Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bietjie sagter, seblief, Greta

Is die jong klimaat-aktivis  Greta Thunberg ’n visioenêre stem of is sy besig om  tragies mis te tas, vra  Anthoni van Nieuwkerk.

Meisie op ’n missie: Greta Thunberg (middel). Foto: Getty Images

Meeste mense wat die klimaat­debat volg, of in internasionale betrekkinge belangstel, het reeds met die 16-jarige Sweed Greta Thunberg kennis gemaak.

Danksy sosiale media het haar onlangse emosionele toespraak by die Verenigde Nasies se klimaatberaad die aandag getrek. Soveel so dat haar klimaat-aktivisme nou bekend staan as die “Greta-effek” en dat sy benoem is vir die Nobelprys vir Vrede. Hoewel sy dit nie gekry het nie, is sy reeds ’n ikoon vir diegene wat glo dat die establishment nie erns met aardverhitting het nie en dat drastiese optrede die enigste uitweg is.

Ons kan inderdaad nie ontken dat Greta ’n belangrike boodskap het nie, en nog minder kan ons ontken dat die jeug ’n groter belang het by die toekoms van die aarde as enigiemand anders.

Ons verstaan ook dat tieners se sosiale gedragsfilters aan die ontwikkel is en dat hulle meestal reguit sê wat hulle dink. Of anders gestel, tieners sê dikwels wat ons dink – ons is huiwerig om ander in die verleentheid te stel.

Wel, Greta het voor die wêreld se politieke leiers haar punt gemaak en gesê: Hoe durf julle? Hoe durf julle voorgee dat julle aandag gee aan die probleem terwyl julle nie rêrig iets van waarde doen om ons toekoms te verseker nie?

Hierdie boodskap en die sensasionele styl van oordrag vind aanklank by miljoene jong mense en klimaat-aktiviste oor die wêreld heen. Trouens, ’n hele generasie ondersteun haar.

Maar is sy reg? En maak haar klimaat-aktivisme enige verskil aan die realiteit van aardverhitting?

‘Ek sou reken meer word van ons verwag as straatoptogte en kersligaande met Greta aan die voorpunt.’

Daar is ongetwyfeld vele maniere waarop die mensdom kan optree om die negatiewe gevolge van ons ekonomies gedrewe besoedeling aan bande te lê. Maar ek sou reken meer word van ons verwag as straatoptogte en kersligaande met Greta aan die voorpunt.

Die groter prentjie is dat die wêreld- politieke ekonomie – wat ons soms globalisering of die internasionalisering van die kapitalisme noem – die bron-oorsaak van aardverhitting is. As dit waar is, dan moet ons maniere vind om die aard van die ekonomie aan te pas sodat ons die tempo van verhitting betekenisvol kan vertraag.

Die wêreld se leiers weet dit. Hulle verstaan dit so goed dat hulle omvattend geïnvesteer het in navorsing en verslae van die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (wat trouens in 2007 ’n Nobelprys vir hul baanbrekerswerk ontvang het). Asook die Verenigde Nasies se raamwerkkonvensie oor klimaatsverandering ingevolge waarvan internasionale berade jaarliks plaasvind wat die probleem probeer identifiseer en hanteer.

Ten spyte hiervan is daar probleme. Greta wys sommige daarvan uit, maar een van die kernprobleme is die stryd tussen die ontwikkelde ekonomieë van die Westerse wêreld (die sogenaamde Globale Noorde) en ontwikkelende ekonomieë in Afrika, Suid-Amerika en Asië (die sogenaamde Globale Suide).

Hierdie stryd gaan basies oor die reg op ontwikkeling en die reg om te besluit hoe om dit te doen. Die argument van die Globale Suide is dat koolstofgegronde energie-opwekking (steenkool, olie, gas) die vinnigste en goedkoopste manier is om industrialisering te steun.

Die prys hiervoor is egter onvoorstelbare omgewings- en lugbesoedeling (iets wat Beijing, Mumbai en Sasolburg se inwoners goed begryp). Die betoog van die Globale Suide is egter dat die Globale Noorde, wat dekades lank baat gevind het by “vuil” energie en nou die luukse smaak van alternatiewe bronne van energie-opwekking, daarom moet investeer en finansieel bydra om die wêreldwye probleem van aardverhitting te takel.

Groot bedrae geld word benodig om die negatiewe gevolge hiervan te verminder, of beter te bestuur. Mens kan ook die kapitalistiese etos verstaan – diegene wat het, is traag om te investeer in diegene wat nie het nie. Trouens, pres. Donald Trump van Amerika het onttrek aan die VN se Parys-klimaatverdrag omdat, voer hy aan, hy nie pa wil staan vir ander se vuil ekonomieë nie.

Greta wys ’n vinger na die kapitaliste en dit maak van haar ’n teiken. Sy en haar ouers sal mooi moet dink oor die prys wat sy gaan betaal vir die tipe karakterskending wat op haar pad lê.

Daar is ’n skrale kans dat die Globale Noorde en Globale Suide mekaar oor hierdie kwessie (naamlik wie moet betaal?) gaan vind. Een moontlike uitkoms is ’n tegnologiese deurbraak wat die mensdom die vermoë kan gee om “skoon energie” veel bekostigbaarder en volhoubaarder op te wek. Dit verg minder straataktivisme en meer navorsing.

Greta se stem is ook nodig. Wat sy eintlik vir die wêreld se leiers sê, is: Aanvaar verantwoordelikheid vir die stand van die aarde se klimaat. Hou op om voor te gee dat julle omgee, terwyl julle eintlik oor winste omgee, ten koste van die volgende generasie se hoop op ’n skoon klimaat en gesonde aarde. Investeer daardie winste in die innoverende denke en navorsing wat ons erg benodig.

Dit vat dalk ’n jong emosionele tiener se woedebui om grootmense skaam genoeg te maak dat ’n vonk van verandering kan opvlam. Die hoop beskaam nie.

Meer oor:  Greta Thunberg  |  Jeug  |  Aardverhitting  |  Klimaatsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.