Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Britte draai teen Boris oor Cummings

Daar is tye wanneer politici met skandale kan wegkom. Maar ons leef nie nou in sulke tye nie, skryf Matthew Cole.

Dominic Cummings verlaat verlede Vrydag sy huis in Londen. Foto: Reuters

Hoewel ons in ongekende tye leef, is daar nie veel onder die son wat nuut is nie.

En uit die geskiedenis weet ons dat al wil die Britse premier Boris Johnson ná die Dominic Cummings-affêre aanbeweeg, gaan dit dalk nog ’n lang skaduwee werp.

Ná verskeie goeie weke van sterk openbare steun aan die regering het dit in duie gestort. Die premier se gewildheid het ’n groot knou gekry en die Konserwatiewe Party se voorsprong bo die Arbeidersparty wat steun betref, is byna daarmee heen.

Skaars die helfte van die publiek het nou vertroue in die regering se hantering van die koronavirus-pandemie.

Al dié dinge kan as simptome van die onbekende openbare gesondheidskrisis en die gepaardgaande uitdagings beskou word. Die patroon van gebeure is egter alte bekend.

Die kern van dié verhaal is bewerings dat Johnson se hoofraadgewer, Cummings, die inperkingsregulasies oortree het deur van Londen na Durham te ry en ook die mooi dorpie Barnard Castle aan te doen.

’n Grapmaker het Dominic Cummings se besoek aan Barnard Castle op dié klip verewig. Foto: Reuters

Maar belangriker nog is sy weiering om berou daaroor te hê of om vir sy optrede verskoning te vra – en sy werkgewer se weiering om hom te dwing om dit te doen.

En soos wat skandale in die verlede al gewys het, kan skynheiligheid jou ondergang beteken, veral in tye van krisis.

Cummings se gebrek aan berou het nie net die kwantiteit nie, maar ook die kwaliteit van die reaksies daarop verander.

Kiesers sê nie alleen in meningspeilings dat hulle nie meer van die premier hou nie, maar duisende skryf ook intense en emosionele briewe aan die Konserwatiewe Party se parlementslede. En hulle skep ’n stortvloed van honende memes en betoog buite Cummings se huis.

Ons het daai een al gehoor

Dié plakkaat in Glasgow som mense se gevoel oor die Dominic Cummings-affêre op. Foto: Getty Images

Elke moderne politieke skandaal het sy eie boewe en simbole wat lank onthou word – van ’n minister se nagklere tot ornamentele eendhuise.

En elkeen het ’n bekende formule.

Beskuldigings van onbehoorlike gedrag word teen ’n lid van die regering gemaak, wat dit ontken of verdoesel.

As dit blyk dat die beskuldigings ten minste gedeeltelik waar is, ontken die vermeende oortreder die belangrikheid daarvan en skryf die kritiek toe aan ’n sameswering van politieke teenstanders.

’n Vyandige publiek onttrek sy goedkeuring meer permanent en beskou die oortreder of oortreders as deel van ’n insulêre selfdienende elite.

Dit is duidelik wat dié betoger van Dominic Cummings dink. Foto: Reuters

Politici in die kollig het twee alternatiewe: Veg of vlug. Minister van die Konserwatiewe Party soos John Profumo, Jonathan Aitken en Andrew Mitchell het verkies om te veg – en verloor. Die voormalige premier John Major het sy belofte verbreek om deel van die European Exchange Rate Mechanism te bly en hoewel hy sy minister van finansies vir die wolwe gegooi het in ’n poging om homself te vrywaar, het sy party later onder hom die minste steun sedert 1832 geniet.

Tony Blair het aangehou baklei oor Irak en die volgende drie jaar vir sy politieke oorlewing geveg – en verloor.

Meer onlangs het parlementslede wat daarvan beskuldig is dat hulle parlementêre toelaes misbruik het, probeer om teen die aantygings te baklei. Min van hulle het in die volgende verkiesing weer vir hul setels geveg. Dié wat het, het meestal verloor.

Dié wat gevlug het, het nie veel beter gevaar nie. Van die veelbesproke apologie deur die destydse adjunkpremier Nick Clegg, wat sy belofte verbreek het en die universiteitsgelde verhoog het, is ’n trefferliedjie gemaak – en sy party is in die volgende verkiesing verpletter.

Konteks en skynheiligheid

Dominic Cummings probeer aan die media verduidelik dat hy nie iets verkeerd gedoen het nie. Foto: AP

Johnson behoort bekommerd te wees oor die breër konteks waarin die Cummings-herrie ontvou.

Die geskiedenis wys ons dat dit saakmaak hoe goed die publiek dink dit met hom gaan as ’n skandaal die voorblaaie haal.

Te midde van ekonomiese groei en toenemende besteding deur Jan Publiek, het verskeie ministers se ontrouheid en die een miljoen pond wat die Arbeidersparty by Bernie Ecclestone, die Formule 1-hoof, gekry het – terwyl hulle besig was om ’n beleid in sy guns te verander – nie veel van ’n duik in die eerste Blair-regering se reputasie geslaan nie.

Die adjunkpremier kon dit selfs bekostig om in ’n openbare relletjie met ’n kieser betrokke te raak sonder dat dit die Arbeiders se gewildheid benadeel het.

In ’n openbare gesondheidskrisis wat lyk of dit jare se ekonomiese onstuimigheid gaan veroorsaak, het Johnson net nie soveel beweegruimte nie.

Maar die beslissende faktor in hierdie episodes is die persepsie van skynheiligheid. Skandale het in die verlede gewys dat foute in die oë van die Britse publiek baie meer strafbaar is as wanneer die oortreder vir hulle preek.

Dominic Cummings het ook ondersteuners wat hul stem in die openbaar laat hoor. Foto: Getty Images

Laakbare skandale het onder die Major-regering ontvou in die naweë van sy veldtog wat ’n terugkeer tot tradisionele maatskaplike waardes gevra het.

Die huidige premier met sy kleurryke persoonlike verlede het nooit vir mense gepreek terwyl hy nie ’n openbare amp beklee het nie. Maar hy is nou skuldig omdat hy ’n regering lei wat mense aanspoor om hul “burgerlike plig” te doen.

Cummings se oortreding teen die tradisionele Britse “fair play” is die doodskoot in die huidige omstredenheid.

Dit laat weer die passie herleef wat hoogty gevier het tydens die toelae-skandaal toe die publiek gemeen het dat “hulle net geen begrip het nie” met die politieke klas wat oor media-histerie gekla en geweier het om enigsins nederig te wees.

’n Media-skrum buite Dominic Cummings se huis in Londen. Hy kry deesdae polisie-beskerming. Foto: Getty Images

Johnson het daarop aangedring dat die bewerings teen Cummings “meestal vals” is en dat probeer word om “politieke munt” daaruit te slaan.

Daar is tye wanneer leiers met sulke dinge kan wegkom. Maar ons leef nie nou in sulke tye nie.

Wat ook al gebeur, dié affêre gaan Johnson nog duur te staan kom.

* Cole is ’n navorsingsgenoot aan die departement van geskiedenis van die Universiteit van Birmingham. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Tony Blair  |  Brittanje  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.