Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bewaar vermoorde kinders se name in ons koppe en harte

Dit is belangrik om die name van kinders wat in Suid-Afrika vermoor is soos ’n refrein in ons koppe en harte te bewaar, skryf Nico Botha.

’n Foto van die vermoorde Tazne van Wyk (8) op haar begrafnisdiens. Foto: Jaco Marais

Die gesprek oor die vlaag van kindermoorde in Suid-Afrika is kompleks van aard. Een groot les wat Suid-Afrikaners hopelik al geleer het, is dat oorvereenvoudigings nie werk nie.

Om byvoorbeeld te sê dat die aanspreeklikheid vir wat met hul kinders gebeur by die ouers lê, is om hul smart nog erger te maak.

’n Blote pleidooi vir die verskerping van die strafregstelsel en die herinstelling van die doodstraf, hou net glad nie verband met die komplekse sosiale en ekonomiese werklikhede in die land nie.

Laat ons eers treur

Maar voordat ’n mens bespiegel oor sulke oorvereenvoudigings of soek na moontlike oplossings, is dit dalk raadsaam om eers net in stille weeklag te verkeer. Amper soos een van die profete dit so digterlik weergee: “Ag, was my kop maar vol water en my oë ’n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote (oor my kinders) wat gesneuwel het.”

Die motivering vir so ’n weeklag is miskien die feit dat drie kinders elke dag in Suid-Afrika vermoor word.

’n Weeklag kan natuurlik ontaard as dit uit wanhoop, swartgalligheid, sinisme en fatalisme gebore word. Maar dit kan ook ’n heilsame uitwerking hê as die weeklaers hulle hoopvol tot God wend en die verwagting koester dat Hy sy liefdevolle ontferming nie van hulle sal terughou nie, maar dit soos die môredou nuut en vars oor hulle sal uitstort.

Die motivering vir so ’n weeklag is miskien die feit dat drie kinders elke dag in Suid-Afrika vermoor word. Hoewel die statistiek ’n mens help om die omvang van die krisis te besef – dis sonder vrees vir teëspraak ’n nasionale krisis – is dit belangrik om die name van die kinders soos ’n refrein in ons koppe en harte te bewaar.

Die gebaar om ’n T-hempie te dra waarop ’n kind se naam verskyn, is in hierdie land ’n ongelooflik betekenisvolle saak, want dit help om dit opnuut in die nasionale psige en bewussyn in te prent dat alle kinders die kinders van alle ouers is en andersom.

Nico Botha

Ons kan dus nie die luukse bekostig om te maak asof sekere dinge ons nie aangaan nie en dat ons niks daarmee uit te waai het nie. Ons ontkom nie aan die kollektiewe aanspreeklikheid vir dinge in Suid-Afrika nie.

Een van die maniere waarop dié verantwoordelikheid gestalte kan kry, is om in die straat waar ons woon bedag te wees op die verwaarlosing en molestering van kinders wat dalk die slagoffers van gesinsgeweld is.

Die moeiliker en langsamer proses is natuurlik om saam te werk aan die vestiging van omstandighede wat ’n aansienlike vermindering in geweld teen kinders en kindermoorde teweeg kan bring eerder as om net oor jouself bekommerd te wees.

Kinders in die groot boek

In ’n land waar daar meer Bybels as brood is, kan dit dalk help om weer te gaan kyk wat met kinders in die groot boek van die Christene gebeur het. Die prentjie daar is uiters ambivalent.

Wie ken die name van die kinders van eMalahleni/Witbank wat deur hul eie ma vergiftig is omdat sy nie kos vir hulle gehad het nie?

Daar is stories oor geweld en moord teen kinders wat deur despote beplan en uitgevoer is en daar is gevalle waar mense selfs hul kinders aan die afgod Molog geoffer het. Geweld teen kinders en moord op kinders is so oud soos die wêreldgeskiedenis self. Ook in ons eie land moet die geskiedenis van geweld teen kinders nie vergeet word nie. Wie weet nog van en onthou Mitah Ngobeni, ’n vierjarige meisietjie wat met die noodtoestand van 1985 in Atteridgeville, Pretoria, deur ’n rubberkoeël gedood is? Wie onthou nog die name van die kinders wat grusaam in ’n gesinsmoord by die Sederberge gedood is? Wie ken die name van die kinders van eMalahleni/Witbank wat deur hul eie ma vergiftig is omdat sy nie kos vir hulle gehad het nie?

Voor God het kinders ’n ander status. Die kind is die middelpunt.

In ’n kring waar mense meer besorgd was oor hul eie magsposisies en waar hul oë onafwendbaar op die sousbak gevestig was, word die kind paradigmaties sentraal geplaas. En ons verval tevergeefs in die futiele oefening om aan te toon waarom die kind in die middelpunt geplaas word deur na dinge soos onskuld, nederigheid, sensitiwiteit en ’n duisend ander dinge te verwys.

Vir Jesus is die kind sentraal omdat die kind ’n kind is. Eintlik daag Hy ons uit om die lewe en die dinge vanuit die perspektief van die kind te probeer verstaan.

In die digterlike taal van Ingrid Jonker: “Die kind is nie dood nie . . . die kind lig sy vuiste teen sy moeder . . . die kind lig sy vuiste teen sy vader . . . die kind is nie dood nie”.

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Kindermoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.