Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bloemfontein se trems ’n vergete stukkie geskiedenis

Bloemfontein het van 1915 af vir net meer as twee dekades ’n unieke tremstelsel gehad waarvan min mense weet en waaroor nog geen behoorlike studie gedoen is nie, skryf Hannes Haasbroek.

Die munisipale trembedryf in Bloemfontein was van 1915 tot 1937 ’n integrerende deel van Bloemfontein se vervoerstelsel, en dit is ietwat verstommend dat daar nog geen volwaardige studie daaroor gedoen is nie. Die trems was die heel eerste openbare vervoermiddels in die stad en heel waarskynlik ook die enigste wat in die Vrystaat geloop het.

Toe die stad sy eerste elektriese spoorlose trems, of “trolliebusse”, met hul netwerk van oorhoofse kabels gekry het, was trems al in die buiteland en groot stede soos Kaapstad en Johannesburg ’n algemene gesig.

Trems in die 1930’s voor die tremkiosk in Maitlandstraat, Hoffmanplein. Foto: Nasionale Museum.

Baanbrekerswerk

Wat die Bloemfonteinse trembedryf merkwaardig gemaak het, was die stad se baanbrekerswerk om die heel eerste spoorlose stelsel tot stand te bring. Buitelandse stede en ander groot stede soos Durban, Johannesburg, Port Elizabeth en Kimberley het almal elektriese spoortrems gehad.

Bloemfontein se groot dag om in pas met die res van die land te kom, was 16 Desember 1915.

Op dié vakansiedag, destyds Dingaansdag en vandag Versoeningsdag, het ’n groot skare met heelwat belangstellendes uit die platteland op Markplein (later Hoffmanplein) byeengekom vir die opening van die tremdiens. Die burgemeester, P.J. Faure, het sy toespraak van ’n tydelike podium gelewer, omring van hooggeplaastes en belangrike gaste.

Op die plein is weldra ’n gerieflike sandsteentremkiosk met wagkamers, ’n veranda en ablusiegeriewe gebou.

Wit passasiers wat die balkon gebruik het, moes versoek word om ’n sitplek in die “wit gedeelte” te gebruik, maar hulle kon nie verplig word om dit te doen nie.

Die tremdiens het aanvanklik onder die munisipaliteit se openbarewerke-komitee geressorteer.

In 1922 is die munisipale trem-en-elektrisiteitskomitee op die been gebring om spesifiek om te sien na die tremdiens, wat nou onder die beheer van ’n tremsuperintendent was.

Die tremwerkwers, wat ingesluit het die drywers, kondukteurs en inspekteurs, het ’n plaaslike vakbond, die Trem-en-buswerkersunie, gestig om hulle te verteenwoordig. Die vakbond is deur die stadsraad erken.

Toegang voorbehou

Die stad se tremregulasies is in ’n lywige dokument in die Oranje-Vrystaat se amptelike Gazette aangekondig.

Die reëls het onder meer bepaal dat trempassasiers nie musiekinstrumente op die trem mag speel, honde mag oplaai, onwelvoeglik mag optree of onwelvoeglike taal mag gebruik of die bestuurder se aandag mag aftrek nie. Vuisgevegte of ruwe bewegings wat ander passasiers kon verontrief, dronkenskap, rook in die trem en pruim spoeg was ook verbode. Passasiers mag ook nie aan ’n aansteeklike siekte gely het of ’n lyk of “onbehoorlike” bagasie aan boord gebring het nie.

Met wit heerskappy en rassesegregasie het die munisipale tremordinansie bepaal die binnekant word vir slegs wit mense gereserveer. Swart passasiers is toegelaat om die agterste oop balkon te gebruik.

Wit passasiers wat die balkon gebruik het, moes versoek word om ’n sitplek in die “wit gedeelte” te gebruik, maar hulle kon nie verplig word om dit te doen nie.

Daar was juis wit passasiers wat hulle op die balkon tuisgemaak het om te rook, en nie omdat die sitplekke sagter was nie.

In die vroeë 1920’s is ’n laagtepunt bereik toe die trems as ordeloos en vervalle afgemaak is.

Met horte en stote

Bloemfontein het moedig voortgebeur om sy spoorlose tremdiens tot aansien van die stad en tot voordeel van sy inwoners se vervoerbehoeftes te bedryf, maar daar was eindelose struikelblokke en probleme.

Die grootste struikelblok was die deurlopende jaarlikse verlies wat die projek gely het. Onbeskofte personeellede, laks werktuigkundiges, wangedrag deur passasiers, onbetroubare tydskedules, swak roetebeplanning en duur kaartjies was van die ander probleme.

Bloemfontein se tremverkeer was ook dikwels vir motoriste verwarrend en ’n nagmerrie. Met die oorhoofse kragvoorsiening het die trems grotendeels in die middel van die straat gery. Voertuie kon hulle nie maklik verbysteek nie, want bestuurders kon nie behoorlik sien of daar verkeer van voor af aankom nie.

In die vroeë 1920’s is ’n laagtepunt bereik toe die trems as ordeloos en vervalle afgemaak is.

Talle regrukaksies is van stapel gestuur. Nuwe, moderner trems, waaronder ’n dubbeldekker, is gekoop en werk is gemaak van die swak instandhouding, roetebeplanning en tydskedules. Dit was egter nie genoeg om die verliese hok te slaan nie.

Slegs ’n klein tremhalte het vir dekades op ’n sypaadjie in Koning Eduardweg behoue gebly en vaagweg aan die trem-era herinner.

Burgemeester E.M. de Beer het in April 1930 juis in die stadsraad opgemerk: “Daar is nog maar net een dooie vlieg in die salf van ons stad se geldwese en dit is die tremdiens, wat ’n remskoen bly.” Trems het egter deel van die daaglikse bestaan van die stad geword en talle het verbete geveg vir die voortbestaan van die trembedryf, ter wille van die stad se aansien en die gerief vir inwoners.

Plaaslike en buitelandse kenners wat sporadies die afskaffing van die bedryf in ondersoekverslae aanbeveel het, het aanvanklik misluk.

Die einde van die trems

Teen 1936 was dit egter duidelik die tyd het uitgeloop vir Bloemfontein se tremdiens, wat sommige openlik ’n wit olifant genoem het.

Bloemfontein was as stad eenvoudig net nie groot genoeg om sy tremdiens volhoubaar en lonend te maak nie. Dít en die geriefliker en goedkoper busvervoerstelsel (veral dieselbusse het die botoon begin voer) en die toename in private vervoer het tot die afskaffing van die trems gelei.

Ná die afskaffing daarvan in 1937 is so te sê alle bewyse van die stad se eens bedrywige tremstelsel uitgevee asof dit nooit bestaan het nie.

Slegs ’n klein tremhalte het vir dekades op ’n sypaadjie in Koning Eduardweg behoue gebly en vaagweg aan die trem-era herinner.

Voordat bewaringsbewustes kon ingryp om hierdie historiese kleinood te bewaar, is dit uit onkunde deur die metro-munisipaliteit gesloop toe die sypaadjies vanjaar geplavei is.

  • Dr. Hannes Haasbroek is hoof van die geskiedenisdepartement van die Nasionale Museum.

Meer oor:  Geskiedenis  |  Aktueel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.