Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Bruin mense en die stryd vir Afrikaans

’n Lang en bitter geskiedenis van verwydering tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes sal nie maklik uit die weg geruim word nie, skryf Gabriël J. Bothma in dié uittreksel uit sy boek: Polemieke: Bekgevegte in Afrikaans.

In die postapartheidera is pogings uit wit Afrikanergeledere aangewend om bruin Afrikaanssprekendes by die Afrikaanse taalstryd te betrek.

Nasionale Pers (nou Naspers), wat koerante soos Rapport en Die Burger gepubliseer het, het naamlik die leiding geneem deur die Stigting vir Afrikaans te begin (dit is later hernoem tot die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans).

Naspers-bestuurders soos Ton Vosloo en Koos Bekker het herhaaldelik die punt beklemtoon dat Afrikaans se “wit en bruin broers en susters” hande moet vat ter wille van die taal. Ook in hierdie tyd is die moontlike toegang van bruin Afrikaanse studente tot voormalige wit Afrikaanse universiteite as rede aangevoer waarom die voertaal nie na die de facto lingua franca, Engels, moet verander nie.

Naspers het aan die ander kant ook steeds ’n tydskrif gemik op bruin lesers, Kuier, uitgegee, terwyl sommige programme op sy betaaltelevisieplatform kykNET in mindere of meerdere mate op bruin kykers gemik was (soos byvoorbeeld die sepie Suidooster en die dramareeks Sara se geheim).

Die term ‘Afrikaanses’ is juis geskep om die sogenaamde ‘bruin Afrikaners’ te akkommodeer, maar hulle is skynbaar net so rassisties soos die swartes, en die blanke-haat is maar oral merkbaar.
Die Afrikaner

In Rapport se joernaalbylaag, Weekliks, is kritiese bydraes in die gees van “Piet Uithalder” deur ’n gerekende bruin digter, Nathan Trantraal, in Kaapse Afrikaans gepubliseer. Dit herinner aan ’n soortgelyke versoeningsprojek op Die Burger se kunsblad in die 1990’s deur die Kaapse digter Peter Snyders. Die Burger was ook steeds betrokke by die Suidoosterfees, ’n Kaapstadse kunstefees wat die klem doelbewus op bruin Afrikaanse betrokkenheid geplaas het.

Van die ander groot nasionale kunstefeeste, soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn, en die Aardklopfees op Potchefstroom, het ná meer as twee postapartheiddekades min noemenswaardige bruin ondersteuning gehad. Oorsigtelik is dit duidelik dat ’n lang en bitter geskiedenis van verwydering tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes nie maklik uit die weg geruim sal word nie.

Voorts het daar nie by alle Afrikaners ’n beduidende houdingsverandering ingetree nie. Die Afrikaner het hom in 2007 as volg uitgelaat oor die moontlikheid dat “kleurlinge” bondgenote in die taalstryd kan wees:

“Die term ‘Afrikaanses’ is juis geskep om die sogenaamde ‘bruin Afrikaners’ te akkommodeer, maar hulle is skynbaar net so rassisties soos die swartes, en die blanke-haat is maar oral merkbaar. Selfs by daardie ‘bondgenote’.”

Vroeër het Die Afrikaner die leier van die Vryheidsfront, dr. Pieter Mulder, aangeval omdat hy gesê het dat hy bruin mense as Afrikaners beskou en dat hulle welkom in sy party is.

Vir jeug kleef stigma van apartheid aan Afrikaans

Dit dui aan die een kant op die (meestal vrugtelose) pogings van Afrikaners om ná die einde van apartheid na bruin mense uit te reik, en terselfdertyd ook hoe verdeeld die Afrikaners onder mekaar is. Onder bruin mense self is daar egter ook ernstige meningsverskille oor die gebruik van die terme “kleurling”, “bruin” en “swart”.

Dit wil lyk of die versoening tussen wit en bruin, as en wanneer dit uiteindelik gebeur, moontlik nie in Afrikaans gaan plaasvind nie.

In 2008 het die spanbestuurder van die Suid-Afrikaanse krieketspan op ’n mediakonferensie beswaar gemaak dat die Britse media na bruin lede van die span as “Cape Coloureds” verwys het. Sy argument was dat die term “kleurlinge” deur die “argitekte van apartheid” geskep is. Tog is daar gesiene bruin intellektuele wat die term “kleurling” verkies, soos onder andere die skrywer Mohamed Adhikari, wat die geskiedenis van bruin mense deeglik nagevors en opgeteken het, en prof. Richard van der Ross, voormalige rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland.

Teen 2017 is die kwessie van toenadering tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes moontlik na die agtergrond gedruk deur die toenemende verengelsing van die openbare lewe.

Onder die bruin jeug, veral dié in die groeiende middelklas wat toegang tot hoër onderwys het, kleef die stigma van apartheid sterk aan Afrikaans, terwyl wittes se tweetaligheid hulle vatbaar maak vir argumente dat Engels die lingua franca moet wees.

Dit wil lyk of die versoening tussen wit en bruin, as en wanneer dit uiteindelik gebeur, moontlik nie in Afrikaans gaan plaasvind nie.

* Polemieke: Bekgevegte in Afrikaans word uitgegee deur Zebra Press en kos R240.

Meer oor:  Afrikaans  |  Naspers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.