Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Boere probeer telkens uitgerekte beleërings
Fransjohan Pretorius

Dink jy aan die Anglo-Boereoorlog (ABO), kom die veldslae by Magersfontein en Spioenkop by jou op, maar jy kry ook ’n hol kol op jou maag van die Boere se vermorste beleërings van Ladysmith, Kimberley en Mafeking.

Waar sou dié voorliefde vir beleg vandaan kom, daardie poging om die vyand te omsingel en deur weerhouding van voedselvoorrade hopelik tot oorgawe te dwing?

Sommer van vroeg af. Reeds aan die Kaapse Oosgrens, maar veral toe die Boere ná die Groot Trek in die binneland aanspraak gemaak het op grond wat deur inheemse swart groepe betwis is.

Omdat die Boere weens hul klein getalle gevegte (en dus ongevalle) probeer vermy het, het hulle hul hoop op sukses geplaas deur uitgerekte beleërings van hul teenstanders. Dit was die geval teen Maloka van die Motsha-Kgatla in 1850, Mokopane van die Kekana in 1854 (wat ingesluit het Paul Kruger se dapper daad toe hy die lyk van Piet Potgieter uit Makapansgrot gaan haal het), Moshoeshoe se Basotho in 1865-1866 by Thaba Bosiu, Sekhu­khune se Pedi in 1876, en Mmalebôhô se Hananwa in 1894.

Die swart groepe het hul vestings, dikwels op koppies of berge, met klipmure verskans.

Die swart groepe het hul vestings, dikwels op koppies of berge, met klipmure verskans, terwyl die Boere self klipforte rondom die beleërde vestings opgerig het om ontsnappings te voorkom. Die teenstanders se gesaaides is vernietig om hulle deur verhongering tot oorgawe te dwing – ’n verskroeideaardebeleid, dus.

Militêr gesproke het die Boere dus strategies die offensief geneem deur na die teenstanders op te ruk, maar dan takties op die verdediging te gaan deur hul vestings te omsingel of te beleër.

Aanvalle sou tot lewensverlies lei, en die idee om lewens te spaar om anderdag verder te veg, was vroeg dus reeds deel van die Boere se denke oor oorlogvoering.

Wat die Boereleiers, met kmdt.- genl. Piet Joubert vooraan, later vergeet het, was dat nie een van die Britse garnisoene tydens die beleërings oorgegee het nie.

Sukses met die beleëring was nie gewaarborg nie en tog het die Boere dieselfde strategie in die Eerste ABO (1880-1881) toegepas. Ná die Britse anneksasie van die Transvaal in 1877 het die Boere in Desember 1880 tot oorlog teen die Britte oorgegaan. Sewe dorpe wat deur Britse garnisoene beheer is, is beleër: die hoofstad Pretoria, Potchefstroom, Rustenburg, Lydenburg, Standerton, Wakkerstroom en Marabastad naby Pietersburg.

Wat die Boereleiers, met kmdt.- genl. Piet Joubert vooraan, later vergeet het, was dat nie een van die Britse garnisoene tydens die beleërings oorgegee het nie. Die oorwinning het gekom deur die Britte in veldslae te verslaan, met Majuba op 27 Februarie 1881 die hoogtepunt.

’n Ander Boere-offisier tot wie die onvermoë om die vyand deur beleg tot oorgawe te dwing kennelik nie deurgedring het nie, was kmdt. Piet Cronjé, wat die Britse garnisoen by Potchefstroom beleër het. Einste hy wat, asof dit die natuurlikste militêre optrede denkbaar was, die Britte by Mafeking in die ABO gaan staan en beleër het en – net soos Piet Joubert by Lady­smith – moes toesien hoe Britse versterkings hul pogings uiteindelik met minagting platvee.

En hoe kry jy Boere weer aan die gang wat vir drie, vier maande rondom die beleërde dorpe gelê en niks doen het nie?

  • Pretorius is ’n geskiedkundige van Pretoria.
Meer oor:  Boere  |  Engelse  |  Oorlog  |  Abo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.