Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
AFRIKAANS EN SY MENSE: WAARHEEN?
Beskerm diversiteit
Hein Willemse

Die oorlewingsangs wat Afrikanernasionalisme onderlê, word oorgedra na die “oorlewing” van Afrikaans, skryf Hein Willemse, terwyl Dirk Hermann sê die taal se pad loop deur die bou van kragtige instellings.

Hein Willemse skryf:

Die oue is besig om voor ons oë te verkrummel; die nuwe het hom aangekondig en ons leef in ’n tyd waar terugkeer na ’n bekende ou wêreld nie meer moontlik is nie. Daar moet vrede gemaak word met ’n nuwe wat vreemd klink en voel. Die nuwe gewoontes en optredes is onvas, vloeibaar en daar is min oor van die sekerheid wat ou waardes en tradisies gebied het. Vir dié wat slegs die tyd van oorgang ken, is elke oomblik onvergelykbaar die uitdagende hede.

Ons leef in ’n tydperk van ambivalensie en onsekerheid tussen die oue en die nuwe. Ons staan op die drumpel van ’n nuwe samelewing wat al sukkelend gebore word. Daardie “ons” is nie net Afrikaanssprekendes nie, maar ons almal wat in die land leef. Op die lange duur is ’n gesprek oor Afrikaans slegs sinvol as dit ook ’n gesprek oor al die geledinge van “ons” is.

Natuurlik is daar die Afrikaanse “ons”, almal wat die taal praat en daarmee asso­sieer. Ons het ons eie drumpels om oor te steek. Die geskiedenis van die uitsluiting, kleinering en stigmatisering van mede-Afrikaanssprekers deur veral Afrikanernasionaliste gaan nie met ’n paar mea culpas verontskuldig word nie. Die toeëiening van die taal as Afrikaner-alleenbesit het enorme skade gedoen omdat dit Afrikaans se sentrale sosiopolitieke waarde as ’n gedeelde bate byna verwoes het.

Elke keer wanneer “Afrikaans” as ’n si­noniem vir Afrikaner of Afrikanernasionalis gebruik word, word daardie wanopvatting herbevestig. Daarom is dit nodig dat die taal- en belewingsgeskiedenis van die swart (in die generiese sin van die woord) Afrikaanse wêreld opgeteken en versprei word, want vir te lank is net een beperkte (en beperkende) Afrikaanse storie as die geskiedenis en praktyk voorgehou.

Oorlewingsangs

Daardie belewinge is in so ’n mate onderdruk dat ons slegs deur flardes getuienis hier en daar ’n beeld daarvan kan opbou, maar vir die toeëiening van Afrikaans deur alle Afrikaanssprekers is daardie proses noodsaaklik. Net so moet die Afrikaanse kulturele praktyke en -belewinge wat tot die rand uitgedruk is, toenemend na die hoofstroom beweeg, en dan nie in gemanipuleerde aksies van koöptering nie. Kortom: Afrikaans se gesig en klank moet swarter word.

Die oorlewingsangs wat Afrikanernasionalistiese denke onderlê, word gewoonlik oorgedra na die “oorlewing” van Afrikaans. Van die fenomenale prestasies van Afrikanernasionalisme is die standaardisering van Afrikaans, die invoer daarvan as ’n amps- en onderrigtaal. Dit is belangrike prestasies, maar die nasionalisme wat met soveel eiegeregtigheid daarop kon aandring, is op sterwe na dood. Dit het sy intellektuele aantreklikheid vir ’n jonger geslag verloor en ons sien vandag slegs sporadiese opflikkeringe daarvan – dikwels uitgedruk as die verlies aan regte en voorregte.

Dit bring my by die ander “ons”, daardie ons wat Afrikaans slegs van buite kan beleef, vir wie dit eenvoudig die miskenbare teken van die ou orde is: politieke verdrukking, kragdadigheid, wit bevoorregting (polities, ekonomies, kultureel en opvoedkundig), rassisme, en swart uitgeslotenheid en armoede.

Afrikaans se nuwe plek

Daardie persepsies het nie ná 1994 of met Mandela se rugbytrui verdwyn nie, want die spore van die oue slaan nog oral deur. In die onderwys is die nagevolge van dekades van bevoorregting die skreiendste. Anders as wat so dikwels beredeneer word, sien die meerste Suid-Afrikaners – die ander ons – onderriginstansies as nasionale bates, nie as etniese enklaves nie, en elke poging tot beskerming van ou bevoorregting loop uit op verset en die aandrang op gelykberegtiging van die ander ons. Is dit redelik om iets anders te verwag?

Afrikaans se plek in die nuwe, ontwikkelende omgewing gaan anders lyk as in die ou bekende wêreld voor 1994. Sy plek in die onderwys word reeds herbeding – dikwels gewelddadig – en dit is ’n proses wat vir ons almal, as Suid-Afrikaners, se heil nie net aan die toeval oorgelaat kan word nie.

Ons het ’n indringende gesprek nodig wat moet lei tot nuwe verstandhoudings. Waar pas Afrikaans en ander inheemse tale in ons samelewing in? Ons is ’n veeltalige, diverse land en dit is in ons almal belang dat daardie diversiteit beskerm moet word.

  • Prof. Willemse is verbonde aan die departement Afrikaans aan Tuks.
Dirk Hermann

Dirk Hermann skryf:

Afrikaanssprekendes is ’n verskeidenheid mense met verskillende identiteite en stories, maar verenig deur ’n pragtige taal. Ek vertel vandag een so ’n storie.

Op 31 Mei 1902 was dit die einde van ’n dramatiese oorlog waarin 33 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe dood is; 30 000 Boere as bannelinge weggestuur is; 20 000 oorlogwesies nagelaat is; honderde plase afgebrand is; en ’n verlies van die Boererepublieke. ’n Nuwe staatsorde is geskep. Die nuwe magshebbers wou Afrikaners ontbind en assimileer.

Afrikaners het voor ’n kruispad te staan gekom – die staat of die gemeenskap. ’n Sterk stroom het die gemeenskap gekies, weg van die staat. Instellings is deur die gemeenskap gestig, gedryf deur ’n eenvoudige geloofsbegrip van doen wat jy moet doen en glo in God se toekomsbelofte. Ná die rebellie van 1914 het die Helpmekaar-beweging ontstaan. In die gees van help mekaar, is instellings soos Sanlam, Santam en Volkskas gestig – die krag van die gemeenskap.

Afrikaners armlastig

Die Groot Depressie van die 1930’s laat een derde van Afrikaners armlastig. In die krisistyd van akute armoede word kulturele instellings soos die ATKV, die Voortrekkers en die FAK gestig. Vertroue in wie jy is, is ’n voorvereiste vir opstaan uit ’n krisis, is geredeneer. Die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings en die Afrikaanse Handelsinstituut het gevolg.

Die Nasionale Party wen die verkiesing in 1948, wat die pad van die staat inlui. Dit loop uit op die groot Republiek van 1961. Die smart van die oorlog en die onlangse armoede nog vars in mense se geheue. “Nooit weer nie,” was ’n algemene uitroep.

Dit was ’n merkwaardige tydperk. Die modernisering van Afrikaners het binne een geslag plaasgevind en ’n moderne ekonomie is ontwikkel. ’n Taal het binne dekades tot ’n hoëordefunksie ontwikkel. ’n Ongekende prestasie in die wêreld.

Dit was ’n tydperk van die groot staat, groot staatsleiers en gemeenskapsorganisasies wat die stelsel stut. ’n Tydperk van ’n minderheid wat oor ’n groot land en baie mense regeer. Groot oplossings, verskuiwings en ’n statutêre raamwerk was nodig, want dit was te groot.

Die pad het begin om sy morele kompas byster te raak.

Die Afrikaner het ook ’n duur prys vir die staatspad betaal – die krag van die gemeenskap het verlore geraak.

Afrikanerwêreld stort ineen

Die politieke orde verander in 1994. Afrikaners sukkel om hul pad te kies. Afrikaners het gedink hulle is sterk, maar het ’n tragedie van onbewuste verlore krag beleef.

Byna die totale georganiseerde Afrikanerwêreld het ineengestort. Meningsvormers het begin verwys na die ontbinding van Afrikaners.

Weer is ’n kruispad bereik – ’n pad wat deur die staat loop of ’n pad wat deur die gemeenskap loop. Die Beweging het die krag van die gemeenskap, en nie die “mag” van die staat nie, gekies. ’n Minderheid, in ’n meerderheidsomgewing, se pad loop deur doeltreffende instellings, waardeur daar sinvolle interaksie tussen staat en gemeenskap en gemeenskappe tussen mekaar kan wees.

Solidariteit se pad beteken die bou van ’n nuwe werklikheid. Enersyds beskerm ons ons grondwetlike ruimtes, maar aan die ander kant bou ons. Solidariteit bou ’n groter vakbond, ’n nuwe private universiteit, Akademia, en ’n tegniese kollege, Sol-Tech.

Die Solidariteit Helpende Hand bou ’n studiefonds wat al R100 miljoen sterk is. AfriForum bou kapasiteit in gemeenskappe. Ons help bou aan media-instellings soos Maroela Media en Pretoria FM en aan kultuurinstellings soos die FAK en Kraal Uitgewers. Ons bou verskeie finansiële instellings.

Daar is nie groot staatsgeld nie. Elkeen doen sy deel, bietjie vir bietjie, wat baie maak. Ons bou ’n moderne Helpmekaarbeweging wat bestaan uit 18 instellings met ’n vyfjaarbegroting van R3,5 miljard.

Ons doel is ’n toekoms waarin die Afrikaanse taalgemeenskap en die Afrikaner-kultuurgemeenskap vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Ons glo die pad van Afrikaans en Afrikaners, in die post-’94-werklikheid, loop veral deur die bou van lewenskragtige gemeenskapsinstellings.

  • Dr. Hermann is bestuurshoof van die Solidariteit Beweging.

Meer oor:  Taaldebat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.