Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bendes: 'Apartheid het maatskaplike ramp geskep'

Die apartheidsregering se besluit om mense wat hy gekleurd genoem het uit die middestad van Kaapstad te verwyder, het ’n kettingreaksie aan die gang gesit wat nou militêre ingryping vereis, skyf Don Pinnock.

Die weermag is in Julie op die Kaapse Vlakte ontplooi in ’n poging om bendegeweld hok te slaan. Foto: Jaco Marais

Meer as 50 jaar ná die massa-uitsettings wat enigiemand wat nie wit was nie uit die stadskern verdryf het, is die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontplooi in die gebiede wat kollektief as die Kaapse Vlakte bekendstaan. Die Groepsgebiedewet het mense van kleur na dié plekke uitgestoot.

Dit is noodsaaklik om na die geskiedenis te kyk – soos wat ek in ’n aantal van my boeke gedoen het, mees onlangs Gang Town – namate geweld in woonbuurte ver van die stadskern toeneem.

’n Hele kultuur het begin verdwyn soos die bekende sosiale bakens in die werkersklas-woonbuurte van die ou stad vernietig is.

Gegewe die raamwerk waarin verskuiwings ingevolge die Groepsgebiedewet in Kaapstad plaasgevind het, was ’n maatskaplike ramp onafwendbaar.

’n Hele kultuur het begin verdwyn soos die bekende sosiale bakens in die werkersklas-woonbuurte van die ou stad vernietig is.

Netwerke van familie, vriendskap, werk en dié in die omgewing is verwoes. So ook die strate, huise en winkels op die hoek wat ook netwerke gevorm het.

Met dié vernietiging het die mengsel van regte en verpligtinge, intimiteit en afstande, solidariteit, plaaslike lojaliteite en tradisies wat gevestigde gemeenskappe bymekaar gehou het verdwyn.

Die Groepsgebiedewet het met sy inbreuk op die kultuur van die ouer distrikte bowenal die organisasie en die rol van die werkersklasgesin fundamenteel versteur.

Een van die grootste probleme wat hieruit voortgespruit het, was die ineenstorting van maatskaplike beheer oor die jeug. Een van die grootste klagte oor die verskuiwings ingevolge die Groepsgebiedewet was dat individuele gesinne eerder as hele buurte na die Kaapse Vlakte verskuif is.

Bendes het te midde van dié komplekse ontwikkelings en werklikhede verskyn. Daar was kleiner, minder hiërargiese en georganiseerde bendes in gebiede soos Distrik Ses van waar mense gedwing is om te skuif.

Maar die fel toestande op die Kaapse Vlakte het tot die vorming van veel wilder bendes gelei en daar was ’n toename in die gebruik van messe, en later, vuurwapens.

Kenners twyfel of die ontplooiing van die weermag in gebiede wat deur bendegeweld geteister word ’n blywende oplossing is. Foto: Jaco Marais

Isolasie en vrees

Die eerste gevolg van die verskuiwings na die woonstelblokke op die Kaapse Vlakte was die vernietiging van die manier waarop die straat, die winkel op die hoek en die sjebiens in die “ou” gebiede inwoners aansienlike kommunale ruimte gebied het.

In die nuwe gebiede was daar net die geprivatiseerde ruimte van klein, kerngesin-eenhede.

Dit is opmekaar gestapel in algehele isolasie, langs die openbare ruimte wat dit omring het – ’n ruimte wat glad nie die informele sosiale beheerstrukture gehad het wat in die ou woonbuurte geskep is nie.

Een van die kern-beheermaatreëls in die ou gebiede was verandas waar ouer mense gesit en die strate informeel polisieer het. Op die Kaapse Vlakte was jy óf agter ’n deur óf op die staat.

Die verwoesting van die woonbuurtstraat het ook ’n einde gemaak aan huishoudelike produksie, tuisnywerhede en - dienste. Die gevolg was ’n geleidelike polarisasie van werkers in dié wat meer gespesialiseerde vaardigheidsverwante of beter betaalde werk gedoen het, dié met werk wat nie tot veel verder sou lei nie en min betaal het, en die werkloses.

Soos die nuwe behuisingspatroon die familie-netwerk opgebreek het, kon die geïsoleerde gesin hom nie meer beroep op die hulpbronne van die uitgebreide familie of die woonbuurt nie. Die kerngesin het die enigste fokus van solidariteit geword.

Dit het meegebring dat probleme opgekrop is binne die onmiddellike interpersoonlike konteks wat dit geskep het. Terselfdertyd het gesinsverhoudinge ’n nuwe intensiteit ontwikkel om te vergoed vir die verskeidenheid van verhoudinge wat voorheen gegenereer is deur vure en wyer familiebande.

Die straat was nie langer ’n veilige plek waar kinders kon speel nie en daar was nie langer familielede of bure om toesig oor hulle te hou nie.

Baie kerngesinne kon nie die druk hanteer wat geleidelik opgebou het nie. Die werkersklas-huishouding is dus nie net van buite geïsoleer nie, maar is ook van binne ondermyn.

Die grootste, en verstaanbare, produk van dié isolasie was vrees: vrees vir bure, onbekende mense, bendes en die vreemde dinamika van die nuwe omgewing.

Distrik Ses in Kaapstad voordat dit deur stootskrapers vernietig is. Foto: Argief

Ma’s wat tot hul woonplekke beperk was, het swaar gedra aan die las van dié druk. Die straat was nie langer ’n veilige plek waar kinders kon speel nie en daar was nie langer familielede of bure om toesig oor hulle te hou nie. Die enigste speelplek wat veilig gevoel het, was “die huis” – die klein woonstel.

Soos die druk binne die kerngesin toegeneem het, het iets wat vroeër ’n basis was vir steun en sekerheid nou geneig om ’n nuwe slagveld te word, ’n belangrike fokus vir al die angs wat deur die ontwrigting van die gemeenskap geskep is.

Een pad uit die kloustrofobiese spanning van die gesinslewe was om alkohol en dwelms te gebruik. Dit het die pad geword wat baie mans gevolg het. Kinders is op verskeie manier ontwrig. Vroeë seksuele verhoudings en miskien huwelike was een manier.

’n Ander was die wilde jeug-subkulture van die strate wat neerslag gevind het in die rituele van die gewelddadige kultuur van die jeugbendes wat weer die klimaat van vrees in die woonbuurt versterk het.

Die situasie is vererger deur die stygende werkloosheid onder jeugdiges in die potensiële arbeidsmark en die konsolidering van onwettige markte wat “soldate” vir beskerming nodig gehad het.

Die nuut-verkose ANC-regering het in 1994 in Kaapstad ’n werkersklas geërf wat soos ’n verslane weermag verward oor die land van hul geboorte versprei was.

Dié bendes het ter wille van oorlewing, en ondanks geweldige struikelblokke, die verlore organisasie en huishoudelike ekonomie van die nuwe behuisingsgebiede herbou. Dié keer was hul klante en hulself dikwels ook hul slagoffers.

Die nuut-verkose ANC-regering het in 1994 in Kaapstad ’n werkersklas geërf wat soos ’n verslane weermag verward oor die land van hul geboorte versprei was.

Uiteindelik was werkersklas-gesinne die grootste verloorders in dié soort kloustrofobiese atmosfeer. Vir diegene wat oor die Kaapse Vlakte versprei is, is die emosionele brutaliteit wat in die naam van rasionele stedelike beplanning aan hulle uitgedeel is onberekenbaar.

Die enigste verdediging wat dié jong mense gehad was om iets koherent tot stand te bring uit die enigste ding wat vir hulle oor was – mekaar.

Die straat- en gemeenskapslewe in Distrik Ses is iets wat inwoners van die Kaapse Vlakte ontneem is. Foto: Argief

Te min te laat

Die ontplooiing van soldate op die Kaapse Vlakte is té min en té laat om die politieke omelet te “ontmeng”.

Onderdrukking is nie nodig nie, eerder boetvaardigheid, beter inligting en die herbou van gemeenskappe wat onder die sweepslag van geweervuur gely het.

* Pinnock is ’n kriminoloog en ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit van Kaapstad. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Don Pinnock  |  Bendes  |  Weermag  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.