Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Baby boomers gaan nêrens nie

Die baby boomers (gebore tussen 1946 en 1964) was maar altyd ’n klomp dwarstrekkers. Waar vorige generasies direk ná skool gaan werk of oorlog maak het, het die boomers gaan reis, studeer, oorlog vermy, as hippies met alternatiewe leefstyle geëksperimenteer of sommer niks gedoen nie, vertel .

Wil jy vir ewig leef op Moeder Aarde? Die baby boomers wil beslis.Illustrasie: ISTOCK

Hierdie generasie het al die geleenthede wat met welvaart gepaard gaan, benut. Die boomers was dié generasie wat die bestaande orde uitgedaag én verander het. Van protes teen oorloë tot die omgewingsbeweging; van die burgerregtebeweging tot feminisme, die boomers was midde-in die stryd.

Nou is die klomp weer op ’n kruisvaart. Hul profeet het lank gelede gemymer: “And may you stay forever young.” Wat is ’n boomer-begrafnis sonder Bob Dylan se “Forever Young?” ’n Dooierige affêre. Snot en trane; reënboog-broodjies en flou tee.

Die stryd is nie meer met die establishment nie. Hulle ís die establishment. Hierdie klomp dwarstrekkers het nie die heersende orde oorgeneem sodat hul millenniërkindertjies op hul gatte kan sit nie. Skoppensboer is in hul visier. Die boomers geniet die lewe te veel en het besluit dit is onaanvaarbaar om te sit en wag op die dood.

Aubrey de Grey is die man wat nie glo in ’n emmerskoplysie nie. Hy wil vir ewig leef. De Grey mag wel soos Raspoetin lyk, maar hy is ’n gerekende wetenskaplike. Dié profeet van die ewige lewe (in die sekulêre sin van die woord) het ’n BA in rekenaarwetenskap aan Cambridge verwerf en daarna kunsmatige intelligensie nagevors voor hy van studierigting verander het. In Ending Aging skryf hy die doel met sy PhD (in biologie) was om veroudering te stop. Punt.

Die millenniërs moet hulle klaarmaak dat hul ouers se klankbaan onsterflik gaan wees.

Definitief kontroversieel; sy stellings dat die eerste persoon wat 1 000 jaar oud gaan word, reeds leef en dat die mens in die toekoms onsterflik gaan wees, word nie goedsmoeds aanvaar nie. Daar is mos altyd die dwarstrekkers onder die dwarstrekkers wat hunker na die stilles se blote aanvaarding van hoe dit bestem is om te wees. Diesulkes was nie regtig baby boomers nie. Net ’n voortsetting van hul ouers: “geduldig, gedienstig, gedwee”.

Waar ander bio-gerontoloë poog om die verouderingsproses te vertraag, is sy missie om dit totaal om te keer. Sy benadering vind beslag in Strategies for Engineered Negligible Senescence (SENS). Die SENS Research Foundation bevorder terapieë wat siektes en ongeskiktheid hanteer deur die skade aan selle vanweë ouderdom te herstel.

Is dit vergesog? In 2005 taak die MIT Technology Review ’n paneel van kundiges met onder andere Craig Venter, een van die dryfvere van die menslikegenoomprojek, om voorleggings van molekulêre bioloë te evalueer. Dié bioloë het meegeding in ’n kompetisie om te bewys De Grey se SENS­teorie “is so wrong that it is unworthy of learned debate”. Die paneel het tot die gevolgtrekking gekom dat nie een van die deelnemers SENS as sulks verkeerd bewys het nie.

De Grey werk nie net aan SENS nie. In 2001 het hy saam met David Gobel die Methuselah Foundation (MF) gestig wat onder meer twee kompetisies organiseer om veroudering in muise om te keer en om muise se lewensduur te verleng. Deesdae is die MF se missie “To make 90 the new 50 by 2030”.

Ray Kurzweil is een van die boomers wat prominent die Forever Young-evangelie verkondig en “wonderwerke” uitvoer. Kurz­weil se vele uitvindings en akkurate voorspellings is alom bekend en in 1999 ontvang hy die VSA se belangrikste eerbewys vir tegnologie genaamd die National Medal of Technology and Innovation. Maar vir vele dissipels is hy sinoniem met die Singularity. Hierdie genie skryf saam met dr. Terry Grossman Future Voyage waarin hul dit stel dat onsterflikheid moontlik is.

Kurzweil en Grossman stel drie stappe voor om dié doel te bereik. Die eerste brug verwys na strategieë om veroudering te vertraag. Die tegnologie hiervoor bestaan reeds en dit kom daarop neer dat jy nou ’n gesonde leefstyl volg en alle bestaande mediese sorg aanwend om jou lewe met ’n dekade of twee te verleng. Hierdie ekstra jare gaan jou in staat stel om die deurbrake waaraan tans gewerk word, te benut.

Die tweede brug is gebaseer op die biotegnologiese revolusie waar selle herstel en nuwe organe gemaak word. Die derde brug span nanotegnologie en kunsmatige intelligensie in wat jou onsterflik maak. En dan keer ons terug na Kurzweil en die Singularity: Jou brein word gekoppel met die rekenaar en die mens beskik oor onbeperkte kennis. Dié staat word beskryf in Yuval Noah Harari se boek Homo Deus: A Brief History of Tomorrow. Die mens word ’n god.

As jy steeds dink dit is ’n siek grap, let op die medereisigers. Larry Page en Sergey Brin, stigters van Google, het belê in Calico (California Life Company).

Calico meld op hul webruimte: “We’re tackling aging, one of life’s greatest mysteries.” Of anders gestel: Ons gaan die dood doodmaak. Calico se uitvoerende hoof is Arthur Levinson, voorsitter van Apple. Voorste wetenskaplikes verskaf breinkrag en daar is bande met sakereuse. Hoe meer jy navorsing doen oor die stryd teen ouderdom, hoe meer duik name van miljardêrs en bekroonde wetenskaplikes op. Skoppensboer slaap blykbaar nie meer so rustig nie.

Die baby boomers het hulself nog altyd as die uitverkore en baie spesiale generasie beskou. Alles in die lewe draai om hulle. Produkte, boeke, films, TV-reekse, ensovoorts word spesiaal bekook om die boomers se oog te vang. Dit is waar die geld lê. En waar almal gehoop het die klomp fossiele sal soos al die oues voor hulle aanstaltes maak, lyk dit of die wêreld vir ewig met ’n groot groep van hierdie klomp windgatte opgeskeep gaan sit.

Die millenniërs moet hulle klaarmaak dat hul ouers se klankbaan onsterflik gaan wees. Die rockgroepe wat hulle gehoop het nou uiteindelik ’n “Final Goodbye Tour” sal onderneem, gaan nie net aanhou dekadent leef nie; die kanse is uitstekend dat daar ’n millenniër-groupie in die toergeselskap gaan wees. Wat ’n gatslag vir die hipsters!

  • Steyn is ’n vryskutskrywer van Bloubergstrand.
Meer oor:  Ouers  |  Millenniërs  |  Baby Boomers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.