Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Broeders van die Bos verbreek stilswye
Alexander Strachan, skrywer van 1 Recce: Die nag behoort aan ons.

“Ek onthou magiese plekke soos Fort Doppies waar die atmosfeer en uitsig oor die Kwando-rivier idillies was. Daar was baie reise na ver en onbekende plekke, groot vyandige aktiwiteit, vrees, sweet wat in jou oë inbrand, honger, dors en geweldig baie adrenalien wat jou dikwels lighoofdig gelaat het.”

So vertel Alexander Strachan, skrywer van 1 Recce: Die nag behoort aan ons, die geskiedenis van die moedereenheid van hierdie bykans mitiese spesialemagte-eenheid van die weermag.

Operateurs het ook stedelike hindernisoorsteking ingeoefen. Foto: Verskaf

Hy was van 1977 tot 1984 ’n lid van 2 Recce. Omdat 1 Recce die moedereenheid was, het alles daar begin. Voornemende lede het by 1 Recce op Durban Bluff aangemeld vir voorkeuring en keuring en ook verdere opleiding.

Hy het vandag nog kontak met die instrukteurs Hennie Blaauw en Flip Marx wat sy keuring behartig het.

Strachan sê die eerste ding wat vir hom uitstaan, is die hegte vriendskappe wat hy in sy tyd in die eenheid gesmee het. Die Recce’s vorm ’n baie hegte broederskap en dié kring kan nie deur buitestanders binnegedring word nie.

“Iemand het voorheen genoem dat na afloop van sy tyd in die Recce’s die res van sy lewe maar redelik saai was. Daar was inderdaad groot opwinding, maar natuurlik ook groot swaarkry wat die onderlinge band tussen die Recce’s net sterker gemaak het.”

Strachan, wat in Harrismith woon, is die skrywer van waarskynlik die eerste stuk fiksie oor die Recces, die kortverhaalbundel ’n Wêreld sonder grense wat in die vroeë jare tagtig verskyn het.

“'n Wêreld sonder grense is so half in die geheim geskryf omdat alles (die inligting en politieke klimaat) in daardie stadium nog uiters sensitief was. Derhalwe het ek die boek in fiksievorm aangebied. My benadering in die huidige boek (1 Recce) is meer in die ope hoewel ek steeds die spanningslyn van weleer in veral die hoofstukke oor die vuurgevegte behou,” vertel hy.

“Ek het probeer om die leser as het ware in die vliegtuig saam te neem, die valskermsprong saam met die operateur uit te voer en die gevoel te kry dat hy aan die ontplooiing op die grond deelneem.”

“Sodoende het ek gereken kry die leser ’n baie naby ervaring van hoe dit was om aan ’n geheime militêre operasie deel te neem.”

Strachan sê fiksie en niefiksie verskil in die opsig dat jou feite by laasgenoemde 100% akkuraat moet wees. Nou, 35 jaar later, praat mense meer openlik oor onderwerpe wat destyds heeltemal geslote was.

“Ek kry die gevoel dat die eertydse soldate uiteindelik voel dat die tyd aangebreek het om die stilswye te verbreek en “oop te maak” sodat hierdie stuk geskiedenis vir die nageslag behoue kan bly.”

Twee voormalige bevelvoerders van 1 Recce, Jakes Swart en Andre Bestbier, en Frans van Dyk, ’n gewese senior lid, het ? vergadering met hom in Centurion belê. Hulle het genoem dat hoewel daar reeds publikasies oor 4 Recce en 5 Recce verskyn het, daar nog nooit ’n boek oor die moedereenheid, 1 Recce, geskryf is nie.

Operateurs het op die kleintaktiekkursus onder meer geleer hoe om voertuigmyne te plant. Foto: Verskaf

“Sonder enige omhaal het hulle my toe ingelig dat hulle my gekies het om die geskiedenis van 1 Recce te skryf. Hulle sou nooit ’n buitestander – iemand wat nie deel van spesialemagte was nie – vir die skryftaak oorweeg het nie,” vertel hy.

“My bewese skrywersrekord het sterk in my guns getel. Hierna is die kort en kragtige vergadering verdaag. Ek is wel verseker dat ek hul volmag het asook hulle ondersteuning vir die reël van onderhoude met voormalige operateurs en ander lede van die eenheid. Ek het die vryheid gehad om die inhoud van die boek te bepaal en te bepaal wat hulle wel later sou wou sien. Dit het vir my baie gewig gedra dat die besluitneming vir hierdie skryfprojek op generaalvlak geneem is.”

Dit het hom 24 maande geneem om die boek te voltooi. Die laaste paar maande het hy 16 uur per dag gewerk. Gewoonlik van 05:00 tot 13:00 en weer van 14:00 tot 22:00. Met die hulp van Frans van Dyk het hy met meer as 50 Recce-operateurs onderhoude gevoer. Die materiaal is deeglik geverifieer en sy uitgangspunt was om inligting te bekom by mense wat persoonlik in die kontak (vuurgeveg) was.

Daar is nooit op hoorsê staatgemaak nie en hy het persoonlike onderhoude met die “manne op die grond” hoër geag as operasionele verslae, wat hy gou agtergekom het dikwels foute in gehad het.

Strachan sê hy is nie spyt dat hy ’n Recce was nie. Die Recce’s het buitendien ook nie ophou bestaan na onafhanklikwording in 1994 nie.

“Ek woon van tyd tot tyd steeds die (huidige) Recces se dienste en parades by. Die Recce’s dien die regering van die dag en ek het van my uitstaande medaljes en kentekens interessant genoeg onder die nuwe bedeling ontvang. Daar vind heelwat skakeling tussen die gewese en huidige Recce’s plaas.”

Kursusgangers in ’n grasskuiling tydens hul boskuns- en spoorsnykursus. Foto: Verskaf

Die enigma rondom die Recce’s reken hy is omdat hulle hul deurgaans so eenkant van die res van die weermag gehou het.

“Net in voorkoms alleen het hulle anders gelyk: Die baarde, vreemde geweersakke om die AK47’s te versteek en heelwat langer hare as soldate van ander eenhede. Met verskuiwing na bestemmings (teikens) het hulle binne hulle eie strukture beweeg en nie met ander soldate in lughawegeboue gemeng nie.”

Kandidate van buite wat die keuring aangepak het en nie kon slaag nie, het verslag gedoen aan hulle tuis-eenhede en so het die bomenslik taai keuring van die Recces rugbaar geword.

“Op hierdie manier het dit bekend geraak dat dit bykans onmoontlik was om deel van die elite-eenheid te word. Die enigma rondom die Recce’s is verder versterk deurdat hulle tydens middernagtelike ure deur die lugmag met valskerms uit vliegtuie neergelaat is diep agter vyandelike linies en aan hul eie oorgelaat is sonder enige ondersteuning.”

Van die lekker stories in die boek was sekerlik die een van Teddie, die leeu (later Terrie genoem). Die uiteinde van hierdie beroemde leeu (troeteldier en vriend van die Recce’s in Fort Doppies in die Caprivi) was net aan een persoon bekend, naamlik die bobaasveldkenner en spoorsnyer Dewald de Beer. Dit is aan die hand van Dewald se vertellings wat hy die volledige prentjie van Teddy skets en die leemtes invul waaroor almal nog al die jare bespiegel en raai.

Opleiding in stedelike oorlogvoering waar die teiken op motorfietse genader word. Een operateur val die teiken aan terwyl sy makker die motorfiets aan die gang hou. Foto: Verskaf

Op dalk ’n minder aangename vlak was dit vir hom om Operasie Kropduif, waar die Recces so baie manne verloor het, op ’n byna rolprentagtige wyse te vertel.

“Ek het dit gedoen by monde van operateurs wat persoonlik aan die finale nadering van die vyandelike basis deelgeneem het. Dit het oor ’n oopte geskied en die vyand wat in loopgrawe ingegrawe was, het eers op 40 m op die Recce’s vuur geopen en hulle neergevel. Nietemin het die Recce’s opgestaan en die vuurgeveg gewen te spyte van al die verliese wat hulle opgedoen het.”

Strachan sê hy het nie die fliek The Recce gekyk nie. Hy weet glad nie wie die vervaardigers is nie en hulle het hom ook nooit genader om mee te werk daaraan nie.

“Om te verhoed dat die naam “recce” gekaap word, is dit nou as ’n volwaardige handelsnaam geregistreer,” sê hy.

Opleiding van Unita-guerrillas in Angola. Foto: Verskaf
Operateurs in ’n Unita-basis in Angola. Links staan Douw Steyn en regs sit Burt Sachse. Foto: Verskaf
Leierseienskappe is getoets deur groepe apparate soos die ysterkruis (spoorstawe) te gee om te dra. Foto: Verskaf
Ook die afvoer van verliese is by die keuringskursus ingesluit. Foto: Verskaf
Teddy by Willie Snyders (agter) en Charl Naudé. Foto: Verskaf
Hannes Venter en Charl Naudé ná die voltooiing van hul keuringskursus. Foto: Verskaf
UITTREKSEL UIT BOEK : ‘Alle hel bars uit die loopgrawe los . . .’

Alexander Strachan

Net soos by Shatotwa was die bos besonder stil, dit het amper onnatuurlik gevoel met geen voël- of diergeluid hoorbaar nie. Die aanvalsmag se lyn was perfek. Hulle het al hoe nader en nader gestap en deur die bome kon van die manne die vyandelike loopgrawe sien, vol gewapende Swapo’s. 

Hulle was diep ingegrawe, net hul koppe het uitgesteek en hul wapens was direk op die aankomende Recces gerig.

Vandag is ons almal dood, het Frans van Dyk gedink. Swapo het steeds nie begin skiet nie. Het hulle dalk getwyfel wie hierdie mag met die swartgesmeerde gesigte, Swapo-uniforms en AK47’s was?

Die Recces het in doodse stilte al hoe nader aan die loopgrawe gestap en op 40 m begin wonder hoekom Swapo nie skiet nie.

Die volgende oomblik klink dit kompleet asof iemand ’n groot stuk materiaal middeldeur skeur! Alle hel bars uit die loopgrawe los toe Swapo begin skiet. Die Recces gaan instinktief af grond toe en skiet terug.

Die vuur is so hewig dat die bietjie blare wat nog aan die bome oor was, op die Recces se rûe neerreën en dik boomtakke bokant hulle afgeskiet word. Die Swapo-vuur is veral gekonsentreer op die Recces se linkerflank waar Dawid en Corrie se spanne ontplooi is. 

Op die regterflank trek 5 Recce se spanne ook vuur, maar nie so hewig as aan 1 Recce se kant nie. Vir Louis Klopper is dit ’n eerste, hy was nog nie voorheen in so ’n hewige vuurgeveg nie.

Uit ’n bunker vuur ’n ontsagwekkende Russiese ZPU 14,5 mm-lugafweerkanon onophoudelik – Swapo het die loop grond toe geswaai en pen hulle met die dodelike vuur vas. Mortierbomme bars oral tussen hulle en ’n koeëlreën uit masjiengewere en AK47’s dreun onafgebroke om hul koppe. In die verstikkende stof, grond, blare en sand is Louis oortuig dat niemand vandag hier lewend gaan uitkom nie. Die eerste twee, drie minute is die lawaai so oorverdowend dat hy nie eens die bevele kan hoor nie.

Agter hom lê die ligstrepe van honderde ligspoorkoeëls en hy sien hoe klein boompies en takke deur die vyandelike koeëls afgeskiet word.

Vir Klein-Jakes Jacobs voel dit asof die tyd en alles om hom heeltemal stilstaan. Dis ook sy eerste operasie en die oorverdowende bombardement en rook skep ’n amper bonatuurlike atmosfeer.

Skaars ’n minuut of twee ná die openingsvuur word hy deur mortierskrapnel getref. Hy het oomblikke tevore ’n effense holte in die sand voor hom gesien en soontoe beweeg om daarvandaan te skiet. Net voordat hy dit bereik, ontplof ’n mortierbom reg in die holte. Klein-Jakes word in die skouer getref, maar kruip voort tot in die holte waar hy die bom se stertvin, wat bokant die grond uitgesteek het, uitpluk en wegslinger. 

Later kon hy nie sê of dit uit woede of skok was nie.

As dit nie vir die sagte sand was nie, sou meer manne in die ontploffing gewond gewees het of selfs gesterf het. Sers. Jack Greeff, wat naby hom was, snel hom te hulp en verbind die wond. Vir Klein-Jakes was die geveg by Eheke verby. 

In die wasigheid kon hy nie veel meer registreer van wat rondom hom gebeur nie. 

  • 1 Recce: Die nag behoort aan ons word deur Tafelberg uitgegee en kos R260. 
1 Recce

Meer oor:  Fliek  |  Boek  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.