Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bly koelkop en sien dat álmal wen

Die uitspraak oor godsdiensonderrig in skole is ’n oorwinning vir vryheid, skryf Jean Oosthuizen.

Die besluit van die hooggeregshof die afgelope week dat staatskole nie een godsdiens bo ’n ander godsdiens mag bevorder nie, is ’n oorwinning vir godsdiensvryheid.

Dit is geen heksejag op geloof soos wat sommige beweer nie.

Diegene wat in die afgelope jare se debat oor godsdiensbeoefening by skole so vurig voorbrand gemaak het dat godsdienstige meerderhede se voorkeure meer gewig moet dra as minderhede se geloofsoortuigings behoort weer na te dink.

Hulle is besig om ’n “meerderheidsvuur” aan die brand te steek waarmee hulle hul eie vingers op die langer termyn kan verbrand.

Dieselfde mense wat so begaan is oor minderheidsregte steun op die meerderheid se reg om ’n spesifieke geloofetos by openbare skole af te dwing.

Organisasies soos Solidariteit, AfriForum, sekere politieke partye soos die ACDP en kerke, waaronder die NG Kerk, moet hulle liewer daarvoor beywer dat die Grondwet, wat in elk geval godsdiensvryheid waarborg, in álle opsigte eerbiedig word, want vandag se meerderheid kan maklik more se minderheid word.

Hoe rym dit met die NG Kerk se blatant diskriminerende sinodebesluit oor homoseksualiteit, téén die Handves van Regte in, waarop hy hom nou beroep?

In die emosiebelaaide debat het ’n volbank regters nou bevestig die eis om sogenaamde “meerderheidsregte” wanneer dit gaan oor godsdiensbeoefening by openbare skole, is die laaste ding wat die land kan bekostig.

Dieselfde mense wat aandring op meerderheidsregte op godsdienstige vlak wil tog nie hê die meerderheid se wil moet geskied as daar van grondverdelings, regstellende aksie, sportkwotas en ander kwessies gepraat word nie?

Pleks daarvan om lukraak strooipoppe op te stel en af te skiet, sal alle partye, ongeag hul geloofsoortuiging, daarby baat vind om koelkop na die afgelope week se uitspraak te kyk en dit behoorlik te bestudeer voordat ondeurdagte stellings gemaak word.

Die hofsaak volg ná ’n jare lange stryd, sedert 2014, tussen die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) en ’n aantal skole wat na bewering diskrimineer teen leerlinge wat nie die Christelike geloof aanhang nie.

Die hofuitspraak gaan nie oor godsdiensonderrig in skole nie, maar oor die beoefening daarvan in skoolure en die wyse waarop dit geskied.

Trouens, diegene wat die aansoek by die hof ingedien het, vra vir méér godsdiens in skole waar ’n groter aantal en breër versameling verteenwoordigende godsdienste met vrye deelname volgens die kinders en hul ouers se keuses onderrig word.

Dit vind reeds baie suksesvol by sommige van ons openbare skole plaas. Geen ras, politieke oortuiging of godsdiens mag deur ’n skool bevoordeel word nie – daardie dae is lankal verby.

Sommige skole en hul ondersteunende verenigings weier om dit te aanvaar. Die hof het nou duidelikheid oor die saak gegee en enige regdenkende mens behoort dit te verwelkom.

Dikwels is leerlinge wat deel is van minderhede te bang om te vra om verskoon te word uit vrees vir uitsondering.

Daar word van niemand verwag om sy of haar geloof prys te gee nie. Wat wel gevra word, is dat een groep se geloof nie bo ’n ander geloof bevoordeel word in openbare skole nie.

Is dit nie wat Christene ook van openbare skole sou verwag as hul kinders in ’n openbare skool was waar ’n ander geloofsgroep se kinders die meerderheid is nie?

Die NG Kerk se standpunt dat Ogod se aansoek ’n inherente skending is van verskeie basiese menseregte soos vervat in die Handves van Regte is daarom misplaas.

Die NG Kerk moenie vergeet dieselfde Handves van Regte waarop hy hom nou beroep, bepaal ook dat geen mens regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand op grond van seksuele oriëntasie mag diskrimineer nie.

Hoe rym dit met die NG Kerk se blatant diskriminerende sinodebesluit van 2016 oor homoseksualiteit, téén die Handves van Regte in, waarop hy hom nou beroep?

As ’n mens die Handves van Regte wil bysleep, moet dit nie selektief gedoen word nie.

Volgens die NG Kerk se algemene sekretaris, Gustav Claassen, was die aansoek voor die hof ’n inherente skending van verskeie basiese menseregte soos vervat in die Handves van Regte.

Dit is nie waar dat individue se geloofsoortuigings nou skielik ingeperk word nie.

Die waarheid is dat daar ’n gelyke speelveld ten opsigte van godsdiensbeoefening by openbare skole moet wees. Dit is niks meer nie as ’n bevestiging van die basiese menseregte soos verskans in die Grondwet.

Die probleem in die huidige debat is dat diegene wat die hofaansoek teengestaan het die saak slegs uit hul eie geloofsoogpunt beskou het.

Dit veronderstel dat die beheerrade wat besluite neem oor ’n skool se etos áltyd ’n Christelike meerderheid sal wees.

’n Tweede denkfout wat gemaak word, is om aan te neem alle Christene deel dieselfde godsdienstige oortuigings net omdat Christene in die meerderheid is.

Daar kan tereg gevra word van watter meerderheid word daar gepraat as daar van ’n Christelike meerderheid gepraat word?

Die Christelike geloof met sy bykans 40 000 kerkverbande is allesbehalwe ’n homogene meerderheid wat almal dieselfde etos deel.

Die ses skole wat in die hofsaak ter sprake was het aangevoer kinders word nie benadeel as hulle nie die meerderheidsgeloof van ’n betrokke skool volg nie.

Die saak is glad nie so eenvoudig nie.

Uit die hofstukke blyk dit dat leerlinge by sommige skole wel geviktimiseer en ­gestigmatiseer word as hulle nie aan die skole se godsdiensaktiwiteite wil deel-neem nie.

Van die leerlinge is selfs vertel dat hulle hel toe gaan as hulle nie Christene is nie. Daar is volgens die hofstukke ook onderwysers wat hieraan meedoen.

Dit is algemeen bekend dat daar selfs godsdiensgroepe is wat leerkragte in opleiding werf om leerlinge te bearbei. Dit is nie net onwettig nie, maar immoreel.

Dikwels is leerlinge wat nie godsdienstig is nie of leerlinge wat deel is van minderhede te bang om uit te praat of op te staan of te vra om verskoon te word. Hulle vrees vernedering en uitsondering.

Voor 1994 was godsdienspraktyke en persoonlike menings van onderwysers ­algemene praktyk op skool.

Dit was niks vreemd vir ’n onderwyser om byvoorbeeld ’n geskiedenisklas te onderbreek en oor die “gevare van Satanisme” of oor sy bekering en sy geloof te praat nie.

Selfs Christene soos Rooms-Katolieke en lidmate van Pinksterkerke wat as sektes gebrandmerk is, is in die verlede dikwels as buitestanders behandel op skool.

Om nie eens te praat hoe sommige onderwysers oor Moslems gepraat het nie.

Niemand ontken leerlinge se reg om aan godsdiensrituele van hul keuse deel te neem nie. Maar as dit op so ’n manier gedoen word dat leerlinge wat nie daaraan wil deelneem nie, as tweedeklasleerlinge gebrandmerk word en die klas of skoolsaal moet verlaat wanneer sulke praktyke plaasvind, is dit nie meer vryheid van keuse nie, maar doodgewone diskriminasie.

Daarom is dit nodig om met ’n oop gemoed en objektief te kyk presies wat in die hofaansoek gevra is sonder om links en regs emosionele uitsprake te maak
en diegene wat anders glo te ­verketter.

Die Grondwet (art. 15(2)) en Skolewet (art. 7) maak baie duidelike uitsprake oor wat toelaatbaar is ten opsigte van godsdiensbeoefening by skole en wat nie.

Dit maak egter nie daarvoor voorsiening dat ’n bepaalde godsdienstige oortuiging met of sonder ’n meerderheidsbesluit aan leerlinge opgedwing word nie.

Al wat die hof nou beslis het,
is dat openbare skole nie toegelaat word om een geloof bo ’n ­ander uit te sonder en te be­voordeel nie.

Daar is nooit gevra, soos wat Claassen en sommige ander beweer, dat iemand se reg tot godsdiensvryheid geskend word nie. Daar is slegs gevra dat godsdiensbeoefening (let wel nie godsdiensonderrig nie) buite skoolure geskied sonder dat leerlinge wat dit nie wil bywoon nie regstreeks of onregstreeks geviktimiseer word.

Selfs Christengelowiges behoort die hofuitspraak te ver­welkom.

Hulle sal óók nie daarvan hou as ’n ander geloof voorkeurbehandeling kry wanneer hul kinders op skool blootgestel word aan godsdienspraktyke wat indruis teen hul geloof nie.

Jean Oosthuizen is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in ­kerksake.

Meer oor:  Ogod  |  Hofuitspraak  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.