Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Beloftebos: 'Jesus is vir ons lief nes ons is'

Sasha-Lee Heekes en Megan Watling, die selfdegeslagpaartjie wat nou regstappe teen die trou-venue Beloftebos wil doen, het eksklusief aan Willemien Brümmer vertel hoekom hulle hul lewe in skaamte moes leef.

Megan Watling (25) en Sasha-Lee Heekes (24) se verhouding was ’n maand gelede nog grootliks ’n geheim. Nou weet die hele wêreld van hul verhouding nadat hulle besluit het om die trou-venue Beloftebos by die Gelykheidshof te verkla.Foto’s: Jaco Marais

Sasha-Lee (oftewel Sasha) se stem is dun wanneer sy vertel hoe sy verlede jaar van die pad wou swenk omdat sy haar verloofde, Megan, wou “beskerm”.

Waar sy en Megan langs mekaar in ’n restaurant in die Tuine in Kaapstad sit, lyk sy jonk en broos. Megan hou haar hand vas en gee vir haar ’n servet aan om haar trane mee af te droog. Aan Sasha se vinger pryk ’n fyn diamantring.

Tot en met hul verlowing op 26 Desember verlede jaar het net ’n paar van hul beste vriende en nabye familie van hul langtermynverhouding geweet.

Vandag, skaars ’n maand later, weet mense van so ver as Indië en New York.

Sasha het lank geglo dat sy “abnormaal” is, selfs “afskuwelik”, en dat sy verdien om te sterf omdat sy nie soos ander meisies is nie.

Sy was die slim hoofmeisie van Elkanah House, ’n private Christelike hoërskool in Sunningdale in Kaapstad, wat ander altyd tevrede wou stel.

Sy haal diep asem. Dié byna eteriese 24-jarige met haar donkerblonde hare en sagte oë.

Sjoe, miskien kán ek op ’n manier leer om myself lief te hê, en dalk kán Jesus vir my lief wees nes ek is en hoe Hy my geskape het.
Sasha-Lee Heekes

“Ek was verlede jaar weens depressie in ’n kliniek. Dis moeilik om daaroor te praat, maar dit het vir my gevoel asof ek só baie skaamte in my saamdra dat ek nie my waarheid kon uitleef nie. Dis dalk nie dat ek nie kón nie, maar ek was bang, ek was bang vir wat mense dalk sou dink en vir wat mense sou sê.

“Ek het huis toe gery van die Universiteit van Kaapstad en ek wou van die pad af ry . . . Ek wou nie meer lewe nie en dit breek my hart, want hoe kon ek ooit daaraan dink om die liefde van my lewe te verlaat?”

Sy en Megan (25) kyk na mekaar. “En net voor ek iets daaraan doen – en dit mag dalk belaglik klink – sien ek ’n groot bord waarop staan ‘Jesus loves you’. Dis tóé dat ek dink: ‘Sjoe, miskien kán ek op ’n manier leer om myself lief te hê, en dalk kán Jesus vir my lief wees nes ek is en hoe Hy my geskape het.’ ”

Haar stem bewe. “En dálk kan ek my lief volledig en sonder skaamte en vrees liefhê. Ek dink dit was ’n geweldige keerpunt vir my.”

Sasha het eers verlede jaar nadat sy byna haar eie lewe geneem het, besef sy kan Megan volledig en sonder skaamte en vrees liefhê.

Karatelesse

Dit was nie vir een van hulle maklik om “uit die kas te klim” nie. Megan, met haar lang, gladde donkerbruin hare, is ’n leerling- geoktrooieerde rekenmeester by ’n firma in die stad. Sy is in baie opsigte die teenoorgestelde van Sasha. In Elkanah House, waar hulle in hul matriekjaar saam op die leerlingraad was, het Sasha verkies om pouses in die biblioteek deur te bring. Megan was in die kafeteria, waar sy gelag en gesosialiseer het.

Hoewel sy gedurende die onderhoud stiller is, is sy ietwat gemakliker en minder intens. Sy het haar ma eers ’n jaar en ’n half gelede vertel dat sy gay is – en nou is haar ma hul “grootste ondersteuner”.

“Sasha het op 27 Desember verlede jaar 24 jaar oud geword en ek het haar op die 26ste gevra om te trou. Ons het dit toe op Facebook gedeel en dit was die eerste keer dat mense selfs van ons verhouding gehoor het.”

Volgens Sasha, wat vir ’n nie-regeringsorganisasie werk wat gelyke toegang tot onderrig bevorder, is haar ma se kant van die familie meer verlig en ondersteunend, maar dit was ontsettend moeilik vir haar om vir haar pa se kant van die familie te vertel.

Die waarheid is, dit het nooit gevoel asof ek êrens inpas nie – totdat ek Megs ontmoet het.

“Ek moes my lewe lank stilbly en my gevoelens ontken want ek kon nie die werklikheid aanvaar dat maak nie saak hóé hard ek werk, hóé goed ek op skool presteer of hóé gaaf of deernisvol ek is nie – as hulle eers weet, sou ek anders beskou word en as ’n openlike gay vrou anders behandel word.”

En toe, in haar matriekjaar, word sy en Megan vriende, en sy besef sy kan nie meer dít wat sy eintlik van altyd af weet, ontken nie. “Die waarheid is, dit het nooit gevoel asof ek êrens inpas nie – totdat ek Megs ontmoet het.”

Sasha: “Ek lewe my hele lewe in vrees. Nou wil ek dapper wees namens die mense wat voel soos ek toe ek nog nie kon dapper wees nie.”

Megan vroetel met haar tydelike plastiekverloofring (hulle is nog besig om hare te ontwerp). “Ek dink ek het altyd maar geweet dat ek aangetrokke tot vroue is, maar ek het nooit gedink dat ek iets daaroor sou sê nie, want ek was aangetrokke tot mans ook. Ek het altyd gedink ek sou ’n man vind en dit sou dít wees . . . Maar toe ek Sasha ontmoet, het dit alles verander.”

Hulle het ’n hele paar keer hul verhouding verbreek omdat hulle gesukkel het om hulself te aanvaar. “Ek was só lief vir haar dat ek bereid was om haar te laat gaan,” sê Sasha.

Sy raak met haar pinkie aan Megan se hand. “Die enigste ding waaroor ek vandag vasbeslote is, is dat ek onvoorwaardelik lief is vir Megan, en dat sy my persoon en my sielsgenoot is, en dat ek nooit weer sal jok deur my liefde vir haar te verswyg nie.”

Megan lag. “Ons het reeds besluit om karatelesse en selfverdedigingsklasse te neem want voorheen het niemand van ons verhouding geweet nie en nou weet almal, en ons vrees nou vir ons veiligheid.”

Die besluit om ’n klag in te dien by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die Gelykheidshof was een van die maklikste besluite in hul lewe.

‘Jy kies nie vir wie jy lief is nie’

Die verloofring was skaars aan Sasha se vinger toe begin hulle die troue beplan. “Ons het ’n lêer met al die venues waarna ons gekyk het en ons het ’n troukoek geteken sodat ons ons eie koek kan ontwerp,” sê Megan.

Sasha: “Ons het elke aand ure spandeer om al die brosjures wat ons gekry het te bestudeer en die koste te bereken . . .”

Hulle wou uit die staanspoor ’n “sprokiestroue in ’n bos” hou en ’n familievriendin het Beloftebos buite Stanford aanbeveel.

Megan en Sasha se strooimeisie het op 15 Januarie na ’n ander venue in Stanford gery, en Beloftebos was op pad. Megan het toe reeds ’n navraag gestuur aan Beloftebos maar nog niks van hulle gehoor nie. Sy besluit toe om sommer net daar aan te gaan en te gaan kyk.

“Megs het regtig baie daarvan gehou en sy het my gebel. Ek kon aan haar stem hoor dat sy baie opgewonde is, en toe bel ek hulle dadelik,” sê Sasha.

Die persoon met wie sy gepraat het, het belowe om dadelik op Megan se venue-navraag te reageer.

Dit is nie die eerste keer dat Beloftebos buite Stanford in die nuus is omdat hulle weier om ’n gay troue aan te bied nie. Foto: Hermanus Times

“Dit was so 15:00 op 15 Januarie, en toe ek net ná 17:00 by die huis kom, het ons nog steeds geen antwoord gekry nie,” sê Sasha. “Omdat ek so opgewonde was, het ek nog ’n e-pos gestuur om te sê my verloofde het ’n vorm ingevul en ek het gebel, maar dalk het die navraag verlore geraak op die internet, en ons sal só graag wil hoor wat hul pryse is.”

Die volgende oggend kry hulle ’n antwoord van die eienaars van Beloftebos wat hul lewens sou verander: “Weens ons persoonlike geloof wil ons nie gasheer vir paartjies van dieselfde gender speel nie.”

Dit was nie oor die venue nie. Ek sou met Sasha kon trou in Pick n Pay, en dit sou steeds die ongelooflikste dag nóg wees.
Megan Watling

Daarby is ’n persverklaring (van 2017) aangeheg waarin die eienaars van Beloftebos onder meer skryf: “Vir ons om vir so iets gasheer te speel (en dit daardeur moontlik te maak en te vier) sou wees om God in oneer te bring en Hom te verontagsaam – potensieel met ewigdurende gevolge.”

Megan se stem is sag. “Ek het gehuil. Ek was geskok. Dit was nie oor die venue nie. Ek sou met Sasha kon trou in Pick n Pay, en dit sou steeds die ongelooflikste dag nóg wees. Dit was omdat ons nie eens die geleentheid gegee is om na die brosjure te kyk nie – ek was spraakloos.”

Van die oomblik toe hulle verloof geraak het, het Megan en Sasha begin beplan aan hul sprokiestroue in ’n bos.

Sasha se eerste reaksie was om Megan te probeer beskerm. “Dit was net dat sy so opgewonde was daaroor en toe so ontsteld omdat ons verwerp is, en dat hulle nie eens probeer het om ons te leer ken nie, hulle het nie eens probeer uitvind hoe lief ons vir mekaar is nie, hoe toegewyd ons aan mekaar of hoe verlief ons op mekaar is nie . . .”

Sy maak haar oë toe. “Hulle het net ’n skakel gestuur na die mediaverklaring, waarin hulle na ‘huwelike’ tussen aanhalingstekens tussen mense van dieselfde geslag verwys – dit maak net alles ongeldig waarvoor ek gedink het ons Grondwet staan.”

Sasha, haar strooimeisie en Megan het al drie op 16 Januarie daaroor op Facebook geskryf om mense te waarsku sodat ander nie ook so verneder word nie.

So baie hiervan is te wyte daarvan dat mense dink dat seksualiteit ’n lewenswyse is, maar die enigste keuse wat ek as ’n gay vrou kon maak, was om my sielsgenoot vir die res van my lewe volledig en onvoorwaardelik lief te hê.

En die volgende oomblik haal hulle die internasionale nuus. Veral Sasha word op sosiale media deur sommige familielede “geblameer en verguis” omdat sy glo “iemand se persoonlike geloof aanval”.

Sy frons. “So baie hiervan is te wyte daaraan dat mense dink dat seksualiteit ’n lewenswyse is, maar die enigste keuse wat ek as ’n gay vrou kon maak, was om my sielsgenoot vir die res van my lewe volledig en onvoorwaardelik lief te hê. Jy kies nie vir wie jy lief is nie.”

Sy het nooit iemand aangeval op grond van hul persoonlike oortuigings nie, sê sy. “Ek wou die stelling maak dat gay-regte dalk op papier gewen is maar dat die stryd kennelik nie verby is nie.”

Sy skep asem. “Die swye van die regbank oor die gebruik van persoonlike oortuigings om diskriminasie te regverdig en dit ongehinderd te laat voortgaan, skep ’n onsekere presedent. Jy mag dalk nie die seerkry verstaan wat ek ervaar nie of hoe moedeloos ek is dat hierdie vooroordele onbetwis bly nie. Maar ek dink Beloftebos se beskouing is een van vele bedrieglike oorblyfsels van die oortuigings en ideologieë wat tot die grootskaalse vooroordele in die verlede bygedra het.”

Sasha: “Vir die grootste deel van my lewe was ek bang vir die gevolge daarvan om openlik gay te wees, veral as ’n vrou.”

Die grootste hiervan is die liefde

Sasha sê die besluit om Beloftebos na die Gelykheidshof te sleep was een van die maklikste besluite in hul lewens. “Die oomblik toe ons daardie e-pos ontvang het, het ek dadelik in my diepste wese geweet dat ons iets hieraan moet doen, en dís toe dat ek ’n aanlyn vorm ingevul het om ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in te dien en dit is hoekom ons regshulp gekry het,” sê sy.

Hulle het ook op dieselfde dag dat hulle hul voorneme aangekondig het om regstappe te doen die #samelove-veldtog van stapel gestuur om diskriminasie op grond van seksuele voorkeure te beveg.

Hiermee wil hulle geld insamel vir hul regskoste en indien daar geld oor is ’n regshulpfonds op die been bring vir ander sake wat die LGBTQIA+ in die toekoms sal raak.

“Ons het so baie boodskappe van steun en ’n uitstorting van liefde gekry en so baie stories gehoor van mense wat dieselfde tipe ervarings by ander venues gehad het,” sê Sasha.

“Daar was selfs ’n eienaar van ’n klein sake-onderneming in New York wat gesê het: “Ek het jul storie gelees en wil net hê julle moet weet ek is heteroseksueel en ’n Christen, en ek sou graag jul troue in my klein winkeltjie wou aanbied.”

Is hulle steeds gelowig ná alles wat gebeur het?

Hoe kan jy liefde ontken en wegwys? Hoe kan jy ’n gelowige wegwys?

Sasha knik onseker. “Ek glo regtig die kernboodskap van die Christelike geloof is jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Toe ek in die Bybel opgelees het oor die liefde en verdraagsaamheid, was een van die dinge waarop ek afgekom het dat as jy dan nie lief kan wees vir iemand wat jy kan sien nie, as jy nie lief kan wees vir iemand wat dieselfde pyn voel as jy nie, hoe kan jy sê dat jy lief is vir ’n God wat jy nie eens kan sien nie?”

Megan knik. “In 1 Korinthiërs 13 staan dit wat bly, is geloof, hoop en liefde. En die grootste hiervan is die liefde. Hoe kan jy liefde ontken en wegwys? Hoe kan jy ’n gelowige wegwys?”

Megan en Sasha is al voorheen by ’n klub in Kaapstad weggewys omdat hulle hande vasgehou het en omdat twee gay vriendinne mekaar openlik gesoen het.

Dis juis daarom dat hulle meen Beloftebos se wegwysing is eintlik ’n “buitengewone en ongelooflike geleentheid” om ’n gesprek te begin oor “geloof wat misbruik word”.

“Ons gaan dalk nie almal se opinie verander nie, maar dit sal hoop gee aan mense soos ons wat dink dat almal hulle altyd gaan verwerp en dat ons altyd deur haat gekonfronteer gaan word, maar dat daar lig aan die einde van die tonnel is,” sê Sasha.

Die namiddagson se strale reflekteer op haar verloofring soos ’n prisma. “Die waarheid is dat ek steeds elke dag in vrees lewe. Maar ek wil nou dapper wees namens die mense wat soos ek gevoel het toe ek nie in staat was om dapper te wees nie.”

“Die beste van alles is dat ons nooit weer vir enigiemand hoef te vertel dat ons gay is nie,” sê Megan. “Hulle weet nou, so dís minstens afgehandel.”

Sy lag en toe lag Sasha saam. Hulle giggel soos twee skoolmeisies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.