Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Brand vure van revolusie reeds in SA?

Die plofbare sosio-ekonomiese werklikhede in Suid-Afrika word steeds nie met die nodige erns bejeën nie en hoewel die land nog nie op die randjie van ’n revolusie is nie, is dit wel ’n rede tot kommer, skryf Pieter Labuschagne.

’n Diensleweringsbetoging in Maart vanjaar in Delft. Betogings van dié aard kom gereeld in Suid-Afrika voort. Foto: Jaco Marais

Regeringsleiers en selfs deelnemers aan debatte voor die komende munisipale verkiesing gee nie genoeg aandag aan die politieke en sosio-ekonomiese situasie in die land, wat ’n teelaarde vir populisme en toenemende radikalisme skep, nie.

Die plofbaarheid van dié situasie word in sommige gevalle nie eens deur die media na waarde geskat nie.

Dít terwyl die EFF en die groep vir radikale ekonomiese transformasie gereeld die radikale vure stook.

Die enigste teenvoeter is die gematigde houding wat deur pres. Cyril Ramaphosa verteenwoordig word, maar soms wil dit lyk asof sy magsposisie ook maar wankelrig is.

Rolspelers en meningsvormers in die land sal die gevaar van radikale omwenteling besef deur kennis te neem van die nuttige raamwerk wat die teoretiese sienings van James Davies en Ranulph Fiennes bied.

As verwagtinge nie bevredig word nie

Betogers in Mfuleni in Kaapstad maak dit duidelik wat hulle wil hê. Foto: Jaco Marais

Dit is vergesog om te beweer dat die land op die randjie van ’n revolusie is. Tog het Davies in die 1960’s reeds gewaarsku dat ’n revolusie nie noodwendig ontstaan wanneer sosio-ekonomiese toestande in ’n land versleg nie.

Hy het bewys dat revolusies ook kan ontstaan wanneer die sosio-ekonomiese omstandighede verbeter, maar die gaping tussen “wat mense verwag” en dit “wat mense kry” ondraaglik groot word.

Dié onhoudbare gaping staan as “relatiewe deprivasie” bekend.

Daar was daadwerklike sosio-ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika ná demokratisering in 1994, veral wat behuising en toelaes vir behoeftige gemeenskappe betref.

In die laaste twee dekades het die gaping tussen wat hoofsaaklik swart gemeenskappe egter ontvang het teenoor dit wat hulle verwag het, by die dag groter geword. Dié relatiewe deprivasie skep frustrasie, spanning en onstabiliteit binne die politieke stelsel.

Fiennes en etniese suiwering

Armoede is steeds ’n groot probleem in Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Net soos in die geval van revolusie, is my bedoeling glad nie om te sê dat etniese suiwering in Suid-Afrika sal plaasvind nie. Maar wanneer gekyk word na die faktore en aanduidings vir etniese suiwering wat Fiennes in sy werk My Heroes uiteensit, behoort daar eweneens redes tot kommer te wees.

Daar is ontstellende parallelle met die omstandighede voor die volksmoord in Rwanda wat Fiennes beskryf en die plaaslike situasie.

Hy het ses punte in sy boek as die dwingende aanduiders vir die skep van toenemende sosiale en politieke onrus geïdentifiseer.

• Onderdrukte ekonomie

Die eerste aanduider is ’n onderdrukte ekonomie wat nie na behore presteer nie.

Die behoeftiges in die gemeenskap kry gewoonlik swaar en lewe onder die broodlyn, wat gunstige omstandighede vir sosio-politieke onrus in ’n land skep.

Die ekonomiese inkrimping en ongunstige sosio-ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika het tot gevolg dat baie mense onder die broodlyn lewe.

In 2019 het amper 25% van die bevolking onder die broodlyn van $37 ’n dag gelewe. Van hulle was 64% swart, 40% bruin, 5% van Asiese en Indiese afkoms en slegs 1% wit.

• Ongelyke verspreiding van welvaart

Die grondkwessie is een van die tameletjies waarmee Suid-Afrika bykans ’n kwarteeu ná demokratisering steeds te doen het. Foto: Gallo Images

Soos ek in ’n onlangse artikel aangetoon het, is dit ’n bekende feit dat die plaaslike ongelykheid tussen ryk en arm ingevolge die Gini-koëffisiënt die hoogste in die wêreld is.

Die ongelykheidsyfer staan op 63 en die gaping tussen ryk en arm vergroot nog steeds – enkele jare gelede was die syfer 59.

’n Verdere probleem is dat die ryk deel van die samelewing hoofsaaklik wit is en die arm deel hoofsaaklik swart is.

Volgens die Wêreldbank se verslag van 2019 besit 1% van die rykste mense in Suid-Afrika 71% van die totale welvaart, terwyl die armste deel (60%) van die bevolking (hoofsaaklik swart) net 13% besit.

Die gemiddelde salaris vir die onderskeie rassegroepe is: wit (R12 214), Asiërs en Indiërs (R11 900), bruin (R4 834) en swart (R4 413).

Die grondkwessie met sy plofbare potensiaal hou aan om te broei en bly onopgelos.

Volgens Africa Check is grondbesit in die land ewe ongelyk: 72% van alle plase het wit eienaars (dit is 22% van die totale grond in die land) en net 4% het swart eienaars (1% van totale grond in die land).

Wat geregistreerde eienaarskap van plotte en erwe betref, is die syfer vir wit eienaarskap 49% wit en vir swart eienaarskap 30%.

Terwyl die politieke partye en ander betrokkenes kibbel en hul hakke inkap oor ongelyke grondbesit en beskerming van eiendomsreg, tik die horlosie onverbiddelik voort. Die grondkwessie met sy plofbare potensiaal hou aan om te broei en bly onopgelos.

Ná amper drie dekades is ’n oplossing vir die grondkwessie nie in sig nie.

• Identifiseerbare voorheen bevoordeelde minderheid

Die identifisering van ’n voorheen bevoordeelde minderheid is die volgende aanduider.

In Suid-Afrika, soos die EFF al lank uitwys, besit die wit minderheid van sowat 4 miljoen mense amper 75% van die materiële welvaart.

In gevalle van sosiale onrus word die steeds bevoordeelde minderheidsgroep ’n teikengroep.

• Sterk ambisies van onderdrukkergroep

Die EFF gebruik die wrewel van baie swart mense oor hul onregverdige behandeling tydens die apartheidsjare as ’n platform om steun te mobiliseer. Foto: Gallo Images

Die onderdrukkergroep se ambisies het met die groei van die EFF en die RET-groep in die regerende party ’n meer tasbare gestalte gekry.

Die groeipotensiaal van die onderdrukkergroep word deur die verslegtende politieke en sosio-ekonomiese omstandighede in die land gestu. Soos die sosio-ekonomiese situasie in die land verswak, sal die aandrang en ambisies van die radikale onderdrukkergroep eenvoudig verder toeneem.

• Sosiale deprivasie as motivering

Die relatiewe sosio-ekonomiese deprivasie van die meerderheid van die samelewing (hoofsaaklik swart) in die apartheidsera, dien as sterk motivering om verandering teweeg te bring.

Dit het regstelling soos herverdeling tot voordeel van behoeftiges ten doel.

• Gevoel van onregverdige swaarkry bestaan steeds

Niemand hoef ’n sosioloog of politieke wetenskaplike te wees om te weet dat daar steeds onderliggende woede bestaan teen die meerderheid van die bevolking se vroeëre onbillike swaarkry onder apartheid nie.

Dit dien as ’n mobiliseringsplatform – iets waarvan die EFF en RET-groep deeglik bewus is en van gebruik maak.

Moontlikheid vir politieke en sosiale omwenteling?

Pieter Labuschagne

As ’n mens na Fiennes se ses voorvereistes kyk, sal jy onrustig raak oor die situasie in Suid-Afrika indien sosio-ekonomiese vraagstukke nie met meer erns gehanteer word nie.

Dit is eerstens uiters belangrik dat die gematigde politieke sentrum in die land versterk moet word. In die politieke sentrum kan gematigdes in die ANC en die opposisiepartye ’n bolwerk teen radikalisme vorm.

Net ekonomiese sukses en die verbetering van ekonomiese agtergeblewenes se lot sal radikalisme se angel trek.

Die regering moet die deurlopende verlies aan inkomste deur middel van korrupsie en vermorsing van staatsgeld verder bekamp. Sulke geld moet vir projekte soos kleinsakeontwikkeling gebruik word om werk te skep.

Dit moet saam met ander maatreëls gebruik word om die ekonomie vinniger te laat groei. Net ekonomiese sukses en die verbetering van ekonomiese agtergeblewenes se lot sal radikalisme se angel trek.

Daar kan ook nie langer met die grondkwessie – met ’n oplossing wat op ekonomiese groei gerig is – gesloer word nie.

Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ranulph Fiennes  |  Cyril Ramaphosa  |  Grondkwessie  |  Apartheid  |  Ekonomie  |  Ongelykheid  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.