Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Brekfis in Bangui

Bangui in die Sentraal-Afrikaanse Republiek is ’n plek waar slegs die hardste onder  die hardebaarde kan oorleef, skryf die oorlogskorrespondent Al J. Venter.

Manne van die elite- Portugese valskermeenheid by hul Humvees. Foto’s: AL Venter

In Bangui praat hulle steeds met die hoogste lof van die klein groepie Suid-Afrikaanse soldate wat ses jaar gelede so onverskrokke teen ’n Islamitiese oormag geveg het.

Ek het pas teruggekeer van die chaotiese, brose en vervalle hoofstad van die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) en is telkens om die hals geval die oomblik as iemand hoor dat ek ’n Suid-Afrikaner is.

’n Man wat die gebeure in Maart 2013 persoonlik beleef het toe duisende djihadiste vanuit die noorde van die land die stad binnegeval het, het met aandoening in sy stem vertel: “Ek het jul jong manne self in aksie gesien. Hulle was manjifiek.”

In gevegte wat 53 uur geduur het en waartydens die 200 Suid-Afrikaners ’n ongelooflike tien ton ammunisie uitgeskiet het, is 35 van hul manskappe gewond en 15 is dood. Die verliese onder die vyand word geraam op tussen 700 en 1 200.

Uitgeteer nooddruftig sou ’n beter beskrywing wees.

Toe die rebelle uiteindelik oorgee, was hul boodskap uitdruklik: “Ons het nie ’n probleem met Suid-Afrika nie, dit is die korrupte regering van hierdie land wat ons wil vernietig.”

Dit is eers later dat dit aan die lig gekom het dat dit oudpres. Jacob Zuma se idee was om valskermtroepe na dié uithoek van die wêreld te stuur – ten spyte van die feit dat sy militêre raadgewers hom afgeraai het om dit te doen.

                                                                             ***

Ek het Bangui oor die jare al ’n paar keer as joernalis besoek. Hierdie keer was dinge egter baie anders in dié totaal chaotiese Afrikastaat in die hartjie van ons kontinent, ’n land net effens kleiner as Texas.

Die skrywer saam met Portugese valskermsoldate op die Bangui-lughawe.

Selfs om daar te kom was ingewikkeld. Ek moes militêre magtiging by sowel die Europese Unie as die Verenigde Nasies kry. My versoek was om aan te sluit by ’n eenheid van die VN-vredesmag, ’n paraquedista-eenheid (valskermsoldate) van die Portugese weermag. Die eenheid, 180 man sterk, is ’n vinnige reaksiemag wat reeds met onderskeiding in Afganistan diens gedoen het.

In sy boek Taking Command beskryf die Brit genl. David Richards, voormalige bevelvoerder van die koalisiemagte in Kaboel, die paraquedista as sy “beste gevegseenheid”.

                                                                        ***

My eerste voorsmakie van wat op my wag, was my verwelkoming op Bangui se M’Poko-lughawe. In my 50 jaar se lugreise in Afrika het ek nog nooit iets so chaoties beleef nie.

Ek het skaars die vliegtuig verlaat of ek is deur twee Franse soldate gegryp. Een van hulle, ’n sersant, het ’n stuk papier in my hand gestop en my gewaarsku om naby hom te bly. Hy was ernstig toe hy gewaarsku het dat ek my ander hand op my sak moet hou waarin my geld was.

Die oerwoud is ideaal vir hinderlae.

Dit was netsowel, want in die uur wat dit geneem het om al die formaliteite af te handel, was daar meer as een poging om my van my handbagasie te bevry.

Met die administratiewe proses afgehandel, is ek begelei na ’n paar pantservoertuie met deure wat elk ’n kwartton weeg en koeëlvaste vensters van by die halwe sentimeter dik. Lissabon se bestes se basis was net 300 meter in die pad af, maar dit was duidelik dat ’n mens in hierdie hoogs betwiste uithoek van Afrika geen kanse waag nie.

                                                                                     ***

Die SAR, eens die juweel van die Franse koloniale ryk, word omring deur Soedan en Tsjad, albei sterk Islamitiese state en die oorsaak van baie van dié land se probleme.

Die hoofstad, Bangui, is ’n plek waar anargie heers, met toestande wanho­piger en afgrysliker as enigiets wat ek al beleef het (en glo my, ek was al op verskriklike plekke).

’n Mens moet eers vrede hê voordat jy dit kan handhaaf.

Ek wou egter die stad persoonlik beleef en vra my militêre gashere of hulle vir my ’n taxi met militêre begeleiding kan reël. Die resultaat van hierdie oënskynlik eenvoudige versoek was dat die bevelvoerder my die volgende dag van drie pantservoertuie en agt lyfwagte voorsien het vir koffie en koek in die stad (ja, daar is nog ’n paar luukse hotelle in die stad oor, hoofsaaklik vir die Libanese handelaars wat steeds in die stad sake doen nadat al die voormalige Franse koloniste gevlug het).

Die falanks lyfwagte was beslis geregverdig, want halfpad deur die uitstappie het hulle ’n groepie gewapende mans opgemerk wat ons bekruip.

In ’n neutedop: Bangui is ’n reuse- krioelende massa van mense en die eerste indrukke (wat nooit verdwyn nie) is die skrille realiteit van waarskynlik twee miljoen mense sonder enige hoop, geen geld, geen werk en zero vooruitsigte.

Die VN verwys na die plek as “verarm”, maar uitgeteer nooddruftig sou ’n beter beskrywing gewees het. Sakeondernemings, nywerhede, fabrieke en enigiets van waarde het jare gelede al ineengestort, grootliks as gevolg van wydverspreide korrupsie. Vandag is die VN die grootste enkele werkgewer in die land.

Die bevelvoerder van die VN se militêre mag van sowat 14 000 troepe is die Senegalees lt.genl. Balla Keita, ’n innemende en gerespekteerde man wat homself onderskei het as lid van een van sy land se kommando-eenhede.

Hy praat met groot lof van die “gedugte, gedissiplineerde” Portugese onder sy bevel en noem hulle sy persoonlike “Cristiano Ronaldo-groep” vir wie hy die moeilikste opdragte gee. Keita is self ’n Moslem, maar skroom nie om beslis op te tree in ’n burgeroorlog waar radikale Islamiete slaags is met die meerderheid Christene en animiste nie.

Op die vraag hoe hy met die plaaslike politici oor die weg kom, is hy reguit: “Ek vertrou hulle nie. Hoe kan ek, as die meeste van hulle lankal hul geld en hul families na Europa verskuif het?”

                                                                             ***

Keita se taak is allesbehalwe maklik. Bangui is ’n stad waar talle daagliks omkom in gevegte om kos of in gewapende botsings – veral in PK-3 en PK-5, die twee Moslem-gebiede in die suidweste van die stad waar die VN-magte dit nie durf waag nie omdat dit byna altyd tot skietgevegte sal lei.

’n Mi-24-helikopter bo Bangui.

Keita se ander probleem is die 14 “gewapende groepe” (soos die rebelle volgens VN-terminologie bekend staan) asook groepe Russiese private soldate wat in die binneland rondswerf in groepe van tussen vyf en 30. Die Russe is almal lede van die Wagner-groep, ’n geheimsinnige halfmilitêre mag wat aan pres. Wladimir Poetin alleen verslag doen.

Elkeen van die gewapende groepe ontvang dus nou goeie opleiding van hierdie Russiese instrukteurs en word bewapen met nuwe en gevorderde Russiese en Chinese wapens wat van Soedan en Tsjad gebring word.

Die hoofdoel van dié magte is om uiteindelik die regering omver te werp en dit sal Keita en sy Cristiano Ronaldo-groep wees wat hulle moet stuit.

Keita is ewe openhartig oor die uitdaging. Sy mag van 14 000 is te min en boonop: ’n Mens moet eers vrede hê voordat jy dit kan handhaaf.

                                                                             ***

Om met my gewapende geleide in die stad rond te ry, is in alle opsigte ’n openbaring. Skielik verstaan ’n mens ook beter waarom so baie mense uit die streek desperate pogings aanwend om oor die Middellandse See te ontsnap na ’n beter lewe in Europa.

Die stad is in die Franse koloniale styl gebou, met munisipale distrikte of arrondissements en ’n enkele “hoofweg” wat elkeen van hulle deurkruis. Op elkeen van hierdie “snelweë”, wat waarskynlik ’n kwarteeu gelede enige teer gesien het, is die alledaagse hel van ’n lewe in die SAR op sy allerverskriklikste sigbaar.

Wapens word gelaai vir die volgende kontak.

Tienduisende mense spook om ’n paar sente te verdien terwyl motorfietse en stootkarretjies probeer om slaggate te vermy wat waarskynlik groot genoeg is om ’n Jeep in te sluk.

Kinders, so jonk as drie of vyf jaar oud, hardloop gedurig in die pad en ek was later oortuig daarvan dat ons ’n kind gaan doodry voordat ons terug is in die basis.

Dit neem nie lank om te besef dat niks hier werk nie. Daar is geen kinders met ’n boeksak op die rug op pad skool toe nie – soos jy in enige ander land op die kontinent sien. Daar is geen hospitale of munisipale dienste nie. Buiten klinieke by sommige sendingstasies, is die land vir al sy mediese behoeftes afhanklik van die Rooi Kruis (met 600 personeellede oor die land versprei) of Dokters Sonder Grense (Médecins Sans Frontières).

Albei die organisasies het hul eie eskader van private vliegtuie wat daagliks na klinieke in die binneland vlieg. Baie word bedryf deur Suid-Afrikaanse maatskappye en vlieëniers.

Mediese personeel word gereeld deur die “gewapende groepe” ontvoer.

Die voormalige Kapenaar Tim Lambon, hoof van een van Brittanje se grootste maatskappye wat in die ontsetting van gyselaars spesialiseer, sê sy maatskappy het al ’n paar werknemers van nieregeringsorganisasies gered.

“Die plek is ’n slangkuil,” is sy kriptiese oordeel.

                                                                                   ***

En dan, eensklaps, reg in die middel van die mensgemaakte onderwêreld op die Avenue de l’Indépendance staan ’n gebou met meer gewapende wagte by sy staalingang as die Pentagon.

Die massiewe vyfsterhotel Ledger Plaza bied “uitsoek-verblyf”, met ’n spa en ’n swembad van Olimpiese standaard.

Vir die welgestelde, hoofsaaklik Libanese gesinne, wat elke dag teen sononder langs die swembad bymekaarkom terwyl sowel mans as vroue aan hul tradisionele Turkse waterpype teug, kan die wêreld daarbuite netsowel ’n ander planeet wees.

Dis seker waarom dit my ’n rukkie geneem het om myself te staal vir die terugrit nadat ons teen die agtergrond van sulke weelde ons ontbyt in die chaotiese Bangui geëet het.

  • Al J. Venter is ’n joernalis wat al dekades lank oor Afrika se konflikte skryf. Hy woon in Londen.
Meer oor:  Bangui  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.