Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Brexit weer by kruispad

Die onderhandelings tussen die Europese Unie en Brittanje het by ’n vurk in die pad gekom. Besluite wat nóú gemaak word, kan jare lank ’n invloed op die toekoms van Europa hê. Leopold Scholtz berig.

Boris Johnson, Britse premier, en Ursula von der Leyen, president van die Europese kommissie, voor ’n ete in Brussel verlede week. Foto: AP

Die naweek het die politieke hoofde van die Europese Unie (EU), Ursula von der Leyen, en van die Verenigde Koninkryk van Brittanje en Noord-Ierland, Boris Johnson, half moedeloos ooreengekom om “die ekstra myl” in die onderhandelings oor ’n ooreenkoms oor Brexit te loop.

Maar die tyd raak min. ’n Ooreenkoms om die ekonomiese betrekkinge tussen die twee te reël moet voor 31 Desember beklink wees. Indien dit nie gebeur nie, wag ’n chaos en groot ekonomiese ontwrigting – veral op Brittanje, maar ook vir die EU.

Die agtergrond: In 2016 het die Britse kiesers met ’n kleinerige meerderheid van 52 teen 48% besluit om die EU te verlaat. Dat hulle dit gedoen het op grond van verskeie flagrante leuens wat deur die huidige premier, Johnson, verkondig is, en dat ’n onomwonde meerderheid (51-38%) nou meen dit was ’n fout, verander nie aan die werklikheid van Brexit nie.

In die onderhandelings wat hierop gevolg het, is ooreengekom dat Brittanje die EU formeel op 1 Januarie 2020 sou verlaat, maar dat die EU-reëls vir ’n verdere oorgangsjaar sou geld – dus tot op 31 Desember aanstaande jaar. Wat táns gebeur, is dat bloed gesweet word om ’n nuwe ooreenkoms ter vervanging van die huidige reëls op te stel.

’n Smeulende puinhoop. ’n Melkman besig met sy aflewerings ná ’n Duitse lugaanval op Londen in die vernietigende Tweede Wêreldoorlog. Foto: Getty Images

In wese bots hier twee wêreldbeskouings.

Die EU en sy voorganger – die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG) en die Europese Steenkool-en-staalgemeenskap – was die regstreekse gevolg van die Tweede Wêreldoorlog.

Dié konflik was die grootste katastrofe wat Europa sedert die ongekende verwoesting van die Dertigjarige Oorlog in die vroeë 17de eeu getref het. In 1945 was Europa, sonder enige oordrywing, ’n reusagtige smeulende puinhoop, en die algemene gevoel was: Dit mag nooit weer gebeur nie.

Ná die verkrummeling van die Ystergordyn is die Europese integrasie ook gesien as ’n waarborg om die Koue Oorlog definitief tot die geskiedenisboeke te verdoem.

Die verklaring vir die ongekende ramp was die oordrewe nasionalisme en aggressie wat hom in die loop van die 19de eeu meester van Europa gemaak het, en die makabere hoogtepunt wat dit in die jare van Adolf Hitler se heerskappy bereik het. Dus, so was die redenasie, integreer die Europese lande tot op die punt dat die prys van ’n hernude oorlog só groot is dat die politici nie eens daaraan sal dínk nie.

Ná die verkrummeling van die Ystergordyn is die Europese integrasie ook gesien as ’n waarborg om die Koue Oorlog definitief tot die geskiedenisboeke te verdoem, en teen ’n herlewing daarvan.

Johnson en die Europese Unie

Boris Johnson het teenkanting teen Britse lidmaatskap van die Europese Unie gebruik in sy veldtog om premier van Brittanje te word. Foto: AP

Die Britte was wat dit betref altyd aan die periferie. Tradisioneel het hulle slegs op die vasteland betrokke geraak as dit hul belange regstreeks geraak het, en verder het hulle hul energie eerder aan die uitbreiding en verdediging van hul uitgebreide wêreldryk bestee.

Bowendien het hulle hul betrekkinge met die magtige Amerika steeds as aansienlik belangriker as hul bande met Europa gesien.

Die Britse verswakking het in die loop van die jare egter ’n onwillige verandering hieraan gebring. Op 1 Januarie 1973 het Brittanje hom uiteindelik by die destydse EEG aangesluit.

Reeds as joernalis in Brussel het Johnson met oorgawe leuens oor die EEG/EU versprei.

Maar, in teenstelling met byvoorbeeld Duitsland, Nederland of in ’n effens mindere mate Frankryk, het die Europese integrasie nooit groot geesdrif in Brittanje gewek nie. In sy meedoënlose stoomrollertog om premier te word het Johnson hiérin ’n instrument gesien.

Reeds as joernalis in Brussel het Johnson met oorgawe leuens oor die EEG/EU versprei. Toe hy as lid van die kabinet daarin slaag om ’n referendum oor voortgesette EU-lidmaatskap te bereik, het hy daardie leuens met ’n verdubbelde aanslag uitgebasuin – met sukses, want die uitslag was 52-48% vír Brexit.

Johnson se ideologiese posisie was Britse soewereiniteit, wat volgens hom deur sy land se lidmaatskap van die EU aangetas is. Daarteenoor is die relatiewe verlies van soewereiniteit vir die Europeërs ’n aanvaarbare prys om te betaal vir die voorkoming van ’n oorlog wat maklik nóg meer verwoesting as die een van 1939-’45 kan meebring.

Groot ekonomiese prys

Daar is ewe groot druk op Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, as op Boris Johnson, die Britse premier, om ’n ooreenkoms oor Brexit te bereik. Foto: AP

Waar staan sake tans? Daar is veral drie punte waaroor tot dusver geen ooreenkoms bereik kon word nie.

Die eerste is visseryregte. Die Europeërs wil wedersydse toegang vir vissers in mekaar se maritieme grense toelaat; die Britte wil hul eie waters tot hul eie vissers beperk. Dit gaan oor soewereiniteit.

En dus is die Britse vloot reeds in ’n staat van paraatheid gebring om EU-vissersbote uit Britse waters te jaag as dit nodig is.

Die tweede kwessie is hoe verseker kan word dat Britse en Europese maatskappye ná 31 Desember op ’n gelyke speelveld kan meeding. Die EU vrees dat die Britte sy eie maatskappye onregverdig sal bevoordeel deurdat hy hom nie meer aan EU-reëls sal hoef te hou nie.

In die derde plek is daar onsekerheid oor hoe enige handelsooreenkoms afgedwing en hoe teen oortreders opgetree sal kan word.

Teen die tweede helfte van aanstaande jaar sal 300 000 meer Britte sonder werk sit – en dit te midde van die Covid-19-pandemie.

Die druk op Von der Leyen en Johnson om ondanks alle struikelblokke tog ’n soort ooreenkoms te bereik is reusagtig, want die prys wat hulle vir ’n Brexit sónder ooreenkoms sal betaal is baie groot.

Die betrekkinge sal dan bepaal word deur die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie. Dit klink onskuldig, maar die feit is dat die Britse en die vastelandse ekonomie sedert 1973 só geïntegreer geraak het dat jy dit kan vergelyk met ’n arm wat van ’n liggaam geskéúr word.

Om mee te begin wys berekenings dat die Britse ekonomie met minstens 2% (£40 miljard, R720 miljard) kan krimp. Altesame 43% van die Britse uitvoer was verlede jaar na die Europese vasteland, en uitvoerders sal potensieel te make kry met tariewe van 10% tot 40%, wat hul produkte aansienlik duurder sal maak.

Die Britte kan £294 miljard (byna R6 000 miljard) daardeur verloor, teenoor die €33 miljard (R594 miljard) vir die EU. Brittanje sal dus aansienlik swaarder as Europa getref word.

Bowendien verwag ekonome dat die pond se waarde met 10% kan daal. Teen die tweede helfte van aanstaande jaar sal 300 000 meer Britte sonder werk sit – en dit te midde van die Covid-19-pandemie.

Britte toe nie beter as die res

Sommige teenstanders van Brexit wil selfs weer ’n referendum daaroor hou. Foto: Getty Images

Die kwessie moet ook uit ’n politieke oogpunt beskou word.

In beginsel is dit verskriklik moeilik om konsensus te bereik in enige bondgenootskap wat, soos die EU, uit 27 lidlande bestaan. Die merkwaardige is dat die EU insake Brexit tot dusver ’n onverbreeklike enkele front gehandhaaf het.

Dis 27 teenoor 1. Johnson probeer telkens ’n wig indryf deur bilateraal met kanselier Angela Merkel van Duitsland, pres. Emmanuel Macron van Frankryk of premier Mark Rutte van Nederland te praat, maar elke keer was die boodskap: Jou kontakpunt is Ursula von der Leyen; moenie eens bodder om die ander teen mekaar uit te speel nie.

Terselfdertyd kook en borrel dit in die Verenigde Koninkryk.

Luidens verskeie ontledings in die Britse media is daar groeiende ontevredenheid in die regerende Konserwatiewe Party oor Johnson se leiding. Terselfdertyd neem die Skotse eerste minister, Nicola Sturgeon, tevrede waar hoe die steun vir Skotse onafhanklikheid en die beëindiging van Engelse oorheersing in haar gebied toeneem. Luidens peilings sou 58% van die Skotte nou in ’n referendum vír onafhanklikheid stem.

Leopold Scholtz

Johnson-hulle het deurgaans sterk staat gemaak op Brittanje se veelgeroemde “spesiale band” met Amerika, veral met die vyandigheid wat pres. Donald Trump deurgaans teenoor die EU geopenbaar het. Maar Trump se verblyf in die Withuis is byna op ’n einde.

Dit beteken dat ook Brittanje se veiligheid in die gedrang kom. Lord Ricketts, ’n gewese veiligheidsraadgewer van die regering, waarsku dat die land toegang tot ’n hele string misdaad-databanke sal verloor. In Navo sal die militêre veiligheidsambreel wel voortbestaan.

In die konserwatiewe dagblad The Times skryf Matthew Parris, gewese Tory-parlementslid en tans politieke ontleder (in Johannesburg gebore): “Tientalle miljoene mense in Brittanje glo werklik dat ons Britte baie, baie beter is as die res en dat die geskiedenis ons sedert die Tweede Wêreldoorlog stief behandel het. Hulle het hulself oortuig dat dit die Europese Unie is wat ons geketting het en as dit losgemaak word, ons kan spríng.”

Dat dié geloof nie op feite berus nie, sal aanstaande jaar duidelik blyk, veral as Johnson bly vasskop in sy onwilligheid om ’n kompromis met Von der Leyen te bereik.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.