is dood. Die verstikkende rook oor ’n reuse-deel van die land hou ernstige gesondheidsgevare in.

Die Australiese regering en die premier, Scott Morrison, loop onder sterk kritiek deur vir hul houding oor klimaatskrisis. Sy adjunk, Michael McCormack, het onlangs gesê dit is “inner-city raving lunatics” wat hulle oor klimaatsverandering bekommer. En dat mense wat betoog oor die klimaat heeltemal te veel publisiteit kry. 

Wel, die klimaatskrisis het lankal van groot politieke belang geword, veral sedert die bewyse daarvan deur sekere politici verwerp word.

Soveel as of 5,9 miljoen hektaar is verwoes. Dit is groter as België.

Die syfers van die bosbrande is verstommend.

Soveel as of 5,9 miljoen hektaar is verwoes. Dit is groter as België.

’n Volle 2 700 brandbestryders en 3 000 weermaglede stry onverpoos teen die vlamme. Daar is 136 verskillende brande, waarvan 70 nog brand.

’n Polisiebeampte op 6 Januarie vanjaar by ’n beskadigde huis in Lake Conjola, Australië. Foto: Rob Stewart/Reuters

Die dood van unieke diere

Die Sydney-universiteit het bereken dat 480 miljoen diere dood is sedert die brande in September begin het. Teen hierdie tyd kan dit dalk selfs al dubbeld soveel wees. Soveel as ’n derde van alle koalas in dié land is dood. Die diere sluit in soogdiere, voëls en reptiele en dit sluit insekte, paddas en vlermuise uit. Dit diere het nie net doodgebrand of aan die rook verstik nie, maar van hulle sou ook ná die tyd aan honger en dors omgekom het.

Dit is moontlik dat die toekoms van sekere diere in Australië vir ewig in die gedrang is.

Omdat Australië so lank afgesny was van die groot landmassa het unieke diere – veral soogdiere – daar ontwikkel. Van Australië se 300 soogdiere is 244 eie aan dié land. Dit is die enigste landmassa wat drie groepe soogdiere het: Die buideldiere, die monotreme (dier met 'n kloaka soos die eendbekdier en die mierystervark) en die res van die soogdiere waar ’n plasenta by geboorte teenwoordig is.

Dit is moontlik dat die toekoms van sekere diere in Australië vir ewig in die gedrang is. Diere wat miljoene jare voor ons hier was. Tragies.

*Bronne: Geophysical Research Letters ; Scientific Reports; Garnaut Climate Change Review; CNN

*Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.