Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Cyril-era: Behou perspektief en bly kalm

Suid-Afrika (en veral sy minderhede) het skynbaar binne ’n paar maande van Ramaforia na Ramaskeptisisme beweeg. Behoort dit só te wees? Of is daar ’n ander perspektief? vra Theuns Eloff.

Pres. Cyril Ramaphosa aan die woord tydens die Brics-beraad in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Dis maklik om die faktore wat tot Ramaforia gelei het, te identifiseer. Aan die einde van 2017 was Suid-Afrika in ’n gat van moedeloosheid. Dit het nie gelyk of die Zupta-era ooit sou eindig nie. En aan die begin van die ANC se konferensie by Nasrec in Desember het die kans daarop nog skraler gelyk.

En toe wen Cyril Ramaphosa die stryd om die ANC se presidentskap met minder as 200 stemme (uit 5 000). En hy kry dit reg om Zuma vroeg te laat aftree. En ons het ’n nuwe president. En pres. Ramaphosa belowe ’n nuwe dagbreek, en onderneem om iets aan korrupsie en goeie regering en beleggings te doen.

’n Paar goeie goed het in die eerste weke van die Ramaphosa-era gebeur.

Vir ’n land en bevolking wat merendeels moedeloos was, was dit soos manna uit die hemel.

’n Paar goeie goed het in die eerste weke van die Ramaphosa-era gebeur. Hy het goeie en toegewyde ministers soos Pravin Gordhan en Nhlanhla Nene teruggebring. Hy het gesante aangestel om internasionale beleggings te werf.

Sy ministers het begin werk. Die rand het versterk en ewe skielik was ’n ekonomiese groeikoers vir die jaar van 2% weer haalbaar. Daar is van Hlaudi Motsoeneng en Brian Molefe en Supra Mahumapelo ontslae geraak. Dalk was daar, terugwerkend beskou, miskien ’n bietjie naïwiteit oor hoe vinnig korrupsie en die Zuptas se invloed omgekeer kon word.

Seepbel geprik

’n Paar maande later is ons seepbel geprik en ’n nuwe gees van Ramaskeptisisme het wyd posgevat. Ons moet aanvaar dat die president se magsbasis nie gekonsolideer is nie. Die Zumagroep het sterk teruggestoot, veral in KwaZulu-Natal en met die gebeure rondom die premier van Noordwes.

Ondersteuners van pres. Jacob Zuma Vrydag tydens sy hofverskyning. Foto: Reuters

Ons hoor dat die Zumafaksie hom dreig met ’n algemene raadsvergadering waar hy met ’n meerderheid van 51% uit sy pos geskop kan word as hy nie na hul pype dans nie. En dan is daar nog Zuptas in hoë poste waarvan Ramaphosa skynbaar nie ontslae kan raak nie – adv. Shaun Abrahams, direkteur van openbare vervolging, en ’n hele paar ministers, asook lede van die top-ses.

Die proses oor onteiening sonder vergoeding maak veral minderhede bekommerd. Hoewel dit redelike algemene kennis is dat die Ramaphosa-groep in die ANC nie ten gunste daarvan by Nasrec was nie (vandaar die vier kwalifikasies in die uiteindelike besluit), het die EFF hulle met die parlementêre mosie met ’n slap riem gevang. Die slordige mosie oor die wysiging aan art. 25 van die Grondwet en dit wat daarop gevolg het, het emosie en momentum ontketen wat skynbaar onstuitbaar is.

Suid-Afrikaanse TV-kykers sien amper elke aand hoe gemoedere in openbare sittings oor grondonteiening hoog loop en hoe swart en wit teen mekaar te staan kom. Hierdie proses se verwagtinge, aanhitsing deur die EFF en (soms geregverdigde) ontevredenheid oor dienslewering, het onrus in plaaslike owerhede tot ’n rekord hoogtepunt aangeblaas.

Die ekonomie sal hierdie jaar nie groei van 2% sien nie, en sake- en verbruikersvertroue is op laagtepunte.

Die vuisvoos verbruiker moet bykans weeklikse brandstofverhogings verwerk, BTW byt en dan kom ’n senior minister vorendag met ’n sosialisties-begronde nasionale gesondheidstelsel waarvan hy nie die koste bereken het en hom nie verantwoordelik voel om dit te bereken nie.

Die ekonomie sal hierdie jaar nie groei van 2% sien nie, en sake- en verbruikersvertroue is op laagtepunte. Eskom en die SAL gaan van erg na erger.

Ekonomiese beleidsonsekerheid word vererger deur die aanvaarding van die wet met die ironiese naam die “Beskerming van beleggings”, maar wat waarskynlik buitelandse beleggers sterk sal afskrik.

Is daar hoop?

Daar is altyd betogings voor verkiesings. Foto: Jaco Marais

Is daar ’n ander kant van hierdie troebel prentjie? Is daar faktore wat ons in ag kan neem om ’n ander perspektief raak te sien?

As ’n mens na die groter prentjie kyk, ja.

As ’n mens besef dat dit nooit vinnig en maklik sou wees om korrupsie uit te roei en Zuptas te verwyder nie, dan kan ons meer geduld met daardie proses hê.

Korrupsie is endemies en die Zuptas gebruik dieselfde regsprosesse waarmee hulle vervolg word om hulself so lank moontlik te beskerm. Die wiel van die reg draai stadig, maar seker.

As ’n mens besef dat Ramaphosa as ’n politieke leier nie ’n sterk magsbasis het nie en dat as hy al die goeie goed wat hy in goeie trou belowe het, wil doen, hy eers daardie magsbasis moet versterk en konsolideer.

’n Oorwinning met minstens 55% in ’n algemene verkiesing is nodig om sy magsbasis binne die ANC te konsolideer.

Dis hoe die politiek werk.

Onlangs het hy oorwinnings met die samestelling van die ANC se provinsiale strukture in KwaZulu-Natal en Gauteng behaal, maar ander provinsies lê nog voor. Eers wanneer hy seker is hy het daardie steun, sal hy ’n verkiesing uitroep en sal Ramaphosa-mense die meerderheid van die ANC se parlementêre lyste uitmaak. ’n Oorwinning met minstens 55% in ’n algemene verkiesing is nodig om sy magsbasis binne die ANC te konsolideer.

Dan sal hy vinniger en meer doeltreffend die dinge wat hy belowe het kan doen.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PWC, het onlangs in ’n radioprogram opgemerk dat sy die lys van dinge wat Ramaphosa in sy staatsrede belowe het, vergelyk het met wat tot dusver gebeur het.

Haar gevolgtrekking was dat hy aan al daardie sake aandag gegee het en dit óf afgehandel het óf besig is om dit af te handel.

Dit kan deesdae van min politici gesê word.

Grondbesettings kom al hoe meer voor nadat onteiening van grond sonder vergoeding een van die grootste politieke besprekingspunte in Suid-Afrika geword het. Foto: Peter Abrahams

Hoewel sommige van die beloofde internasionale beleggings nog moet realiseer en ’n mens nie weet wat presies die aard daarvan is nie, is dit miljoene meer as wat Zuma ooit kon vermag.

Nog ’n belowende teken is die onlangse steun wat die ANC toegesê het aan planne om Eskom in drie dele te verdeel - dis verseker die begin van gedeeltelike privatisering van dié probleemkind van Suid-Afrika.

As ons onthou dat daar voor verkiesings altyd onrus en betogings is (ook tussen ANC-groepe wat posisies wil wen), verstaan ’n mens wat op plaaslike vlak gebeur, beter.

Dit is duidelik dat die EFF ook ’n beduidende rol speel in hierdie opstande in ’n poging om sy steun voor volgende jaar se algemene verkiesing te probeer verhoog.

Die proses oor onteiening sonder vergoeding het ook verwagtinge verhoog – nie vir plase nie, maar vir grond naby dorpe om op te bly.

Behou perspektief

Die gevolgtrekking is dat daar nog baie probleme, uitdagings en werk voorlê. Ons land is weer op ’n naaldpunt gebalanseer.

Ons is in ’n tonnel en moet net daar deur. Maar as ’n mens die groter prentjie van die naderende verkiesing, die werk teen korrupsie (soos lewenstyloudits by staatsbeheerde instellings), die vordering met beter korporatiewe bestuur in dié instellings en die skynbare stille vasbeslotenheid van die president in gedagte hou, lyk dit nie meer so donker nie.

Theuns Eloff

Ja, soms maak die manier waarmee die president na die teruggee van die grond aan “ons mense” verwys, my ook bekommerd. Ja, gewone mense soos ons kan niks aan die binnegevegte van die ANC doen nie, en ja, die swak ekonomie maak ons almal moedeloos.

Maar ten spyte daarvan glo ek nog nie dis nodig om ’n Ramaskeptikus te wees nie.

Soos altyd in moeilike tye moet ons perspektief behou en die groter prentjie raaksien. Ons moet koel klop bly en met mekaar en met politieke teenstanders bly praat met die Grondwet as basis.

Ons moet ferm optree waar dit nodig is (soos oor die posisie van Afrikaans in ons skole). Ons moet goeie intergroepverhoudings probeer handhaaf en nie te maklik op grond van ras stereotipeer nie.

Ons moet bly hard werk, hard glo en hard bid – dan sal die toekoms beter wees.

* Dr. Theuns Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Ekonomie  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.