Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Blommemense: ‘Ons gaan alles verloor’

Adderleystraat se blommemark is deel van ’n ou Kaapse tradisie en het oor die jare ook een van Suid-Afrika se voorste toeristeaantreklikhede en kultuurskatte geword. Murray La Vita kyk hoekom die voortbestaan van dié mark bedreig word.

Die geskiedkundige Trafalgar Place waar Kaapstad se blommeverkopers al dekades lank handel dryf. Foto: Jaco Marais

“Hierdie stukkie grond is die mooiste stukkie grond in die Kaap . . . Watter plek kan mooier wees as ’n plek wat net blomme dra?”

Dawood Saliem (49) staan op ’n koue Maandagoggend in Trafalgar Place. Dit is die historiese deurloop tussen Adderley- en Parlementstraat, met aan weerskante die Trust Bank-gebou en die Goue Akker-winkelsentrum, waar die Kaapstadse blomverkopers al baie dekades lank handel dryf. Hy vra nog ’n vraag:

Jy moet sommer voel daar is ’n warmte hierso; daar is lig hierso, jy kan vry wees om te kýk en jou tyd te vat om ’n bossie blomme te koop.

“Maar as jy daar bo staan [in Adderleystraat] en jy kyk af, sal jy sommer hier afloop? Dit lyk dodgy; dit lyk soos ’n dodgy area.

“Ons wil dit change. Jy moet sommer voel daar is ’n warmte hierso; daar is lig hierso, jy kan vry wees om te kýk en jou tyd te vat om ’n bossie blomme te koop,” sê Saliem, wat een van die bestuurslede van die Trafalgar Place Flower Sellers’ Association is.

By hom is Ierefaan Williams (53), voorsitter van dié vereniging. Williams is ’n afstammeling van die mense wat 140 jaar gelede in Kaapstad begin blomme verkoop het.

“Hulle is stadig besig om vir ons te laat verdwýn uit die trade uit. Jy moet onthou, 20, 30 jaar gelede het Woolworths, Pick n Pay, Shoprite, Checkers, almal dié plekke, nog nie ’n bossie blomme verkoop nie,” sê Williams.

‘Onse blommebloed’

Die enigste plekke waar mense destyds in die Kaap kon blomme koop, was op die blommemark of in ’n bloemistewinkel.

Die groot companies flourish nou in blomme . . . Onse blommebloed gaan terug oor 100 jaar.

“En daar was maar net so ’n handjievol bloemiste in die hele Wes-Kaap. Hulle het álles daai weggevat van ons.

“Die groot companies flourish nou in blomme . . . Onse blommebloed gaan terug oor 100 jaar. Hulle kom nou in die laaste 20, amper 30 jaar en begint blomme te verkoop.

“Ons probeer om mense terug te kry in die mark – toeriste. Jy moet die toeriste weer terugkry because die toeriste wil kom om Tafelberg te sien en hulle wil na die blommemark toe kom. Oor die wêreld is hierdie mos ’n famous plek vir toeriste.

“Ons het grootgeword met hierdie mark deur daai bloedlyn van blommemense, die tradisionele blommeverkopers. My oumagrootjie-hulle het mos in daai jare sélf gaan blomme pluk in die berg. En toe het dit mos nou vir die boere moontlik geraak om blomme aan te plant en onse mense gaan koop toe hulle blomme.”

Deesdae kom hul blomme hoofsaaklik van die blommemark in Johannesburg en in ’n mindere mate van plase in Grabouw en Philippi af.

“Oor die jare het hulle die boere ondersteun. Maar hoe swáár word dit nou vir die blommemense, want mense koop nou in die winkels met hul kaarte blomme en hulle is protected in ’n gebou. En hier staan ons ná 140 jaar nog stééds in die koue.

“Ons het oor die jare baie, baie, baie blomdraers verloor deur die kwale wat hulle optel van dié windtonnel waarin hulle sit en die koue en die reën. Lánk voor hulle tyd is hulle weg.”

Lizette Rabe, professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, skryf in ’n artikel oor die geskiedenis van die blomverkopers in die SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis dat die woord “blomdraers” afkomstig is van die eerste blomverkopers wat hul blomme na die stad gedra en daar uit hul mandjies verkoop het.

Blommeverkopers uit die jare dertig. Foto: Verskaf

“Dis vir my belangrik om die mark terug te kry tot sy historical value waar die mense lekker protect is in ’n comfort area. Niemand in die hele Suid-Afrika gaan beter blomme verkoop as daai blomdraers nie because daar is nie ’n storié wat hulle nie ken om vir jou te vertel as ’n customer nie, of ’n lekker ding om vir jou te skiet nie – hoe om die sale te maak nie,” sê Williams.

Swak geriewe en ’n ‘windtonnel’

Saliem meen dit is belangrik om die blommemark te kry “tot by ’n punt waar dit in die 21st century is”.

Ierefaan Williams (links) en Dawood Saliem voor die gedenkteken van aartsdeken Thomas Lightfoot, die blommeverkopers se weldoener. Hulle voel hulle is “afgesny van hul geskiedenis” deurdat die Stad Kaapstad ’n heining – op die voorgrond – opgerig het wat die gedenkteken van die blommemark skei. Foto: Jaco Marais

“Ons sukkel met council, ons sukkel met Grand Central al vir járe oor dieselle topics.”

Die blommeverkopers het ’n 99-jaar-huurpag op Trafalgar Place, maar ’n huurder bestuur die Grand Central-gebou (waarin die poskantoor en talle ondernemings geleë is) en die aangrensende gebied, insluitend Trafalgar Place.

“Ons kry net nie die ondersteuning van hierdie mense om die blommemark te kry tot in die 21st century nie. Nommer een om die geriewe op te knap. Byvoorbeeld: Ons het nie ’n parking hier voor [in Adderleystraat] vir ’n kliënt nie.

Die mark raak ’n drug den in die aande en onse goeters word gesteel.

“Dan is daar die windtonnel-storie. Hierdie vroumense, as jy hulle kyk – hulle het amper drie, vier, vyf outfits aan . . . drie paar kouse, drie jerseys.

“Ons moet daarna kyk om dié te kan verander na ’n arcade-tipe ding waar ons onse blommemark kan toemaak in die aande, want in die aande is al die undesireables weer op ons mark . . . Die mark raak ’n drug den in die aande en onse goeters word gesteel.

“Grand Central wat supposed to be security te wees vir ons . . . Die security hou net op daar by Grand Central, so ons is unsecure.

“Almal hierdie probleme wat ons noem, is probleme wat council ons mee moet help. Hulle móét vir ons bystaan met hierdie probleme. En ons sukkel met hulle om te kom by daardie punt. Hulle sê vir jou van ’n lease-storie en dan is dit dié storie en daardie storie – dit bly ’n storie.”

‘Dringende kwessies’

Die Kaapstad-metro is gevra om op die kwessies wat Saliem hier aanroer, kommentaar te lewer. Die reaksie wat by monde van die woordvoerder Luthando Tyhalibongo ontvang is, lui as volg:

Cecilia Williams (79), die oudste blommeverkoper op die mark, en haar dogter Fadwah Sasman (45). Foto: Jaco Marais

“Die stad se eiendomsbestuursafdeling is besig met dringende besprekings en onderhandelinge met die eienaars van die Grand Central-gebou (die ou Poskantoorgebou) oor die huurkontrak vir dele van Parlementstraat en Trafalgarstraat, waarvan die blommeverkopers se area ’n deel uitmaak.

“Intussen werk ons nou saam met die afdeling stadsbestuur om die krane in die blommeverkopers se area reg te maak en om afbakeningslyne aan te bring wat aan die Covid-19-regulasies voldoen. Dit word as dringende kwessies hanteer en die werk behoort aan die einde van dié week of vroeg in volgende week te begin.”

‘Flowers!’

Alison Snyders (49) se stalletjie is aan die Parlementstraat-kant van Trafalgar Place.

“Ek is al amper 40 jaar hier. Ek is hier van ‘one rand a bunch’ se dae af. Ek het altyd my ouma kom help ná skool en sy’s nou al weg vir 32 years.”

Alison Snyders is al bykans 40 jaar lank ’n blommeverkoper. Foto: Jaco Marais

Alison onderbreek haarself en roep ’n woord uit wat sy seker al meer as enige ander in haar lewe gebruik het: “Flowers!”

Die twee jong mans stap egter verby sonder om by haar te koop. Hulle is op pad in die rigting van Parlementstraat en die gedenkteken aan die einde van Trafalgar Place ter nagedagtenis aan die Anglikaanse aartsdeken Thomas Lightfoot, ’n weldoener wat verseker het dat dié omgewing waar die blommeverkopers handel dryf, vir hul uitsluitlike gebruik in trust gehou word.

Hulle het mos gesê daar gaat miljóéne mense hier verbykom . . . ’n honderdduisend mense gaan blomme koop; toe koop daar nie één mens nie en ons maak dit net gerieflik vir die anders.

“Oor die jare was dié mos ’n pad; dit was mos Parliament Street. Toe het hulle mos onse lease oorgegee vir Stocks & Stocks en toe het húlle daai building oorgevat van die Post Office. En toe word die pad [Parlementstraat] toegemaak.

“Ons het ook geteken dat hulle dit kan toemaak. Hulle het mos gesê daar gaat miljóéne mense hier verbykom . . . ’n honderdduisend mense gaan blomme koop; toe koop daar nie één mens nie en ons maak dit net gerieflik vir die anders.

“Oor die jare het dinge meer difficult vir ons geraak because ander mense het oorgevat. Nou mag jy nie inkom nie; nou mag jy nie dié doen nie en jy mag nie dáái doen nie.”

‘Die customers gly’

“Toe het die owner van dié plek hier binne [Grand Central] mos vir ons kom bietjie renovate. Máár almal die dinge wat hulle vir ons kom doen het, was nie vir ons ’n benefit nie because dié dak bránd onse blomme dood. Dié dak is vól gaatjies en onse blomme reën ook nat. Ons het mos daai seméntdak gehad; dit was lekker koel.

“En daai tiles wat hulle dáá gesit het [aan Adderleystraat se kant], is glyerige tiles – die customers val. As dit reën dan gly die customers en dan blame hulle vir óns.”

Daar’s die kraan nog altyd stukkend – jy moet ’n spanner kry om daai ding oop te draai.

Snyders sê sy het ’n brief aan die Kaapstad-metro geskryf oor die probleme wat hulle ervaar het toe fase drie van die inperking begin en hulle veronderstel was om weer te kon blomme verkoop.

“Toe het hulle vir ons so aan ’n lyntjie gehou; toe sê hulle die toilet is nog nie reg nie, die kraan is nog nie reg nie. Maar twee weke ná daai is dit nog dieselle. Nóg ’n twee weke ná daai toe is dit nóg dieselle. Hulle het tot op dié uur vandag nog niks hier kom doen nie. Daar’s die kraan nog altyd stukkend – jy moet ’n spanner kry om daai ding oop te draai.”

Meningsverskil

Gaironiesa Oliver (40): “Ons is amper soos mense wat invisible is. Ek het nog nooit in my lewe so swaar gekry soos wat ek nou kry nie. Dié was my ma en my pa en my voorvaders se survival om ons groot te maak en brood op die tafel te sit. Maar vandag . . . Ek sê vir my kinders, soos dinge nou lyk, kan die future nie lê in dié blomme nie.” Foto: Jaco Marais

Dave Bryant het as wyksraadslid met hierdie kwessies omgegaan, maar hy het onlangs bedank om ’n pos as DA-parlementslid op te neem.

“Ja, ek was sowat nege en ’n half jaar hierby betrokke. Die grootste uitdaging wat ons deurgaans gehad het, is dat Trafalgar Place aan ’n private huurder uitverhuur is wat daardie ruimte bestuur,” sê Bryant in ’n telefoniese onderhoud.

“Dit is ’n reëling wat al sedert die jare 70 bestaan met ’n verskeidenheid van huurders. Wat ongelukkig met die huidige huurder gebeur het, is dat daar ’n bietjie van ’n meningsverskil tussen hulle en die Kaapstad-metro is oor watter dienste hulle veronderstel is om te verskaf.

“Daar bestaan ’n memorandum van ooreenkoms wat baie jare gelede opgestel is oor wat hulle veronderstel is om te doen. Een van die vereistes is dat die bedrywighede van die blommeverkopers nie belemmer moet word nie.

“Die huurder is ook verantwoordelik vir die instandhouding van die eiendom [Trafalgar Place], maar ongelukkig was daar die afgelope vyf tot tien jaar ’n geleidelike agteruitgang wat dit betref.”

Ruimte moet ‘teruggeneem word’

Hy sê die Kaapstad-metro het die afgelope jare ’n baie goeie verhouding met die blommeverkopers ontwikkel.

“Ons het byvoorbeeld die Lightfoot-gedenkteken gerestoureer. Dit is iets wat ek persoonlik deur ons subkomitee gestuur het.

Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat die beste oplossing sal wees om die bestuur van daardie ruimte terug te neem; om die bestaande huurder kennis te gee en dat die stad dit oorneem.

“Maar die groot probleem is dat ons ’n party van buite het wat die huurkontrak bestuur. Dit is die groep Ascension. Ek was sedert verlede jaar met verteenwoordigers van die Stad se afdeling stadsbestuur in verbinding; hulle bestuur informele handel. Ek was ook in verbinding met die stad se toerisme-afdeling.

“Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat die beste oplossing sal wees om die bestuur van daardie ruimte terug te neem; om die bestaande huurder kennis te gee en dat die stad dit oorneem. Sodoende sal ons dan vir die instandhouding en die infrastruktuur verantwoordelik wees.

“Ons kan egter eers behoorlik met dié proses op dreef kom – om te sorg dat daar vir die blommeverkopers ’n veilige en skoon omgewing is – wanneer die huurkontrak uitgesorteer is. Ons sal dan veel meer aan die blommeverkopers kan bied.”

Matthew Kempthorne, voorsitter van subkomitee 16 van die Kaapstad-metro, het die proses by Bryant oorgeneem. Hy sê hy besef Trafalgar Place was nog altyd die “aspoestertjie” van die stad.

“Maar soos wat ons mettertyd ná die inperking die ekonomie van die middestad heropen, wil ons die blommeverkopers sien floreer. Ons werk aan ’n langtermynplan om hul omstandighede te verbeter en te verseker dat dit een van die stad se voorste toeristeattraksies en die beste plek in Kaapstad is vir die mense om by blomme te koop.”

Mense en blomme

Die vriendelike, bebaarde Dawood Saliem se woorde op die koue mark waar sy ma, Faiza Saliem (69), welbekend as Poppy, tot kort voor die inperking en die begin van haar chemoterapie nog gesit het (sy is onlangs aan ’n beroerte dood), bring die besef tuis dat die blommemark ’n lewende en brose plek is wat uit ménse bestaan.

“Dié mark het mos nou sy eie kultuur. Jy deel met alle facets van die lewe op hierdie mark. Hier kry jy mense . . . Die man kom koop ’n bossie blomme want hy gaan nou trou. Dan kom kry jy hy kom koop ’n bossie blomme want sy vrou het nou birth gegee. Dan kom kry jy hy kom koop ’n bossie blomme want hy gaan nou sy pa of sy ma begrawe. Daar word met álle facets van die lewe gedeel op dié mark.

Hier het mense gekom al met hulle klein kinders, en as ons kom kyk, dan doen ons daai klein kind se troue.

“En dan is daar van hierdie vroue; as jy sit en jy praat met hulle . . . Jou vrou is miskien gister dood en jy soek nou blomme; hulle huil sáám met jou; hulle voel dit sáám met jou. Húlle is therapists in hulle eie reg.

“Hier het mense gekom al met hulle klein kinders, en as ons kom kyk, dan doen ons daai klein kind se troue. Dan sal die man altyd sê: ‘Ek was ’n kind wat hier gehardloop het en nou kom ek my troublomme koop.’

“Die mense is vrolik want hulle werk met blomme. Blomme gee vir jou ’n tipe therapy in syself. Om te sit met blomme – dit is destressing. Baie mense kom . . . Wat is die eerste ding as jy hoor so en so se ma is dood of vrou of man? Jy kom hiernatoe; jy koop ’n bossie blomme en jy gee dit vir daai mense. En daai mense vat dit en sit dit in hulle huis because it’s therapeutic.

Die blommeverkopers het in die beginjare hoofsaaklik Kaapse blomme soos proteas en ander fynbos verkoop wat hulle self in die veld en teen die berge gaan pluk het. Foto: Jaco Marais

“En dieselle ding as ons hier sit en werk met blomme – dis therapeutic. Daais hoekom jy die vibrant characters hier kry.

“Hier is history; hier is geskiédenis op hierdie mark; ja, hier is geskiedenis. En op die einde van die dag as council nie gaan intree en vir ons gaan help met onse probleem nie, gaan ons hierdie geskiedenis verloor. Ons gát dit verloor. No two ways about it.”

• ’n Onderhoud met Julaiga Gomez (88), matriarg van die Kaapse blommeverkopers, en haar kleindogter Faldielah Gamildien (52), verskyn Vrydag op Netwerk24. Hulle vertel hoe hulle as kinders al begin blomme verkoop het en Gamildien beskryf hoe sy oudpres. Jacob Zuma se plan om die parlementsopening op Valentynsdag te hou in die kiem gesmoor het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.