Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Breek deur die greep van daardie s-woorde

Daar is ’n paar s-woorde waarvan ons die greep moet verbreek, en die goeie nuus is dat elkeen van ons ’n superkrag het om dit te kan doen, skryf Lizette Rabe oor Internasionale Selfdoodvoorkomingsdag.

Foto: iStock

Die s-woorde?

Selfdood en stigma en stilte en skaamte en skande. En die superkrag wat dié dodelike spiraal kan breek? Dis eenvoudig: Práát.

Op 10 September is dit Internasionale Selfdoodvoorkomingsdag. Volgens die Internasionale Vereniging vir Selfdoodvoorkoming (IASP) is daar jaarliks meer sterftes weens selfdood as deur ’n oorlog en moord tesame, maar die meeste lande het nie ’n nasionale voorkomingstrategie nie. Die erns van die situasie word onderstreep deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se tema vir vanjaar se Internasionale Geestesgesondheidsbewusmakingsdag op 10 Oktober: óók selfdoodvoorkoming.

Word 'n ambassadeur van hoop

Word ’n ambassadeur van hoop en dra ’n “hemelsblou vir hoop”-strikkie. Maak self een, of bestel een van die Ithemba-stigting, ’n niewinsgewende maatskappy. Die blou strikkie simboliseer vrede, rus, kalmte – ewige hoop – en jy kan daarmee die woord versprei dat daar áltyd hoop is omdat depressie ’n behandelbare siekte is.

Volgens statistiek is die oorsaak van selfdood in meer as 90% van die gevalle depressie – ’n kliniese siekte. En, soos ander siektes, is depressie behandelbaar. Inderwaarheid: Hoe vroeër jy hulp kry, hoe beter kan jy jou psigiese gesondheid bestuur, soos iemand anders sy diabetes of asma. Depressie is ’n siekte, nie ’n swakheid nie. Ook nie ’n skande nie. Ons het vandag veel meer kennis as om toe te laat dat Middeleeuse vooroordele en onkunde mense se lyding ontken – of hul lewens in gevaar stel.

Dis kritiek belangrik dat elkeen van ons die skanse van onkunde deur bewusmaking rondom psigiese gesondheid afbreek. En ons kan begin deur eenvoudig daaroor te praat.

Feit is: Was jy skaam die laaste keer toe jy griep gehad het? Waarom moet jy jou skaam vir ’n siekte net omdat dit bokant die nek is? Ons behoort eintlik baie meer openlik oor ons psigiese welsyn te wees.

Dit gaan tog oor ons belangrikste orgaan: ons brein. Immers, sonder ’n gesonde brein is daar geen sprake van gesondheid nie.

Depressie onder tieners styg skerp

Slimfoonverslawing kan lei tot angstigheid. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Die doel van die IASP en die WGO se bewusmakingsdae is nie net om die publiek op te voed oor psigiese gesondheid nie, maar ook om die stigma en diskriminasie rondom psigiese siektes te verbreek. Die werklikheid is dat te veel mense nie eens besef of erken dat hulle aan ’n psigiese siekte soos depressie of ’n angsstoornis ly nie. Volgens statistiek wag mense tot tien jaar voordat hulle hulp soek nadat hulle die eerste simptome van depressie ervaar het. In ’n onlangse Amerikaanse studie het dit geblyk dat die persentasie van depressie onder tieners tussen 14 en 17 tussen 2009 en 2017 met meer as 60% gestyg het.

Die aantal selfdoodgedagtes, -planne, sowel as pogings onder jong mense het ook aansienlik toegeneem. In sommige gevalle het dit meer as verdubbel.

Foto: iStock

Maar: Ons het die mag om die greep van hierdie stil sluiper te breek. Deur daaroor te praat kan ons ons letterlik “oopmaak” oor iets wat individue, gesinne en gemeenskappe versmoor.

Ons moenie bang wees om daardie eerste s-woord hardop te sê nie: Selfdood. En dan dié wat daarop volg: stigma, stilte, skaamte, skande. Ons kán die bose kringloop breek deur dié s-woorde te ontmagtig en onsself te bemagtig deur te praat en ingelig oor psigiese gesondheid te wees.

Veral ook gesien in die lig van ’n ander s-woord: sosiale media. Ons begin nou maar eers die gevolge van sosiale media op ons psigiese gesondheid sien. Die “altyd-aan-kultuur” van nóg ’n s-woord – slimfone – is glad nie goed vir ons welsyn nie, met FOMO (Fear of missing out) – reeds ’n gevolg van slimfoonverslawing.

’n Siekte, nie ’n swakheid

Heinrich Janse van Vuuren het die eerste prys in die afdeling visuele kuns vir dié werk ontvang tydens die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat se “Starry, Starry Night”-selfdoodvoorkomings-en-bewusmakingsinisiatief. Dit beeld prof. Bongani Mayosi van die Universiteit van Kaapstad uit wat verlede jaar sy lewe weens depressie geneem het. Foto: Verskaf

As die depressiesyfer onder Amerikaanse tieners oor byna ’n dekade met 60% gestyg het en selfdoodgedagtes, -planne en pogings in sommige gevalle verdubbel het, kan ons aanvaar dat dit onder Suid-Afrikaanse jeugdiges dieselfde kan wees – indien nie hoër nie, aangesien ons soveel meer stresfaktore in ons samelewing het.

Die WGO se wêreldwye peiling oor algemene psigiese siektes onder eerstejaarstudente het getoon dat een uit elke drie met ’n diagnoseerbare toestand op kampus opdaag. Twee Suid-Afrikaanse kampusse was deel van die studie, en hoewel erken word dat die moontlikheid van ’n psigiese gesondheidskrisis op ons kampusse bestaan, is daar net nie genoeg hulpbronne om studente te ondersteun nie. Selfdood is die tweede grootste oorsaak van sterftes onder 20 tot 24-jariges in die VSA. In Suid-Afrika is hulpsentra op kampusse nie naastenby genoeg om studente te ondersteun nie, terwyl die emosionele stres toeneem.

Kry hier hulp

Lifeline se 24-uur-krisislyn: 0861 322 322

Soek hier ’n sielkundige of psigiater in jou omgewing

Sadag: 0800 567 567 of SMS 31393

Maar ons kan almal iets doen. Een so ’n voorbeeld is ’n projek wat die mediese kampus van die Universiteit van die Vrystaat pas aangebied het.

Die fakulteit gesondheidswetenskappe het sy “Starry, Starry Night”-selfdoodvoorkomings-en-bewusmakingsinisiatief gehou teen die agtergrond van die feit dat medici en mediese studente ’n hoër risiko vir psigiese siektes het. Onder meer is oorlewingsvaardighede, soos hoe om druk te hanteer, aan die studente deurgegee. Ons het meer sulke inisiatiewe nodig, en nie net op mediese kampusse nie.

En intussen kan elke individu ’n agent van verandering wees deur die stigma, die stilte, die skaamte en die skande rondom psigiese siektes af te breek deur letterlik te praat en daardie onkunde en vooroordeel woord vir woord af te breek.

Soos: Depressie is ’n siekte, nie ’n swakheid nie. Práát daaroor. Dit kan dalk selfs die lewe van ’n geliefde red.

* Prof. Rabe van die Universiteit Stellenbosch dra elke dag haar “hemelsblou vir hoop”-strikkie sodat mense kan vra wat dit beteken – en sy kan antwoord dat dit vir bewusmaking van depressie en verwante siektes is as biologiese siektes en daarom behandelbaar is. Rabe het die Ithemba-stigting – ithemba beteken hoop – gestig vir bewusmaking en om navorsing te steun. Die Hoop Hike, ’n staproete van 3, 5 of 10 km, en die Hoop Bike, ’n 25 km lange bergfietsroete, word op 13 Oktober vanjaar in die Kaap op die Blaauwklippen-landgoed buite Stellenbosch en in die noorde op 27 Oktober by Van Gaalen’s, Skeerpoort, gehou. Lees hier meer. 

* Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Herken die simptome

Dit is belangrik om te besef dat jy waarskynlik aan depressie ly as jy langer as twee weke

* hartseer, angstig of “leeg” voel;

* sukkel om te konsentreer of om te onthou;

* besluiteloos is;

* moeg en sonder energie is, waardeloos, hopeloos, negatief, prikkelbaar en desperaat voel;

* nie kan slaap nie, of sleg slaap, of te veel slaap;

* geïrriteerd en rusteloos voel;

* wanneer niks meer interessant is nie;

* te veel of te min eet, en

* onwillekeurige selfdoodgedagtes ervaar. Maak onmiddellik ’n afspraak met jou huisdokter.

Meer oor:  Lizette Rabe  |  Selfdood  |  Depressie  |  Sosiale Media  |  Tieners  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.