Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bun Booyens en Marco Botha oor 100 jaar se rugbydrama

Die intensiteit van die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks het oor ’n eeu heen geensins afgeneem nie. Gert van der Westhuizen gesels met Bun Booyens en Marco Botha oor Netwerk24 se reeks podsendings oor dié stryd.

Die Springbokke kyk hoe die All Blacks die haka doen voor 2018 se toets in Wellington. Suid-Afrika het met 36-34 gewen. Foto: Gallo Images

In die abnormale tye waarin ons leef – een van uitgestelde sportreekse en -wedstryde en kragmetings voor leë paviljoene – is daar een sportmylpaal wat nie ongesiens kan verbygaan nie: Die intense mededinging tussen die Springbokke en die All Blacks wat 99 toetse en 100 jaar gelede in 1921 begin het.

Daar is min, indien enige, internasionale tweestryde wat die verbeelding oor die jare só aangegryp het as dié tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland op die rugbyveld.

En boonop is alles, soos David Kramer se Blokkies Joubert gesê het, vir die eerste sewe dekades deur politiek bederf.

Drama was daar oorgenoeg. Omtrent alles wat kon gebeur het, het gebeur.

Dramatiese drieë en strafdoele en skepdoele, klipharde wedstryde waarin van die beste rugbyspelers in die geskiedenis gespeel het, vreemde skeidsregtersbeslissings, omstrede vuishoue. Die tweestryd is selfs tydens ’n wêreldoorlog in ’n krygsgevangenekamp voortgesit. Dit was ’n wedywering wat ’n regerende party help skeur het en ’n land in twee verdeel het. Daar was uitgestelde en afgestelde toere en wedstryde, ’n betogertoer met ’n toets waarin ’n ligte vliegtuig gereeld op die veld afgepyl het om meelbomme op spelers te gooi. Daar was hofsake, ’n rebelletoer, ’n Wêreldbeker-eindstryd . . . En boonop is alles, soos David Kramer se Blokkies Joubert gesê het, vir die eerste sewe dekades deur politiek bederf.

Marco Botha toe hy sy 80ste wedstryd vir SuperSport uitgesaai het. Foto: Christiaan Kotze

Bun Booyens, oudredakteur van Die Burger, en Marco Botha, oudrugbykommentator by SuperSport wat ook verlede jaar help skryf het aan Heyneke Meyer se outobiografie en kommunikasiebestuurder van MyPlayers is, vertel dié verhaal met al sy hoogte- en laagtepunte in ’n podsending-reeks van agt episodes wat Dinsdag op Netwerk24 begin.

Hoewel dit na ’n haas onbegonne taak lyk om dié verhaal in net agt episodes te vertel, sê albei dit was vir hulle ’n wonderlike ontdekkingsreis.

Bun Booyens: Die skaarsheidswaarde is belangrik wanneer dit by kragmetings tussen die Springbokke en All Blacks kom. Foto: Adrian de Kock

Volgens Booyens is mense gewoonlik baie swak kykers en luisteraars van rugbywedstryde omdat hulle gevestigde belange het en heeltemal bevooroordeeld is. Hy is ook so.

Daarom was dit vir hom lekker om te kon terugstaan en te vra: Waar kom hierdie abnormaal intense stryd vandaan? “Dit is in ’n sport wat tegnies nie eintlik ’n wêreldsport is nie tussen twee lande wat iewers op die uithoeke lê en vir 100 jaar mekaar opwen soos geen ander spanne in feitlik geen ander sport doen nie. En hoe hulle dit kon volhou vir ’n hele eeu.”

Rugby en politiek

Die All Black-heelagter George Nepia wat in 1928 verbied is om in Suid-Afrika te toer. Foto: Getty

Hulle gaan haal die verhaal by die toernooi om die King’s Cup tydens die Eerste Wêreldoorlog en die Nieu-Seelandse militêre span wat in 1919 deur Suid-Afrika getoer het. Die politieke probleme wat die stryd tussen Springbok en All Black soms heeltemal oorskadu het, het in 1919 die eerste keer kop uitgesteek toe die Suid-Afrikaanse owerhede geweier het om spelers van Maori-afkoms hier toe te laat.

Botha sê dié kwessie het hom deurentyd opgeval.

“Ek het geweet daarvan, maar nie noodwendig in soveel diepte as wat ons soms in die episodes daarop ingaan nie. Ek het begrip daarvoor waarom daar Suid-Afrikaners is wat hierdie tweestryd voor 1992 nie erken nie. Ek dink ons was baie sensitief in die aanbied van die reeks om nie hiervan ’n heilige ding te maak nie deur te erken dat daar ook ’n sombere en donker agtergrond is. Ek dink dit was belangrik om dit te doen.

“Maar dit is ook belangrik om die belewenis nie af te breek nie vir die spelers wat deel daarvan was en die mense wat dit ingeneem en waardeer het nie, want ondanks die politieke probleme is dit nog steeds iets ongeloofliks.”

Booyens sê hy het vir die eerste keer agtergekom watter goeie spelers Suid-Afrika weens die rassepolitiek van die verlede nie hier kon sien nie. Een van hulle was die heelagter George Nepia wat in 1928 basies alles bereik wat ’n rugbyspeler kon – behalwe om teen die Springbokke te speel.

Nepia sou volgens Booyens dieselfde invloed kon gehad het as die Samoaanse vleuel Bryan Williams in 1970, maar hy is verbied om die toerspan te vergesel.

“Ek dink een van die keerpunte in Suid-Afrikaanse sport, in Suid-Afrikaanse rugby, was daai versoek dat die span van 1919 nie hul Maori’s moet saambring nie. As hulle net oor daai hekkie kon kom en Ranji Wilson-hulle hiernatoe laat kom het . . . ek dink ons kon onsself 50 jaar se verleentheid gespaar het – en vir hulle 50 jaar se pyn.”

Waar was jy?

Tiny Naudé maak reg om die bal te stel vir sy beslissende strafdoel in die derde toets van 1965 teen Nieu-Seeland. Foto: Argief

Dit is duidelik dat die politieke aspekte van die stryd alleen genoeg is om ’n mens ure lank besig te hou. Maar daar was darem ook meer as genoeg rugby om oor te gesels.

Die reeks begin met Gerhard Viviers se stukkie ikoniese kommentaar van Sid Nomis se onderskepdrie in die eerste toets van 1970 op Loftus Versfeld. Viviers se “Siddee! Siddee!” het skaars weggesterf voor Booyens luisteraars dadelik deel van die reeks maak deur te vra waar hulle was toe hulle die eerste keer van die tweestryd bewus geword het.

Vae beelde en name van 1970 se All Blacks en die klanke van voosgeluisterde rugbyplate maal deur my kop net om plek te maak vir duideliker herinneringe van ses jaar later se toer met al sy politieke drama van Olimpiese boikotte, vreemde skeidsregtersbeslissings en nog ’n onderskepdrie (Johan Oosthuizen s’n in die derde toets in Kaapstad.)

Gertjie Brynard, oftewel Gertjie Breinaald. Foto: Argief

Booyens se eerste herinneringe aan die stryd tussen Bok en All Black is meer dramaties. Hy onthou Tiny Naudé se strafdoel in die derde toets van 1965 wat aan die Bokke die eerste sege ná sewe verloortoetse besorg het. Hy onthou ook nog die foto waar Gertjie Brynard (hy het Gertjie Breinaald gehoor) die modderbesmeerde bal aan sy trui vir Naudé skoonvee.

Botha se eerste herinnering is dalk die mees dramatiese van almal: Die Wêreldbeker-eindstryd van 1995 wat hy saam met sy ouers as 9-jarige seun op hul groen rusbank gekyk het.

Botha: “Ek dink wat ek van die ‘95-wêreldbeker onthou, is wat ’n mens later jare op heruitsendings gesien het. My helder onthou daarvan is die grootsheid van die oomblik en nie soseer die detail van die wedstryd nie.”

Booyens: “Marco . . . ek het my letterlik katatonies geskrik toe (Jonah) Lomu op die veld gehardloop het en ek is ernstig ek kan tot vandag toe nog feitlik niks onthou van die 1995-wêreldbeker nie, want jy is net só betrokke daarby.”

Daarom was die ontdekkingsreis van die reeks, soms ook oor bekende terrein, vir Booyens en Botha ’n hoogtepunt.

Booyens sê hy het vooraf na baie podsendings geluister.

“Dit val net op dat baie van die goed, by gebrek aan ’n beter woord, ’n DJ-agtige komponent het. Daar’s twee breedsprakerige ouens en as een ou iets sê wat effens snaaks is, dan val hulle van hul stoele af soos hulle lag daaroor en melk die grappie vir die volgende sewe minute. Ek en Marco is joernaliste, so ons het daarvoor gemik dat dit ’n feitestel moet hê en nie net menings bevat nie.”

Botha stem saam. “Ons wou nie soos DJ’s ligsinnig wees nie. Jy moet ook jou eie menslikheid in die ding laat invloei en vir my was elke liewe episode ’n openbaring of sorts met inligting waarvan ek nie geweet het nie. Daar was dikwels goed wat óf skreeusnaaks óf bitterlik interessant is en dan wou ek gehad het ons moet dit insit; nie ter wille van myself nie, maar omdat daar nog iemand soos ek gaan wees wat dit nie geweet het nie.”

Die All Blacks leer ook by ons

Theuns Stofberg in aksie teen die All Blacks in 1981. Foto: Wessel Oosthuizen/Gallo Images

Een van die interessante gevolgtrekkings waartoe Booyens en Botha kom, is dat die All Blacks deur die jare nogal heelwat by die Springbokke geleer het en dat dié twee spanne die rugbywêreld ook anders laat dink het oor verskeie aspekte van die spel.

Hennie Muller het byvoorbeeld die All Black-skakelpaar in 1949 “voos geduik” en hoewel sy optrede destyds erg omstrede was, het dit later bygedra tot veranderinge in die onkantreël. Die rugby-owerhede se denke oor die toelating van plaasvervangers is ook beïnvloed deur die feit dat die Springbokke in een van die provinsiale wedstryde in 1956 teen die einde weens beserings net 11 spelers op die veld gehad het.

Hulle het toe besef die soort rugby wat Suid-Afrika speel, is die rugby waarmee jy wen en hulle sal moet aanpas.
Marco Botha

Daarby het die Bokke die All Blacks in hul aanvanklike kragmetings in die skrums verwoes en hulle gedwing om hul skrumformasie te verander. Dit het rugbybase ook weer na die skrumreëls laat kyk. Die All Blacks het ook by die Springbokke geleer hoe waardevol skepskoppe kan wees.

Booyens: “Marco, in jou leeftyd het Suid-Afrika ’n sekere beskimmeldheid ontwikkel . . . as jy nou ’n skoen vasmaak in Nieu-Seeland dan is dit nou net tien maal beter as ’n veterknoop in Suid-Afrika . . . daai ding dat Suid-Afrika nie as vindingryk beskou word nie. Ek dink een van die goed wat Rassie (Erasmus) hopelik nou afgeskud het, is die feit dat ons het ’n bietjie slimmer gedink en ons eie instink gevolg en volgens ons eie sterkpunte gespeel het. Ek hoop ons kry die selfvertroue terug wat ons in die amateur-era gehad het.”

Botha: “Peter de Villiers vat baie houe as ’n hanswors van ’n Springbok-afrigter, maar in 2009 het ons die All Blacks drie keer geklop. Daarna het die All Blacks hul vleuels verander en heelagters as vleuels gekies, want dit was die enigste teenvoeter vir daai Morné Steyn-wedstrydplan. Hulle het toe besef die soort rugby wat Suid-Afrika speel, is die rugby waarmee jy wen en hulle sal moet aanpas, want Morné het vir hulle simpel geskop. Die ander ding is dat hulle nooit in die beroepsera geweldig erns gemaak het met hul slotte en lynstaanspel nie totdat Bakkies (Botha) en Victor (Matfield) die toneel oorheers het en Nieu-Seeland besef het jy kan nie eintlik ’n ou kies wat netsowel vir Australië kon gespeel het nie.”

Die grootstes onder die grotes

Danie Craven se beroemde duikaangee wat die All Blacks in 1937 laat skarrel het. Foto: Springbok-Sage

Soos verwag kon word, duik die name van groot spelers en spanne gereeld op. Maar watter spanne was die heel bestes ooit?

Booyens: “Die Springbokke van 1937. Wat sonder ’n ou uit? Daai ouens het die eerste toets verloor en was klaar onder druk omdat dit ’n reeks van net drie toetse was. Hulle loop rustyd met 0-6 agter in die tweede toets en in die derde toets druk hulle vyf drieë sonder dat die All Blacks een kan druk. Dit is ongeëwenaard. Daarby was hulle sekerlik die versameling mees veelsydige Springbokke ooit. Danie Craven speel skrumskakel, losskakel, heelagter en agtsteman. Boy Louw speel elke posisie in die pak, hy speel vaskop, loskop, slot, flank, agtsteman en haker. Dit is ’n ander era, toegegee, maar dit is dit.

“Die All Black-span vir wie ek my hoed afhaal, en baie mense gaan my verguis daarvoor, is die span van 1956 wat daai redelik krapperige en bakleierige reeks gehad het. Maar die druk wat op daai span was om te wen, was erg. Tiny White, die een slot, vertel dat hy so senuagtig was dat hy die verkeerde stewel aan die verkeerde voet aangetrek het, só groot was die druk. Van die ander spelers het in die kleedkamer opgegooi van die spanning. Dit was ’n fenomenale prestasie om ’n goeie Springbokspan, wat hulle steeds in die skrums pak gegee het, te klop.”

Lede van 2009 se Springbok-span ná een van hul drie seges oor die All Blacks. Foto: Gallo Images

Botha: “Die Springbok-span van 2009 was iets ysliks. Ek dink ook die span van 1986 (se rebellereeks) was baie goed, maar in 2009 klop ons die Britse en Ierse Leeus, wen die Drienasies-reeks en klop die All Blacks drie keer.

“Die All Blacks van 2015 is al beskryf as bes moontlik die beste professionele sportspan op aarde en hoewel die span van 2011 ook uitstekend was, kies ek die All Blacks van 2015.”

Waarheen nou?

Joggie Jansen word gestuit in een van die toetse in 1970 teen die All Blacks. Foto: Gallo Images

Die toekoms van kragmetings tussen die Springbokke en die All Blacks hang volgens baie deesdae in die weegskaal, en dit is nie net die skuld van die Covid-19-pandemie wat alles omvergewerp het nie.

Dalk is een probleem dat hulle deesdae te veel teen mekaar speel. Booyens dink dit is beslis so.

“Iewers in die raadsaal moet daar op die punt van die tafel ’n ou sit wat besef dat die groot bate van rugby, en veral van Springbokke en All Blacks, ’n sekere skaarsheidswaarde is.”

Hulle het eers kragte gemeet 30 jaar nadat Suid-Afrika die eerste keer toetsrugby gespeel het en daarna het hulle baie ongereeld teen mekaar gespeel. Daar het nooit minder as vyf jaar tussen reekse verloop nie.

Enige ou wat dink dis ’n puik idee om in rugby die woord conference te gebruik en dink dit gaan die skares laat stroom na die stadions toe, is iemand wat te veel raadsaal-muffins geëet het.
Bun Booyens

“Nou speel hulle drie of vier keer ’n jaar teen mekaar ná ’n Superrugby-reeks waarin almal huisvriende begin raak het. Wat weet ek van rugby? Ek is meer van ’n woordmens, maar ek het nou al gesê enige persoon wat sit en die woord span in rugby verander in franchise is ’n ou wat die episentrum van rugby miskyk. ’n Franchise is ’n Kentucky op Trompsburg, dit is nie iets wat in rugby hoort nie.

“Enige ou wat dink dis ’n puik idee om in rugby die woord conference te gebruik en dink dit gaan die skares laat stroom na die stadions toe, is iemand wat te veel raadsaal-muffins geëet het. Dit is eenvoudig net nie goed wat kan werk nie.

“Sport is professioneel, dit kan nie verander nie. Maar jy kan nie begin by ’n Super-ses en aangaan tot by ’n Super-18 en heimlik dink: maar maybe kan ons dit opdruk tot ’n Super-32 toe nie.”

Botha sê hy kan nie sien dat dit sommer sal verander nie, want die rugbyowerhede moet die boeke laat klop. “Op die duur sal ’n mens dalk kan teruggaan na iets wat meer skaars is. As ons mettertyd wel deel word van die Sesnasies, kan ek nie sien dat Suid-Afrika in ’n Rugbykampioenskap én Sesnasies-reeks gaan speel nie.

“Dan wonder ek hoe struktureer jy kragmetings tussen die All Blacks en Springbokke. Die verhouding is op wankelrige grond,” sê Botha.

En dan voeg hy ’n sin by wat duisende rugby-ondersteuners ná ’n eeu van bloed, sweet en modder sal beaam.

“Dit sal tragies wees as hierdie verhouding nie gehandhaaf word nie.”

Bloed, Sweet & Modder skop Dinsdag 23 Maart af met nuwe episodes élke Dinsdag en Donderdag. Daar is agt episodes om na uit te sien.

• Die eerste episode is gratis, maar die volle reeks is slegs vir intekenare beskikbaar.

• Teken in op Netwerk24 teen R99 per maand om nie nét Bloed, Sweet & Modder te luister nie, maar ook om toegang te kry tot jou gunsteling- Afrikaanse koerante, streekkoerante en tydskrifte asook ons vorige blitssepies, luisterboeke, -dramas en meer.

Kontak die dienssentrum indien jy sukkel. Stuur ’n e-pos aan diens@netwerk24.com of skakel 087 353 1300.

Meer oor:  Springbokke  |  All Blacks  |  Bloed  |  Gertjie Brynard  |  Bun Booyens  |  Marco Botha  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.