Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Beloftebos: ‘Ek doen dit vir ons ongebore kinders’

Sasha-Lee Heekes, wat saam met haar verloofde, Megan Watling, weggewys is by Beloftebos, skryf hoekom sy steeds elke dag in vrees lewe. En hoekom sy hierdie keer besluit het om dapper te wees.

Sasha-Lee Heekes (24) vertel in ’n restaurant in die Tuine, Kaapstad, hoekom sy en haar verloofde, Megan Watling, besluit het om regstappe te neem teen die trou-venue Beloftebos naby Stanford. Foto: Jaco Marais

Ek was nog altyd die “goeie kind” wat ander wou tevrede stel – daarom was ek vir jare lank bang om nie aan my familie se verwagtinge te voldoen nie; om deur hulle verwerp en vermy te word vir wie ek is en hoe ek geskape is.

Dit is moeilik om te beskryf hoe toksies en skadelik dit was om aan hierdie verwagtinge van konserwatiewe familielede te voldoen, en die terloopse en “onskadelike” sêgoed wat daarmee gepaardgegaan het. Dinge soos “Het jy ’n kêrel?” wat ek moes hoor vandat ek ’n klein dogtertjie was. Elke keer wanneer ek in daardie ruimtes is waar ek gedwing is om te lieg deur dit wat ek nie sê nie en myself moet stil maak, verkleineer dit my. Dit maak dat ek myself haat.

Maar nietemin het ek my gevoelens onderdruk want ek kon nie insien dat dit nie saak maak hoe hard ek werk, hoe goed ek op skool vaar, hoe gaaf of deernisvol ek is nie, wanneer hulle uitvind sou ek as anders gesien en behandel word as ’n openlike gay vrou. Ek wou nooit onregverdig behandel word of as onwaardig gesien word omdat ek gay is nie. Dis hierdie wanbalans wat my vandag ten diepste ontstig – dit en die ongelyke behandeling in openbare plekke van mense wat eenvoudig wil liefhê en wil liefgehê word.

As gevolg hiervan dra ek swaar aan geïnternaliseerde skaamte. Vir die meeste van my grootwordjare het ek gedink ek is abnormaal, of dat iets verkeerd is met my. Ek het nooit soos ander meisies gevoel nie. Ek onthou ek het gedink ek moet of kies om vir altyd alleen te wees of om eenvoudig deur te druk, en dis tóé ek die eerste keer oorweeg het om my eie lewe te neem.

Ek wou nie hê sy moes die diskriminasie en haat ken waarvan die wêreld deurdrenk is nie; wat ingewortel is in die verwagtinge van my Christelike familie en die norme van die samelewing.

Ek het myself oortuig ek was afskuwelik en dat ek dit nie verdien om liefgehê te word nie en dat ek dit verdien om te sterf.

In my matriekjaar, as die hoofmeisie van ’n Christelike skool, het ek iets besef wat ek byna my hele lewe al geweet het, hoewel ek nie daarvoor ’n naam kon gee nie, want ek het nie daai opsie gehad nie: Ek is gay.

Dinge het verander toe ek die liefde van my lewe, my sielsgenoot, my alles ontmoet. Om die waarheid te sê, ek het nog nooit werklik gevoel of ek êrens behoort nie, totdat ek vir Megs gevind het. Toe sy die eerste keer my hand vashou, het ek vir die eerste keer veilig gevoel. Toe sy my soen, het ek liefde leer ken. Toe sy vir my sê sy is lief vir my, het ek geweet ek behoort en dat ek tuisgekom het.

Maar dit was ’n tweesnydende swaard, want so lief soos wat ek was vir my Meggy, so verantwoordelik het ek gevoel om haar te beskerm. Ek wou nie hê sy moes die diskriminasie en haat ken waarvan die wêreld deurdrenk is nie; wat ingewortel is in die verwagtinge van my Christelike familie en die norme van die samelewing. Ek het myself hiervoor kwalik geneem.

Ek haal aan uit my dagboek-inskrywing van 23/12/2013:

“Ek is gereed om uit hierdie kou bevry te word

Gereed genoeg om in die vlammende dieptes van die Hel neer te daal

Want geen pyn is dít nie

Asseblief vergewe my vir wat ek wil doen

En vra die Here om my siel te neem

Sodat ek eendag met jou herenig kan word

Ek is lief vir jou

En weet dat jy oukei sal wees sonder my

Gedenk my net in jou hart

Leef vir my

Eendag sal ons mekaar weer sien

Ek sal jou weer sien,

My Lief.”

Selfdood is ‘die enigste oplossing’

Sasha-Lee: “Ek is bang namens my ongebore kinders en die vooroordele wat hulle in die gesig kan staar omdat hulle twee ma’s het wat vir hulle lief is.”Foto: Jaco Marais

Dit was ses jaar gelede. Behalwe vir ’n paar hegte vriende en gesinslede het die res eers uitgevind van ons langtermynverhouding in 2019. Ek dink baie mense onderskat die toksisiteit van wegkruip. Om só hard te probeer om aan sekere verwagtinge te voldoen sodat jy gevrywaar kan word teen vooroordeel en spot. Hoe dit jou gees laat wegkalwe en jou van binne fynmaal.

Só baie mense in die LGBTQIA+ gemeenskap voel selfdood is die enigste manier om hiervan te ontsnap: die statistiek spreek vanself. Die feit dat ek só lief was vir my sielsgenoot dat ek gevoel het dis beter as ek sterf as om te sien hoe sy belaglik gemaak word omdat sy lief is vir ’n mens wat toevallig ’n vrou is, spreek ook vanself.

Ek het ook gewroeg met God. Toe ek ’n kind was het ek elke aand gebid, net om oor die jare al my geloof en hoop te verloor. Ek het gesien wat met my niggie gebeur, toe haar kerk haar die deur gewys het toe sy uit die kas gekom het as panseksueel en toe baie mense vir haar ma, wat een van die mees opregte Christene is wat ek ken, gesê het dit maak van haar ’n slegte ma.

Ek het die pyn en verdriet op my ouma se gesig gesien wanneer sy praat oor ons familie wat uitgewis is op grond van ’n persoonlike geloof dat die Jodedom moet uitgeroei word. Ek het afgryslike beeldmateriaal gesien van ’n gewelddadige aanval op ’n moskee in Nieu-Seeland op grond van persoonlike oortuiging.

Ek was ten diepste geraak deur die skietery by die Pulse klub, ek is vervul met woede en afsku dat baie homoseksuele mense nog die doodstraf kan kry in baie lande, en het verontwaardig gevoel oor die onlangse nuus dat iemand gestenig kan word vir iets wat hulle nie kan verander nie, iets wat hulle nie gekies het nie . . . ek het alle geloof verloor in godsdiens. Dit het aan my gevreet om hierdie werklikheid te sien.

‘Jesus loves you’

Hoe kon ek Megan hierteen beskerm? Een middag toe ek huis toe ry van die universiteit af, het ek weer eens gedink Megan sou beter daaraan toe wees sonder my, want dan sou sy nie die vooroordeel, diskriminasie en gevaar moes trotseer wat gepaard gaan met gay wees nie.

Sy sou veiliger wees. Aangesien sy biseksueel is, was daar ’n kans dat sy miskien kon lief word vir ’n man en dat hy haar sou kon liefhê en dat sy die diskriminasie kon vryspring.

Maar toe kyk ek op en sien ’n teken waarop daar staan 'Jesus loves you'.

Met hierdie gevoelens, gevul met haat vir myself, was ek op die punt om van die pad te swenk in ’n poging om my eie lewe te neem. Maar toe kyk ek op en sien ’n teken waarop daar staan “Jesus loves you”.

Dit was ’n keerpunt vir my. Daar was geen “indien” en “maar” op daardie teken, soos die antwoord wat ons van Beloftebos ontvang het nie. Toe ek daardie woorde in groot letters sien, het ek gedink as die wêreld net ’n bietjie kan verander, as meer mense net onvoorwaardelik kan liefhê, dan moet ek bly lewe om daardie wêreld te sien, waar ek my sielsgenoot regmatig mag liefhê sonder vrees of vooroordeel of diskriminasie.

‘Ewige verdoemenis’

Sasha-Lee was haar lewe lank al bang vir die gevolge daarvan om openlik gay te wees, veral as ’n vrou. Hier is sy saam met Megan, die liefde van haar lewe.Foto: Jaco Marais

Ten spyte van my onvoorwaardelike liefde vir my verloofde, het ek eers baie onlangs die moed gevind om myself heelhartig lief te hê en oop te wees oor my liefde vir my lewensmaat, ten spyte van die gevolge wat dit sou kon hê vir my verhouding met sommige familielede en die res van die wêreld.

Nie net is ons verwerp deur Beloftebos nie, wat my verkleineer en waardeloos en verwond en gestroop van my waardigheid laat voel het, hul verklaring het my voorgenome huwelik met Megan gering geskat. Hulle het daarna verwys in aanhalingstekens, asof dit nie waar is nie; en dit het ons liefde en verbondenheid tot mekaar ongeldig verklaar.

Ek was ook geskok dat iemand glo deur gasheer te wees vir my huwelik – en ek is ’n deernisvolle vrou wat glo in sosiale geregtigheid en wat onvoorwaardelik lief is vir my lewensmaat – sou dit lei tot hul ewige verdoemenis. En dit op grond van ’n Bybel waarin daar staan: “Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God.” (1 Johannes 4: 7 - 8)

En: “As iemand sê: ‘Ek het God lief,’ en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.” (1 Johannes 4: 20 - 21)

Dit het my spraakloos gelaat. Daar is nie ’n beleefde manier om vir iemand te sê hulle gaan hel toe indien hulle met jou assosieer omdat jy gay is nie. Dis blatante homofobie.

Dit het my jare van verwerping bevestig, deur God en deur die wêreld. Die pynlikste was egter toe ek ’n soortgelyke reaksie (een van bekrompenheid en ontkenning) kry van sommige familielede wat net nie kan sien watter diskriminasie ek moes verduur nie.

Die standpunt wat ek inneem is nie teen ander se persoonlike oortuigings nie.

Daar is vir my gesê die stryd vir gay-regte is gewen; hoekom sou ek wou baklei teen ander “wat my nie veroordeel nie, maar wat my sterkte toewens?”

Maar ek kan nie help om te wonder hoe iemand wat vir my sê bloot deur gasheer te wees vir my troue sal hulle hel toe gaan, my sterkte kan toewens? Ek is gevra hoekom ek standpunt inneem teen ander omdat hulle sterk staan in hul persoonlike oortuigings.

Maar die ding is, ek hou nie hul persoonlike oortuigings teen hulle nie, die standpunt wat ek inneem is nie teen ander se persoonlike oortuigings nie. Dis dat gay-regte dalk op papier gewen is, maar die stryd is kennelik nie oor nie. Wat ek probeer vernietig is die gebruik van godsdienstige en persoonlike oortuigings om onregverdig teen my en my verloofde te diskrimineer.

Die stilte van die reg

Sasha-Lee: “Nie net is ons verwerp deur Beloftebos nie, wat my verkleineer en waardeloos en verwond en gestroop van my waardigheid laat voel het, hul verklaring het my voorgenome huwelik met Megan gering geskat.”Foto: Jaco Marais

Indien mense in my eie familie nie kan sien dat ek dit verdien om met waardigheid behandel te word en gelyke toegang moet kry sonder vrees of diskriminasie nie; indien hulle voel ek is die haatlike en destruktiewe een in hierdie situasie; dat dit indruis teen wat hulle glo as Christene en as voormalige sakelui – terwyl ek die een is wat aan die ontvangkant was van ’n haatlike en onregverdige wegwysing – sê dan vir my hoe iemand wat my nie ken nie my dan gaan behandel?

Baie mense wonder hoekom ek hierdie stryd sou kies as dit my ontvanklik maak vir soveel gif. Maar Beloftebos, ’n openbare besigheid, se weiering om ons troue aan te bied op grond van godsdienstige oortuiging is nie onbelangrik nie.

Ek glo werklik, as iemand wat die Grondwet respekteer, dat om mense toe te laat om te diskrimineer op grond van die Handves vir Menseregte onhoudbaar is. Die stilte van die reg oor die gebruik van hierdie oortuigings om diskriminasie te regverdig, skep ’n onsekere presedent.

Jy mag dalk nie die pyn verstaan wat ek voel, of hoe teleurgesteld ek is dat hierdie vooroordele nie uitgedaag word nie. Maar Beloftebos se denkwyse is een van baie bedrieglike oorblyfsels van oortuigings en ideologieë wat bygedra het tot massa-ongeregtighede in die verlede.

‘Ek is bang namens my ongebore kinders’

Sasha-Lee en Megan is sedert hul matriekjaar in ’n verhouding, toe albei op die leerlingraad was van ’n Christelike private hoërskool. Sedertdien het hulle talle male opgebreek omdat hulle nie hulself kon aanvaar nie. Hulle het eers verlede jaar toe hulle op 26 Desember verloof raak, “uit die kas geklim”. Foto: Jaco Marais

My lewe lank was ek bang vir die gevolge daarvan om openlik gay te wees, veral as ’n vrou. En noudat ek eindelik myself aanvaar het en versoen is met God en één keuse gemaak het – om my lewe outentiek te leef soos ek geskape is en om my sielsgenoot wat ook deur God geskape is lief te hê – gebeur dít.

En tog is ek een van die gelukkiges in die LGBTQIA+ gemeenskap. Ek is wit. Ek is vroulik genoeg dat baie mense dink ek is heteroseksueel. Ek het iemand wat vir my lief is. Ek het werk. Ek het toegang gehad tot tersiêre kwalifikasies. Ek het ’n huis en die steun van hegte familie en vriende wat vir my gesê het ek is dapper dat ek standpunt ingeneem het teen ongeregtigheid.

Maar ek is nie dapper nie. Die waarheid is dat ek absoluut vreesbevange is. Ek leef elke liewe dag in vrees.

Ek is bang ek kry nie in die toekoms werk nie.

Ek is bang dat ek nie sal kan kinders aanneem indien dit my keuse is nie.

Ek is bang my vryheid van beweging word ingeperk.

Ek is bang namens my ongebore kinders en die vooroordele wat hulle in die gesig kan staar omdat hulle twee ma’s het wat vir hulle lief is.

Ek is bevrees namens my suster en haar man wat ook versigtig moet wees waarheen hulle reis, en waar hulle woon en leef omdat hulle Moslem is en ’n veelrassige paartjie is.

Ek is bang om Megan se hand in die openbaar vas te hou, of om ’n intieme oomblik te deel, ’n vrees wat bevestig is toe ek die bebloede gesigte sien van ’n selfde-geslag paartjie in Brittanje, baie soos ek en Megan, wat aangeval is deur ’n groep tienerseuns in Mei 2019 nadat hulle suggestiewe versoeke afgewys het.

Ek is bang om in ’n land te leef waar dit heeltemal aanvaarbaar is as mans my keer op keer in ’n klub betas en weier om my uit te los behalwe as ek ’n manlike vriend by my het wat maak asof hy my kêrel is . . . Maar wanneer ek ’n klub besoek saam met ’n lesbiese paartjie wat mekaar soen terwyl ek en Megan hande vashou, word ons die deur gewys.

Ek is bang vir die baie werklike bedreiging van seksuele geweld. Nie net as ’n vrou nie, maar as ’n lesbiese vrou. Ek is bang vir die klein skendings en terloopse kommentaar soos “Ek wed jou ek kan jou straight maak” of “jy’s nie lelik genoeg om ’n lesbiër te wees nie”. En ek is bang vir meer ekstreme skendings soos korrektiewe verkragting en moord waaraan veral swart lesbiërs onderwerp word in ons land.

Ek is bang namens my ongebore kinders en die vooroordele wat hulle in die gesig kan staar omdat hulle twee ma’s het wat vir hulle lief is.

Iemand moet iets sê

Sasha-Lee: “Ek het nog nooit werklik gevoel of ek êrens behoort nie, totdat ek vir Megs gevind het. Toe sy die eerste keer my hand vashou, het ek vir die eerste keer veilig gevoel. Toe sy my soen, het ek liefde leer ken. Toe sy vir my sê sy is lief vir my, het ek geweet ek behoort en dat ek tuisgekom het.”Foto: Jaco Marais

En tog, ten spyte van al hierdie vrese, was die besluit om regsaksie te neem een van die maklikste besluite tot nog toe. Ek voel ek kan nie my persoonlike verantwoordelikheid ontduik om my bevoorregte posisie te in te span om op te staan vir dit wat reg is nie.

Ten spyte van hierdie vrees moet iemand iets sê. Iemand moet iets doen. Ek gaan nie meer myself muilband uit vrees nie. Ek is moeg daarvan om myself stil te maak omdat my bestaan sommige individue ongemaklik maak. Ek is ’n seldsame geleentheid gegun om ’n verandering te maak aan ’n wêreld waarvoor ek só bang is, ’n wêreld wat my dikwels sonder hoop en verlam laat voel. Ek doen dit vir myself, vir almal teen wie daar onregverdig gediskrimineer word, en vir ons ongebore kinders.

Dis juis nou dat ek dapper moet wees, dat ek die moed moet hê om lief genoeg te wees vir myself en vir my gemeenskap dat ek kan standpunt inneem vir dit wat reg is. Ek het onlangs in ’n boek gelees moed is inderdaad die oorwinning van ons “hart se liefde en verbondenheid oor ons gees se redelike gemurmel om ons veilig te hou”.

Miskien is my uitdaging in die lewe, slegs deur te bestaan, om ander te help op hul pad om meer deernis te ontwikkel.

Ek kan nie meer in vrees en skaamte lewe nie – hoe kan ek ten slotte vir myself die vreugde van ’n familie ontken?

Miskien is my uitdaging in die lewe, slegs deur te bestaan, om ander te help op hul pad om meer deernis te ontwikkel, en selfs om dieper deernis en empatie vir myself en vir ander te ontwikkel.

Ek sal nooit die storie vergeet wat my ma vir my gelees het toe ek jonger was nie. Dit was oor die man wat een vir een seesterre teruggegooi het in die see. Iemand het hom gevra hoekom hy dit doen, daar is so baie, hy sal tog nie ’n verskil maak nie. Sy antwoord was: “Ek het ’n verskil gemaak aan die lewe van daardie een seester.”.

Van toe af het ek geweet dit is presies wat ek wil doen.

*Hierdie stuk is ’n vertaalde en verkorte weergawe wat oorspronklik op die webtuiste http://samelove.org.za/ gepubliseer is.

Meer oor:  Sasha-Lee Heekes  |  Megan Watling  |  Beloftebos  |  Godsdiens  |  Kerke  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.