Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Brexit: Groot Trek van chaos

Wat beteken die huidige Brexit-gemors vir Brittanje, Europa en die wêreld, vra Leopold Scholtz.

Soos sake táns staan – en dit kan vinnig verander – is die Brexit-proses in ’n gemors. Die Britte het byna twee en ’n half jaar gelede, toe hulle ten gunste van uittrede uit die Europese Unie (EU) gestem het, nie kon vermoed in welke chaos dit sou beland nie.

Op die oomblik is die binnelandse Britse politiek buitengewoon vloeibaar. Byna enige scenario wat ’n mens kan bedink, is moontlik, en enige voorspelling is dus gevaarlik.

Tog moet ’n mens probeer vooruitsien wat die implikasies van die huidige chaos kan wees vir Brittanje self, die res van die EU en die breë wêreldpolitiek. Dit doen jy in die wete dat jy dalk rondtas soos ’n mens wat opeens met blindheid geslaan is en wat sy pad in ’n vreemde omgewing vol onverwagte struikelblokke probeer vind.

Nog ’n moontlikheid is dat May ’n tweede referendum uitskryf.

Vir die Britse politiek kan ’n mens verskeie scenario’s bedink.

Die een, dat premier Theresa May se eie Konserwatiewe koukus haar uitstem, lyk onrealisties. Ondanks ’n poging van die aartskonserwatiewe Euroskeptikus Jacob Rees-Mogg om haar te onttroon, was sy nog steeds die bewoner van Downing-straat 10 toe hierdie woorde geskryf is. Dit lyk of sy – altans op kort termyn – gaan oorleef.

Rees-Mogg, die belangrikste dryfkrag agter die poging om May te pootjie, is ’n interessante mens. Dié hoogs konserwatiewe Rooms-Katoliek is luidens kenners ingrypend beïnvloed deur ’n boek wat sy pa, lord Rees-Mogg, ’n gewese redakteur van The Times, in 1997 geskryf het. In dié boek, The Sovereign Individual, het vader Rees-Mogg voorspel dat gemeenskappe weens die digitale revolusie gaan versplinter en dat slegs die slimste en handigste mense gaan oorleef.

Brexit pas naatloos in dié donker scenario. Volgens die jonger Rees-Mogg sou die chaotiese toekoms wat sy pa voorspel het, deur Brexit bevorder word, en dit gee die kans vir die geskikstes om die res te oorheers.

Dit herinner baie aan die sosiaal-darwinisme wat talle denkers ’n eeu gelede gepredik het, mense soos Herbert Spencer wat goedkeurend gewys het op “die oorlewing van die sterkste”.

Dit het ook Adolf Hitler se wêreldbeeld beslissend help bepaal – ofskoon hiermee nie veronderstel word dat Rees-Mogg ’n geheime Nazi is nie.

Hoe ook al, Rees-Mogg het klaarblyklik nou die Euroskeptiese leiding oorgeneem van sowel oudmin. Boris Johnson as Nigel Farage, leier van die Verenigde Koninkrykse Onafhanklikheidsparty (Ukip). Hy is duidelik besig om hom as aanspraakmaker op die premierskap te posisioneer.

Wie trek voordeel uit ’n verswakte EU?

Terug by May: Die tweede, aansienlik hoër, hekkie lê in die laerhuis, wat haar vermaledyde kompromis-ooreenkoms met die EU moet goedkeur. In dié stadium is die kans goed dat ’n stewige groep Tory-LP’s, saam met die hele Arbeidersparty, daarteen gaan stem.

Dan het May verskeie keuses.

Sy kan weer in gesprek met Brussel tree, maar verskeie Europese swaargewigte, onder wie bondskanselier Angela Merkel van Duitsland, pres. Emmanuel Macron van Frankryk en premier Mark Rutte van Nederland het reeds gesê daarvan moet May vergeet. Daar kan geen verdere groot toegewings van die EU wees nie.

Natuurlik sal die EU verder praat as die moontlikheid bestaan dat dit Brittanje van ’n Brexit kan weerhou. ’n Effense toegewinkie hier of daar behoort ook tot die moontlikhede, maar wat die hoofsake betref, het Brussel klaar sy sê gesê.

As ’n mens verder in die toekoms kyk, kan sake natuurlik weer verander. EU-woordvoerders het dit duidelik gemaak dat Brittanje met oop arms terugverwelkom sal word, met dien verstande dat die land dan nie noodwendig op al die uitsonderingsposisies kan reken wat hy tot dusver in verskeie opsigte geniet het nie.

Vervolgens kan May ’n nuwe verkiesing uitskryf, met die gevaar dat die Arbeiders wen. In só ’n geval sal die harde Marxis

Jeremy Corbyn sy koffers in Downing-straat uitpak.

Hy is iemand wat die EU as ’n kapitalistiese sameswering beskou – een van die vele gevalle waar linkse en regse ekstremiste mekaar vind. Dit gaan Brexit nie beïnvloed nie.

Dis waar dat die Arbeiders self diep verdeeld oor Brexit is. Die gematigdes is daarteen gekant; die linkervleuel sal saam met Corbyn daaroor juig; dit verslap immers die kapitalisme se greep op Brittanje.

Tog lyk dit of die Arbeiderskoukus soos een man teen May se kompromis met Brussel sal stem. Die vooruitsig om die

Tories uit die regeringsbanke te lig en self daar te gaan sit, is te groot om dit deur hul vingers te laat glip.

Nog ’n moontlikheid is dat May ’n tweede referendum uitskryf, iets waarvoor sy tot dusver nie te vinde was nie. As ’n mens die peilings kan glo, sal 54% van die kiesers dié keer téén Brexit stem.

In welke geval Brittanje ’n internasionale voorwerp van spot en hoon sal wees. Ook geen aangename vooruitsig nie, maar dalk verkieslik bo die huidige chaos.

Baie gaan natuurlik afhang of die Brexit ’n “sagte” of “harde” een is.

Dis ook ’n ope vraag of die sterk verdeelde Tories (soos trouens die Arbeiders eweneens) hul eenheid gaan behou en of hulle dalk gaan skeur. Letterlik énigiets is moontlik.

Wat die res van Europa betref, het die dermuitrygery in Brittanje (altans uit Brussel se oogpunt) ’n positiewe uitwerking. Opeens het die stemme in verskeie lande om die EU op te hef aansienlik stiller geword.

Mense sien dis maklik om oor uittrede te práát, maar om dit te dóén is ’n lydensweg wat jy nie jou grootste vyand toewens nie. Die Europese ekonomieë het deur die jare só ineen vervleg geraak dat uittrede slegs met ’n enorme figuurlike bloedvergieting en trauma gepaard sal gaan.

Dit het die Europese hegtheid juis bevorder.

Dié hegtheid word trouens verder aangehelp deur die kwasterigheid van die blonde man wat in die Withuis in Washington woon. Dit het steeds duideliker geword dat Europa nie meer outomaties op die vriendskap van Amerika kan reken nie, altans nie terwyl pres. Donald Trump aan bewind is nie.

Trump het die EU byvoorbeeld ’n “vyand” genoem en gesê die organisasie is in die lewe geroep om Amerika te benadeel – ’n uitspraak wat mense wêreldwyd van verbasing agteroor laat steier het. Hy is ook uiters lou oor Navo en het verskeie kere twyfel laat ontstaan of hy Navo-bondgenote kragtens art. 5 van Navo se handves (’n aanval op een is outomaties ’n aanval op almal) te hulp sal kom.

Dus wen die idee van mense soos Merkel en Macron om ’n EU-weermag, naas Navo, tot stand te bring steeds meer veld. Dis iets waaroor Macron en Trump onlangs nog koppe gestamp het, maar dis eenvoudig ’n teken dat die Europeërs Trump nie vertrou nie.

Dus begin hulle ook hul verdedigingsbegrotings aansienlik verhoog.

Dít is dan nog iets wat saam met die Brexit-chaos loop – dat die Atlantiese Oseaan ’n steeds groter kloof tussen Europa en Amerika vorm. Die politieke en militêre bondgenootskap, wat eens onverbreeklik gelyk het, vertoon duidelike barste. In beginsel kan dit ná Trump weer toegroei, maar dít is in die newels van die toekoms gehul.

Dit bring ’n mens by ’n volgende opmerking. Die hegter eenheid wat Brexit op die Europese vasteland veroorsaak, kan dit nie verhul dat Brittanje se wegbreek die EU verswak nie. Die land is immers saam met Duitsland en Frankryk die politieke, ekonomiese en militêre swaargewigte van Europa.

Wie trek voordeel hieruit? Twee moondhede: China en Rusland.

Die groot geopolitieke ontwikkeling van die vroeë 21ste eeu is die opkoms van China, wat die wêreldpolitiek dramaties kan verander. Die land is besig met ’n ekonomiese en militêre opkoms wat skrik vir niks. Die vloot wat hy bou, met verskeie vliegdekskepe en kernduikbote, sal binne ’n paar jaar in staat wees om die Amerikaanse heerskappy in die westelike Stille Oseaan uit te daag.

Verskeie Amerikaanse presidente wat dié ding sien aankom het, het hard gewerk om ’n veiligheidsgordel rondom China te bou in die vorm van Indië, Viëtnam, Indonesië, die Filippyne, Suid-Korea en Japan.

Omdat hulle benoud raak oor Trump se betroubaarheid, begin dié lande almal stadigaan onder die Amerikaanse vlerke uitkruip en voelers na Beijing uitsteek.

Die Chinese gooi ook hul politieke nette verder uit. Hulle is besig om ’n handelsroete oor die Eurasiese vasteland na die weste en oor Afrika suidwaarts te bou. Hulle noem dit die nuwe “syroete”, na analogie van die handelsroete wat eeue gelede tussen die Chinese en Romeinse keiserryke bestaan het.

Dit word versterk deur ’n ontwikkelende bondgenootskap tussen China en Rusland. Die twee het ’n paar weke gelede selfs vir die eerste keer ’n grootskaalse gesamentlike militêre oefening gehou.

Met Rusland wat sy spiere steeds meer in Oos-Europa bult, vorm dit ’n potensiële gevaar vir Europa wat EU-leiers slapelose nagte besorg.

Met Brexit wat die EU duidelik verswak, maak dit die uitwerking van die opkoms van die Chinees-Russiese bondgenootskap op die verandering in die wêreldwye magsewewig des te groter.

Brexit klink dalk na ’n aantreklike idee. Dis egter te betwyfel of die “Brexiteers” behoorlik besef waarmee hulle besig is.

Die Ryk se party

Die rede waarom die Konserwatiewe Party so verdeeld oor Brexit is, het alles met ideologie te make.

Die Tories is tradisioneel die party van die Britse Ryk – ook die party wat in 1899-1902 die aanslag op Transvaal en die Vrystaat se onafhanklikheid gelei het. Hulle was deur die woelige naoorlogse jare met opvallende uitsonderingsgevalle oorwegend remskoene vir die uiteenval van die ryk. Hulle was ook die party wat tradisioneel meer krities gestaan het teenoor die strewe om Brittanje deel van die Europese Ekonomiese Gemeenskap, voorloper van die Europese Unie, te maak.

Net voor die Geallieerde landing in Normandië in 1944 het die Britse Tory-premier, Winston Churchill, aan die Franse genl. Charles de Gaulle gesê: “As Brittanje tussen Europa en die oop see moet kies, moet hy altyd die oop see kies” – bedoelende sy bande met die ryk en dus sy status as groot moondheid. Dit was tipies van die Tories se wêreldbeeld.

Deur die jare was daar weliswaar talle Tories wat ingesien het dat Brittanje Europa nie die rug kan toekeer nie. Maar, soos tans blyk, koester ’n beduidende deel van die party steeds die idee dat die “oop see” belangriker is as Europa.

Vandaar dat die interne verdeeldheid in die party groter is as ooit tevore.

Waaroor gaan die Brexit-bohaai?

Die kompromisvoorstel waarop die Britse regering met die EU se hoofonderhandelaar, Michel Barnier, ooreengekom het, en waaroor sommige lede van Theresa May se kabinet so ongelukkig is, kom neer op ’n “sagte” Brexit.

Dit behels, kortpad gevat, dat Brittanje nog 21 maande lank deel van die Europese doeane-unie sal bly, asook onderhewig aan die Europese geregshof in Straatsburg.

Dis ’n oorgangsperiode. Maar terselfdertyd moet Brittanje steeds sy “lidmaatskapsgeld” bly betaal. En wanneer hy uiteindelik finaal vertrek, moet hy ’n “egskeidingsboete” van etlike tientalle miljarde ponde neersit. Terselfdertyd is Brittanje nie meer ’n politieke lid van die EU nie. Met ander woorde, premier Theresa May woon nie meer die maandelikse spitsberaad van die EU in Brussel by nie en haar ministers daag ook nie op by soortgelyke berade van EU-ministers nie.

Die beswaar van die “Brexiteers” is nou dat Brittanje dus in die oorgangstyd die EU se reëls in talle opsigte moet bly gehoorsaam, maar hy kry geen seggenskap in hoe die reëls toegepas word of hoe hulle moontlik verander word nie. Dis waarom oudmin. Boris Johnson meen die EU behandel Brittanje soos ’n kolonie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.