Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Britse verkiesing: Waarvoor staan Brexit-party eintlik?

Die Brexit-party weet hy gaan nie die volgende regering word nie. Callum Tindall skryf wat dié party dan – anders as die ooglopende – nou eintlik in die komende Britse verkiesing wil regkry.

Die leier van die Brexit-party, Nigel Farage, maak grappies met ’n kieser in aanloop tot die Britse verkiesing. Foto: PA/Danny Lawson

Indien die Tories seëvier in vandeesweek se Britse verkiesing sal dit van die Brexit-party se nie-amptelike steun afhang. Laasgenoemde het sy kandidate onttrek aan al 317 van die setels wat nou aan die Konserwatiewes behoort, hy het sy kritiek op Boris Johnson se regering afgewater en sy visier is nou stewig op die tradisionele Arbeidersparty-setels in sy verkiesingsveldtog gerig.

Die doel is om die guns van die Arbeidersparty-kiesers te wen en die res van die stemme te verdeel. Dit behoort vir ’n oorwinning vir die Konserwatiewe Party én vir Brexit te sorg.

Terwyl ander partye hul tradisionele verkiesingsmanifeste met hul voorgestelde beleid gepubliseer het, het die Brexit-party iets wat hy ’n “kontrak met die mense” noem die lig laat sien.

Die Brexit-party sê ook hy wil op onwettige immigrasie en mensehandel toeslaan.

Soos te wagte is die Brexit-party se vlagskip-beleid om die EU heeltemal (ook die doeane-unie en die gemeenskapsmark) sonder ’n ooreenkoms te verlaat. Die party hou vol dat dit die Verenigde Koninkryk se vryheid sal herstel om sy toekoms te “omvorm” deur weer soewereiniteit oor sy “wetgewing, grense, geld, visserye en verdediging” te hê.

Met die televisiedokter David Bull as sy woordvoerder vir gesondheid dring die party daarop aan dat die NHS (die nasionale gesondheidsdiens) in openbare besit bly en beter befonds word. Hy is gekant teen stappe wat reeds gedoen is om die diens te privatiseer, soos die private-finansies-inisiatiewe “wat die NHS met miljarde ponde se skuld opgesaal het”. In beginsel dring die party daarop aan dat ’n “skoon-breuk-Brexit” nie die NHS se privatisering sal behels nie.

Die Brexit-party sê ook hy wil op onwettige immigrasie en mensehandel toeslaan. Die partyleier, Nigel Farage, beweer sy party beoog om die netto-immigrasie na die VK tot 50 000 per jaar te beperk, met ’n immigrasiestelsel wat op ’n puntestelsel gegrond is en “blind vir etniese oorsprong is”. Miskien moet ’n mens net noem dat die presiese syfer nie in die “kontrak” voorkom nie – wat beteken dis nog nie ’n swart-op-wit-belofte nie.

’n Populistiese ‘politieke revolusie’

Nigel Farage onderteken sy “kontrak met die mense” – ’n aanduiding van die Brexit-party se beleid. Foto: PA/Dominic Lipinski

Die Brexit-party sê hy mik vir niks minder as ’n “politieke revolusie” nie. Hy wil onder meer die kiesstelsel hervorm sodat dit meer proporsioneel is. Dit het te doen met die feit dat Brittanje se kiesstelsel histories kleiner partye uitgesluit het. Een duidelike voorbeeld is die algemene verkiesing in 2015 toe Ukip 12,6% van die nasionale stem op hom verenig het, maar slegs een setel in die parlement gekry het. Farage wil só iets nie weer sien gebeur nie. Hy en sy party wil ook die Britse hoërhuis afskaf, en dit met ’n “kleiner, demokratiese tweede kamer” vervang. Maar dít kan ’n potensiële magswanbalans in die laerhuis veroorsaak.

Burgers van die land moet ook in staat wees om te vra vir referendums.

Nog ’n doelwit is om die hoogste hof te Amerikaniseer, met die parlement wat ’n groter rol in die aanstelling van regters speel. Dit word beskou as noodsaaklik ná die hof se beslissing in 2017 dat die parlement moet kan stem oor of Artikel 50 in werking moet tree om die Brexit-proses te begin. Dit alles dra by tot die Brexit-party se populistiese retoriek oor die “elite” wat teen die wil van die “gewone mense” is.

Burgers van die land moet ook in staat wees om te vra vir referendums, meen die party, indien 5 miljoen mense registreer is om ten gunste van so ’n referendum te stem. Interessant genoeg is hierdie gedagte van die Europese Unie afkomstig. Onthou ook dat 6 miljoen mense die versoekskrif onderteken het om Artikel 50 te herroep – hoewel dit onduidelik is hoeveel van hulle wettige kiesers was.

Wie is die teikengehoor?

Hierdie foto het nou al ikonies geword in die uitbeelding van Brittanje se stryd oor of hy moet bly of gly uit die Europese Unie. Foto:www.marketwatch.com

Die Brexit-party se teikengehoor is meestal kiesers in die “Brexit-hartland” van die noorde, die Midlands (die sentrale deel van Engeland) en Wallis. Dit blyk duidelik uit verskeie beloftes aan die polities ontgogelde werkersklas en laer-middelklas kiesers.

Terwyl die Liberale Demokrate ’n “aanbly-bonus” (Remain bonus) belowe indien Brittanje in die EU bly, smous die Brexit-party met die presiese teenoorgestelde – ’n “Brexit-dividend” van £200 miljard. Dit sal gefinansier word deur 50% van die VK se begroting vir hulp aan die buiteland te sny, die HS2-hoëspoed-spoorwegprojek te skrap en £13 miljard per jaar aan betalings aan die EU te spaar.

Miljarde ponde sal gekanaliseer word na “streek-regenerasie” en BTW sal verwyder word vir binnelandse brandstof om die energie-rekening te verlaag. Dit is duidelik ’n aanslag op die stemme vir die Arbeidersparty. Vir gemeenskappe langs die kus sal daar ’n £2,5 miljard-belegging wees om werkskepping en toerisme weer ’n hupstoot te gee.

Dit lyk ook asof hulle gedeeltelik die Arbeiders se beleid vir gratis breëband aan die publiek aangeneem het. Die party belowe hy sal “gratis grondvlak- binnelandse breëband in ontneemde gebiede en gratis WiFi op alle openbare vervoer” aanbied.

Die Brexit-party weet hulle staan nie ’n realistiese kans om die volgende regering te word nie, so hierdie beloftes dien ’n ander doel.

Kleiner ondernemings word ook ondersteun deur ’n zero-koers-maatskappybelasting vir die eerste £10 000 wins voor belasting. Maar die Brexit-party beoog net om ’n “veiligheidsnet” van basiese staatshulp aan te bied, in plaas van die grootskaalse herverdeling van rykdom wat die Arbeiders voorstaan. Intussen kan ’n belofte om boedelbelasting af te skaf (ook bekend as “verdriet-belasting” of grief tax) gesien word as ’n poging om ouer kiesers te lok.

Die Brexit-party stel ook ’n paar progressiewe beleidsrigtings voor – soos om studente van rente op studielenings vry te stel en om miljoene bome te plant. Die party wil rommel in die VK herwin en dit onwettig maak om rommel na ander lande uit te voer “om verbrand, begrawe of in die see gestort te word”.

Die Brexit-party weet hulle staan nie ’n realistiese kans om die volgende regering te word nie, so hierdie beloftes dien ’n ander doel. Die primêre doel is om te baklei vir Brexit deur so baie stemme as moontlik op hom te verenig en deur te bewys dat die mense van Brittanje steeds die EU wil verlaat.

Al die ander populistiese tierlantyntjies is daarop gemik om so veel mense as moontlik vir die saak te wen – veral kiesers van die Arbeidersparty. Dit sal die Brexit-party in staat stel om steeds in die oor te kan fluister van die party wat die verkiesing wen.

*Tindall is ’n doktorale navorser in die politiek aan die Universiteit van Nottingham. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.