Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Breytenbach antwoord Jansen in brief
Breyten Breytenbach Foto: Nasief Manie

Breyten Breytenbach het in ’n brief aan Netwerk24 gereageer op prof. Jonathan Jansen, rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), se uitlating in Frankryk sit en “skerp sny en kap oor wat hier gebeur”. 

“Enige ou wat hier in die onderwys sit, weet dit is baie uitdagend,” het Jansen in ’n onderhoud gesê.

Breytenbach sê hy het baie simpatie met mense wat verantwoordelike poste in die onderwysstelsel beklee. Hier is sy reaksie (bevat taal wat aanstoot kan gee):

Ek wil nie in ’n polemiek betrokke raak met Jonathan Jansen nie.

Die vorige keer wat ek probeer het om iets aan hom oor te dra het ek te doen gekry met ’n afgesant, ek neem aan uit sy kantoor, wat in geradbraakte Afrikaans gereageer het.

Die heer het dus duidelik nie die moed van sy oortuigings nie (wat hulle ook mag wees), of so nie het hy gewoon nie tyd om in te gaan op al die geblaf nie.

Ek neem hom nie kwalik nie.

Ek veronderstel ook dat hy nie eens aandag sou gegee het aan my of my opinies as dit nie was dat 'n joernalis hom uitgelok het nie. Koerantmense is erger oor 'n 'storie' as sjimpansees oor rooimiere!

 Met ander woode hierdie heen-en-weer is nie van belang nie. Maar siende daar tog 'n paar oppervlakkige opmerkings gemaak word, vergun my 'n leksel kommentaar:

Ek het werklik simpatie met mense wat verantwoordelike poste in die onderwysstelsel beklee. (Ek het self vir meer as 12 jaar om ’n gedeelte van die jaar klas gegee aan die universiteite van KwaZulu-Natal, Princeton, NYU – net genoeg om te besef hoe moeilik en onbenydenswaardig dit moet wees om in die besluitnemende stoel te sit.)

Om reguit te praat: Prof. Jansen, mense in u posisie (viserektore) het eintlik nie meer beweegruimte nie.

U voorland is om van die universiteite bush colleges te maak én voor te gee hierdie is nie slegs die teelaardes van ’n meer regverdige Suid-Afrika nie, maar dat hulle ook internasionaal gereken en erken word.

En dit met al hoe minder geld.

En dit met ’n studentebevolking wat uit die aard van hul eksistensiële behoeftes nooit bevredig sal kan word nie omdat die vermenging van wie ons (en hulle!) is nooit weer “gesuiwer” sal kan word nie. Ons is almal ewe aap op hierdie planeet.

En dit onder owerhede wat geen snars begryp van enigiets anders as die brute stuwing om ten alle koste aan die mag te bly en in die proses enige grief of persepsie uit te buit nie.

Ek neem aan persoonlike ambisie is een van u merkers. (Niks daarmee verkeerd nie! Nie almal is so selfloos soos Wim de Villiers nie.) Dan is dit nog soveel te meer tragies om te sien hoe u moet spartel om iets van ’n reputasie te probeer red.

Ek wil regtig nie leedvermakerig klink nie. Eerlikwaar, ek dink u is ’n opregte onderwysmens. En die feit dat u nie abstraksie kan maak van u eie vooroordele – gegrond in ervarings wat ek nie eens naastenby sal kan verbeel nie – en dat u geen visie of etiese standvastigheid het nie, beteken nog nie dat u nie werklik toegewyd is aan u taak nie. (“Visie” en “etiese standvastigheid” is, soos u weet, nêrens in die openbaar in Suid-Afrika te vind nie. Seer sekerlik nie in die politieke leierskap nie. En dis ’n historiese tragedie – want dis ’n land en ’n droom wat so baie potensiaal gehad het, wat so belangrik was ook vir die res van die mensdom, met wie soveel verdruktes kon assosieer . . . )

Die “sny en die kap” is maar in my geaardheid. Ek gaan egter nie toelaat dat u gebruik maak van die goedkoop “gerookte bokkom” van my “inkommerskap” as “uitgewekene” of Fransman of internasionalis om my te diskwalifiseer nie.

Ek sou kon byvoeg, “kosmopoliet”, wat destyds sinoniem was met “Joodse intellektueel”. Of “exile”. In die ou dae het die Boere gepraat van “volksvreemde” wat eintlik “verraaier” of selfs “k*ff*rboetie” (in die geval van die witteriges) sou beteken.

Nee wat, dit is u stand as onderwysman nie waardig nie. Dis die soort truuk waarop populistiese rubriekskrywers hulle beroep.

Vir die res: Ek neem u nie kwalik dat u my nie “lees” nie. Ek sou dit self ook nie doen nie (veral wanneer daar belangriker dinge is om aandag aan te gee): dis dikwels net te veel en te onsamehangend. Ook te venynig wanneer dit nie regtig nodig is nie. Is daar ’n deurlopende draad van die apartheidsjare na nou? Dis vir ander om te oordeel. Wat ek wel weet, is dat ons nog steeds in die gemors is, dat ek nog steeds met die middele tot my beskikking sin probeer maak daarvan (en daardie “middele” – woorde en begrippe – is ook ontoereikend en dikwels besmet).

Maar ook dat ek nog steeds glo die werklike dooie olifant in ons gedeelde kombuis is die verbeeldinglose manier waarmee ons omgaan met “mag”. Of gewoon ons vrees vir volledige menswees. En tog ook, dat ons nog steeds, met die voordele van ons veelvuldigheid en veelduidigheid en andersheid, gesnoer in die ideaal van menswaardigheid, die potensiaal van saam-mekaar-andersmaak in ons dra.

Simpatieke groete (via die joernalis)

Breyten Breytenbach

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.