Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bloedrivier: ’n Militêre en strategiese perspektief

Die herdenking van die Slag van Bloedrivier op 16 Desember het vanjaar tot heelwat omstredenheid gelei. Maar hoe belangrik was dié veldslag werklik? vra Pieter Labuschagne.

Die Voortrekkers se walaer soos voorgestel by die Bloedrivier-monument. Foto: Gallo Images

Die Voortrekkers se oorwinning by Bloedrivier op 16 Desember 1838 oor die Zoeloes word steeds as ’n Goddelike wonderwerk beskou.

Op dié dag het ongeveer 12 000 Zoeloes onder bevel van die Zoeloekoning, Dingaan, se mees senior bevelvoerder, Ndlela kaSompisi, die Voortrekkerlaer by die Ncomerivier aangeval.

Andries Pretorius het bevel oor die 472 man van die Voortrekkers gevoer wat deeglik in ’n walaer versterk met veghekke verskans was.

Die bloedige geveg het slegs ’n paar uur geduur. Vanuit ’n militêre en strategiese hoek was dit ’n verstommende oorwinning vir die Voortrekkers. Na raming is 3 000 Zoeloes tydens die geveg dood, terwyl net drie Trekkers (waaronder Pretorius) lig gewond is.

Die gefortifiseerde walaer het 'n belangrike taktiese voordeel aan die Voortrekkers gebied.

Dit is daarom verstaanbaar dat die Slag van Bloedrivier ’n verhewe status in Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis het.

Maar hoe vergelyk dit met ander soortgelyke veldslae tydens die Groot Trek?

Ek wil dit vergelyk met die Slag by Vaalrivier (25 Augustus 1836), die Slag van Vegkop (16 Oktober 1836) en die botsing by Veglaer (13 tot 15 Augustus 1838) waar walaers ook as fortifikasie gebruik is.

Daar word op vergelykbare strategiese en militêre aspekte van die veldslae gefokus. Die religieuse aspekte van die veldslae word nie bespreek nie, behalwe die erkenning dat ’n beroep op hulp van God ’n kernaspek van almal was.

Die waarde van die laer as verdedigingstruktuur

Die Voortrekkers se gefortifiseerde walaers was bykans ondeurdringbaar. Foto: Gallo Images

Die gefortifiseerde walaer het 'n belangrike taktiese voordeel aan die Voortrekkers gebied. Die ossewaens is in ’n kring of ander formasie getrek en stewig met kettings aan mekaar vasgeheg. Doringtakke en ander hindernisse onder en tussen die waens het dit feitlik ondeurdringbaar gemaak.

Wanneer die Trekkers gedurende die Groot Trek ’n gefortifiseerde walaer gevorm het, kon hul elke keer die aanvallers (Matabeles en Zoeloes) met groot verliese afslaan. Die aanvallers kon nie ’n enkele behoorlik gefortifiseerde walaer binnedring nie.

Die eerste suksesvolle gebruik van ’n walaer was by die minder bekende Slag van Vaalrivier. Die Voortrekkers onder leiding van Johannes Botha en Hermanus Steyn het by die Vaalrivier met net 30 verdedigers teenoor meer as 1 000 Matabeles te staan gekom. Die klein laer was regoor die huidige Parys in die boeg van die Vaalrivier getrek. Ná ’n hewige geveg wat tot 15:00 geduur het, het die Matabeles die aftog geblaas, maar nie voordat 150 met hul lewe geboet het nie.

’n Standbeeld van Andries Pretorius, leier van die Voortrekkers by die Slag van Bloedrivier. Foto: Argief

Nie ’n enkele Voortrekker is dood nie.

Dit was ’n gemene deler in al die veldslae wat met mekaar vergelyk word: Die Voortrekkers het geringe verliese teenoor die aanvallers se groot verliese gely. (Die getalle is op die mees gesaghebbende bronne gegrond omdat syfers wat heelwat verskil die ronde gedoen het.)

Wanneer die Voortrekkers nie in walaers verskans was nie, het die aanvallers dikwels die botoon gevoer.

Die Liebenberg-familie is net voor die Slag van Vaalrivier uitgewis omdat hulle nie betyds kon laertrek nie.

Die Voortrekkers is gedurende die nag en die oggend van 17 Februarie 1838 in groot getalle by Blaauwkrans en Moordspruit doodgemaak hoofsaaklik omdat hulle nie in walaers verskans was nie.

Die Voortrekkers onder bevel van Piet Uys en Hendrik Potgieter het op 10 April 1838 met meer as 340 man die onderspit by Italeni gedelf, met nege Trekkers wat dood is. Dié nederlaag kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die feit dat die geveg op oop en gebroke terrein plaasgevind het.

Die walaer as fortifikasie het ’n geweldige strategiese en militêre voordeel aan die Voortrekkers gebied, soos uit die vergelyking van die vier veldslae sal blyk.

Vergelyking van die belangrikste veldslae

Die vergelyking van vier van die belangrikste veldslae waar walaers betrokke was, bied interessante insigte.

Die Slag van Vaalrivier: 25 Augustus 1836

Die verhouding tussen aanvallers en verdedigers was ongeveer 33 Matabele-aanvallers vir elke Voortrekker-verdediger. Die ongevalle was vyf Matabeles per enkele verdediger.

Die Slag van Vegkop: 16 Oktober 1836

Die Voortrekkers onder leiding van Hendrik Potgieter het met ongeveer 50 waens twee stewige kringe by Vegkop getrek. Die waens is met kettings aan mekaar vasgeknoop en doringtakke het verhinder dat aanvallers onder die waens kon deurkruip. Daar was ’n tweede kleiner kring van vier waens binne die eerste kring, waar die vroue en kinders geskuil het.

Daar was ongeveer 151 Matabele-aanvallers vir elke Voortrekker-verdediger. Die ongevalle was ongeveer 14 Matabeles vir elke Voortrekker verdediger.

Die Slag van Veglaer: 13 tot 15 Augustus 1838

Koos Potgieter en Hans (Dons) de Lange het by Gatsrand bevel oor 75 Voortrekker-verdedigers gevoer. Die laer is in ’n dubbele kring getrek en ’n skeepskanon het bykomende vuurkrag gebied.

Die Zoeloes se hoofbevelvoerder was Ndlela kaSompisi, wat ook die aanvoerder by Bloedrivier was. Ná drie dae se onsuksesvolle aanvalle kon die Zoeloes nie deurbreek nie en daar was meer as 1 000 dooies op die slagveld. Daar was nie ’n enkele ongeval in Voortrekker-geledere nie. (Volgens Erasmus Smit is 2 000 Zoeloes dood).

Vir elke Voortrekker-verdediger was daar ongeveer 133 Zoeloes-aanvallers en met die ongevalle gegrond op die konserwatiewe skatting van 1 000 dooies, het 13 Zoeloes vir elke verdediger omgekom.

Die Slag van Bloedrivier: 16 Desember 1838

Die Voortrekkers het op 15 Desember 1838 ’n walaer met 64 waens op die wal van Ncomerivier met veghekke getrek. Hulle het ook twee kanonne tot hul beskikking gehad.

Ongeveer 12 000 Zoeloes het die laer die volgende dag aangeval en die geveg het die grootse deel van die oggend geduur en ongeveer 3 000 Zoeloes is dood. Vir elke Voortrekker-verdediger was daar dus ongeveer 25 Zoeloes en die ongevalle was ses aanvallers vir elke verdediger.

As die Slag van Bloedrivier dus met die ander veldslae vergelyk word streng op grond van die getalleverhouding tussen verdedigers en aanvallers, is die verskil merkbaar.

Die Slag van Vegkop is in dié opsig die suksesvolste gesien uit die Voortrekkers se oogpunt. Die getalleverhouding tussen verdedigers en aanvallers was die hoogste (1:151) en so ook dié tussen verdedigers en aanvallers (1:14).

Met die Slag van Bloedrivier was daar 25 aanvallers teenoor elke verdediger en ses ongevalle vir elke verdediger.

Die Slag van Vegkop en die daaropvolgende veldslae by Kapain en Mosega, was baie suksesvol om Mzilikazi en die Matabeles op die agtervoet te dwing.

Wanneer daar oor Bloedrivier gepraat word, word daar selde verwys na die hinderlaag waarin die Voortrekkers op 27 Desember 1838 in die uPathe-vallei by die Wit Mfolozi gelei is. Die Voortrekkers het ná ’n amper dag lange jaagtog net-net ontsnap, maar vyf, asook Alexander Biggar en heelwat van sy agterryers, het met hul lewe geboet.

Hoe suksesvol was die Slag van Bloedrivier?

Die brug oor die Ncomerivier wat die monumente van die Zoeloes en Voortrekkers by die Bloedrivier-slagveld op simboliese wyse met mekaar verbind. Foto: Gallo Images

Die Zoeloes het wel groot verliese by Bloedrivier gely, maar die slag was nie so suksesvol soos wat algemeen geglo word nie.

Die Voortrekkers het geen poging aangewend om grond te beset nie, die Zoeloes was steeds baie sterk met meer as 10 000 krygers, Dingaan was steeds op die troon en daar is nie op beeste beslag gelê nie.

Die beslissende veldslag sou eers later plaasvind ná ’n skeuring in die Zoeloe-koningshuis toe prins Mpanda kaSenzangakhona met 17 000 volgelinge weggebreek en Dingaan se mag uiteindelik gebreek is.

Die latere beeskommando en Mpanda se magte onder aanvoering van Nongalaza het Dingaan se mag in Januarie 1840 finaal by die Magqongqo-heuwels verslaan.

* Bronne: Ian Knight: Great Zulu Battles 1838-1906; G.B.A. Gerdener: Sarel Cilliers – Die vader van Dingaansdag; P.S. de Jongh: Die Lewe van Erasmus Smit; C. Potgieter en N.H. Theunissen: Hendrik Potgieter; G.S. Preller: Voortrekkermense, dele I-IV en G.D.S. Duvenhage se reeks oor die Groot Trek, dele I-III.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Vaalrivier  |  Voortrekkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.