Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Baie bruin mense steeds arm 40 jaar ná Theron-verslag

40 jaar ná die bekendmaking van die Erika Theron-verslag oor bruin armoede, is tussen 30% en 50% van Suid-Afrika se bruin bevolking steeds in ’n siklus van armoede vasgevang, skryf Sampie Terreblanche, wat destyds lid van die Theron-kommissie was.

Prof. Sampie Terreblanche. Foto: Liza van Deventer

Die kommissie van ondersoek na aangeleenthede rakende die bruin bevolkingsgroep is deur die Vorster-regering in Maart 1973 aangestel en het sy werk in April 1976 voltooi.

Die kommissie se verslag is op 18 Junie 1976 in die parlement ter tafel gelê – twee dae nadat die Soweto-onluste uitgebreek het. Gevolglik was die Theron-verslag verouderd toe dit ter tafel gelê is.

Terwyl die regering van die Theron-kommissie verwag het om met oplossings na vore te kom vir die ernstige sosiaal-ekonomiese probleme wat die bruin mense geteister het, het die kinders van Soweto besluit dat die probleme van verstedelikte swartmense baie meer aktueel was en die volle aandag van die regering behoort te ontvang het.

Die Theron-kommissie het uit 18 lede bestaan – 6 lede was bruin, 7 lede was verkrampte blankes en 5 lede was verligte blankes.

Die werk van die kommissie is erg belemmer, omdat die sewe verkrampte blankes byna al die ander se aanbevelings teengestaan het of minderheidsvoorstelle ingedien het. Die skerp ideologiese polarisering tussen die 7 verkramptes en die 11 verligtes wat in die kommissie ontstaan het, was ’n spieëlbeeld van die onverkwiklike ideologiese stryd wat veral in die sewentiger en tagtigerjare tussen die verkramptes, hoofsaaklik in die noorde, en die verligtes, hoofsaaklik in die suide, geheers het.

Die bruin inwoners moes nie net deur die water strompel nie, hulle moes ook daar woon. Dit was verskriklik.

Prof. Erika Theron was ’n professor in maatskaplike werk aan die Universiteit Stellenbosch en het daarop aangedring dat ons ter plaatse besoeke aan al die stede en dorpe met groot bruin bevolkings aflê.

Sy wou gehad het ons moet die bruin mense se probleme sien en uit hul eie monde hoor. Dit was ook my eie ervaring, in my hoedanigheid as ’n kommissaris, dat ’n mens dieper kon sien en helderder kon hoor deur self te gaan kyk hoe die mense leef.

Een ter plaatse besoek dien as goeie voorbeeld. Gedurende Junie 1974 het dit geweldig baie gereën. Die son het net vir ses dae geskyn. Die kommissie het in daardie tyd verskeie besoeke aan bruin woonbuurte afgelê. Ons het geen ander keuse gehad as om deur water wat kniehoogte diep was voort te strompel nie. Die bruin inwoners moes nie net deur die water strompel nie, hulle moes ook daar woon. Dit was verskriklik.

Armoede met moedersmelk

Soos ons gevorder het met ons navorsing, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat die bruin mense se oorheersende probleem armoede was.

As die voorsitter van die werkgroep oor ekonomie en arbeid het ek die taak gekry om my oor die omvang en die aard van bruin armoede te vergewis.

Voordat ek my in die bruin armoede verdiep het, het ek sowat 20 Amerikaanse boeke gelees oor “strukturele armoede” wat in die geledere van die 30 miljoen Afro-Amerikaners voorgekom het. Daardie armoede is beskryf as “a vicious circle of poverty”, “a subculture of poverty”, “an American syndrome”, “permanent poverty”, “a study of slum culture” en “urban poverty in a cross cultural context”.

Daarna het ek die Carnegie-komissie se 1932-verslag bestudeer. Die NG Kerk het vroeër jare geld by die Carnegie-korporasie gekry om die armoede van die arm blankes te bestudeer en het in 1932 die sogenaamde Carnegie-verslag oor die armblankevraagstuk in Suid-Afrika uitgereik.

Teen die tyd dat hulle 20 jaar oud was, het hulle al soveel as 6 of 7 kinders by verskillende pa’s gehad

Daar was in 1931 sowat 1,6 miljoen blanke mense in Suid-Afrika waarvan sowat 1 miljoen Afrikaans was. Die Carnegie-kommissie het bevind dat een derde van die Afrikaners ekonomies in ’n goeie posisie was, dat een derde arm was, maar nie sorgwekkend arm nie, en dat die laaste derde wel sorgwekkend arm was, en onder “sosiaal-erflike armoede” gebuk gegaan het.

Die Carnegie- ’nkommissie het die armoede van die 300 000 armblankes soos volg beskryf: “Hulle langdurige armoede is dan ook as iets onvermydelik opgevat en met dooie berusting gedra. Negatiewe eienskappe soos sorgeloosheid en onverantwoordelikheid, ’n bewustheid van minderwaardigheid en gebrek aan arbeidsaamheid en ambisie het by ’n gedeelte van die armblankes voorgekom.” Gevolglik is beweer dat hulle “dikwels vadsig lui, lusteloos en onsinlik” was.

Ná 1934 het die Gesuiwerde Nasionale Party en die Herenigde Nasionale Party (1940), die NG Kerk en ander Afrikaner-kultuurorganisasies die opheffing van die armblankes as hul hooftaak aanvaar.

Vanaf 1948 het die Nasionale Party-regering reuse-bedrae op die opheffing van die armblankes bestee. Dit het tot gevolg gehad dat die armblanke-probleem teen 1970 as opgelos aanvaar is.

Nadat die Theron-kommissie die bruin probleem indringend nagevors het, het hy bevind dat die totale bruin bevolking van 2,4 miljoen in 1975 in drie strate ingedeel kan word: ’n Boonste stratum van 600 000, wie se ekonomiese posisie nie problematies was nie; die middel strata van 800 000 wat arm was, maar nie sorgwekkend arm nie; en ’n onderste stratum van 1 miljoen bruin mense wie se gedrag so afwykend was en sodanige liggaamlike en geestelike insinking vertoon het dat hulle inderdaad in ’n toestand van chroniese gemeenskapsarmoede geleef het. Die kinders in hierdie derde stratum het ’n armoede-mentaliteit met moedersmelk ingekry. Van hulle sesde of sewende lewensjaar het hulle lede van kriminele bendes geword. Die dogters het babas van hul 12de lewensjaar gekry. Teen die tyd dat hulle 20 jaar oud was, het hulle al soveel as 6 of 7 kinders by verskillende pa’s gehad, wat nooit teenwoordig was nie. Hierdie patroon van gesinsbou is vir verskeie geslagte voortgeplant.

Dit is ’n vorm van “strukturele armoede”, wat chronies deel van die verarmde bruin gemeenskap geword het.

Politieke mag

Die kommissie het bevind dat die inkomste van die onderste twee strata van die bruin mense baie laag was. Baie het onder die sogenaamde broodlyn geleef. Die inkomste en die onderwyspeile van die plaaswerkers buite die distrik van Stellenbosch was besonder laag. Die gesondheidsdienste beskikbaar aan diegene wat in chroniese gemeenskapsarmoede geleef het, was baie ontoereikend.

Wanneer ’n mens die verloop van die armblankeprobleem in die 40 jaar van 1930 tot 1970 met die verloop van die probleem van chroniese gemeenskapsarmoede van die burin mense van 1976 tot 2016 vergelyk, dan staan een ding baie duidelik uit: Terwyl die armblankes politieke mag en parlementêre verteenwoordiging gehad het, het die bruin mense sedert 1956 geen politieke bedingingsmag gehad nie.

Dit is dus nie verbasend nie dat die armblanke-probleem teen 1970 opgelos was terwyl die probleem van chroniese gemeenskapsarmoede van die bruin mense sedert 1976 onopgelos gebly het en waarskynlik vererger het.

Vorster het die aanbeveling kategories en sarkasties verwerp.

Dit is wel waar dat die bruin mense in 1910 met uniewording verskanste parlementêre verteenwoordiging in Kaapland gekry het. Hierdie regte is egter op ’n hoogs immorele wyse in 1956 afgeskaf toe die senaat van 44 lede tot meer as 100 lede vergroot is.

Die Theron-kommissie het in sy finale aanbeveling (aanbeveling 178) voorgestel dat “met die oog op die verdere uitbreiding van die politieke burgerregte van die kleurlinge en die skepping van geleenthede tot meer konstruktiewe deelname en samewerking voorsiening gemaak sal word vir bevredigende vorme van regstreekse kleurling-verteenwoordiging en seggenskap op die drie verskillende owerheidsvlakke en besluitnemingsliggame”.

Toe die Theron-verslag in April 1977 in die parlement bespreek is, het mnr. John Vorster (destydse eerste minister) aanbeveling 178 kategories en sarkasties verwerp. Die P.W. Botha-regering het in 1984 die driekamer-parlement ingestel om ’n vorm van parlementêre verteenwoordiging vir bruin mense en Asiate te skep. Die driekamer-parlement het weliswaar heelwat ekonomiese voordele vir die boonste strate van die bruin mense en Asiate geskep in die tien jaar wat dit bestaan het. Dis egter onwaarskynlik dat betekenisvolle voordele na die armste 40% van die bruin mense wat in chroniese gemeenskapsarmoede geleef het, deurgesyfer het.

Gemeenskapsarmoede

Die bruin bevolking het van 1976 tot 1916 verdubbel van 2,4 miljoen tot 4,8 miljoen. Watter gedeelte steeds in chroniese gemeenskapsarmoede leef, is onbekend, maar dis waarskynlik tussen 1,5 en 2 miljoen – dit wil sê tussen 30% en 50%.

Dit moet vermeld word dat die armste strata van die bruin mense die kinder- en ouderdomstoelae ontvang wat die ANC-regering aan hulle uitbetaal. Hierdie toelaes is lofwaardig en is uit ’n humanitêre oogpunt noodsaaklike ondersteuning vir die armes.

Ons moet egter nie verwag dat die toelaes die armste 50% van die totale bevolking uit hulle chroniese armoede gaan ophef nie.

Sara Masoeta het in 2012 ’n merkwaardige boek gepubliseer: Eating from one pot.

Haar navorsing oor die lewenstyl van bruin en swart uitgebreide huishoudings dui daarop dat daar binne die geledere van hierdie huishoudings onverkwiklike konflik, binnegevegte en geweld plaasvind oor hoe die geld tussen die lede van die uitgebreide huishoudings verdeel moet word.

Masoeta pas die idee van koöperatiewe konflik aan om te argumenteer dat daar meer konflik as samewerking in hierdie uitgebreide huishoudings plaasvind.

Die ontwrigtende effek van hierdie huishoudelike konflik moet nie onderskat word nie.

  • Prof. Sampie Terreblanche is ’n emeritus-professor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en destyds een van die verligte lede van die Theron-kommissie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.