Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Brexit: ’n Geskarrel om skade te beperk

Regoor Europa het mense op Kersaand verlig asem geskep weens die kompromis wat onderhandelaars van die Europese Unie en Brittanje op die nippertjie oor Brexit bereik het. Maar is die skade wat Brexit noodwendig meebring, voldoende beperk? Leopold Scholtz probeer ’n antwoord bedink.

Premier Boris Johnson van Brittanje hou op Oukersdag in Downing Street ’n mediakonferensie oor die uitkoms van Brexit-samesprekings. Foto: Paul Grover/Reuters

Tradisioneel is Kersaand die tyd vir die uitdeel van geskenke. Vanjaar was Kersaand die geleentheid waarop ’n Brexit sonder ooreenkoms op nommer laaste vermy is.

Daarmee is ’n chaos – dit sou geen oordrywing wees om dié woord te gebruik nie – vermy.

Dit beteken egter nie dat Brexit voordele inhou nie; die nadele vir albei kante van die kanaal is duidelik kwantifiseerbaar.

Die ooreenkoms bedra 1 246 gedrukte bladsye, vol gedruk met regstekste wat vir leke bitter moeilik, indien hoegenaamd, verstaanbaar is. Die lede van die Britse en die Europese Parlement moet dit nou voor Donderdag, Oujaarsaand, deurwerk en formeel goedkeur.

Toe Brittanje besluit het om van die Europese Unie (EU) weg te breek, is besluit dat ’n oorgangstyd van ’n jaar sou geld. In dié jaar sou Brittanje in die praktyk nog alle regte en pligte van ’n EU-lidland behou, maar die jaar sou ook gebruik word om oor ’n omvattende skeidingsooreenkoms te onderhandel.

Een saak wat wel duidelik is, is dat daar geen handelstariewe gehef sal word nie.

As daar géén skeidingsooreenkoms bereik kon word nie, sou die bepalings van die Wêreld-Handelsorganisasie van 1 Januarie 2021 geld. Met ander woorde, allerlei beperkings op die beweging van mense, dienste en goedere, invoertariewe, ensovoorts, sou van krag word.

‘’n Fraksie van die pyn’

Die handelsyfers wys dat dit ’n behoorlike klap sou meebring. Altesame 43% van die Britse uitvoer (325 miljard in 2019) gaan na die EU, en laasgenoemde is die oorsprong van 52% (515 miljard euro) van die Britse invoer.

Omgekeerd bedra die EU se uitvoer na Brittanje slegs 4% van al sy uitvoere en slegs 6% van sy invoere. In 2019 het die internasionale handel van die EU as geheel ’n reusagtige €4 071 miljard bedra.

Dié syfers maak dit duidelik dat ofskoon ’n Brexit sonder ooreenkoms die EU nadelig sou raak, die pyn slegs ’n fraksie sou wees van dít wat die Britte sou tref. ’n Behoorlike handelsooreenkoms is dus veel meer in Brittanje se belang as in dié van die EU.

Een saak wat wel duidelik is, is dat daar geen handelstariewe gehef sal word nie.

Die probleem is dat die Britse regering die saak minder as ’n handelsooreenkoms en meer as ’n ideologiese projek benader het. “Neem die beheer terug!” was die leuse waarop veral premier Boris Johnson gehamer het.

Die Franse vissersboot Thomas Nicolas II seil in die Noordsee aan die kus van Frankryk verby ’n Nederlandse vissersboot. ’n Kwart van Franse vissers se vangs in die noordoostelike Atlantiese Oseaan kom uit Britse waters. Hulle sê hul bestaansmiddele sal nadelig geraak word as Brexit hulle toegang tot dié waters beperk. Foto: Pascal Rossigno/Reuters

Op sigwaarde het dit dus gegaan om die Britse nasionalisme en soewereiniteit, om die begeerte om Britse sake onafhanklik van Brussel te hanteer, om Brittanje deur die Westminster-parlement te laat regeer en nie deur die Europese parlement in Brussel nie.

Dis ’n emosionele saak wat met rasionaliteit min te make het.

‘Teoretiese fiksie’

Johnson self het al in die jare tagtig as Brusselse korrespondent van The Daily Telegraph berugtheid verwerf met die berigte oor die destydse Europese Ekonomiese Gemeenskap (voorganger van die EU) wat hy uit sy duim gesuig het. Ook tydens die referendumveldtog van 2016 het hy talle flagrante onwaarhede rondgestrooi. Sy doel was om Theresa May as premier te vervang, waarmee hy geslaag het.

’n Tweede probleem met Johnson se benadering is dat nasionale soewereiniteit in die moderne wêreld ’n teoretiese fiksie geword het. Daar is bitter min nasionale state ter wêreld, dalk met uitsondering van die kluisenaarstaat Noord-Korea, wat wérklik in die praktyk só soewerein is dat hulle nie met ander rekening hoef te hou nie.

Dis met ander woorde ’n ideologiese projek – emosionele nasionalisme – teen ’n rasionele benadering – samewerking in almal se belang – wat bots.

Europa het ’n geskiedenis van eeue se konflik en oorlog, wat in die twee wêreldoorloë van die 20ste eeu tot ’n verwoestende en makabere hoogtepunt gevoer is. Die herinnering aan die massale strome bloed en smeulende puinhope waarin die meeste Europese stede omgeskep is, was regstreeks verantwoordelik vir die Europese integrasieprojek wat uiteindelik op die EU uitgeloop het.

Dis met ander woorde ’n ideologiese projek – emosionele nasionalisme – teen ’n rasionele benadering – samewerking in almal se belang – wat bots.

Maar goed, Brexit is nou eenmaal ’n feit. En dus moes alle kante skarrel om die skade soveel moontlik te beperk.

’n Mens kan aanneem dat dié doel bereik is. Maar totdat die ingewikkelde taal van die ooreenkoms ten volle ontsluit en verstaanbaar vertolk is, sal dit onduidelik wees in welke mate dit die geval is.

Vlae van die Europese Unie wapper buite die Europese Kommissie se hoofkwartier in Brussels waar samesprekings oor Brexit plaasgevind het. Foto: Reuters

Vandeesweek word dus sowel die Britse as die Europese parlement van Kersreses teruggeroep om oor die ooreenkoms te debatteer. Uit Brussel hoef ’n mens nie veel probleme te verwag nie, maar in Westminster kan die vonke spat.

‘Nóg ’n nadeel’

Die Britse leier van die Arbeidersparty, Keir Starmer, het sekere voorbehoude oor die ooreenkoms uitgespreek, maar nietemin gesê sy party sal ten gunste van goedkeuring stem. In die linkervleuel van sy party het dit ’n koor van protes uitgelok van politici wat Brexit in beginsel afkeur.

Dit kan selfs Starmer se leierskap van die party in die gedrang bring.

Vir Brittanje kan Brexit – met of sonder ooreenkoms – nóg ’n nadeel beteken. In Skotland groei die begeerte om van die Verenigde Koninkryk weg te breek. Luidens peilings sou 58% van die Skotte tans vír onafhanklikheid stem as ’n referendum gehou kon word.

Dis ’n interessante ontwikkeling. Deels word dié gevoel deur ’n toenemende Skotse nasionalisme gevoed, maar minstens ewe kragtig is die begeerte dat Skotland by die EU wil bly.

Nicola Sturgeon, Skotse premier. Foto: Getty Images

In Mei vind ’n verkiesing vir Holyrood, die Skotse parlement, plaas. Die verwagting is dat die regerende Skotse Nasionale Party van premier Nicola Sturgeon ’n meerderheid van die stemme (peilings wys 53%) sal trek.

Die probleem is dat die Skotse regering ingevolge wet nie die reg het om self ’n referendum uit te roep nie. Daarvoor is die Londense regering (dus Boris Johnson) se toestemming nodig.

Dis heeltemal uitgesluit dat hy dit sal gee. Trouens, verlede maand nog het hy Skotte rooi van woede gemaak toe hy gesê het die beperkte binnelandse mag wat aan Skotland verleen is, was “’n ramp”.

Nog ’n interessante aspek is die kwessie van die grens tussen Noord-Ierland en die Ierse Republiek. Dis belangrik, want die bestaan van ’n “harde” grens het in die verlede bygedra tot taamlike bloedvergieting en ’n amperse burgeroorlog tussen die Rooms-Katolieke (etniese Iere) en Protestante (afstammelinge van Engelse setlaars).

‘Tot nadeel van die VK’

Kragtens die Brexit-ooreenkoms bly die bestaande situasie tussen Noord-Ierland en die Ierse Republiek bestaan. Wat wel enersyds beteken dat die band tussen Noord-Ierland en Ierland effens versterk en dié tussen Noord-Ierland en die res van Brittanje effens verswak word.

Netto gesproke benadeel Brexit dus, ironies genoeg, die samehang en eenheid van die Verenigde Koninkryk.

Die teenoorgestelde geld die 27 lidlande van die EU, wat normaalweg oor byna alle moontlike en onmoontlike sake stry. In dié geval het Johnson sy bes gedoen om ’n wig tussen byvoorbeeld Duitsland, Frankryk en ander lande te dryf, maar mede deur die verstandige leiding van bondskanselier Angela Merkel en pres. Emmanuel Macron het die 27 soos een man bymekaar gebly.

’n Elektroniese kennisgewingbord in Londen vertoon ’n boodskap van die Britse regering waarin sakeondernemings aangeraai word om hulle op Brexit voor te berei. Foto: Toby Melville/Reuters

Soos die Amsterdamse blad De Volkskrant dit stel: “Maar belangriker vir die eenheid was die gebrek aan ’n aantreklike alternatief: die rusies, gedraai en gekonkel aan die Britse kant het Europa ontneem van die lus (as dit hoegenaamd bestaan het) om die hand na Londen uit te steek.”

As alles in ag geneem word, en jy laat die Britte se ideologiese benadering buite rekening, kom Brittanje dus duidelik verswak en die EU sigbaar versterk uit die proses. Moenie verbaas wees as die Britte oor ’n paar jaar, met ’n ander premier, weer aan Brussel se voordeur klop om opnuut toegelaat te word nie.

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie

Meer oor:  Boris Johnson  |  Brittanje  |  Brexit  |  Europese Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.