Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bheki Cele, vroue en die ‘tweede pandemie’

’n Mens krap kop oor hoe die feministiese uitlatings van minister Bheki Cele inpas by sy vertoning van kragdadigheid in sy uitlatings oor wetstoepassing tydens die inperking, het prof. Christi van der Westhuizen aan Murray La Vita gesê.

’n Betoging in September verlede jaar Kaapstad teen gendergeweld en verkragting. Foto: Jaco Marais

Van der Westhuizen en ander akademici en aktiviste is skepties oor Cele, minister van polisie, se onlangse standpunt oor misdaad teen vroue.

Cele het tydens die regering se bekendstelling van sy veldtog oor geslagsgelykheid vir Vrouemaand gesê die polisie gaan nie die geveg teen geslagsgeweld wen sonder dat die houding jeens vroue in die samelewing verander nie.

Van der Westhuizen, medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit, sê Cele is heeltemal reg dat sosialisering van die idee dat vroue en meisies minderwaardig is, reeds begin met die soort huishoudelike take wat op grond van geslag aan kinders toegewys word.

“Ook is hy reg dat oorheersing deur mans letterlik beteken dat mans onder die wanindruk verkeer dat hulle daarop geregtig is om vroue te beheer. Hierdie soort beheer word dikwels deur geslagsgeweld uitgeoefen: mans gebruik geweld teen vroue om hulle op hul plek as ‘minderwaardig’ te hou.

Die cowboy-agtige hoed help ook nie

“Daarom is dit goeie nuus dat bykomende hulpbronne aan die polisie se eenhede gegee word om dié vorm van geweld te beveg.

“Tog krap ’n mens kop oor hoe dié feministiese uitlatings van die minister inpas by sy vertoning van kragdadigheid in sy uitlatings oor wetstoepassing tydens die inperking. Die cowboy-agtige hoed help ook nie.”

Christi van der Westhuizen Foto: Argief

‘Dominerende manlikheid’

Die gewelddadigheid van die Suid-Afrikaanse samelewing begin by dreigemente wat die gebruik van geweld normaliseer, sê sy.

Die minister kan gerus ’n voorbeeld stel en vir Suid-Afrikaners wys hoe lyk ’n man wat nie hoef staat te maak op geweldspraatjies om sy doelwitte te bereik nie.

“Dit skakel ook in by ’n sekere vorm van manlikheid wat as die mees aanvaarbare vorm voorgehou word: ’n dominerende manlikheid wat met geweld, of die dreigement daarvan, gepaardgaan.

“Die minister kan gerus ’n voorbeeld stel en vir Suid-Afrikaners wys hoe lyk ’n man wat nie hoef staat te maak op geweldspraatjies om sy doelwitte te bereik nie.”

Geweld binne die huishouding gebeur dikwels om kinders geslagsgewys of seksueel te dissiplineer, ook kinders wat lesbies of gay is of wie se geslagsidentiteite nie konformeer tot dominante modelle nie, sê sy.

“Geweld teen gay mans en seuns het deels te make met die stigmatisering van vroulikheid: om mans wat nie tipies manlik is nie, of maniërismes of gedrag toon wat met vroue geassosieer word, te straf. In uiterse vorme kan dit tot moord lei, wat wys hoe ver geweld gevoer sal word om die patriargale bevoorregting van heteroseksuele mans te verskans.”

‘Tweede pandemie’

Dr. Nadine Lake, dosent verbonde aan die Sentrum vir Gender- en Afrikastudies aan die Universiteit van die Vrystaat, wys daarop dat gender-gegronde geweld sedert die begin van die inperking ’n tweede pandemie in ons land geword het.

Nadine Lake

“President Ramaphosa het dít duidelik gemaak toe hy die nasie die laaste keer toegespreek het en klem gelê het op die plaag van vrouemoord waardeur Suid-Afrikaanse vroue geteister word.

“Die soeklig op gender-gegronde geweld val saam met Vrouemaand en feministe, aktiviste en vroue landwyd het met ’n nuwe hoop hierop gereageer deur aanlyn aktivisme en om skuiling aan vroue te bied.”

Daar is egter teenstrydighede in die steun wat deur die regerende party gebied word.

“Minister Cele het onlangs gesê geweld teen vroue sal slegs verander wanneer houdings oor vroue verander. Hy het ouers ontmoedig om hul seuns en dogters verskillend te behandel en beklemtoon die wyse waarop seuns teen hul ma’s optree, is hoe mans teenoor hul lewensmaats of eggenote sal optree.

“Hy noem egter nie die rol van pa’s nie en hy versterk bloot die tradisionele norme waar mans gesien word as [aktiewe] agente en vroue as passiewe ontvangers van die geweld teen hulle. Gevolglik bly vroue se biologie, hul geslag, hul lot.”

‘Apologeet van verkragting’

Cele se beskouings vra om dieper introspeksie, sê sy.

“Dít word duidelik wanneer ons ’n verkragtingsaak in oënskou neem wat baie media-aandag geniet het in die eerste fase van die inperking.

Bheki Cele Foto: Argief

“Cele het vinnig die reputasie ontwikkel van ’n apologeet van verkragting toe hy verklaar het die man wat die vrou verkrag het, was haar eggenoot en nié die polisie nie, want hy was nie in ’n polisie-uniform nie en die verkragting het nie in ’n polisiekantoor plaasgevind nie.

“Hierdie absurde reaksie versterk algemene verkragtingsmites en verminder die erns van seksuele oortredings. Politieke partye soos die DA het daarop aangedring dat Cele uit sy pos verwyder word omdat hy nie geskik is om dit te beklee nie, maar dít het geen gehoor gevind nie.

“Die boodskap wat uitgedra word, is dat mans in gesagsposisies vrywaring van straf geniet en dat hulle straffeloos kan praat en optree wanneer dit by seksuele geweld kom.”

‘Wat van Manana?’

Mbuyiselo Botha, ’n kommissaris van die Suid-Afrikaanse Kommissie vir Geslagsgelykheid, sê die oorlog teen vroue in Suid-Afrika word deur mans gevoer.

Mbuyiselo Botha

“So, dit is máns wie se houding moet verander. Dit is mans wat mekaar moet aanspreek. Dit is mans wat moet sê: ‘Ek sal nie gholf speel saam met iemand wat onregte teen vroue pleeg nie; ek sal nie saam met so iemand bier of wyn drink nie, en ek sal nie ’n vergadering van die ANC se uitvoerende komitee (UK) bywoon waarin so iemand teenwoordig is nie.

“Iemand soos Mduduzi Manana, wat lid is van die UK ondanks die feit dat hy skuldig bevind is aan geweld teen vroue. Hy sit daar in die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam.”

Manana is in Augustus 2017 verfilm terwyl hy drie vroue in ’n Kaapstadse nagklub aangerand het omdat hulle hom glo gay genoem het. Hy is skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer en tot ’n jaar tronkstraf of ’n boete van R100 000 gevonnis. Hy het die boete betaal.

“Ánder mans in die ANC behoort hóm en ander mans in die ANC wat hulle weet aan geweld teen vroue skuldig bevind is, aan die kaak te stel.

“So, die stryd teen gender-gegronde geweld sal nie vorder nie totdat en tensy mans in hierdie land verantwoordelikheid aanvaar en aan hul broers sê: ‘Jy sal nie langs my sit nie. Jy sal nie in my naam gewelddadig teenoor vroue optree nie. Jy sal nie my godsdiens gebruik nie. Jy sal nie my kultuur gebruik nie. Jy sal nie jou status gebruik nie.’”

‘Mans doen dít’

Vroue het al baie gedoen. Hulle het in opstand gekom, gemarsjeer, petisies gestuur, sê Botha.

Vroue onteer nie hulself nie. Vroue verkrag nie hulself nie. Vroue teister nie hulself in hul werkplekke nie. Dit ons mans wat dit doen.

“Hulle het ál hierdie dinge gedoen. Die fokus moet nou op mans wees. Vroue onteer nie hulself nie. Vroue verkrag nie hulself nie. Vroue teister nie hulself in hul werkplekke nie. Dit ons mans wat dit doen.

“So, die verantwoordelikheid lê by elke man om elke ander man tot verantwoording te roep en teen mekaar uit te praat.

“Manlike politici behoort die leiding te neem in die stryd teen geweld teen vroue. En hulle behoort diegene wat bekend is as geweldenaars teen vroue uit hul midde te weer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.