Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Black Lives Matter polariseer eerder as wat dit help

Ons moet met mekaar praat oor ras in Suid-Afrika, maar dit moet gedoen word op ’n Suid-Afrikaanse manier en nie met ’n hoogs twyfelagtige Amerikaanse slagspreuk wat net verder polariseer nie, skryf Theuns Eloff.

Verskeie Black Lives Matter-betogings, soos dié een in Portland, het in geweld ontaard. Foto: AP

Daar was onlangs groot omstredenheid in die media, op sosiale media en in politieke kringe toe spelers, afrigters en administrateurs tydens die Solidarity Cup-kriekettoernooi armbande gedra en vooraf op een knie neergesak het en met ’n vuis in die lug solidariteit met die Black Lives Matter (BLM)-beweging getoon het.

My eerste reaksie was een van verbasing, teleurstelling en woede – veral toe ek gedurende die wedstryd gesien het hoe Andile Phehlukwayo, nadat hy die paaltjie van (die wit) Heinrich Klaasen geneem het, gaan stilstaan het, sy oë toegemaak het en die swartmag-saluut gegee en ’n BLM-hemp onder sy kriekethemp gewys het.

Die BLM-beweging

Spelers kniel met hul vuiste omhoog voor die Solidarity Cup-wedstryd. Foto: Gallo Images

Volgens die BLM-beweging se manifes het dit begin as ’n oproep tot optrede in reaksie op (die Amerikaanse) staats-gesanksioneerde geweld teen swart Amerikaners en anti-swart rassisme.

Die BLM het vier jaar gelede as ’n wêreldwye beweging begin en het meer momentum gekry met die wrede dood van die swart Amerikaner George Floyd, aan die hand van ’n wit polisieman.

Die manifes is vol mooiklinkende woorde en slagspreuke, baie waarmee ’n mens kan saamstem.

Só word gestel dat die beweging daartoe verbind is om hulself en ander “heel te maak” en saam ’n kultuur te skep waar elke (swart) persoon voel dat hy/sy gesien, gehoor en ondersteun word. Hulle erken, respekteer en aanvaar verskille en ooreenkomste.

Maar in woorde en dikwels in dade skyn die radikale aard van BLM ook deur. Hulle is op rekord dat hulle die westerse konsep van die kernfamiliestruktuur omver wil werp, polisiëring radikaal wil herstruktureer (of selfs afskaf) en sekere tronkvonnisse (veral van swartmense) ophef. Van hul byeenkomste gaan ook dikwels met openbare geweld gepaard.

BLM is in die eerste plek ’n Amerikaanse verskynsel wat begin oorspoel het na hoofsaaklik Wes-Europa en Kanada, maar sonder veel van ’n voetspoor in Afrika, Oos-Europa en Rusland of die ooste.

Die ikoon van gholf, Tiger Woods, was self baie versigtig om dit te steun, en het gewys op die geweld wat dikwels met BLM-optrede gepaardgaan.

Die Solidarity Cup was die eerste sigbare en openbare verskyning van BLM in Suid-Afrika.

BLM is in die VSA nie sonder sy kritici nie. En hieronder tel nie net konserwatiewe wit kommentators nie. Verskeie swart Amerikaners het al hul voorbehoud oor die beweging en veral sy doel om die hele samelewing en die gesin radikaal te herstruktureer, uitgespreek.

Die ikoon van gholf, Tiger Woods, was self baie versigtig om dit te steun, en het gewys op die geweld wat dikwels met BLM-optrede gepaardgaan.

Soos met baie openbare kwasi-politieke veldtogte, het BLM ’n eendimensionele fokus, in hierdie geval swartwees.

Sulke veldtogte kry altyd wat genoem word ’n binêre karakter. Dit beteken dat as ’n mens die BLM nie steun nie, jy outomaties daarteen is (en per definisie as ’n rassis gebrandmerk word). Dit word juis gedryf om só die grootste moontlike steun te verkry en/of af te pers.

Die EFF se rasseveldtog en -haat vertoon presies dieselfde kenmerke. Jy is óf vir ons óf teen ons – die saak is nie kompleks nie en daar is nie ’n middeweg nie.

Wat het voor die Solidarity Cup gebeur?

Die Formule Een-kampioen Lewis Hamilton wys gereeld sy steun vir die Black Lives Matter-beweging. Foto: Getty Images

Uit mediaberigte en persoonlike gesprekke is dit duidelik dat daar by Krieket Suid-Afrika (KSA) agter die skerms intense gesprekke oor die saak was, aangevuur deur die openbare standpunt wat die snelbouer Lungi Ngidi hieroor ingeneem het.

Die eerste gesprekke was juis oor die noodsaaklikheid van gesprekke oor rassisme en die gevoel van uitgeslotenheid in krieket deur swart en bruin spelers. Dit is moontlik dat die aanstelling van drie senior wit amptenare (Graeme Smith, Mark Boucher en Jacques Faul) ook ’n rol kon gespeel het.

Uiteindelik het die spelers sonder die afrigters en administrateurs vergader en daarna aangekondig dat hulle eenstemmig is dat hulle die BLM-bande gaan dra, gaan kniel en vuiste gaan lig.

AB de Villiers was na berig word nie by hierdie spelersvergadering nie, maar het later tog ingestem om mee te doen.

Die administrateurs en afrigters het onder druk of in solidariteit ook toegegee om deel te neem.

Die voormalige Springbokkaptein Francois Pienaar was betrokke by die reëlings van die dag om te help om R3 miljoen vir slagoffers van Covid-19 in te samel.

Dit is duidelik dat daar (ten minste aanvanklik) taamlike eenstemmigheid was om ’n openbare standpunt teen rassisme en rassediskriminasie, asook geweld teen vroue en kinders in te neem. Daaroor kan niemand kritiek uitspreek nie.

Wat egter gebeur het, is dat die swart en bruin spelers in die geslote vergadering die wit spelers oortuig het om eerder die klem op BLM te laat val. Dit kan selfs wees dat van die wit spelers onder morele druk was, amper afgepers gevoel het.

Hulle het waarskynlik gehoor: jy is óf vir ons, óf teen ons, kies self. Ander (soos Faf du Plessis) het ’n werklike oortuiging gehad dat hy onkundig was en dat hy die BLM nou steun: “Ek sê dat alle lewens nie saakmaak totdat swart lewens saakmaak nie.”

Francois Pienaar, Graeme Smith en Makahya Ntini kniel ook voor die Solidarity Cup-wedstryd. Foto: Gallo Images

As ’n mens terugkyk, is dit onverstaanbaar hoedat KSA en die spelers, in hul edele dog naïewe poging om ’n standpunt oor rassisme in te neem, BLM as vaandel kon kies. BLM het hoofsaaklik ’n Amerikaanse agenda en al probeer hul wêreldwyd steun werf, verstaan hulle geen snars van die verskillende kontekste in die verskillende lande (laat staan nog Suid-Afrika) nie.

Hul eise is radikaal en vereis ’n herstrukturering van die samelewing. Van hul leiers erken openlik dat hulle Marxistiese agendas het. Hulle word deur wit en swart Amerikaners gekritiseer. Hulle is duidelik nie die beste organisasie om te ondersteun nie.

Daarby het hulle het nie eens ’n Suid-Afrikaanse agenda nie. As ’n klein voetnoot op hul webwerf verwys hulle na Collins Khoza en tien ander swart Suid-Afrikaners wat onlangs in Suid-Afrika tydens die inperkingstyd aan die hand van die gereg gesterf het, asook die vlaag van geweld teen vroue in die land.

Daar is egter geen verwysing te vind dat dit swart weermaglede of swart polisielede was wat die 11 Suid-Afrikaners laat sterf het nie. BLM se onkunde oor Suid-Afrika skreeu ten hemele.

En dít is die beweging wat deur die krieketspelers van Suid-Afrika (en indirek die administrateurs) gekies word om voor ’n wedstryd te steun? Dit maak geen logiese sin nie; en nog minder strategiese sin.

Deel van die konteks is die meer as 50 moorde per dag op alle Suid-Afrikaners, maar ook die verskynsel van plaasmoorde en veral die uiters wreedaardige aard daarvan.

Verder is die konteks van BLM in die VSA heeltemal anders as dié in Afrika en Suid-Afrika. In die VSA is die beweging ’n reaksie op die situasie van ’n minderheid van swart Amerikaners oor hoe die wit gedomineerde samelewing hulle behandel.

In die meeste Afrikalande is dit nie eens ’n kwessie nie omdat die meerderheid van die bevolking in elk geval swart is. In Suid-Afrika is die konteks dat 26 jaar ná ons eerste demokratiese verkiesing die swart meerderheid onteenseglik polities in beheer is, dat die ekonomie al meer inklusief word en dat rasseverskeidenheid in sport elke jaar groei – ondanks struikelblokke op sosio-ekonomiese terrein.

Deel van die konteks is die meer as 50 moorde per dag op alle Suid-Afrikaners, maar ook die verskynsel van plaasmoorde en veral die uiters wreedaardige aard daarvan.

Toe Collins Khoza deur swart weermaglede aangerand en doodgeslaan is, was daar nie ’n woord van iemand in die swart regering of uit die geledere van swart krieketspelers oor BLM nie.

Om die Amerikaans gebaseerde BLM dus net so op die Suid-Afrikaanse konteks oor te plaas, is nie net feitelik verkeerd nie, maar ten minste ideologies naïef en ten meeste moedswillig.

Polarisasie is gevolg van BLM-ondersteuning

Andile Phehlukwayo vertoon ’n Black Lives Matter T-hemp nadat hy Heinrich Klaassen uitgehaal het. Foto:

Vanweë die binêre aard van BLM (jy is óf vir ons, óf teen ons), kon ’n mens verwag dat die reaksie daarop ook skerp sou wees.

Mense wat nie daarmee saamstem nie, skryf dit en die krieketoptrede in geheel af en brandmerk almal wat daaraan deelneem (veral mense van wie hulle dit nie verwag het nie) as “links”, “radikaal”, “meelopers” en “verraaiers”.

Dit was daarom veral Graeme Smith, Francois Pienaar en AB de Villiers wat op sosiale media deurgeloop het.

En wat nie gehelp het nie, en iets wat die krieketspelers totaal onderskat het of buite rekening gelaat het, was die sterk emosies oor die onlangse vlaag van plaasmoorde (op hoofsaaklik wit boere).

Die binêre reaksie is dat as swart lewens saak maak, wit boere se lewens dan nie saak maak nie.

As ’n mens BLM steun, steun jy per definisie nie die kritiek op plaasmoorde nie en verraai jy die boere.

Dit is ondenkbaar dat hierdie gebeure nie vorentoe ’n sterk negatiewe invloed op versoening en eenheid in die krieketspan sal hê nie.

Hierdie kritici (en soms persoonlike aanvalle) trap egter netjies in die binêre slagyster wat BLM vir hulle gestel het. Hul woorde en optrede (om Springboktruie te verwoes) gaan ons ook nie ’n sentimeter vorentoe neem nie.

Dit is seker dat Graeme Smith en kie nie die druk sal vryspring om as wittes uit KSA te bedank nie. Die politici, die onbeholpe minister en die rassetransformasiedrywers gaan die feit dat hulle uitgekniel het (soos die AGS-mense altyd gesê het) nie in ag neem in die rasvendetta teen hulle nie.

Al is dit nie die rede waarom hulle deelgeneem het nie, is dit ’n goeie les om vorentoe te onthou. Die wit spelers wat meegedoen het, gaan nie enige druk en kritiek vryspring omdat hulle meegedoen het nie. En ongelukkig gaan Francois Pienaar (wat saam met Graeme Smith gewerk het) uit rugbygeledere nog lank gekritiseer word oor sy rol – reg of verkeerd.

Dit is ondenkbaar dat hierdie gebeure nie vorentoe ’n sterk negatiewe invloed op versoening en eenheid in die krieketspan sal hê nie. Sal Heinrich Klaasen elke keer wonder of Andile Phehlukwayo sy Suid-Afrikaanse spanmaat is en of hy in die eerste plek ’n swartmag-aktivis is? Dit kan nie spaneenheid in die hand werk nie.

Wat kan geleer word en hoe gaan ons vorentoe?

’n Vrou word deur soldate en polisiemanne toegesak tydens ’n Black Lives Matter-betoging in Portland. Foto: AP

Geen regdenkende Suid-Afrikaner kon vir hierdie situasie gewens het nie. Hopelik het minstens sommige van die krieketspelers geleer dat om ’n goeie doel (anti-rassisme) op ’n naïewe manier (deur die simplistiese BLM aan te gryp) te probeer bereik, meer negatiewe as positiewe gevolge het.

Hopelik het die afrigters en die bestuur besef dat om ’n klompie twintigjariges alleen te laat met hierdie ideologiese tameletjie, nie in die belang van krieket of Suid-Afrika is nie. En hopelik sal diegene wat so vinnig was om te kritiseer en “af te skryf”, besef dat die hele saak van rassisme (insluitend plaasmoorde) ’n komplekse saak is wat nie op ’n binêre en simplistiese manier hanteer kan word nie.

As ons werklik glo in nierassigheid, en wil uitkom by ’n tyd waar ras regtig nie meer saak maak nie, sal ons nog harder moet werk en nog meer intens met mekaar moet praat.

Gelukkig was Siya Kolisi se reaksie ten minste ’n bietjie meer gebalanseerd as dié van die swart krieketspelers.

Die gesprek in KSA moet dus voortgaan, en dit moet dadelik in ander sportsoorte soos rugby ook begin. Ek sal geld daarop wed dat rugby dieselfde druk van BLM sal ervaar met die eerste wedstryd wat die Springbokke hierdie jaar speel – tensy daar vooraf gesprek en helder koppe kan wees.

Gelukkig was Siya Kolisi se reaksie ten minste ’n bietjie meer gebalanseerd as dié van die swart krieketspelers.

Een voorwaarde van sulke gesprekke dat dit wedersyds moet wees. Die swart en bruin krieketspelers wil “hul stories” vertel – en daar is niks mee fout nie. Maar dan moet hulle ook bereid wees om die stories van die wit spelers te hoor.

Daar is baie wit spelers wat byvoorbeeld nie die voorregte van ’n Ngidi of ’n Phehlukwayo gehad het om ’n beurs van meer as R100 000 per jaar na ’n privaat skool te kry nie.

Theuns Eloff

As ons oor die konsep van “beleefde realiteit” wil praat, moet almal kans kry.

Maar dit moet gedoen word op ’n Suid-Afrikaanse manier en nie met ’n hoogs twyfelagtige Amerikaanse slagspreuk wat net verder polariseer nie.

Hierdie debat moet ook oor rassetransformasie gaan. Sommige swart en bruin spelers is tereg onwillig om as kwotaspelers beskou te word. Maar dan kan hulle nie tegelyk in die politieke koor van rassetransformasie en effektiewe kwotas sing nie.

’n Moontlikheid wat KSA moet oorweeg, is om iets in die openbaar te doen om die oorspronklike breë doel van ’n standpunt teen alle rassisme en teen alle rassediskriminasie te bereik – insluitend die verskynsel van plaasaanvalle en moorde.

Dit sal die hele land weer agter KSA verenig as daar ’n openbare optog na die parlement kan wees om dit duidelik te maak. En dan moet almal saam loop. Indien die swart en bruin krieketspelers nie aan so iets wil deelneem nie, is en sal hul motiewe onder verdenking bly.

* Dr. Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.