Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bevry só mans van narsisme

Voorstanders van poligamie sê dit is die man se reg om meer as een vrou te hê, maar die belastingbetaler het tog óók regte, skryf Thuli Madonsela.

Mans wat meer as een vrou het, is narsisties en vroue wat hulself aan poligamie onderwerp, het ’n onderdanige houding wat aanvaar dat mans meer as een vrou verdien.

Dit was die indruk wat ek gekry het uit die redenasies in ’n televisiedebat op die SABC2-program Dare To Change, wat ek onlangs gesien het.

Kort tevore het ek gehoor van ’n ou universiteitsvriend, een van die onkreukbaarste mense wat ek ken, wat vir hom ’n tweede vrou gevat het – sonder om van die eerste een te skei.

Ek was geskok. Sy vrou is blykbaar die keuse gestel: Ontbind die huwelik of laat my toe om nog ’n vrou te vat.

Sou dit ooit vir ’n vrou aanvaarbaar wees om ’n tweede man te vat as oplossing vir huweliksprobleme?

Dit is amper 20 jaar sedert die Wet op die Erkenning van Gewoontereg-huwelike (Roca) aanvaar is. Roca erken ook poligame huwelike wat aangegaan is voor die wet gepromulgeer is, mits die huidige vroue daartoe instem.

Roca het poligamie gewettig ten spyte van die teenkanting van die oorweldigende meerderheid vroue in die land.

Destyds is aangevoer poligamie diskrimineer teen vroue omdat dit regte aan mans gee wat vroue nie beskore is nie. Daar word ook aangevoer dat dit mans se sosiale, ekonomiese en emosionele verantwoordelikhede in gesinsverband verklein – en die meeste ouerskapsverantwoordelikhede op die vrou afstoot.

Verder word gesê dat poligamie vroue en kinders blootstel aan ’n toksiese mededingende gesinsomgewing, waar hulle vir die erkenning van hul eggenoot en vader moet meeding – en só patriargie herbevestig.

In die geval van vroue wat wel poligamie ondersteun, gaan dit hoofsaaklik om dié vroue wat reeds in poligame huwelike is, te beskerm. Sommige is selfs van mening dat poligamie keer dat mans met ander vroue flankeer. Een vrou sê in ’n poligame huwelik weet sy altyd waar haar man is en dat dit haar daarom beskerm teen risiko’s soos MIV/vigs.

Maar is dit waar?

Dat poligamie patriargie herbevestig, kan nie betwis word nie. Maar waarom dit steeds algemeen is en waarom vroue van die groot verdedigers van die praktyk is, is ’n raaisel.

Sommige van die argumente op Dare To Dream het my gelaat met die indruk dat sowel mans as vroue dit beskou as ’n kulturele reg van mans. Maar hoe kan ’n reg eensydig wees onder ’n grondwet wat mans en vroue gelykstel?

Bevestig poligamie die gelykheid tussen mans en vroue? Ek dink nie so nie. So, waarom is dit wettig?

Poligamie word geregverdig op die grondslag van, onder meer, art. 211 van die Grondwet wat die gewoontereg erken, asook ander wette wat dit ondersteun. Maar die erkenning is tog spesifiek onderhewig aan die beginsel dat die wette self grondwetlik moet wees.

In die aanloop tot die aanvaarding van Roca is ons oortuig dat om die reg op poligamie in bestaande huwelike te behou ’n goeie idee is, want as dit nie gedoen word nie, sou dit die regte van vroue en kinders in sulke huwelike skaad. Roca het op sigself in beginsel tot stand gekom om huwelike wat ooreenkomstig die gewoontereg voltrek is, te erken. Dit was nodig omdat ’n daaropvolgende burgerlike huwelik (met ’n ander vrou) die gewoontereg-huwelik outomaties ongedaan sou maak.

Dit het dikwels vroue wat slegs ingevolge die gewoontereg getroud was sonder enige heenkome gelaat.

Maar wat was die regverdiging om toekomstige poligame huwelike ook te wettig?

Die argument wat destyds (en steeds) geopper word, is dat dit ’n kulturele keuse is en dat jy nie ’n kulturele gebruik kan verbied as dit niemand skade aandoen nie.

Maar is dit waar dat poligamie niemand skade aandoen nie? Wat van die eerste vrou? Wat dan as so ’n vrou in die huwelik getree het in die verwagting van liefde, emosionele ondersteuning, ouerskap en wedersydse afhanklikheid – net om te sien hoe daardie verwagtinge tot niet gemaak word as ’n tweede en derde vrou ook in die prentjie kom?

Kan ’n man in sulke omstandighede hoegenaamd sy deel van die onderneming aan sy eerste vrou nakom?

En wat van die kinders? Kinders het tog meer as blote finansiële ondersteuning van hul ouers nodig. Hulle het ook fisieke en emosionele behoeftes. Kan ’n pa wat verskeie huishoudings het hierdie verantwoordelikhede nakom?

Nog ’n probleem wat selde geopper word, is die las wat senior poligamiese regeringslede op die belastingbetaler plaas.

Pleks daarvan dat die belastingbetaler net die koste van een vrou dra, word daar nou verwag dat vele vroue uit die staatskas onderhou moet word.

Is dit regverdig? Die voorstanders van poligamie sê dit is enige man se reg om meer as een vrou te hê. Maar die belastingbetaler het ook regte. Dis veral debatteerbaar of die belastingbetaler hoegenaamd gevra word om die tweede of derde vrou te onderhou met wie jy getroud is terwyl jy in jou amp was.

Sou die man hoegenaamd met nog ’n vrou getrou het as hy nie geweet het hy kan die nuwe finansiële las op die belastingbetaler afskuif nie?

Uiteindelik moet ons onsself afvra of vroue in poligame huwelik beter daaraan toe is of nie. Om te aanvaar dat vroue en mans gelyke bemiddelingsgesag in so ’n huwelik het, is om totaal blind te wees vir die bestaan van ongelyke geslagsverhoudings. Anekdotiese getuienis toon dat baie mans nie eens toestemming vra voordat hulle ’n tweede vrou vat nie, of in baie gevalle dit selfs nie eens oorweeg nie. Ons moet ook erken dat vroue wat afhanklik is van hul mans waarskynlik beter daaraan toe is in ’n poligame huwelik as om heeltemal in die steek gelaat te word.

En hou poligamiste op om rond te loop? Die beskikbare getuienis sê nee.

Dit is nou – 20 jaar later – tyd dat ons die impak van Roca meet aan die aannames wat ons destyds oor poligamie gemaak het. Ek is oortuig dat poligamie net narsistiese mans se behoeftes probeer paai. Ons behoort mans te bevry van sulke narsisme en vroue van die geloof dat daar geen ander manier is nie.

  • Prof. Thuli Madonsela beklee die leerstoel in maatskaplike geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Thuli Madonsela  |  Veelvuldige Vrouens  |  Vroueregte  |  Poligamie  |  Huwelike
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.