Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Betaal die ‘bruin’ skuld

Die mate waartoe die Universiteit Stellenbosch vir bruin, plattelandse Afrikaanssprekende studente voorsiening behoort te maak is opnuut ’n twispunt onder rolspelers, berig Heindrich Wyngaard.

Foto: istock

‘Die moeilikste vraagstuk waarmee leiers van die toekoms te doen sal kry, is die kwessie van menslike verhoudinge (. . .),” het die eerste minister B. J. Vorster op Vrydag, 11 Desember 1970 by die derde en laaste gradeplegtigheid daardie jaar van die Universiteit Stellenbosch gesê. Die volgende dag het Die Burger daaroor berig.

Nou hoewel Vorster allermins onthou word as ’n leier wat “menslike verhoudinge” bevorder het, strek dit hom tog tot eer dat hy destyds ’n toekomstige leierskapsuitdaging akkuraat kon voorspel.

’n Kwarteeu later, op Woensdagaand 9 Desember 2020, het Vorster se woorde op ’n manier neerslag gevind in die aanlyn vergadering van die US-konvokasie.

Die geskilpunt is die mate waartoe die universiteit hom op die werwing van – en ondersteuning vir – bruin Afrikaanssprekende studente van die platteland behoort toe te spits. Maar eweneens bestaan daar meningsverskille oor wie namens dié groep mag praat, oor of dit as ’n aparte kategorie benader moet word of as deel van die breër groep gemarginaliseerdes.

‘Gelyke kans’ vir Afrikaans

Die slagordes is as volg opgestel:

In die een hoek vind jy die nuwe konvokasievoorsitter, adv. Jan Heunis van die drukgroep Gelyke Kanse, gesteun deur onder andere die afgetrede akademici proff. Hermann Giliomee en Christo Viljoen. Dié groep beywer hom vir ’n “regverdiger moedertaalonderrig­bedeling” aan die US; overgesetsynde dat Afrikaans ’n “gelyke kans” teen Engels as onderrigtaal gebied moet word.

Ter stawing daarvan hou die groep in sy visiestellings veral die werklikheid voor “dat bruin Afrikaanssprekendes se deelname aan universiteitsonderrig en hulle deurvloeikoers tans die laagste is van alle gemeenskappe”.

In die ander hoek: dr. Leslie van Rooi, senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die US, wat in die stryd om konvokasievoorsitter die knie met 1 480 stemme teen Heunis se 1 900 moes buig.

Waarop Van Rooi sý veldtog geskoei het, is om te verseker dat “die mees gemarginaliseerdes” ’n geleentheid moet kry om aan die US te kom studeer en ontwikkel te word.

Die uitdagings wat die US in die gesig staar, sal dit in staat stel om ’n groter impak in die groter samelewing te maak, het Van Rooi in sy toespraak gesê, maar: “Dit sal van ons vra (. . .) om hierdie instelling toe te laat om krities om te gaan met die vrae in die Suid-Afrikaanse samelewing en dat hierdie instelling sy rol en mandaat as ’n aanwins vir die Suid-Afrikaanse samelewing sal vervul.”

Bruin studente ‘gebruik’

Van Rooi beklemtoon in ’n telefoniese onderhoud dit is teen hierdie agtergrond dat sy wenkbrouliggende stelling oor bruin Afrikaanse studente beskou moet word.

Dié stelling was dat daar “tans ’n oordrewe klem op ondersteuning vir Afrikaanssprekende bruin studente van die platteland” geplaas word.

Nou verduidelik hy dat hy wel meen dit is nodig om aandag aan dié studente te gee, maar dan binne die oorkoepelende groepering van gemarginaliseerdes. Die stelling was in die besonder gemik teen “wit Afrikaanssprekendes se veldtogte” waarin die verwysing na bruin studente ingespan word om vir hulle steun te wen, aldus Van Rooi, “maar dan sien jy hulle nie een keer prakties hul hande vuil maak nie”.

In sy toespraak het hy die sweep verder geklap: dat as daar oor laasgenoemde kategorie gepraat word, “moet dit ’n gesprek wees mét die groepering en nie ’n gesprek óór die groepering nie”; en dat daar nie “op ’n oorgeromantiseerde manier” in veldtogte namens ander gepraat moet word nie. “Dit is jammer dat ons deur kampanjes en ander veldtogte steeds probeer om namens veral bruin Afrikaanssprekendes te praat,” het hy gesê. “Ons kan, om baie eerlik te wees, namens onsself praat.”

Dié “ons” sluit Merlyn van der Rheede van die Afrikaanse Taalraad in, wat as deel van die Heunis-veldtog tot addisionele lid van die uitvoerende komitee van die konvokasie verkies is.

Namens haarself sê sy: “My uitgangspunt is dat daar soveel ander universiteite is wat aandag gee aan die ander groepe, terwyl bruin Afrikaanse studente daar uitgesluit word en hier by die US ook as Engels die voorkeurtaal is.”

Maar dan ook: “Ek stem in ’n mate saam dat na álle gemarginaliseerdes, soos ook jong vroue, omgesien moet word, maar dis waarom ons meertaligheid voorstaan sodat ook Xhosa saam met Engels en Afrikaans ruimte gebied moet word.”

In taal se spervuur

Die voorsitter van die DAK Netwerk, Danie van Wyk, se vertrekpunt oor die hantering van die “bruin student”-vraagstuk by die US, is ook die lae tersiêre bywoning van dié groep, waarna die Heunis-visiestelling verwys.

“Jy moet dit stel teenoor die toetredingsyfers van byvoorbeeld swart, wit en Indiër-studente,” sê Van Wyk, wat ook eens by Gelyke Kanse betrokke was. “Dié groepe is reeds bemagtig, maar die bruin Afrikaanse plattelandse kind is in die verlede weens apartheid uitgesluit; nou weens taal.”

En verder: “Die bruin kind het nou in die kruisvuur beland van die taalstryd. Wat egter nodig is, is gesprekvoering – en nie hofgedinge nie. DAK sal daarom in die nuwe jaar met die US hieroor in gesprek tree.”

Amptelike standpunt

Die US se amptelike benadering tot die kwessie skyn nader aan Van Rooi se standpunt te wees, as jy prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, se kommentaar op hierdie drie vrae in ag neem:

  • Het die universiteit ’n amptelike beleid oor die kwessie, of selfs net ’n ingesteldheid jeens dit?
  • Beskou die universiteit bruin Afrikaanssprekende studente van die platteland as deel van die groter groep gemarginaliseerdes vir wie daar voorsiening gemaak moet word?
  • Of is daar ruimte vir spesiale aandag aan die bruin Afrikaanse student van die platteland?

“Ons vertrekpunt is dat die US, as ’n toonaangewende universiteit, ’n waardevolle geleentheid bied aan studente om ’n opvoeding te kry en ’n gesogte kwalifikasie te verwerf. Daardie geleentheid is oop vir almal wat aan die toelatingsvereistes voldoen, ongeag ‘ras’, taal, geografiese herkoms of sosio-ekonomiese status,” antwoord De Villiers.

Maar wat terselfdertyd in ag geneem moet word, is dat die US as ’n openbare hoëronderwysinstelling ’n wetlik-voorgeskrewe plig het, voeg hy by, “om by te dra tot die regstelling van die ongelykhede van die verlede in Suid-Afrika”. Hieraan gee die universiteit se toelatingsbeleid uitvoering.

“In die praktyk beteken dit ons streef daarna om toegang te verbreed vir studente uit die swart Afrikaan-, bruin, Indiër- en Asiër- bevolkingsgroepe,” sê die rektor.

“As deel van die universiteit se werwingspogings in die algemeen word daar spesifiek na leerders uit hierdie groepe uitgereik – om die universiteit aan hulle bekend te stel en hulle aan te moedig om aansoek te doen. Topstudente wat aan die toelatingsvereistes voldoen word ook werwingsbeurse aangebied as ’n aansporingsmaatreël.”

Hoewel daar nie na leerders van ’n spesifieke taalgroep uitgereik word nie, verduidelik De Villiers voorts, is die US se taalbeleid ’n meertalige een “wat op inklusiwiteit afgestem is, en die feit dat Afrikaans en Engels as onderrigtale gebruik word, word onder voornemende studente se aandag gebring”.

Wie se sweet lê hier?

Dit is goed en dit is edel.

Maar hierdie skrywer – bruin, Afrikaans en plattelands – kan nie anders as om homself te herinner aan die afjak wat mense soos hy in die verlede aan die US moes verduur nie.

Behoort die US nie juis daarom eers die “historiese skuld” aan dié groep te vereffen alvorens dit prioriteit daaraan gee “om ’n groter impak in die groter samelewing te maak” nie?

Wie het die universiteit gebou, skoon gehou, tuin gemaak; wie het die tee bedien? En het ons al hierdie “menslike verhoudinge” herstel?

Wat die naaste lê, sou ek sê, móét die swaarste weeg.

Wyngaard is ’n aanbieder van aktualiteitsprogramme op radio en televisie.

Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Rassisme  |  Studente  |  Us
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.