Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Belasting 101

Hier is tien dinge oor Tito Mboweni se begrotingstoespraak wat niemand jou nog gesê het nie, skryf Frans Cronje.

Desperaat . . . Inwoners van die Seraleng-myngemeenskap verlede jaar in Rustenburg. Foto: Dino Lloyd

’n Groot deel van die media en baie ontleders by finansiële instellings het ons die afgelope week probeer wysmaak dat Woensdag se begroting ’n poging was om die las op belastingbetalers te verminder. Waarom voel dit dan nie so vir vele huishoudings en sakeondernemings nie?

Dis omdat die meerderheid analiste hulle blindstaar teen die tesourie se voorleggings sonder om te gaan kyk na die syfers ágter die syfers.

1. Suid-Afrika se belastinglas het oor 20 jaar met 30% gestyg.

In teenstelling met wat aan jou voorgehou word, is Suid-Afrikaners nog nooit swaarder belas as wat nou die geval is nie. ’n Mens sien dit wanneer jy die grootte van die regering se belastinginkomste met die grootte van die ekonomie vergelyk. Die syfer het oor die afgelope twee dekades van net oor die 20% tot nader aan 30% gestyg.

Suid-Afrikaners se belastinglas het dus met ongeveer ’n derde toegeneem in 20 jaar.

2. Ons is op die randjie van die fiskale afgrond.Die verskil tussen dit wat die regering bestee en dit wat hy verdien (die begrotingstekort) het ’n punt bereik waar, histories gesproke, Suid-Afrika nog net drie keer in sy geskiedenis was.

Die eerste keer was in die nadraai van die Eerste Wêreldoorlog, die tweede in die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog, en die derde was toe die apartheidsekonomie in die laaste jare van oudpres. PW Botha se bewind in duie gestort het.

3. Die tesourie se groeivoorspellings is so onbetroubaar dis feitlik nutteloos.

Die minister van finansies projekteer dat die ekonomie hierdie jaar met 3,3% sal groei (wat moontlik is in die lig van verlede jaar se inkrimping), maar gaan dan voort om ’n groeikoers van 2,2% vir 2022 te voorspel en groei van 1,6% vir 2023. Die voorspellings is minder as die helfte van die groeisyfers wat voorspel word vir Suid-Afrika se opkomende-mark-gelykes.

Ondanks hierdie lae voorspellings was die tesourie se driejaar-voorspellings die afgelope dekade met ’n marge van ongeveer 50% verkeerd. As hy hierdie keer wéér verkeerd is, sal die regering nie uit sy begrotingstekortkrisis kan ontsnap nie.

4. Belasting gaan waarskynlik in die toekoms nog meer styg.

Ondanks uitsprake tot die teendeel gaan die regering voort om breër belastingvlakke te verhoog. ’n Deel daarvan het reeds die vorm van gesondheids- en koolstofbelasting aangeneem – eintlik maar net ’n meganisme om BTW en korporatiewe belasting op ander maniere te verhoog. Omdat die formele belasting-teenoor-BBP-syfer nou uiters hoog is, vind die regering allerlei maniere om ons te belas op terreine wat buite die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se tentakels val. Verhogings in elektrisiteitspryse ver buite verhouding tot ekonomiese groei en inflasie is byvoorbeeld ’n vorm van belasting op beleggers en huishoudings.

Jy werk tot Julie elke jaar eintlik vir die staat.

Dieselfde geld tolgeld-verhogings en die nuut voorgestelde TV-lisensieskema. Voorgeskrewe bates – waar die regering beslag lê op pensioenfondse om bestedingsgapings toe te stop – is ’n verdere (hangende) vorm van belasting.

Geen ontleder het boonop enige melding gemaak van die grootste belastingverhoging van almal nie: Die parlement is besig om sy planne vir onteiening sonder vergoeding te finaliseer.

Dit is die mees ekstreme vorm van belasting omdat dit die belastingkoers op jou bates, sakeonderneming en inkomste tot 100% verhoog. Dit sal min troos aan beleggers bied om te hoor dat die belastingkoers vir maatskappye van 28% tot 27% verlaag word wanneer die regering beoog om sommige beleggers met tot 100% te belas.5. Jy is reeds halfpad tot by armoede belas.

Jou rand-aangewese bates (huis, sakeonderneming, beleggings, spaargeld en pensioen) het reeds onder die gevolge van ’n destruktiewe “belasting” gely in die sin dat die waarde daarvan oor die afgelope dekade afgeneem het, veral met betrekking tot die Amerikaanse dollar en eiendoms- en batepryse in ander dele van die wêreld.

Beleide wat groei en beleggersvertroue ondermyn, hou dieselfde gevolge vir huishoudings in as skerp verhogings van die belastingvlak.

Ons raam dit wat sommige huishoudings verloor het, gelyk sou wees aan “welvaartbelasting” van meer as 50%.

6. ’n Belastingopstand kom na ’n gemeenskap naby jou.

Suid-Afrika is baie naby die drumpel van ’n belastingopstand – maar nie in die vorm van ’n gewelddadige weiering om inkomstebelasting te betaal nie (dit is onrealisties en sal nie gebeur nie). Hierdie opstand word eerder organies meegebring deur sakeondernemings en gemeenskappe wat gedwing word om openbare dienste te omseil – weens korrupsie en bestuursonbevoegdheid – en geld wat vir openbare dienste sou betaal eerder te bestee aan die voorsiening van private dienste, byvoorbeeld waar jy jou heeltemal losmaak van Eskom.

7. Jy betaal minstens twee keer belasting (en baie swart belastingbetalers drie keer).

Alle belastingbetalers ly onder dubbele en selfs driedubbele belasting. Dubbelbelasting kom voor wanneer ’n huishouding gedwing word om vir sy private dienste te betaal sonder die opsie om die staat s’n te omseil.

Driedubbele belasting word betaal deur baie middelklasgesinne wat hul nabelaste inkomste moet gebruik om familie- en gemeenskapslede wat sonder werk en inkomste sit te ondersteun. Dit is veral die lot van swart werkers- en middelklasgesinne – daarom dat daarna verwys word as ’n “swart belasting”.

Hierdie “swart belasting” is natuurlik nie net beperk tot swart huishoudings nie – baie arm wit huishoudings ly ook daaronder en die verskynsel brei ook vinnig uit na die wit middelklas.

8. Jy werk eintlik vir die staat.

’n Verstommende ding gebeur wanneer jy Suid-Afrika se breër belastinglas oor tyd kwantifiseer.

Om dit te doen neem jy jou inkomstebelastingrekening en tel daarby alle heffings, tolgeld, BTW, brandstof- en indirekte belasting en ook die dubbele of driedubbele belasting wat jy betaal.

Indien 30% van jou inkomste byvoorbeeld aan inkomstebelasting gaan, 10% aan plaaslike belasting en 20% aan dubbele/driedubbele belasting, beteken dit dat jy 60% van jou inkomste aan belasting betaal. Oor tyd gemeet, beteken dit dat jy elke jaar van Januarie tot die middel van Julie vir die regering werk voordat jy ’n sent in jou sak kan steek.

9. Die regering beskou jou met minagting.

Vir al daardie harde werk en bydrae tot die staat se koffers word jy deur die regering en linkse aktiviste beloon deur jou te beledig, te dreig en te stigmatiseer. Volgens hulle doen jy niks om ’n beter samelewing te bou nie en jy is die oorsaak van armoede, ongelykheid en maatskaplike konflik.

Voor die begrotingstoespraak het die minister van finansies selfs op Twitter daarop gesinspeel dat die meeste wit mense – wie se belastinggeld hy so graag gebruik – rassisties is.

Maar die grootste skop in belastingbetalers se tande is die feit dat die ANC niks doen om teen die korruptes in sy midde op te tree nie.

10. Selfs al lyk dit nie so nie, kan jy nog wen.

Dit is ’n baie moeilike tyd vir belastingbetalers, wat nou openlik deur die regering misbruik word.

Maar die finansiële penarie waarin die regering verkeer, kan ook in jou guns tel.

Die ANC-regering se achilleshiel lê daarin dat hoe meer hy sy burgers en belastingbetalers misbruik, hoe vinniger sal die geld opraak wat hy nodig het om aan bewind te bly.

Indien landsburgers voortgaan om hulle teen dié misbruik te organiseer, kan dit ’n politieke venster oopmaak om die land uiteindelik te red en die situasie reg te ruk.

* Dr. Frans Cronje is uitvoerende hoof van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Frans Cronje  |  Tesourie  |  Belasting  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.