Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Begin mekaar hoor en verstaan – in Afrikaans

Dit het tyd geword dat deelnemers aan die taaldebat mekaar moet begin hoor en verstaan, skryf Danny Titus. En hulle moet dit juis in Afrikaans doen.

Danny Titus

Sal die verligting wat die land tans ervaar ná die verkiesing van Cyril Ramaphosa as president van die ANC ook die Afrikaanse gesprek stimuleer?

Dié gesprek het ietwat van ’n dialoog van die dowes geword met die onderskeie partye wat mekaar net nie hoor nie.

Ek dink Leon Wessels het na Ramaphosa verwys waar hy skryf oor die opgewondenheid oor die aanvaarding van inheemse tale tydens die onderhandelingsproses. “Om te dink my taal kry nou grondwetlike erkenning en staan daar langs Engels en Afrikaans!”

Dis te hope dat die Ramaphosa-onderhandelingsparadigma wat ons politiek nou betree in plek van die misdadige patronaatskapstyl van pres. Jacob Zuma, ons ore gaan oopmaak.

In die uitspraak oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat in die konstitusionele hof, begin hoofregter Mogoeng Mogoeng sy uiteensetting van die Suid-Afrikaanse konteks met die volgende aanhaling: “Apartheid het ons met talle letsels gelaat. Die ergste daarvan moet wees die enorme ongelykheid ten opsigte van toegang tot openbare en private bronne.

Diep maatskaplike teenstrydighede en daarmee gepaardgaande ongelykhede is ongelukkig steeds met ons.

“Dit het ’n hiërargie van bevoordeling en benadeling gemagtig. Ongelyke toegang tot geleenthede het op elke terrein geheers. Toegang tot private en openbare onderwys was geen uitsondering nie.

“Hoewel baie remediërende werk gedoen is sedert die begin van grondwetlike demokrasie, is diep maatskaplike teenstrydighede en daarmee gepaardgaande ongelykhede ongelukkig steeds met ons.”

Die uitspraak wat ten gunste van die Universiteit van die Vrystaat se nuwe taalbeleid was, is dus die stem van die land se hoogste geregshof. Die hof stel dit dan ook verder dat “die Grondwet in geen onduidelike taal nie hartstogtelik vereis dat hierdie maatskaplike ongelykheid beëindig word deur ’n radikale transformasie van die samelewing in die geheel en van openbare onderwys in die besonder.”

Afrikaans ook deel van bevrydingstryd

Hierdie uitspraak word egter anders gehoor wanneer ’n mens verskeie Afrikaanse kommentators se menings hieroor lees.

Dit geld ook die minderheidsuitspraak geskryf deur regter Johan Froneman. Hoewel hy verskil van die meerderheidsuitspraak, verskaf hy duidelike aanbevelings vir die wyse waarop die Afrikaanse gesprek hanteer kan word.

Hy stel dit heel duidelik dat “Afrikaans nie kan aanspraak maak op grondwetlike beskerming solank as wat dit eksklusief en rasgebonde bly nie”.

Sommige Afrikaanssprekendes sê hy, “het lankal reeds verkies om ’n inklusiewe pad te loop wat nie op ras of ander gronde diskrimineer nie”.

Dan beklemtoon hy sy interpretasie van die Suid-Afrikaanse konteks van die Afrikaanse gesprek. “Vir blanke Afrikaanssprekendes is dit ’n pynlike, maar ook bevrydende ervaring. Ons leer hoe ons ons taalgenote se ontstaansbydrae tot die taal wat ons liefhet en hul menswaardigheid liederlik ontken en misken het.”

Ons leer soveel nuuts wat ’n trots vir die taal aanwakker.

Hy bly nie hier staan nie. “Maar terselfdertyd,” sê hy, “leer ons soveel nuuts wat ’n trots vir die taal aanwakker: byvoorbeeld dat dit ook deel van die bevrydingstryd was.” Heeltemal anders as die tante van die Gautengse onderwysdepartement wat in die hofstukke van die Overvaal-saak haar as volg oor Afrikaans uitspreek: “ . . . a language that was used as a tool of segregation and discrimination during apartheid which 90% of South Africa bemoan; a language whose legacy is sorrow and tears to the majority of whom it was not their mother tongue.”

Dit was minister Angie Motshekga, wat die Gautengse departement in die bek moes ruk oor Afrikaans. ’n Bietjie mosterd ná die betogings van die EFF en die ANC, maar steeds lofwaardig vir die nugterheid wat dit bring.

Regter Froneman is sterk gekritiseer deur AfriForum, sowel as oud.pres. FW de Klerk. Tog vra Froneman aan AfriForum vir ’n “erkenning van die kompleksiteit van taalregte van andere en die ongelyke behandeling van onderdrukte mense van ander rasse in die verlede, wat nog te sê van die huidige voortsetting van hierdie historiese bevoorregting”.

Ons moet mekaar begin hoor en verstaan.

Dit is die woorde van ’n regter van die konstitusionele hof en hy stem nie eens saam met die meerderheid nie.

Ons moet mekaar begin hoor en verstaan; juis ook in Afrikaans. Drie swart (African) joernaliste het onlangs onder die vaandel van die ATKV gepraat oor hul ervarings in en verwagtinge van Afrikaans. In die sensusopname van 2011 het 602 000 swart Suid-Afrikaners gesê Afrikaans is hul moedertaal.

Die gehoor kon nie uitgepraat raak oor die besondere ervarings en insigte van Afrikaanssprekende landgenote wat tradisioneel nie deel is van die hoofstroom-gesprekke oor Afrikaans nie.

Regter Froneman vra vir praktiese voorstelle om ander rasse tegemoet te kom en taalgebruik te vergemaklik.

Ek dink ons moet by ons geslote ore begin. Maak dit oop sodat die dialoog kan begin.

* Dr. Titus is die ATKV se uitvoerende direkteur van kultuur.

Meer oor:  Atkv  |  Angie Motshekga  |  Danny Titus  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.