Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Biden-ideale lyk gedoem

Joe Biden vier hierdie naweek sy eerste 100 dae in die Withuis, maar die 46ste president van Amerika vat ’n kans met sy radikale agenda, meen Jaco Kleynhans.

Pres. Joe Biden Foto: Reuters

Die meeste van die Verenigde State se gewildste presidente van die afgelope 100 jaar, insluitende Franklin Delano Roosevelt, Ronald Reagan en Barack Obama, het te midde van ’n ernstige krisis president geword.

Tog kon elkeen van hulle daarin slaag om die krisis van hul tyd in ’n geleentheid te omskep en het uiteindelik ’n nalatenskap daargestel wat die VSA grondliggend verander het.

Pres. Joe Biden was die afgelope week reeds 100 dae in die Withuis en dit raak toenemend duidelik dat, anders as wat die verwagting nog tot so onlangs as Januarie was, hy ’n groot poging probeer aanwend om – soos Roosevelt tydens die Groot Depressie – die hele fokus van sy administrasie op riskante, enorme nuwe inisiatiewe te bou in die hoop dat hy daardeur radikale politieke, ekonomiese en maatskaplike veranderinge kan ontsluit om hom só in die geledere van die mees invloedryke presidente van alle tye te laat.

Biden vs. Trump

Biden het Woensdagaand sy eerste toespraak voor ’n gesamentlike sitting van die Amerikaanse kongres gelewer waarin hy ’n skerp kontras tussen sy eie inisiatiewe en dié van sy onmiddellike voorganger, Donald Trump, probeer skets het.

Biden sou altyd die anti-Trump- en post-Trump-president wees, maar dit is duidelik dat hy nou ook probeer om meer as net die president te wees wat weer rus en vrede in die Withuis herstel het. Hy het Woensdagaand verskeie omvangryke en selfs radikale stappe aangekondig om te reageer op die krisis wat deur die koronaviruspandemie veroorsaak is, sowel as op ander knelpunte soos onwettige immigrasie, beweerde polisiewreedheid, onvoldoende gesondheidsorg en toegang tot onderwys en opleiding.

Daar is egter weens ’n ingewikkelde stel uitdagings, wat verby net die koronaviruspandemie strek, min waarborg dat Biden se planne gaan slaag.

Die VSA word as belangrike wêreldmoondheid toenemend uitgedaag met die vraag oor hoe die land in ’n wêreld waar Westerse demokrasie op die agtervoet is en waar outokratiese lande soos China en Rusland steeds hul wêreldwye invloed uitbrei, homself vir die uitdagings van die 21ste eeu voorberei.

Gaan Amerika as ryk wegkwyn of gaan die land sy wêreldrol herbedink en ook oor die volgende dekades ’n leidinggewende internasionale rol bly speel? Daarmee saam bied die binnelandse vraagstukke van politieke, ideologiese en geografiese polarisasie, snelle demografiese veranderinge, klimaatsverandering en vrae oor die veerkragtigheid van die Amerikaanse ekonomie heelwat uitdagings vir die federale regering.

Anders as wat die geval met Roosevelt, Reagan en Obama was, geniet Biden nie groot nasionale steun vir die meeste van sy inisiatiewe om al hierdie probleme aan te pak nie. Hy is steeds slegs Amerikaners se antwoord op Trump en nie hul antwoord op ’n langtermynkrisis nie.

Daar is ook nie ’n verwagting by baie Amerikaners dat Biden die soort leier is wat die VSA sodanig kan transformeer sodat die land verby die huidige uitdagings en krisisse kan tree en steeds wêreldleierskap kan bly toon nie.

Die Demokrate se meerderheid in die Amerikaanse kongres is baie klein en met die mees gepolariseerde kongres in die geskiedenis van die VSA kan een teenstem deur ’n Demokraat in die senaat die ondergang van Biden se agenda beteken.

Nog ’n uitdaging vir Biden is die Amerikaanse federale regering se staatskuld wat reeds meer as 100% van die bruto binnelandse produk (BBP) is. Sou inflasie en gevolglik ook rentekoerse begin styg, kan die vinniggroeiende staatskuld ’n bedreiging vir ekonomiese stabiliteit in die VSA inhou.

Oudpres. Barack Obama Foto: Getty Images
Vox populi?

In peilings wat die afgelope week deur CNN en Fox News gedoen is, is tussen 53% en 54% van Amerikaners tevrede met Biden se werksprestasie ná sy wittebroodtydperk van 100 dae. Dit is wesenlik laer as George W. Bush (63%) en Barack Obama (62%) se steun ná hul eerste 100 dae in die Withuis. Dit is ook die derde laagste steunvlak vir ’n president die afgelope eeu ná afloop van sy eerste 100 dae in die Withuis.

Wat egter slegter nuus is, is dat uit die ses kwessies waaroor Amerikaners die sterkste voel, die pandemie die enigste kwessie is waaroor meer as 50% van kiesers tevrede is met Biden se werksprestasie. Dat 81% van Amerikaners meen die pandemie is onder beheer, is wel goeie nuus vir Biden. Sowat 58% van Amerikaners is tevrede met Biden se hantering van die pandemie.

Hoewel ekonomiese data wat die afgelope week in die VSA bekend gemaak is daarop dui dat die Amerikaanse ekonomie steeds op die herstelpad is, en instellings soos die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) nou sterk ekonomiese groei vir die VSA vir vanjaar voorspel, is slegs 29% van Amerikaners tans positief oor die ekonomie. Verder is slegs 48% van Amerikaners tevrede met Biden se hantering van ekonomiese sake.

Biden se hantering van gesondheidsorgkwessies geniet die steun van 48% van Amerikaners, terwyl minder mense tevrede is met sy hantering van buitelandse beleid (42%), grensbeheer (35%) en immigrasie (34%). Dieselfde peilings beklemtoon die omvang van die polarisasie in die land. Biden geniet tans die steun van 95% van Demokrate en 14% van Republikeine. Die gaping van 81% in steun is die grootste wat enige Amerikaanse president tot nog toe ondervind het en is selfs groter as die 76%-gaping wat Trump ná sy eerste 100 dae gehad het.

Terwyl Biden mooi broodjies bak oor eenheid, die heling van wonde, samewerking tussen die Demokrate en Republikeine en oor hoe hy polarisasie wil teenwerk, het sy agenda oor die eerste 100 dae presies die teenoorgestelde vermag. Hy het danksy ’n rits meer linkse politieke hervormings eerder sy steun onder die Demokrate gekonsolideer en opposisie onder Trump-ondersteuners teen sy administrasie verhard.

Dit is ook Biden se fokus op ongemaklike sake soos die verhoor van Derek Chauvin, die polisieman wat verlede Mei die swart man George Floyd in Minneapolis vermoor het, wat tot polarisasie bydra.

Biden het kort voordat die jurie in die saak hul beslissing aan die hof voorgehou het, gesê dat hy glo die getuienis oorweldigend teen Chauvin is en hy vir die regte uitspraak hoop. Juriste beskou dit as onnodige politieke inmenging in ’n hofsaak wat tot meer rassespanning kon lei.

Terwyl Biden sy ondersteuners se standpunte oor rasseverhoudinge, wapenbeheer en beweerde polisiewreedheid aanhou herhaal, voel baie Republikeine en konserwatiewe kiesers dat Biden ernstiger probleme – soos die huidige krisis aan die grens met Mexiko en die toename in misdaad in verskeie Amerikaanse stede – stil swyg.

In Maart is meer as 200 000 onwettige immigrante op die grens voorgekeer – die meeste in dekades. Byna die helfte van hierdie onwettige immigrante was minderjariges wat die grens alleen probeer oorsteek het. Terwyl die krisis steeds toeneem, sê Republikeine dat Biden se sagter retoriek jeens onwettige immigrante tot die krisis bygedra het.

Misdaad

Nog ’n groeiende probleem in die VSA is die skerp toename in geweldsmisdaad in verskeie stede die laaste paar maande. Dit loop parallel met ’n verwoede debat oor polisiëring en die mate waartoe die polisie geweld op misdaadtonele gebruik. Verskeie Demokrate is ten gunste daarvan dat die begrotings van polisie­departemente verminder moet word en dat polisiedepartemente, wat tans gedesentraliseerd bestuur en beheer word, eerder deur federale owerhede gereguleer moet word.

In die VSA se grootste stad, New York, is die polisie se begroting verlede Julie met 14% – van $7 miljard tot $6 miljard – verminder. In Los Angeles, die tweede grootste stad, was die besnoeiing $150 miljoen. Dit het sedertdien tot die sluiting van polisiekantore, die beëindiging van werwing en opleiding en die aflegging van honderde polisielede in albei stede gelei.

Die lae moreel onder Amerikaanse polisielede skep ’n plofbare situasie in misdaadgeteisterde stede.

Moorde in New York het in die eerste drie maande van vanjaar met 11,8% gestyg, terwyl daar 40% meer skietvoorvalle as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar was. Tussen 11 Desember 2020 en 28 Maart vanjaar was daar ’n styging van 46% in moorde in Minneapolis. In ander stede soos Chicago en Portland waar die polisiedepartemente se begrotings verminder is, was daar ook ’n skerp toename in misdaad die laaste paar maande.

Nie net is daar ’n direkte verband tussen die besnoeiing van polisiebegrotings en die styging in misdaad nie, maar die voortdurende retoriek teen polisielede lei ook tot ’n groot uitvloei van polisielede en ’n afname in moreel. In die 50 grootste Amerikaanse stede het 23 se polisiehoofde verlede jaar bedank. Die lae moreel onder Amerikaanse polisielede skep ’n plofbare situasie in misdaadgeteisterde stede.

Biden het tydens sy eerste 100 dae eerder dié probleem vergroot as help oplos.

Geldsake

Biden het, soos die meeste Amerikaanse presidente nou maar doen, verskeie uitvoerende bevele en minstens sewe wette binne sy eerste 100 dae onderteken wat hoofsaaklik verband hou met sake wat sy party en sy ondersteuners na aan die hart lê. Dit sluit in strenger omgewingsregulasies, ’n hoër minimum loon, minder beperkings op immigrasie, verhoogde finansiële toesig vir verskeie bedrywe en ’n uitbreiding van verskeie regeringsprogramme. Sy rekordgetal van 50 uitvoerende bevele bevestig egter sy bereidwilligheid om op aktivistiese wyse vanuit die Withuis vinnige hervormings deur te voer.

Biden het ook verras deur aan die eise van die mees linkse en progressiewe elemente van die Demokratiese Party te voldoen deur ’n kommissie aan te stel wat die moontlike aanstelling van bykomende regters vir die hooggeregshof – ’n inisiatief waarteen die meerderheid van Amerikaners gekant is – moet ondersoek. Hy het ook wetgewing voorgestel waarvolgens 11 miljoen onwettige immigrante uiteindelik burgerskap sal kan kry. Verder wil hy dit makliker maak om polisielede te kan vervolg en wil hy strenger wapenbeheer instel.

Biden het selfs onlangs sy steun toegesê aan die veldtog om die Amerikaanse hoofstad Washington DC as die 51ste deelstaat te erken. Dit sal vir Demokrate groot voordeel inhou omdat elke deelstaat twee senatore het en die hoofstad s’n sonder twyfel Demokrate sal wees.

Biden het in sy eerste 100 dae die grootste uitbreiding van federale regeringsprogramme en besteding deur die federale regering sedert Roosevelt tydens die Groot Depressie aangekondig.

’n Ekonomiese hulppakket, ’n infrastruktuurprogram en nou ook ’n sogenaamde program vir Amerikaanse gesinne sal saam meer as $6 000 miljard beloop.

Hierdie programme sal deur middel van staatskuld en verhoogde belasting gefinansier word. Biden se beplande belastingverhogings sal die skerpste sedert die 1960’s wees.

Hoewel al dié inisiatiewe deur Demokrate ondersteun word, is dit omstrede sake wat geen steun onder Republikeine en min steun onder gematigde Amerikaanse kiesers geniet. Biden wil dus, terwyl die Demokrate sowel die senaat as huis van verteenwoordigers beheer, hierdie hervormings deurvoer. Dit maak korttermyn- politieke sin.

Maar om waarlik die VSA se langtermynuitdagings te bowe te kom, sal Biden verby polariserende politiek moet tree en ’n visie vir die VSA voorstel wat breër steun geniet. Slegs dan sal hy ’n blywende positiewe rigting vir sy land kan help aanwys.

En die buiteland?

Terwyl Biden en sy span die afgelope 100 dae hard gewerk het om die Trump-nalatenskap uit te wis en die VSA se ideologiese rigting na links te verskuif, is dit egter opvallend dat Biden, hoewel met nuanseverskille, Trump se buitelandse beleid in die breë voortsit.

Biden se grootste veranderinge op die gebied van buitelandse beleid was sy besluit om die VSA weer deel van die Parys-klimaatooreenkoms te maak en om die VSA se uittrede uit die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) te herroep.

Sy besluit om weer in onderhandelinge met Iran oor ’n kernooreenkoms te tree, is ook ’n ommekeer nadat Israel en Saoedi-Arabië Trump drie jaar gelede oortuig het om die VSA aan die 2015-kernooreenkoms te onttrek. Biden het ook Trump se besluit om Amerikaanse soldate in Duitsland te verminder, herroep.

Trump se fokus op die ontwikkeling van ’n netwerk van lande wat die politieke en militêre opkoms van China – en veral die Chinese se groeiende aggressie in Asië – wil teenwerk, word reeds deur die Biden-administrasie voortgesit.

Biden se grootste veranderinge op die gebied van buitelandse beleid was sy besluit om die VSA weer deel van die Parys-klimaatooreenkoms te maak.

Daarmee gepaardgaande word die proses om die VSA se militêre fokus stelselmatig van die Midde-Ooste na veral Asië en Oos-Europa te verskuif, voortgesit. Soos Trump het Biden voortgegaan om die VSA se militêre betrokkenheid in Afganistan te beëindig.

Biden is duidelik nie bereid om soos Trump aan die meeste eise van Israel gehoor te gee nie en Biden se verhouding met Saoedi-Arabië is ook heelwat meer neutraal as die hegte vriendskaplike verhouding wat die Saoedi’s met die Trump-administrasie ontwikkel het, maar dit verander weinig aan die posisie van Israel.

Die Amerikaanse ambassade in Israel bly in Jerusalem, soos wat Trump besluit het, en die VSA steun steeds die normalisering van verhoudinge tussen Israel en Arabiese lande.

Dit is duidelik dat Biden op die internasionale verhoog sterk wil lyk met ’n besonder gefokusde strategie om Chinese invloed in Asië, maar ook in ander wêrelddele, teen te werk. Daarmee wil Biden natuurlik ook sê dat die VSA nog lank nie gereed is om sy plek as die magtigste wêreldmoondheid af te staan aan ’n ondemokratiese land waar minderhede en kritiese burgers onderdruk en sy bure geboelie word nie.

Met een oog op die toekoms

In die aanloop tot aanstaande jaar se middeltermynverkiesing sal Biden se fokus egter op sy progressiewe nuwe regeringsprogramme val. Daarmee wil hy die federale regering se rol in Amerikaners se lewens van die wieg tot die graf drasties uitbrei – iets wat Roosevelt laas suksesvol kon doen.

Die nuutste Amerikaanse sensusdata is onlangs bekend gemaak en oor die volgende maande sal die proses begin om die huis van verteenwoordigers se 435 distrikte te herontwerp volgens die nuwe toekenning van setels aan deelstate. Elke tien jaar word ’n sensus in die VSA gehou en volgens bevolkingsveranderinge word die 435 setels heringedeel.

Texas is die grootste wenner en sal twee nuwe distrikte bykry. Noord-Carolina, Florida, Oregon, Montana en Colorado kry ook elkeen ’n distrik by. Daarteenoor sal New York, Illinois, Ohio, Pennsilvanië, Kalifornië, Michigan en Wes-Virginië elkeen ’n setel in die huis van verteenwoordigers verloor.

Dit is veral deelstate wat deur die Republikeine beheer word waar ekstra setels toegeken is. Dit beteken dat die Demokrate se meerderheid in die huis van verteenwoordigers in volgende jaar se middeltermynverkiesing in gedrang kan kom. Die Demokrate beheer tans 218 setels en die Republikeine 212, met vyf wat vakant is.

Biden is deeglik bewus van die uitdaging wat sy party in die gesig staar om volgende jaar beheer oor die huis van verteenwoordigers te behou. Dit is waarskynlik ook die rede vir sy dringende benadering tot sake wat deur sy party as belangrike prioriteite beskou word.

Die enigste swart Republikeinse senator, Tim Scott van Suid-Carolina, het Woensdagaand sy party se repliek op Biden se toespraak gelewer. Hy het veral klem gelê op Biden se bydrae tot meer polarisasie, veral met sy fokus op slegte rasseverhoudinge, en Biden se groot bestedingsplanne wat, volgens Scott, ’n “liberale wenslys van regeringsvermorsing” is.

Scott is een van die jong sterre in die Republikeinse Party en behoort ’n sterk aanspraakmaker op die party se kandidatuur vir president in 2024 te wees.

Donald Trump Foto: Argief/Reuters
Trump II

Die Republikeine se probleem is egter dat Donald Trump nog lank nie klaar is met die politiek nie. Donderdagaand in ’n televisieonderhoud op Fox News het Trump gesê dat hy dit sterk oorweeg om in 2024 homself weer beskikbaar te stel as presidentskandidaat. Trump se voortdurende invloed op die party veroorsaak heelwat verdeeldheid, wat ook verlede week op ’n byeenkoms van Republikeinse lede van die kongres in Florida duidelik was.

Met Demokrate bankvas agter Biden en die Republikeine steeds verdeeld, hoop die Withuis dat Biden Amerikaners van die noodsaak vir sy voorgestelde hervormings sal kan oortuig. Daarvoor het hy egter ’n perfekte storm nodig. Biden se inisiatiewe sal slegs slaag solank die Republikeine verdeeld is, die ekonomie sterk herstel, die pandemie verder in felheid afneem en die Demokrate in die kongres hul huidige eensgesindheid kan behou.

Biden sal ook die verbeelding van Amerikaners moet aangryp en breër steun vir sy inisiatiewe probeer monster.

Afgesien van Roosevelt, Reagan en Obama het die VSA die afgelope 100 jaar ook presidente soos Herbert Hoover en Jimmy Carter gehad in wie se ampstermyne groot inisiatiewe in reaksie op krisistye tot die einde van albei se loopbane aanleiding gegee het.

Biden sal nie die pad van Hoover of Carter wil stap nie en het duidelik aspirasies om die volgende Roosevelt te wees.

Die vraag is of die Amerikaanse burgers aptyt vir sy omvangryke regeringsprogramme, hoër belasting en progressiewe ingrypings het. Biden se onvermoë om die polarisasie in die VSA teen te werk, skep verdere ontnugtering onder Amerikaners.

Ná 100 dae in die Withuis is Biden besig met ’n riskante eksperiment waarvan die resultate nog onduidelik is.

Slaag hy, kan dit die VSA vir altyd verander. Sou hy misluk, kan die VSA oor die volgende paar jaar meer politieke, ekonomiese en maatskaplike onstabiliteit ervaar.

  • Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit-beweging.
Meer oor:  Joe Biden  |  Bestekopname  |  Jaco Kleynhans  |  Amerika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.