Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Beveilig dit wit grond?
Barnard Beukman

Barnard Beukman vra dié vraag na aanleiding van AfriForum se veelbesproke aanlyn video Disrupted Land en bekyk ook ander heersende diskoerse oor die organisasie.

AfriForum se ledetal het die 218 000-kerf verbygesteek!

“Ons bly groei ten spyte van ’n paar onverdraagsame linkse ‘kommentators’ se oordrewe kritiek. Dié kritiek deur randfigure maak AfriForum ál sterker as Afrikaanse middelgrondorganisasie.”

Aan die woord is Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerlike organisasie, onlangs op Twitter.

Enkele weke tevore het die skrywer Dana Snyman in ’n onderhoud laat hoor: “Ek het baie simpatie met Afrikaners. Ons probeer, ons flippen probeer. In sekere intellektuele kringe is dit soort van ’n lekker ding – k*k net vir Solidariteit en AfriForum uit. En ja, ek hou nie van alles wat hulle doen nie en sekere goed maak my onrustig, maar daar is mense wat hard probeer op hul manier.”

Frans Cronjé van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) en Corné Mulder van die VF Plus is veel nader aan die regterkant van die spektrum waar AfriForum geposisioneer is.

Maar nou het van die mees onlangse kritiek gekom uit kringe wat nou nie sommer afgemaak kan word as lefties wat besig is met hul roetine-aanvalle op Kriel-hulle nie. Frans Cronjé van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) en Corné Mulder van die VF Plus is veel nader aan die regterkant van die spektrum waar AfriForum geposisioneer is.

Cronjé en sy IRV is nog altyd in die groter Solidariteit-groep met respek bejeën. Die instituut se kritiek op elemente van Disrupted Land se inhoud – ook oor verwysings na Hendrik Verwoerd – het meegebring dat hy ook onmiddellik van posisionering teen AfriForum beskuldig is.

Met die video wou AfriForum juis ’n debat oor die geskiedenis van grondbesit en moontlike verkeerde indrukke daaroor aan die gang kry, is verklaar.

Oor Mulder se onderhoud wat die afgelope Sondag in Rapport verskyn het, het daar nou op sigself omstredenheid losgebars. Woorde is daarin geparafraseer wat hy nooit gebruik het nie, verklaar hy in ’n Twitter-video. Rapport sê dit is voor publikasie aan hom teruggelees. Wat wel betekenisvol is, is dat Mulder volstaan met sy opmerkings oor Ernst Roets, AfriForum se adjunkhoof, se voorlegging oor grondhervorming verlede jaar in die parlement. Volgens Mulder het hy dit teen die manier waarop dit gedoen is en die negatiewe reaksie daarop. Hy verwys na die ontsteltenis wat dit byvoorbeeld veroorsaak het by die IVP-LP Elphas Buthelezi, “ ’n smart ou, 100% goedgesind teenoor Afrikaners en wit mense”.

Hier is vandag net een kernvraag aan die orde oor Dis­rupted Land en die hantering van die voorlegging in die parlement: Het dit wit grond beveilig?

Die detail, konteks, bedoelings en ellelange diskoerse en beskuldigings oor bona fides oor en weer eers daar gelaat – ook oor die anti-Ernst-brigade, wat daar nou volgens Kriel is. Hier is vandag net een kernvraag aan die orde oor Dis­rupted Land en die hantering van die voorlegging in die parlement: Het dit wit grond beveilig?

Oor die kwessie van grondbesit is beslis kommerwekkende onweer in die lug. Dit gaan ongekende wys-heid en slim beïnvloeding verg. Selfs die swart besluitnemende meerderheid is verdeeld daaroor. Dit was die enigste bespreking op die ANC se Nasrec-kongres waaroor daar fisieke vuisgevegte uitgebreek het. Dit vra om strategiese koalisiebou oor vele grense heen. Met bondgenote en teenstanders wat in verskeie organisasies sit. Uiteraard vra dit druk ook.

Dit lyk gereeld asof AfriForum ’n voorafbeplande good cop, bad cop-strategie oor verskeie sake het. Maar in dié geval eerder soos ’n grassnyer sonder remme in ’n fyntuin. Diegene wat baie het om te verloor, sal goed moet besin of dit hul belange ten beste dien.

Los van ideologie het AfriForum reeds lank voor organisasies soos Outa en Gift of the Givers en vele ander die markgaping gesien van owerhede wat wêreldwyd nie meer alle dienste kan lewer nie. Dit is ook die amptelike standpunt van die Verenigde Nasies en die Wêreldbank. Die rol van burgerlike en diensorganisasies gaan net al hoe belangriker raak en groei – met ’n hele klompie betalende lede en lank­al beplande slim beleggings en inkomsteprojekte, in die groter Solidariteit-groep, AfriForum ook.

Maar gelyktydig groei die aantal Afrikaanssprekendes wat sê: “Ons wil nie so wees nie”, as Roets se aanslag die kernplan is. En dit kom nie net van die lefties nie, maar van die realiste ook. Hulle weet die adrenaliengedrewe warm lug van heeltyd se storm en drang gaan nie die wa deur die drif trek nie.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Afriforum  |  Grond  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.