Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bokke kan ‘Cape Crusaders’ dalk anders laat dink

Sal Suid-Afrikaners wat die All Blacks ondersteun se lojaliteit vir hul aangenome spanne taan as hulle meer begin verloor? vra Pieter Labuschagne.

Die mense se kaptein. Twee ondersteuners met ’n skildery van Siya Kolisi, Springbok-kaptein, tydens die Bokke se busrit deur Soweto. Foto: Felix Dlangamandla

Wanneer die All Blacks, of selfs die Crusaders se Superrugbyspan, in Suid-Afrika speel, word groepe of individue in swart of rooi truie gesien wat die besoekende spanne luidkeels steun.

Dié baldadige groep ondersteuners is die sogenaamde kruis- of transnasionale ondersteuners. Hulle is die “Suid-Afrikaanse All Blacks” of die sogenaamde Cape Crusaders.

Ná wedstryde ry die meeste terug na plekke soos Parow, die Paarl, Pniel, Pietermaritzburg of Pretoria waar hulle dan in die euforie van gereflekteerde glorie baai.

Wat sou die rede vir die verskynsel van transnasionale ondersteuning en die “dislojaliteit” teenoor eie nasionale en plaaslike spanne wees? Dit is tog ’n meer algemene verskynsel dat jy meer patrioties teenoor jou land of streek waar jy grootgeword het of bly sal wees?

Ná die All Blacks neerlaag in die Wêreldbeker (WB)-halfeindstryd en die Springbokke se oorwinning in die eindstryd, was die Suid-Afrikaanse All Blacks en die Cape Crusaders bra stil. Daar is sekerlik heelwat All-Black truie, -vlae en -kepse wat die afgelope paar weke diep agter in hangkaste weggesteek is nadat die silwervaring sy glans verloor het en die Springbok net hoër en hoër gespring het.

Redes vir transnasionale ondersteuning

Suid-Afrikaanse ondersteuners van die Crusaders tydens vanjaar se Superrugby-wedstryd teen die Stormers op Nuweland in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Vryheid van assosiasie is ’n basiese mensereg en dit staan enige individu vry om die span van sy of haar keuse te ondersteun. Wanneer daar egter uit die perspektief van nasiebou na transnasionale ondersteuning gekyk word, is dit tog betreurenswaardig dat ons jong demokrasie met sy wye diversiteit sport nie beter kan aanwend as ’n gom wat saambind nie.

Ek het in die moderne era nog nie ’n groot groep Nieu-Seelanders in groen truie op die paviljoene in Nieu-Seeland gesien wat die Bokke ondersteun nie. Ons lewe egter nie in ’n volmaakte wêreld nie.

Transnasionale ondersteuning is nie ’n eksklusiewe Suid-Afrikaanse verskynsel nie.

Vanwaar dan die transnasionale “dislojaliteit” wat lei tot steun vir spanne wat heel moontlik net oppervlakkig geken word? Daar bestaan tog plaaslik polities, histories en maatskaplik geen bande met die All Blacks en die Crusaders nie? Waarom word hulle eerder as ons eie spanne dan ondersteun?

Die antwoord is kompleks. Dit is egter belangrik om daarop te wys dat transnasionale ondersteuning nie ’n eksklusiewe Suid-Afrikaanse verskynsel is nie. Die groot verskil is dat dit in Suid-Afrika steeds geskiedkundig politieke ondertone het.

Die Maori’s se geskiedkundig transnasionale ondersteuning, waarna Danie Craven dikwels verwys het, het nie sulke politieke ondertone gehad nie. Gedurende die Springbokke se toer van 1956 in Nieu-Seeland het ’n groot groep Maori-ondersteuners spesiaal na toetse gereis om die Bokke te steun. Die voormalige eerste minister, dr. Hendrik Verwoerd, se Loskopdam-toespraak van 1965 waarin hy aangedui het dat Maori’s nie in 1967 as lede van die All Black-toerspan in Suid-Afrika welkom sal wees nie, het uiteraard ’n einde aan sulke steun gemaak.

Transnasionale ondersteuning as politieke protes

Almal wil ’n foto van hul Bok-helde hê. Pieter-Steph du Toit en Elton Jantjies word op tientalle slimfoonkameras verewig tydens die Springbokke se triomftog deur Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Die bruin en swart gemeenskappe se steun vir buitelandse spanne soos die All Blacks en die Britse en Ierse Leeus, het waarskynlik voor apartheid reeds bestaan. Dit het beslis ná 1948 toegeneem nadat die Nasionale Party aan bewind gekom het.

Die All Blacks se toer van 1949 in Suid-Afrika het ’n platform aan die polities gemarginaliseerde bruin en swart gemeenskappe gebied om hul protes en afkeer teenoor die verskerpte apartheidsbeleid te demonstreer en dit onder die aandag van die internasionale media te bring.

Craven het gesê dat hy die uitjouery van Suid-Afrikaanse spanne die eerste keer uit die “nieblanke paviljoen” tydens die toer van 1949 gehoor het.

Viv Jenkins, die Britse joernalis, het in sy boek oor die toer van die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika in 1955 geskryf dat elke drie wat die besoekers gedruk het luidkeels deur die bruin- en swart ondersteuners toegejuig is.

Die transnasionale steun aan besoekende spanne het ná die Soweto-opstande van 1976 verder toegeneem.

Die doyen van sportskrywers, A.C. Parker, verwys na die toets in 1960 in Port Elizabeth wat deur die All Blacks gewen is en waar 10 000 bruin en swart toeskouers almal die Nieu-Seelanders gesteun het.

In 1974 in Port Elizabeth toe die Springbokke deur die Leeus verniel is, toon een foto hoe ’n swart polisieman (in diens van die apartheidsregime) ’n oorwinningsdans uitvoer ná die vleuel JJ Williams se drie.

Die transnasionale steun aan besoekende spanne het ná die Soweto-opstande van 1976 verder toegeneem.

Oudpres. Nelson Mandela het in 1995 vir ’n tydjie daarin geslaag om almal (wit, bruin en swart) rondom die Springbokke te verenig ná die WB-triomf van daardie jaar.

Daar het egter steeds enklaves van transnasionale ondersteuning oorgebly, waarvan die getalle styg en daal.

’n Trotse pres. Cyril Ramaphosa saam met Siya Kolisi (kaptein), Rassie Erasmus (afrigter) en die Wêreldbeker. Foto: Gallo Images

In 2012 het Sports Illustrated berig dat daar 45 All Black-ondersteunersklubs in die Wes-Kaap in plekke soos Parow, die Paarl, Pniel, Worcester en Robertson bestaan. Daar is ook gewys dat dié steun na die Oos-Kaap uitbrei.

Wat sou die redes daarvoor wees?

* Dit is onteenseglik so dat groot enklaves van die bruin gemeenskappe rondom Port Elizabeth en die Kaapse Skiereiland wat onder apartheid gely het, nie die Springbokke sou steun nie. Die teenargument is dat dié geskiedkundige politieke rede amper drie dekades ná apartheid in ’n groot mate sy legitimiteit begin verloor het. Slegs enkele van die slagoffers wat voor 1995 onder apartheid gely het, kan steeds op grond hiervan hul steun aan die nasionale span weerhou of onttrek.

* Die invloed van sosialisering het ongetwyfeld ’n impak op die jonger geslag.

“My pa of familie het nog altyd die All Blacks of die Britse en Ierse Leeus gesteun en ek ondersteun gevolglik ook dié spanne.”

Omdat daar heelwat vordering was met verteenwoordiging, het dit tot breë ondersteuning vir die span oor kleurgrense heen bygedra.

Dié argument oortuig ook nie juis nie. Boonop is dit moeilik om bande met besoekende spanne te bou omdat hulle net periodiek vir kort tydperke in die land is.

* Die “onverteenwoordigende” aard van nasionale spanne was vir lank ook ’n faktor omdat Springbokspanne deur wit spelers oorheers is. Die Springbokspanne wat die Wêreldbeker in 1995 en 2007 verower het, het onderskeidelik net een (Chester Williams) en twee (JP Petersen en Bryan Habana) spelers van kleur ingesluit.

Die triomfantlike span van 2019 het egter agt swart en bruin spelers ingesluit en die eerste swart kaptein, Siya Kolisi, het die span gelei. Die twee driedrukkers in die eindstryd, Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe, was van die groot helde.

Omdat daar heelwat vordering was met verteenwoordiging, het dit tot breë ondersteuning vir die span oor kleurgrense heen bygedra.

Assosiasie met sukses

Teleurgestelde All Black-spelers nadat hulle in vanjaar se WB-halfeindstryd teen Engeland verloor het. Foto: Getty Images

Dit is altyd aangenamer om met ’n wenspan te assosieer, vanweë die gereflekteerde glorie waarop die transnasionale ondersteuner hoop. Dít verklaar waarom veral ’n toenemende getal wit Suid-Afrikaners die All Blacks begin ondersteun het.

Die suksesrekord van die nasionale span (All Blacks) en die streekspan (Crusaders) van bykans 90% maak dit aantreklik en ’n veilige keuse vir transnasionale ondersteuners om agter dié spanne te staan. Daar word soms as rede aangevoer dat die All Blacks ondersteun word omdat hulle “mooi” en nie skoprugby speel nie.

Die All Blacks se onvermoë voor en gedurende vanjaar se WB-toernooi om teenstanders se opskiet-verdediging te hanteer, het egter hul avontuurlustige rondgooi van die bal gedemp. Die twee drieë teen die Springbokke was hoofsaaklik foute wat uitgebuit is en nie die gevolg van avontuurlike hardlooprugby nie. Die enigste drie in die halfeindstryd teen Engeland was ook ’n lynstaanblaps wat uitgebuit is.

Die interessante vraag is of die transnasionale ondersteuners die All Blacks sal aanhou ondersteun as hul meer gereeld begin verloor?

Wat ook al die geval, vir die volgende vier jaar is die Springbokke die wêreldkampioene.

Die aspek van rebelsheid moet egter nie uit die oog verloor word wanneer dit by transnasionale ondersteuners kom nie. Dit gebeur dikwels dat ’n ondersteuner uit rebelsheid of nonkonformiteit ’n ander span steun. Dit gebeur gereeld op provinsiale vlak waar iemand in die Kaap die Blou Bulle sal begin steun of iemand in Pretoria die Westelike Provinsie.

Wat ook al die geval, vir die volgende vier jaar is die Springbokke die wêreldkampioene. Dit is ook nie onrealisties om te verwag dat die Bokke, onder die leiding van Rassie Erasmus, Jacques Nienaber en ander afrigters, die All Blacks op ’n meer gereelde grondslag gaan klop nie.

So my Springbokvlag is nie onder in ’n hoekie weggebêre nie, maar hang trots waar almal dit kan sien. Ek vier steeds die oorwinning saam met al die inwoners van ons diverse land.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa wat al verskeie artikels vir vakkundige tydskrifte oor sport en politiek geskryf het. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Crusaders  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Siya Kolisi  |  Nasiebou  |  Apartheid  |  Rugby  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.