Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Begryp pyn wat ou vlag bring

Die wreedhede wat sy mense in die naam van hul meerderwaardigheid kon pleeg, laat sy siel nou nog vries, skryf Koos Botha.

Ek het nogal gedink, ag wat, laat hulle maar die ou Suid-Afrikaanse vlag hou en vertoon en laat die wat so voel maar die volkslied van lankal sing. Ek self voel nog die koestering vir dit wat ook myne was.

Toe vertel my dogter, Monique, my van haar ervaring waar sy die enigste wit persoon tussen 17 mense was. Eers maande nadat sy by die groep aangesluit het, het sy eendag saam met Lebohang aan tafel gesit.

Die man vertel van 40 jaar gelede toe die wit veiligheidspolisie gekom en sy ouer broer doodgemaak het: “Hulle het ’n sak oor sy kop getrek en ’n kat saam in die sak gestop. My broer se arms is agter sy rug vasgemaak. My ouers en broers en susters is gedwing om te kom kyk toe hulle hom in die rivier gooi. Ons almal moes gadeslaan hoe hy verdrink. Hulle is gesmeek om die jongste kind, dit was ek, die gruwel te spaar, maar nee, ek moes ook kyk.”

Hy het voortgegaan: “Dit is iets wat ek nooit, ooit kan vergeet nie. Ek en my mense is vandag nog skrikkerig vir die polisie. Ons haat al die simbole van die tydperk voor 1994, ook die vlag wat die gruwels van die ou tyd simboliseer. Dit was altyd verskriklik as die wit polisie skreeuend opdaag waar jy ook al was. Ons het dag en nag in vrees gelewe.”

Dit was altyd verskriklik as die wit polisie skreeuend opdaag waar jy ook al was. Ons het dag en nag in vrees gelewe.

Ek self onthou verhale van wit hoërskoolseuns wat daarvan ’n stokperdjie gemaak het om enige swart man waar ook al op enige onmenslike manier te verneder.

Ek onthou ’n episode uit die 1950’s toe ek saam met ’n jong boer in sy nuwe bakkie was. Op die grondpad het hy telkemale ’n swart man op ’n fiets in die pad gewaar en so naby hy kon aan hom verby gejaag. En dan gelag as hy in die truspieël sien hoe die man in die stof neerslaan.

Toe sy bakkie op ’n slag die handvatsel van ’n fiets tref en die man en fiets in ’n boog na die boskant werp, stop hy briesend om boonop die slagoffer te gaan donder.

Iets in my siel het gevries. Ek het besef geen berisping sou hierdie man raak nie.

Later jare hoor ek hoe sekere jong mans op ’n plattelandse pad tussen twee dorpe na karre met swart insittendes gesoek het. Die kar is tot stilstand gedwing en dan was die gewoonte om hul vingers agteroor te breek. Ek sidder oor verhale wat toon my eie mense het hierdie gruwels op baie plekke in die land gepleeg!

Ek onthou die aanvoelbare haat van swart mense in hysbakke in die 1960’s. En die heerlikheid van singende mense in die strate van Gaborone toe ek in 1973 die eerste keer ná onafhanklikheid in Botswana kom.

Ek onthou ook wonderlike mooi dinge van die verhouding tussen ’n boer en sy swart werkers. Ook baie ander verhale van ’n mooi verhouding tussen kleurgroepe.

Maar die barbaarse, onmenslike wreedhede wat my mense uit die derms van hul onmenslikheid in die naam van hul meerderwaardigheid kon pleeg, laat my siel nou nog vries. En Sondag sit hulle in die kerk as bewys van hul heiligheid wat skoner as dié van die swart barbare is!

Of is hulle self die slagoffers van minderwaardigheid en hul vergrype die braaksel wat uit stinkende wonde sweer? Dit vergoeilik hoegenaamd nie die diaboliese wreedheid in vandag se gruwelmoorde nie, maar dit moet ’n faktor wees wat die perspektief daaroor kan verhelder. Ontketen die neem van ’n lewe die diaboliese wat reeds in alle moordgruwels ingebou is?

Dit beklemtoon wel waarom die agting vir die heiligheid van menselewens hogere sorg verdien en waarom hoflikheid en verdraagsaamheid altyd in almal se opvoeding nodig is om billike mense te kweek.

Hoe groot die mens werklik is, word bepaal wanneer hy met die minste onder sy medemens omgaan en praat.

As die ou vlag en die volkslied hierdie gruwels weer naby bring vir my medemense wat in die res van my dae saam gedeel word, gee dit my ’n renons daarin as daar mense is wat nog nie weet van die menslikheid van alle mense nie. Die Sotho-spreekwoord “Motho ke Motho ka Batho” beteken ’n mens is ’n mens deur mense.

Dit is nodig dat alle Suid-Afrikaners die skilfers van hul vals meerderwaardigheidsgevoelens finaal uitwas.

Sodat ons al ons vuil wasgoed kan was en die toekoms met saamwees en saampraat in geregtigheid saam kan bou.

Meer oor:  Vlag  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.