Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Basta met fieterjasies, apartheid wás misdaad teen mensdom

Daar is nou wel nooit ’n volksmoord gepleeg tydens apartheid nie, maar dit was ’n sistematiese misdaad teen apartheidslagoffers, het Anton van Niekerk aan Willemien Brümmer gesê.

Die spoorweg na Auschwitz-Birkenau in Januarie 1945. Duitse treine het met reëlmaat en presisie hul grusame “vragte” by Auschwitz en ander uitwissingskampe tydens die Holocaust afgelewer. Foto: Yad Vashem foto-argiewe met die vergunning van die USHMM foto-argiewe

Hoe definieer ’n filosoof soos u die begrip volksmoord – en wat is die verskil tussen ’n volksmoord en ’n misdaad teen die mensdom?

’n Volksmoord is ’n berekende aksie van groepe mense (byvoorbeeld die SS, staatsmilisie van die Nazi’s, of ’n etniese groep soos die Hutu’s in Rwanda en Burundi) om mense van ’n ander groep sistematies en voor die voet uit te moor.

Die doodslag van ’n volksmoord is nooit ’n verdedigende aksie nie (soos byvoorbeeld Brittanje of Pole wat hulle moes verdedig teen die Duitse aggressie in die Tweede Wêreldoorlog). Dit geskied doelbewus en aggressief. Opset is ’n sentrale deel daarvan. Die redes is gevoelens van bedreiging of verswelging (dink hoe Hitler oortuig was dat die Jode “alle aspekte van die Duitse leefwêreld in beslag begin neem het”).

Die soort volksmoorde wat ons in die 20ste eeu gesien het, is daarby nie eintlik moontlik of voorstelbaar sonder bestuurskunde en tegnologie nie. Laasgenoemde stel die misdadigers in staat om lank met die dade te volhard.

Die uitdrukking “misdaad teen die mensdom” gebruik ek nie in die regstegniese sin nie...

Vergelyk byvoorbeeld die reëlmaat en presisie waarmee Duitse treine hul grusame “vragte” by Auschwitz en ander kampe tydens die Joodse volksmoord aangebring het. Dit het voortgegaan selfs tot enkele dae voordat die Russe daar aangekom het – en toe dit lankal duidelik was dat die Duitsers die oorlog verloor het.

Die uitdrukking “misdaad teen die mensdom” gebruik ek nie in die regstegniese sin waarin dit in die internasionale strafreg sedert die Tweede Wêreldoorlog gebruik word nie. Ek interpreteer die term meer metafories as aanduiding van die baie sterk morele verontwaardiging wat mense beleef wanneer fundamentele menseregte aangetas word. Dink maar aan die verdrywing van die Aborigines in Australië en die Indiane (die oorspronklike Amerikaners) in die 19de eeuse VSA, asook die “lynching” (openbare foltering en vernedering) van vrygelate slawe in die suide van die VSA tot ruim in die 20ste eeu.

Sou jy apartheid beskou as ’n misdaad teen die mensdom en hoekom?

Laat my begin deur te sê dat, ondanks al die geregverdigde kritiek op apartheid, ek nie dink daar ooit ’n volksmoord gedurende apartheid gepleeg is nie. Dit is so dat sowat 5 000 mense tussen 1948 tot 1994 in apartheidsverwante omstandighede dood is. Daar was egter nooit ’n sistematiese beplanning vir ’n opsetlike uitdelging van ’n spesifieke groep nie.

Tegnologie het ’n onbeduidende rol gespeel, totdat die gevegte aan die grens ’n lae-intensiteit konvensionele oorlog geword het. Daar is selfs ’n atoombom ontwikkel, maar ek twyfel of dit ooit bedoel was om gebruik te word. Dit was eerder net ’n afskrikmiddel.

Dus: As volksmoord ’n deel is van ’n mens se definisie van ’n “misdaad teen die mensdom”, dan sou ek huiwerig wees om apartheid as ’n “misdaad teen die mensdom” te beskryf.

Oudpres. FW de Klerk tydens verlede week se staatsrede toe die FW hom uitgejou het en gevra het om die parlement te verlaat nadat hy gesê het apartheid was nie ’n misdaad teen die mensdom nie. Foto: Jaco Marais

Maar die uitdrukking “misdaad teen die mensdom” omvat, veral in die metaforiese sin waarin ek dit gebruik, veel meer as “bloot” volksmoord. En dít is waar apartheid allesbehalwe goed daarvan afkom. Apartheid is gekenmerk deur ’n reeks blatante menseregtevergrype en diskriminerende maatreëls teen mense wat nie wit is nie. In dié sin was naakte rassisme die grondslag vir apartheidsmaatreëls. Dink net aan die Wet op Rasseklassifikasie, die Groepsgebiedewet, sosiale skeiding tot absurde uiterstes (soos aparte hysbakke en drankwinkels), die verbod op ’n kommunistiese party, die onteiening en radikaal ongelyke verdeling van grond, minderwaardige skole en universiteite vir swart mense, die verbod op stemreg, en nog baie meer.

Dit is dus in die laasgenoemde sin dat ek weinig twyfel het dat ’n mens tereg van apartheid as ’n “misdaad teen die mensdom” kan praat – soos tot uitdrukking kom in die internasionale konvensie van die Verenigde Nasies (VN).

Dié reeks maatreëls is vir my wel ’n aanduiding van ’n sistematiese misdaad teen apartheidslagoffers. Dit is dus in die laasgenoemde sin dat ek weinig twyfel het dat ’n mens tereg van apartheid as ’n “misdaad teen die mensdom” kan praat – soos tot uitdrukking kom in die internasionale konvensie van die Verenigde Nasies (VN).

Prof. Anton van NiekerkFoto: Foto24

Maar die feit dat apartheid wél ’n misdaad teen die mensdom was, beteken nie ons moet nou dadelik alle oorlewende apartheidsleiers aankla, verhoor en in die tronk gooi nie. Die mooi ding van Suid-Afrika se geskiedenis die afgelope 30 jaar is dat ons die ander uitweg gekies het – die pad van onderhandeling, skikking, versoening en nasiebou. Dit is ’n veel meer konstruktiewe pad. Maar dit doen steeds geen afbreuk aan ons herinnering aan die onmenslikheid en morele veragtelikheid van apartheid nie.

Die FW de Klerk Stigting het op Valentynsdag in ’n verklaring (wat hulle intussen teruggetrek het) gesê “die idee dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was bly politieke propaganda deur die Sowjetunie en hul ANC/SAKP-vennote”. Is dit nie dalk ’n geval van “the lady doth protest too much nie”?

Die uitspraak van die stigting was myns insiens ’n hopelose oordrywing en wanvoorstelling van die werklike stand van sake, soos ek dit pas probeer verduidelik het. ’n Stigting wat die naam “FW de Klerk” dra, behoort met veel meer beskeidenheid en besef van eie aandadigheid aan die onreg van apartheid te werk te gaan, as hulle aan hierdie debat wil deelneem.

Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, het ook in 2018 gesê apartheid was nie ’n misdaad teen die mensdom nie. Hy het dit tydens ’n radio-onderhoud met Eusebius McKaiser gesê op Talk Radio 702.Foto: Elizabeth Sejake

Is dit nuttig in die huidige diskoers dat oud-politici soos FW de Klerk en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, op regstegniese punte probeer argumenteer dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie? Is dit nie wel, soos die ANC gesê het, ’n “klap in die gesig van ons pogings tot versoening en nasiebou” nie?

Enige poging om met regstegniese fieterjasies die onreg van apartheid te probeer geringskat is, as ek ’n Engelse spreekwoord regstreeks in Afrikaans mag vertaal, om te “fluit in die donker”.

Dit grawe ou koeie uit die sloot en maak slapende honde wakker.

Om te dink dat wit mense ná 25 jaar van vryheid nou weer kan begin om apartheid op die een of ander manier goed te praat, is om presies die verkeerde sein te stuur en presies die verkeerde strategie te volg. Dit grawe ou koeie uit die sloot en maak slapende honde wakker. Dit herinner swart mense opnuut aan die onheil wat hulle moes ervaar, en só word die politieke temperatuur opnuut opgejaag tot by ’n punt waar wraaksug weer sy verskyning gaan maak.

Die EFF het tydens die staatsrede gesê FW se hande “drup van bloed”. Jou kommentaar?

Die uitdrukking is kennelik ’n oordrywing, maar dit is ook ’n aanduiding van dit waarna ek in my vorige antwoord verwys het. Ek het agting vir die leierskaprol wat De Klerk gespeel het om apartheid te beëindig – ’n rol, mag ek byvoeg, wat hy nooit suksesvol sou kon speel as dit nie vir die ruimhartigheid en vergewensgesindheid van Nelson Mandela was nie. Maar De Klerk kom uit ’n baie konserwatiewe politieke agtergrond, en verdien waardering vir die manier waarop hy daardie agtergrond te bowe gekom het en gedoen het wat reg is in die situasie van die vroeg negentigerjare.

Die FW de Klerk Stigting het op Valentynsdag in ’n verklaring (wat hulle intussen teruggetrek het) gesê “die idee dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was bly politieke propaganda deur die Sowjetunie en hul ANC/SAKP-vennote.Foto: Jaco Marais

Tot sy verdere krediet moet gesê word dat De Klerk nooit die veiligheidsmagte of -polisie as magsbasis gehad het of oor ’n breë front aangewend het nie. Daar is geen oortuigende getuienis dat hy ooit regstreeks aandadig was aan geweldsdade nie.

Dit impliseer noodwendig dat hy ’n besondere verantwoordelikheid in die naam van die meeste wit mense dra vir apartheid in sy laaste fase.

Tog was hy die hoof van die laaste apartheidsregering en vir ’n aantal jare leier van die NP in die ou Transvaal. Dit impliseer noodwendig dat hy ’n besondere verantwoordelikheid in die naam van die meeste wit mense dra vir apartheid in sy laaste fase.

In die lig van sy “werklik veragtelike vertoning in die Parlement” verlede Donderdag, kry ek werklik nie die indruk dat Malema hoegenaamd in ’n doeltreffende, werkende demokrasie belang stel nie, meen Anton van Niekerk.Foto: Jaco Marais

Is dit nie ironies dat juis die EFF gesê het FW se hande drup van bloed terwyl hulle glad nie skaam is om Suid-Afrikaners tot geweld aan te por nie?

Dit is uiters ironies. Julius Malema het die berugte uitspraak gemaak dat hy “nog nie” opdrag gegee het dat wittes vermoor moet word nie – duidelik met die implikasie dat daardie dag weldra sal aanbreek.

Dit is die praatjies van ’n totaal onverantwoordelike politieke avonturier wat nie die vaagste benul het van wat met ’n land gebeur waarin ’n burgeroorlog uitbreek nie.

Die reëls van die parlement ... behoort so gou moontlik verander te word om Malema en sy makkers se vlerke te knip.

In die lig van sy werklik veragtelike vertoning in die parlement verlede Donderdag, kry ek werklik nie die indruk dat Malema hoegenaamd in ’n doeltreffende, werkende demokrasie belang stel nie. Sy optrede is ’n klassieke illustrasie van Karl Popper se waarskuwing dat egte demokrate altyd moet waak teen die “paradoks van demokrasie” – die gebruik van demokratiese instellings en gebruike om die demokrasie self te beëindig. Die reëls van die parlement – ’n legitieme, demokraties verkose instelling van ons land – behoort so gou moontlik verander te word om Malema en sy makkers se vlerke te knip.

* Van Niekerk is professor in filosofie en direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.