Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Boris se hoop op entstowwe ná Covid-foute

Die koronavirus-krisis in Brittanje is vererger deur die manier waarop Boris Johnson dit hanteer het, skryf Rob Manwaring. Maar ’n suksesvolle entstofprogram kan sy politieke loopbaan red.

Hoop vir die toekoms. Boris Johnson, Britse premier, bekyk ’n botteltjie entstof van nader. Foto: AP

Dit lyk of twee glibberige skimme Boris Johnson, premier van Brittanje, en sy Konserwatiewe regering bly ontwyk.

Die eerste is die verskriklike virale en dodelike Covid-19-pandemie.

Die aantal sterftes in Brittanje wat met Covid-19 verband hou, het verlede week die kerf van 100 000 verbygesteek en dit die eerste Europese nasie gemaak wat dié mylpaal bereik. Brittanje het nou die vyfde hoogste sterftesyfer ter wêreld.

Die Johnson-regering het gesukkel om dié krisis te bestuur en die prys aan menselewens is hoër as die totale getal burgerlike ongevalle in Brittanje tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Ná sy oortuigende oorwinning in 2019 se verkiesing, het dit gelyk of Johnson hope politieke kapitaal het.

Iets wat net so ontwykend is vir Johnson, wat vir so lank hanswors en grapmaker gespeel het, is politieke kapitaal. Die konsep van “politieke kapitaal” voel intuïtief – dit lyk asof gewilde politici baie daarvan het en ongewildes niks nie. Tog het die politieke wetenskap lank geworstel om dit te verstaan en te definieer.

Die vooraanstaande sosioloog Pierre Bourdieu was een van die eerstes wat met dié idee gestoei het. Die akademikus Kimberly Casey het gesê politieke kapitaal is soos ’n koek – dit het ’n klompie bestanddele nodig, maar nie alles is aanvanklik die maaksel van die bakker nie.

Richard French doen aan die hand dat politieke kapitaal “meestal bestaan uit ondefinieerbare bates wat politici gebruik om mense met mag (soos sakeleiers) te oorreed om met jou saam te stem”.

Ná sy oortuigende oorwinning in 2019 se verkiesing, het dit gelyk of Johnson hope daarvan het. Hy het ’n meerderheid van 80 setels gehad en dit was opmerklik dat hy begin het om die Arbeiders se “rooi muur” af te breek. (Tog het die kiesstelsel se strakke meerderheidsbeginsel die marge van Johnson se oorwinning skeefgetrek.)

Johnson se oordeelsfoute

Boris Johnson, premier van Brittanje, het ’n klompie ernstige oordeelsfoute in die bekamping van die Covid-19-pandemie begaan. Foto: Reuters

Johnson het ’n aantal ernstige politieke oordeelsfoute begaan in sy reaksie op die pandemie. Sy regering het in die eerste plek nie gou genoeg aandag aan die krisis gegee nie.

Met die eerste vlaag is die risiko onderspeel. In Maart 2020 was hy van mening dat Brittanje binne 12 weke die “gety kan omkeer”.

Johnson se regering was weer stadig uit die blokke met die tweede vlaag en het probeer om die inperkingsmaatreëls oor Kerstyd te verlig.

Die regering se mediese hoof, sir Patrick Vallance, was van mening dat ’n vroeëre inperking ’n verskil kon maak. Die aanspraak van prof. Neil Ferguson, een van die wetenskaplikes wat die regering geadviseer het, was meer opvallend: “As ons ’n week vroeër met die inperking begin het, sou ons die finale sterftesyfer met minstens die helfte verminder het”.

Johnson het ook ’n gewoonte daarvan gemaak om wetenskaplike raad te marginaliseer of bloot net te ignoreer.

Meer verdoemend nog, blyk dit dat daar geen omvattende en duidelike strategie was om die Covid-19-krisis te bekamp nie.

Terwyl hy die pandemie moes hanteer, was Johnson ook onder geweldige druk om ’n Brexit-ooreenkoms te bereik en moes hy ook iets probeer doen aan die “ekonomiese noodtoestand” wat op die pandemie gevolg het.

Meer verdoemend nog, blyk dit dat daar geen omvattende en duidelike strategie was om die Covid-19-krisis te bekamp nie. Johnson se regering moes verskeie voorspelbare U-draaie maak oor ’n hele aantal kwessies.

Swak kommunikasie was ook ’n kenmerk van dié tydperk.

Die regering se “bly bewus”-veldtog in Mei verlede jaar is met openbare verbystering begroet.

Hulle het te laat ’n stelsel van verskillende vlakke van inperking ingestel wat tot verwarring gelei het en gevolg is deur verdere landwye inperkings in Engeland.

Johnson se benadering is beduiwel deur pogings om die gesondheidsuitdagings te bowe te kom en terselfdertyd te probeer om die ekonomie te herbou en die toenemende koste van die pandemie te bestuur.

Die regering se plan om “uit te eet om uit te help” was rampspoedig en daar is bewyse wat daarop dui dat dit tot die verwoestende tweede vlaag bygedra het.

Boris Johnson, Britse premier, kan nie die skuld kry vir die aftakeling van die nasionale gesondheidstelsel (NHS) nie. Foto: AP

Erger nog was die selfvoldaanheid en klaarblyklike skynheiligheid wat deel is van Johnson se politieke metodes – waarvan die skade wat die uitstappie van sy destydse top-adjudant, Dominic Cummings, om sy “oë te toets”, nie die minste was nie. Johnson se pa, Stanley, het skynbaar die inperkingsmaatreëls oortree terwyl sy regering baasspelerig daaroor teenoor die publiek was.

Die dubbele standaarde in Johnson se benadering het die indruk geskep van “een reël vir ons” en het net weer herinner aan die vlakke van ongelykheid in Brittanje.

Daar is sistemiese faktore wat nie aan Johnson se leierskap toegeskryf kan word nie wat help om die gebrekkige hantering van die pandemie in Brittanje te verduidelik.

Ferdinand Mount het ons in ’n oorwoë essay herinner aan die brute aftakeling van die nasionale gesondheidstelsel (NHS) en neoliberale hervormings onder Konserwatiewe en Arbeidersregerings en die besparingsmaatreëls wat die stelsel laat sukkel het om kop bo water te hou.

Mount se gevolgtrekking is: “Die skadelike kombinasie van ’n oorgesentraliseerde stelsel en ’n hopeloos narsistiese eerste minister was dodelik”.

Entstofprogram kan Johnson red

Alles gaan beter wees, beduie Boris Johnson, Britse premier, aan twee vroue by ’n sentrum vir die toediening van Covid-19-entstowwe. Foto: Reuters

Sal Johnson sy politieke kapitaal kan herwin? As hy die huidige krisis kan oorleef, het hy ’n klompie strategieë en sistemiese kwessies wat hom kan bevoordeel.

Eerstens het hy sy kabinet volgeprop met lojaliste waarvan baie hul politieke loopbane aan sy steun te danke het – selfs wanneer hulle ministeriële gedragskodes oortree.

Johnson probeer nou om op die voorvoet te kom; hy het sy “diepe spyt” uitgespreek oor die stygende dodetal en ander raadgewers is besig om sy politieke strategie te verander.

Hy is ook baie goed daarmee om kritiek te beveg met die argument dat dit maklik is om agterna wys te wees.

Die entstofprogram in Brittanje word ook as ’n groot sukses bestempel en die regering doen steeds relatief goed in meningspeilings.

Die feit dat die Britte eers weer in 2024 stembus toe gaan, is ook van kritieke belang. Werk die entstofstrategie, weet Johnson dat toekomstige verkiesings dikwels nie bepaal word deur ’n regering se vertoning vroeg in sy termyn nie.

* Manwaring is ’n senior dosent in politiek en openbare beleid aan die Flinders-Universiteit. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Brittanje  |  Brexit  |  Entstowwe  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.