Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bid ons nog?

Is die Christendom aan die uitsterf, wonder Frits Gaum.

Kersfeesmaand 2018. Vir sommige mense is dit die feesmaand van die Christus.

Vir baie ander het Kersfees min, of niks, te doen met Christus nie. Want die geloof in Christus – en daarmee saam die Christendom – is aan die kwyn, word gesê.

50 jaar gelede het Johan Heyns ’n boek met die titel Sterwende Christendom? geskryf. Daarin het hy die vrees uitgespreek dat die Christelike geloof, in Europa in elk geval, aan die sterf is – veral omdat teoloë soos Rudolph Bultmann, J.A.T. Robinson en ander dit met hul sekularistiese idees in sy kern aantas.

Die vraag is nou of dié vrees in ons tyd bewaarheid word – nie net in Europa nie, maar wêreldwyd, juis ook in Suid-Afrika, by name onder Afrikaanssprekendes.

Die veranderings wat met die demokratisering van Suid-Afrika gekom het, het momentum aan die sekulariseringsproses gegee.

Volgens die Duitse stigting vir wêreldbevolking is daar nagenoeg 7,3 miljard mense op aarde. Van hulle is, volgens Operation World se syfers, ongeveer ’n derde nominaal Christene. Van Afrika se miljard inwoners is 49% Christene en 42% is aanhangers van die Islam. Die swaartepunt van die Christendom het die afgelope eeu na die Suidelike Halfrond verskuif, weg van Europa en Noord-Amerika. Latyns-Amerika is die “Christelikste” kontinent op aarde; meer as 90% van die inwoners noem hulself Christene. Die Rooms-Katolieke Kerk het verreweg die meeste aanhangers onder die Christelike kerke – ongeveer 1,2 miljard, 49% van alle Christene. Sowat 18% is Protestante en 11% behoort aan Ortodokse kerke.

In sommige wêrelddele toon die Christendom onverwagse groeikrag. In China, die land met die grootste bevolking op aarde (nagenoeg 1,4 miljard), het die Christelike geloof volgens aanduidings in die afgelope dekades sterk wortelgeskiet. Beramings verskil, maar sommige waarnemers meen dat Christene reeds 5% van die Chinese bevolking uitmaak. In Wenzhou, ’n stad in die kusprovinsie Zheijian, is 15% tot 20% van die bevolking glo reeds Christene.

Maar in Europa kwyn die Christelike geloof ongetwyfeld. Die Nederlandse koerant Trouw het ’n paar jaar gelede ’n opname oor “spiritualiteit” gemaak, en terwyl die meeste respondente blykbaar ’n soort “geestelikheid” beoefen – van meditasie of rus op Sondae tot sport of die kyk van rolprente – glo minder in ’n persoonlike God soos die kerk dit verkondig. Hulle beskou hul “geestelike” praktyke as maniere om hul batterye te herlaai, nie as ’n uitdrukking van geloofsoortuigings nie.

In Nederland, Duitsland en Oostenryk is daar ’n waarneembare uittog uit die tradisionele kerke. Hoewel kerklike betrokkenheid nie noodwendig saamhang met Christenskap nie, is dit ’n goeie aanduiding van mense se houding teenoor die Christelike geloof.

Volgens die jongste statistieke noem sowat 79,8% van die Suid-Afrikaanse bevolking hulself “Christene”, 1,5% is aanhangers van Islam en 1,2% is Hindoes. Sowat 17,5% van Suid-Afrika se mense hang geen godsdiens aan nie. Dit is bekend dat amper al die “hoofstroomkerke” lidmate verloor – wat natuurlik nie beteken dat dié mense die Christelike geloof noodwendig vaarwel toeroep nie.

Hierdie neiging het ná 1994 onder wit mense toegeneem, veral as gevolg van sekularisasie en ’n “mondigwording” en vryer denke ná apartheid.

Tog is daar ’n behoefte om ‘terug te keer na God’, al is dit nie ’n stormloop terug na die hoofstroomkerke nie.

Swart Christene behou hul binding aan die Christelike geloof, maar hul kerklike verbintenisse is van ’n eie aard met grootskaalse versplintering onder baie groepe en groepies en Afrika-tradisies wat dikwels ’n prominente plek inneem. Swart Christene is oor die algemeen waarskynlik meer fundamentalisties en charismaties ingestel, terwyl teologiese kwessies wit Christene meer besig hou.

Jaap Durand skryf in Ontluisterde wêreld dat die veranderings wat met die demokratisering van Suid-Afrika gekom het, ’n ongekende momentum aan die sekulariseringsproses in die land gegee het. Die demokratisering van Suid-Afrika en die gepaardgaande transformasie het onvermydelik tot groot onsekerheid, en selfs vertwyfeling, by wit mense, by name die Afrikaners, gelei. Die geloofwaardigheid van die Afrikaanse kerke het weens hul ondersteuning van apartheid vir baie onder verdenking gekom.

Jan van der Merwe het in sy navorsing vir sy doktorsproefskrif, “Afrikaners in post-apartheid Suid-Afrika: ’n antropologiese perspektief”, gevind dat jong Afrikaners se prioritisering van waardes in ’n post-apartheid Suid-Afrika drasties verander het.

Ekonomiese oorlewing, welvaart en materiële sukses, en nie meer ’n Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing nie, is vir hulle die oorheersende prioriteit.

Terwyl die meeste respondente in sy navorsing (Afrikaanse jongmense tussen 18 en 30 jaar oud) hulself as Christene beskou, was hulle baie krities teenoor die Afrikaanse hoofstroomkerke.

Hulle het gevoel die Afrikaanse kerke moet minder veroordelend wees en dat hulle groter menslikheid, Christelike liefde en verdraagsaamheid teenoor alle Suid-Afrikaners moet openbaar.

Afrikaners se opvattings en waarde-oordele ten opsigte van Christenskap het volgens Van der Merwe sedert 1994 ’n “metamorfose” ondergaan. Hulle is baie minder Christelik-konserwatief as voorheen, daar is ’n nuwe openheid en verdraagsaamheid by baie, en daar word voorsiening gemaak vir verskeidenheid.

Tog is daar ook ’n behoefte om “terug te keer na God”, al is dit nie noodwendig ’n stormloop terug na die hoofstroomkerke nie. Die ongekende reaksie op Angus Buchan, die rou Engels­sprekende boere-profeet, se “back to basics”-prediking is hiervan die beste voorbeeld.

Is die Christendom aan die sterf? In sy geheel het die aantal mense wat hulself Christene noem, wêreldwyd nie in die afgelope halfeeu minder geword nie. Trouens, dit het gegroei, en plek-plek boonop verbasend vinnig. Dit het waarskynlik in ’n groot mate tred gehou met die groei in die wêreldbevolking.

Die Islam het in hierdie tyd ook gegroei, maar daar is steeds heelwat minder Moslems in die wêreld as Christene. Dalk is die persentasie oortuigde Moslems dieselfde of selfs hoër as die persentasie oortuigde Christene, maar dis ’n moeilik bewysbare stelling. Islam-ekstremiste maak wel meer lawaai en bedreig die wêreldvrede in ’n groter mate as Christen-ekstremiste.

Tog lyk dit partykeer of die kerk – en veral die hoofstroomkerke – as ark waarin die Christelike geloof op die tsoenami’s van ons tyd rondgeslinger word, ’n oorlewingstryd voer.

Die kerk sal dalk nie in sy huidige vorm en vorms end-uit bestaan nie, maar gelowiges glo dat die kerk as sodanig en in watter vorm ook al, sal voortbestaan totdat die Christus, wie se eerste koms ons met Kersfees vier, wéér sal kom.

Geseënde Kersfees!

* Dr. Frits Gaum is die skrywer van die bekroonde Fluit-fluit die kerk is uit?

Meer oor:  Kerk  |  Kersfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.