Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
China vs. VSA sal politiek in toekoms oorheers

Alles dui daarop dat die internasionale politiek in die volgende jare tot ’n groot mate deur ’n toenemende konfrontasie tussen Amerika en China oorheers gaan word, skryf Leopold Scholtz.

Chinese vlootsoldate in 2019 op ’n parade wat die 70ste bestaansjaar van die Chinese Volksrepubliek herdenk het. Foto: Getty Images

Die onmiddellike aanleiding vir hierdie artikel is die klipharde konfrontasie die naweek tussen verteenwoordigers van die Amerikaanse en die Chinese regerings in die stadjie Anchorage in Alaska.

Die Amerikaanse span het onder die leiding van die minister van buitelandse sake, Anthony Blinken, en die land se nasionale veiligheidsadviseur, Jake Sullivan, gestaan. Die Chinese is aangevoer deur Wang Yi, eweneens minister van buitelandse sake, en Yang Jiechi, wat buitelandse sake namens die Chinese Kommunistiese Party hanteer.

Die normale praktyk by sulke samesprekings op hoë vlak is dat elke kant met ’n beleefde toesprakie met gemeenplase begin in die hoop dat die byeenkoms tot beter betrekkinge sal bydra. Pleks daarvan het die twee kante mekaar byna van die eerste oomblik af in die hare gevlieg.

Ná twee dae se gesprekke het die twee afvaardigings huis toe gegaan sonder dat enige tasbare vordering gemaak is – soos waarnemers vooraf verwag het.

In plaas van die twee minute inleiding waartoe ooreengekom is, het die eerste Chinese spreker, Yang, met ’n tirade van 16 minute losgetrek waarin hy Amerika as ’n rassistiese, skynheilige bullebak uitgekryt het.

Blinken het Yang in reaksie daarop daaroor verwyt dat hy bloot vir die tuispaviljoen speel en dat hy internasionale stabiliteit bedreig.

Ná twee dae se gesprekke het die twee afvaardigings huis toe gegaan sonder dat enige tasbare vordering gemaak is – soos waarnemers vooraf verwag het.

Al voordeel was dat diegene wat die beleid in Washington en Beijing help bepaal, mekaar in die oë kon kyk en by wyse van spreke soos honde aan mekaar kon ruik. Dit maak onderlinge kontak vorentoe effens makliker.

Ekonomiese reuse met botsende belange

Die Chinese en Amerikaanse afvaardigings byeen in Anchorage. Foto: Reuters

Die feit is dat Amerika en China se uitkyk op die wêreldpolitiek ligjare uit mekaar is. Hul belange, soos hulle dit self sien, druis byna lynreg teen mekaar in.

Op strategiese vlak sien Amerika met kommer ’n onstuitbaar opkomende China, een wat dreig om Amerika uit sy posisie as die nommer-een-land op aarde te druk. Sy ekonomiese groei is verstommend, en is deur die Wêreldbank as “die vinnigste volgehoue uitbreiding van ’n groot ekonomie in die geskiedenis” beskryf.

Sedert die Chinese hul ekonomie ná Mao Zedong se dood van die kommunisme se kettings losgemaak het, het dit tot einde 2018 gemiddeld met 9,5% per jaar gegroei.

Amerika se ekonomie was nog altyd baie sterk.

Met die Covid-19-krisis was die groei verlede jaar slegs 2,3%, maar vir vanjaar mik die regering al weer vir 6% (die Internasionale Monetêre Fonds voorspel 8,1%).

Amerika se ekonomie was nog altyd baie sterk. In die jare 1990-2019 het die ekonomie gemiddeld met 4 – 6% per jaar gegroei, iets wat in 2020 weens Covid-19 tot ’n inkrimping van 4% gelei het.

Die reusagtige inspuiting van $1 900 miljard deur pres. Joe Biden is ’n waagstuk: As dit werk, kan dit tot ’n groei van 6,5% lei; as dit nié werk nie, kan dit Amerika met ’n onbetaalbare staatskuld opsaal.

As dit inderdaad werk, kan dit Amerika se posisie teenoor China versterk. Andersins kan die Chinese breed glimlag.

’n Leemte wat slegs China kan vul

Yang Jiechi, wat buitelandse sake namens die Chinese Kommunistiese Party hanteer, het Amerika as ’n rassistiese en skynheilige bullebak uitgekryt. Foto: AP

Westerse akademici wat Chinese geskrifte bestudeer, rapporteer dat daar één tema is wat talle ontledings van Amerika kenmerk. Dit is die oortuiging dat Amerika onherroeplik verby sy hoogtepunt is en dat sy toekoms gekenmerk sal word deur ’n langsame, maar onkeerbare agteruitgang van supermoondheid tot vervallende derderangse status.

Dit, so meen die Chinese, laat toenemend ’n leemte in die internasionale politiek. Dit is ’n leemte wat slegs deur húl land gevul kan word.

Dit pas in by ’n wêreldbeeld wat al eeue lank in China vaardig is: Die hemel is rond en die aarde vierkantig. Die ronde hemel bedek dus China as sentrum van die wêreld, en die hoeke wat nie geseën is nie, is aan die periferie van die aarde – onbeduidend, minderwaardig en onbelangrik.

Volgens ’n Chinese witskrif is die regering se breë strategie gemik op “die groot herlewing van die Chinese nasie”, ’n doel wat teen 2049 bereik moet word. Dit beteken dat China tot sy regmatige posisie van krag, voorspoed en leierskap in die wêreld “herstel” moet word.

Volgens ’n onlangse verslag van die Pentagon bestaan die Chinese vloot nou uit sowat 350 oorlogskepe. Dié van Amerika is slegs 293 skepe sterk.

Vandaar ook dat die Chinese regering met die grootste opbou van sy vloot sedert die jare onmiddellik voor die Eerste Wêreldoorlog besig is. Toe was Brittanje en Duitsland gewikkel in ’n vloot-wedloop wat duidelik bygedra het tot die spanning wat vir die uitbreek van die oorlog verantwoordelik was.

Volgens ’n onlangse verslag van die Pentagon aan die Kongres bestaan die Chinese vloot nou uit sowat 350 oorlogskepe, met inbegrip van 130 “major surface combatants”. Dié van Amerika is slegs 293 skepe sterk.

Luidens die verslag loop Amerika op tegnologiese vlak nog voor, maar nader aan China is dié land se vloot nou steeds kragtiger. En daardie spiere word veral in die Suid-Chinese See gebult, in gebiede ver van die Chinese kus tot vlak voor dié van Viëtnam, Maleisië, die Filippyne en Indonesië.

Toe Amerika onlangs ’n torpedojaer demonstratief deur dié omgewing laat vaar het, het Beijing luidkeels geprotesteer.

Biden se soeke na bondgenote

Anthony Blinken, Amerika se minister van buitelandse sake, en Jake Sullivan, nasionale veiligheidsraadgewer, verlaat die vergadersaal in Anchorage Foto: Reuters

Die vraag is hoe om op die openlike gebruik van China se skouers te reageer.

Pres. Barack Obama het reeds die toenemende Chinese gevaar ingesien en gekom met die “skarnier na Asië” – die vermindering van Amerika se inspanning in Europa en die Midde-Ooste en die vermeerdering daarvan in die Stille-Oseaan-gebied.

Hy het ’n soort verdedigingslinie in die omgewing probeer bou, met Japan, Suid-Korea, Taiwan, die Filippyne, Indonesië, Maleisië, Singapoer, Indië en Australië as skakels.

Sy opvolger, Donald Trump, het dit alles laat vaar. Hy het die wêreld suiwer deur die oë van ’n sakeman – wins en verlies – bekyk. Sy doel was om ’n gunstige handelsooreenkoms met China te bereik, een wat wins vir Amerika sou oplewer en basta.

Biden beweeg duidelik terug na die strategie wat Obama begin het. Hy was immers Obama se visepresident.

Sake soos veiligheid en strategie was nie dinge waaraan hy gedink het nie.

Biden beweeg duidelik terug na die strategie wat Obama begin het. Hy was immers Obama se visepresident.

Dus het hy die bal aan die rol gesit om bondgenote in die Stille-Oseaan-gebied teen China te vind. Hy het ’n invloedryke groepering van vier sterk moondhede, bekend as die “Quad”, laat herleef – Japan, Suid-Korea, Indië en Australië.

Die “Quad” het reeds ’n geslaagde eerste virtuele spitsberaad gehou, en dit kan die kern word van ’n wyer bondgenootskap wat China moet hokslaan. ’n Mens sou dit losweg met ’n soort nie-amptelike Navo in die westelike Stille Oseaan kon vergelyk.

En wat is die kanse op oorlog?

Jake Sullivan, nasionale veiligheidsraadgewer, aan die woord in Anchorage met Anthony Blinken, Amerika se minister van buitelandse sake, wat luister. Foto: AP

Kan dit alles op ’n oorlog uitloop? As jy na die geskiedenis kyk, ja.

Daar is talle voorbeelde in die verlede wat wys dat wanneer ’n opkomende groot moondheid ’n bestaande een wil onttroon, dit tot steeds meer spanning, en ten slotte tot ’n gewapende konflik lei. Een van die bekendstes is die Peloponnesiese Oorlog tussen die antieke Griekse stadstate Athene en Sparta, wat deur die Griekse historikus Theukudides briljant beskryf is. Toe het Athene Sparta aangeval met die plan om hom te vernietig voordat hy ’n bedreiging kon word. Dit het tot Athene se val gelei.

Leopold Scholtz

Die naam van die historikus het gevolglik onder teenswoordige ontleders al ’n begrip geword – hulle praat van die “Theukudides-val” waarin Amerika en China kan beland.

Ander voorbeelde is die voordurende oorloë tussen Frankryk en Brittanje, tussen Frankryk en Spanje, en natuurlik die twee wêreldoorloë van die 20ste eeu.

Daar is wel ’n belangrike verskil: Kernwapens. Volgens ’n soort perverse logika was dit juis kernwapens wat voorkom het dat oorlog tussen die Weste en die kommunistiese blok uitbreek, want albei kante het besef dat die eerste gebruik van dié wapens tot die totale vernietiging van álle lewe op aarde sou lei.

En dit was vir alle kante onaanvaarbaar.

Dus kan ’n mens aanneem dat dieselfde logika ook tussen Amerika en China geld. Maar dit is ’n áánname, want wie weet wat sal gebeur as die spanning hoog loop en ’n paniekerige leier druk op ’n knoppie waarop hy liefs nié moes gedruk het nie?

Gesprekke soos dié in Anchorage is dus tóg nuttig, al lewer hulle nie deurbrake op nie.

Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Joe Biden  |  Wang Yi  |  Donald Trump  |  Barack Obama  |  Anchorage  |  China  |  Amerika  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.