Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Amerikaanse safari:
Buitelandse druk is besig om te werk

Internasionale meningsvormers moet oortuig word dat dit nodig is om die Suid-Afrikaanse regering te waarsku oor die gevare van die ontkenning van eiendomsreg, skryf Kallie Kriel. 

Waldimar Pelser skryf verlede week in sy rubriek “Moet VSA tapyt vir Kriel en kie uitrol?” dat Suid-Afrika nie “noodwendig” op ’n rampspoedige scenario van die vernietiging van eiendomsreg afstuur nie.

Die dalk-gaan-dit-gebeur-dalk-nie-situasie waarop Pelser sinspeel laat die vraag ontstaan wat diegene wat ten gunste van die beskerming van eiendomsreg is dan nou te doen staan.

Moet ons bloot staan en toekyk wat gebeur en vir die beste hoop, selfs al het die ANC einde verlede jaar onteiening sonder vergoeding amptelik as partybeleid aanvaar en pres. Cyril Ramaphosa herhaaldelik in die openbaar gesê dat sy regering beplan om eiendom te vat sonder om daarvoor te betaal? Of moet ons nou reeds alles moontlik doen om te help verhoed dat eiendomsreg geskend word? AfriForum kies onomwonde die laasgenoemde opsie.

’n Verdere vraag ontstaan dan: Wat moet AfriForum doen om die ANC sover te kry om van sy rampspoedige nuwe beleid oor eiendom af te sien? Die antwoord lê daarin dat die voorstanders van eiendomsreg hulself van die ANC se denkraamwerk en strategie moet vergewis en ’n teenstrategie daarvolgens moet ontwikkel.

’n Belangrike les in hierdie verband kan uit die geskiedenis geleer word. In die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog het baie Britse politici gedink hulle kon Hitler met voortdurende toegewings tevrede stel. Winston Churchill was die uitsondering, bloot omdat hy die planne gelees het wat Hitler geskryf het en omdat hy geglo het wat hy lees. Dit sal dus kritici van AfriForum se internasionale strategie baat om die ANC se beleidsdokumente te lees en te glo wat daarin staan. Dit is nie geheime dokumente nie – dit is op die ANC se webwerf vir almal om te sien.

Die ANC skryf ondubbelsinnig in sy strategie-en-taktiekbeleidsdokumente dat die party die magsewewig (balance of forces) suksesvol in sy guns geswaai het met die doel om die “tweede fase van die Nasionaal-Demokratiese Revolusie” vinniger te implementeer. Kragtens die ANC se magsewewig-strategie gaan dié party nie van sy beleidsrigtings afsien bloot op grond van ander se goeie argumente nie, maar sal wel soms terugstaan as die magsewewig nie in sy guns is nie. 

Druk, veral internasionale druk, is dus noodsaaklik sodat die ANC weet dit gaan nie sonder enige slag of stoot met die miskenning van eiendomsreg en die ignorering van plaasmoorde wegkom nie.

Dit sal ook die dood in die pot wees as net die EFF van die een kant af druk op die ANC toepas en daar nie as teenwig ook sterk sigbare druk vir die behoud van eiendomsreg vanuit die ander kant van die politieke spektrum op die ANC geplaas word nie. 

Sonder druk deur voorstanders van die vrye mark sal die ANC net vinniger saam met die EFF op hul linkse glybaan na ekonomiese vernietiging voortbeweeg.

Benewens internasionale steunwerwing gaan AfriForum natuurlik ook argumente teen onteiening sonder vergoeding ter tafel lê op die sittings van die parlementêre komitee wat die wysiging van die Grondwet ondersoek. As dié argumente egter nie deur een of ander vorm van druk gerugsteun word nie, beteken dit – in die lig van die ANC se balance of forces-benadering – dat daar gebedel eerder as beding word.

Plaaslike drukmeganismes wat AfriForum kan gebruik om eiendomsreg te beskerm, is egter beperk nadat die konstitusionele hof sy kaarte in Agri SA se mineraalregtesaak duidelik gewys het. In dié saak het transformasie eiendomsreg getroef. Boonop sal die howe se hande in elk geval grootliks afgekap word as die Grondwet gewysig word om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik.

Internasionale druk bly dus ál uitweg. Uiteraard is AfriForum se internasionale veldtog nie daarop gemik om die buiteland te oortuig om te disinfvesteer nie, maar eerder om buitelandse beleggers, politici en meningsvormers te oortuig om die Suid-Afrikaanseregering te waarsku dat die miskenning van eiendomsreg buitelandse beleggings in gedrang sal bring, wat groot skade aan die ekonomie sal aanrig.

Die feit dat Ramaphosa reeds die afgelope week in die parlement na AfriForum se VSA-besoek verwys het, asook die byna histeriese reaksie op AfriForum se optrede wat ontvang is van ’n klompie linkse aktiviste in die Suid-Afrikaanse media en akademie, is ’n aanduiding dat AfriForum se besoek aan die VSA reeds suksesvol was om druk te genereer. 

Die feit dat AfriForum daarin kon slaag om die Suid-Afrikaanse regering se onteieningsplanne en plaasmoorde met verskeie politici, gerespekteerde dinkskrums, befondsersfinansiers en ander meningsvormers in die VSA te bespreek, was ’n reuse-deurbraak; só ook die onderhoud wat AfriForum tydensin spitstyd met Fox News, die VSA se grootste nuuskanaal, oor hierdie brandpunte kon voer.

Die internasionale veldtog wat AfriForum voer, strek heelwat wyer as die VSA. Sedert ’n gesiene Australiese joernalis op besoek aan Suid-Afrika deur AfriForum geneem is om eerstehandse onderhoude met plaasaanvalslagoffers te voer, het letterlik tientalle berigte oor plaasmoorde en die ANC-regering se voorgenome miskenning van eiendomsreg in die Australiese hoofstroommedia verskyn. 

Prominente politici in Australië het kennis geneem en sterk standpunt daarteen ingeneem. 

Daarna het oud-Suid-Afrikaners ’n belangrike rol gespeel om dié saak verder te voer deur twee suksesvolle optogte teen plaasmoorde te reël.

Soos mens kan verwag, het AfriForum se internasionale veldtog kritiek uit regeringskringe ontlok. 

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het ten spyte van die feite – wat daar is vir almal om te sien – ontken dat plaasmoorde ’n probleem is. 

Sy het AfriForum daarvan beskuldig dat die organisasie “vals” inligting aan die internasionale gemeenskap versprei, sonder om AfriForum se boodskap op enige wyse te weerlê.

Sisulu se oordrewe reaksie is nog ’n goeie aanduiding daarvan dat internasionale druk besig is om vrugte af te werp. Dit opsigself dien as genoeg motivering vir AfriForum om sy internasionale veldtog onverpoosd voort te sit, met Europa volgende op dié organisasie se lys.

  • Kallie Kriel is die uitvoerende hoof van AfriForum.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.