Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Callie Roos: Het die kerk irrelevant geraak?

Die kerk beleef vandag ’n krisis en hou gelowiges gevange in dogma en ’n behoefte aan beheer. Dit is slegs deur ’n lewe in Christus dat ons werklik God se krag in ons kan beleef, skryf die geestelike leier en oudsoldaat Callie Roos.

Callie Roos

In my ouerhuis was daar vaste gegewens: Eerstens skree ons altyd vir Noord-Transvaal in die rugby en ek sou op Tukkies gaan studeer. Dit was vooruitbepaal en seker soos die uitverkiesing. Dit is hoe ek toe ná my twee dienspligjare van 1974 tot 1975 op Tukkies beland.

Hoe vreemd dit ook al mag klink, ek het nooit ’n prominente rolmodel gehad tydens my sewe jaar as teologiestudent nie. Dit is ’n plek vir slim mense, het ek altyd gedink. Ek was blootgestel aan van die skerpste akademici, maar ek het tog soms gewonder waarmee ons eintlik besig is.

My gevoel was dat die meeste van die dinge wat ons moes leer, totaal irrelevant was vir ’n lewe van eenvoud in Christenskap. Ek het baie gewonder waar dit my as gewone teologiestudent, wat die sin van die lewe probeer verstaan, gaan laat.

Ons klasse was groot en die paar van ons wat toe nog ongetroud was, het die agterste banke vol gesit. Ek het ook twee jaar in die studenteraad gedien en was betrokke by sowel die koshuis- as die algemene universiteitslewe. Dit het daartoe bygedra dat die agterste banke vir my soveel aanlokliker was!

Ek vermoed die meeste van diegene wat heel voor in die klas gesit het, is vandag ook nie meer in die bediening nie. Hulle is óf kwaad vir die kerk, óf net weg.

Die dogmatiekklasse het ek wel baie waardeer omdat die dosent iets van die relevansie van lewe en die keuses waarmee ons gekonfronteer word, help oopbreek het. My ervaring van die ander vakke was dat dit losstaande fragmente van kennis was wat net nooit bymekaar uitgekom het nie en nie noodwendig relevant was vir die alledaagse lewe nie. Die dogmatiekklas was anders omdat dit vir my die raamwerk vir die menslike bestaan in ’n mate help definieer het.

In my aanvanklike BA-jare het ek die vak filosofie ook vreeslik geniet. Dit is waarskynlik omdat die filosofie deurlopend vra na die fundamentele rede vir die mens se bestaan en wat sin gee aan die lewe.

Daarteenoor het baie van my teologievakke – en die spesifieke manier waarop dit aangebied is – vir my amper geen sin gemaak nie. Dit was te formeel, te gefragmenteerd en gewoon te vervelig. Selde het ek enige gevoel van holisme, integrasie of relevansie gehad. Die groter begrip van die lewe en van die menslike bestaan was nie altyd daar nie.

Wat opvallend is, is hoeveel dosente en studente later op die een of ander manier die spoor byster geraak het, of net weggeraak het vir die evangelie. Ek vermoed die meeste van diegene wat heel voor in die klas gesit het, is vandag ook nie meer in die bediening nie. Hulle is óf kwaad vir die kerk, óf net weg.

Dogma, reëls en prosedures

In die eerste gemeente waar ek ná my universiteitsopleiding betrokke geraak het, het ek baie vinnig geleer oor die kerk as organisasie en oor al sy strukture. Dit het my nogal besig gehou om net eers uit te pluis hoe dinge werk.

Ek het besef dat die kerk enersyds deur dogma, reëls en prosedures gedryf word en andersyds deur die persoonlikhede van predikante en pastore. Daar was nie baie beweegruimte vir onafhanklike denke nie.

As ons onseker was oor iets, of as dit gelyk het asof iemand wou afwyk van die geskrewe reëlboek, is daar baie vinnig na onder meer die kerkorde gegryp, wat leiding moes gee oor hoe ons dinge in die kerk doen. Baie van my tyd as ’n jong dominee is veral in ringsvergaderings spandeer waar ons binne ringsverband die “moeilikheid” van kollegas moes hanteer.

Tog was die ervaring waardevol omdat ek in daardie stadium soekend was na vastigheid en struktuur. Dit het my tyd gegee om my voete in die kerk te vind. Gesprekke oor wat reg en wat verkeerd is, was aan die orde van die dag en daar was meestal duidelike antwoorde daarop – alles baie voorskriftelik. Die kuns was om net nie in die moeilikheid te beland nie.

Ego en meerderwaardigheid

Callie Roos wys hoe sny jy spoor. Ná sy studies aan die Universiteit van Pretoria het hy by die Weermag aangesluit waar hy onder meer ’n operateur by die Spesiale Magte (recces) was en as kapelaan gedien het. Foto: Foto24

Met die verloop van tyd sou die kerklike voorskrifte en strukture egter vir my al hoe minder sin begin maak; ook in my eie begrip van wie God is en sy bedoeling vir die mens in hierdie lewe. Die meeste van my persoonlike belewenisse van die kerk en, meer nog, my blootstelling aan die leierskap van die kerk, het my laat begryp wat die kerk nié bedoel was om te wees nie.

Ek was dikwels stomgeslaan deur die rol van ego in leierskap en strukture, asook die meerderwaardigheid wat ek teëgekom het. Daar was na my mening te veel van die eie ek en te min van die ander.

Natuurlik het ek aspekte hiervan ook by myself bespeur, maar ek het besef dat dominees dalk ’n gesonde selfbeeld nodig het, maar vir seker nie ’n oordrewe ego nie. Dit is nou maar eenmaal so dat ego jou in jou eie denkraamwerk en in die verlede vasgevang hou terwyl die wese van geestelike leierskap aanpasbaarheid, selforganisering, buigsaamheid en groei impliseer.

My belewenis van die kerk was van ’n wanfunksionele organisasie wat frustreer terwyl dit veronderstel was om ’n lewende organisme te wees wat spontaan groei asof daar geen beperking is nie. Dit was verder moeilik vir die kerk om inklusief te dink en om werklik geïntegreerd bestuur te word. Die kerk het geweldige lomp besluitnemingstrukture gehad en was ook stadig om aan te pas. Die tydsverloop om besluite te neem en te implementeer was frustrerend lank.

Ek het betreklik min in die kerk geleer oor leierskap en doeltreffende bestuur. Met bestuur bedoel ek hoe om vergaderings te hou, hoe om jou finansies te reël en jou verhoudings, hulpbronne en ander infrastruktuur te organiseer. Soveel van my tyd het daarin gegaan om saam met ander vir gemeentelede leiding te gee ten opsigte van hierdie dinge.

As die kerk ten doel gehad het om mense vry te maak, waarom is daar dan so ’n beheptheid om in beheer te wil wees?

Verder het ek toenemend begin dink die kerk moet hoogstens ’n platform wees van waar mense na die wêreld kan uitbeweeg. Dit moet ’n plek wees waar ons Christene vertrou en opbou deur hulle te bemagtig en toe te rus vir die lewe, maar dan loslaat in die wêreld – God se wêreld – met ’n bediening van hulle eie.

Daar was ’n vraag waarheen ek altyd teruggekom het: As die kerk ten doel gehad het om mense vry te maak, waarom is daar dan so ’n beheptheid om in beheer te wil wees? Vandag besef ek ons sal dalk baie “kerkgoed” en “kerkmaniere” moet afleer om werklik God se oorspronklike bedoeling raak te leef.

Net nie nog ’n Sondagpreek nie

Hierdie foto is geneem toe Callie en sy vrou, Olga, Israel besoek het. Dit is die binnekant van ’n kapel in die Magdala-omgewing.

Hoekom het ek hierdie boek geskryf? Aan die een kant raak ek toenemend bekommerd omdat die kerk as instelling vir baie mense totaal irrelevant geraak het. Vroegoggend sien ek dikwels kerkmense in restaurante of koffiewinkels sit met hul Bybels oop voor hulle, blykbaar soekend na die antwoorde op lewensvrae. Ek kry die indruk dis mense wat leierloos is en soek na iets meer, na relevansie en rolmodelle. Hulle soek na antwoorde en na uitkoms.

Ek en Gerhard Papenfus, hoof- uitvoerende beampte van die Nasionale Werkgewersvereniging (Neasa), het langer as vyf jaar soggens vroeg koffiekamergesprekke in ’n koffiewinkel in Pretoria aangebied. Dit was altyd propvol. In die gehoor was dosente, ander predikante en beroepslui, oud en jonk. Almal het dieselfde behoefte gehad, naamlik ’n smagting na iets méér.

“Wat julle ook al doen, ons soek tog net nie nog ’n Sondagpreek nie. Hou dit relevant,” het ek dikwels gehoor. Relevant tot wát, kan ’n mens vra? Ek keer later terug na die kwessie van relevansie wat so ’n integrale deel van my lewensreis vorm.

Ek dink ook dat God my op ’n vreemde, selfs unieke, manier vir hierdie gesprek voorberei het.

Aan die ander kant wil ek met hierdie boek my begrip van wat dit beteken om in Christus te leef, opteken. Anders gestel: Wat behels dit om Jesus Christus in my te hê? Om op hierdie wyse te leef, vereis na my mening nie net ’n herbesinning van sekere grondwaarhede nie, maar ook ’n radikale ánder begrip van Christenskap.

Soos die jare aanstap, besef ek dit is die een bydrae wat ek nog kan en wil lewer. Ek dink ook dat God my op ’n vreemde, selfs unieke, manier vir hierdie gesprek voorberei het.

Ek wil mense wat enersyds baie eng of dogmaties glo – en andersyds taamlik oppervlakkig – laat nadink oor waarmee hulle besig is. My indruk is dat daar tans te veel mense is wat algaande totaal mislei is in hul begrip van die werklike betekenis en belewenis van Christenwees.

Te veel mense wat hulself gelowiges noem, het té veel van die valse voorgee van Christenwees of kerklike in hulle, en te min van die radikale uniekheid en ándersheid van ’n belydenis wat sê: “Jesus Christus is die Here.”

* Hierdie artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit In Christus, van toeskouer tot spoortrapper, deur Callie Roos, wat pas by Delta Books verskyn het.

Meer oor:  Tukkies  |  Gerhard Papenfus  |  Christenskap  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.